Profile photo of lisa

by

Vriesend koud.

Julie 14, 2010 in Sonder kategorie

Saans bid die seuns vir jou, al van annerdag af,

toe ek jou vaal langs die pad sien stap het

        maar dit was meer beweeg, of van posisie verander

        want in die flits van my verbyry het ek geweet jy gaan nerens nie.

en omgedraai het om die vyftig rand vir jou te gee.

 

Ek het gedink jy is doof, en daarom praat jy swaar,

en dis hoe ek dit vir hulle verduidelik het ook,

en dis hoe hulle vir jou bid,

– wees asseblief met Hendrik Maputle wat nie kan hoor nie, en nie ‘n huis het nie, en nie kos het nie, en ‘n ma en ‘n pa nie, en sorg asseblief vir hom –

 

Maar vandag het ek gehoor daar is ‘n strepie van jou verstand weg.

Ek het gestry. En gese jy is net doof.

(En vaal van die honger, en valer van nog baie ander ontberinge – voel jy dit nog?)

 

Hulle het kom se daar is ‘n man wat in die dennebos slaap, en hier al op die rand van ons grens rondbeweeg.   En toe word jou naam genoem.

 

Ek is jammer jy het gehol. Ons wou jou help. Die polisie sal jou terugvat Zastron toe

(Is daar nog van jou mense daar wat sal onthou?)

 

Weet jy, hierdie lessenaar het my oupa vir my gemaak. Hy was ‘n korrelkop en ‘n absolute perfeksionis, en op ons troue het ek en hy die dansbaan geopen. Stadig en statig. Dit was ‘n wals. En my pa het vir my die staanhorlosie in die eetkamer gemaak – in twee jaar se afknyptydjies. Die miniatuur replika van die tambotie armstoel is van drolpeer gemaak, dit was met ons oudste se geboorte – hy het dit gemaak terwyl sy in my gegroei het, en ons almal oor die nuwe lewe gedroom en gewonder het. En die kis in die sitkamer het hy vir my gemaak met die tweede dogter se geboorte. Hy lyk soos ‘n wakis – sonder fieterjasies, omdat ek nie daarvan hou nie. Alles is oor die jare stil stil gemaak…sonder dat ek daarvan geweet het tot die dag dat dit in die huis ingedra word. Weet jy, ek onthou my oupa se hande so goed…dit lyk baie soos my pa s’n nou lyk. Knokkelrig, presies, warm en sag, en ferm.

 

Die weerberig voorspel weer sneeu van vanaand af.

 

As jy iemand van my familie was, sou my hart vanaand onbedaarlik vir jou gepyn het. Ek sou nie kon slaap terwyl jy iewers buite skuil nie. As ek geweet het dat jy reeds jou Maker ontmoet het, sou ek dalk vanaand gebid het dat Hy jou moet kom haal. Jou vat waar dit warm en geborge en vol kosbare ervaringe is. Maar ek weet nie. En eintlik glo ek dat Hy genadig sal wees, as Hy vir jou ontydig kom, want ek bekommer my vanaand oor jou – sonder dat dit iewers pyn – terwyl Hy jou mos gemaak het.

 

So, Hendrik Maputle, se my, wat moet ek vanaand bid vir jou?

17 antwoorde op Vriesend koud.

  1. Die wêreld is so vol Hendrik Maputle’s.

  2. Jou woorde het aan my hart gepluk – beautiful geskryf x

  3. loudavisi het gesê op Julie 14, 2010

    Ek gaan niks se nie – behalwe dat jy ‘n baie goeie hart het.

    xxx hoop saam met jou dat Hendrik lekker knus iewers is.

  4. Janklaas het gesê op Julie 15, 2010

    Pragtig, Lies.

  5. bloukaap het gesê op Julie 16, 2010

    soms moet elkeen vir homself bid

  6. lisabeth het gesê op Julie 19, 2010

    Hallo MK…is so.

  7. lisabeth het gesê op Julie 19, 2010

    More Roosdoring – geniet jou week!

  8. lisabeth het gesê op Julie 19, 2010

    More Angeliscious.

  9. lisabeth het gesê op Julie 19, 2010

    More Ghaap.

  10. lisabeth het gesê op Julie 19, 2010

    Hallo Lou – jou moet lekker skoolhou vandag!

  11. lisabeth het gesê op Julie 19, 2010

    More Oupa Flenters!!

  12. lisabeth het gesê op Julie 19, 2010

    More Annemarie – hoe gaan dit daar by julle?

  13. lisabeth het gesê op Julie 19, 2010

    More JK.

  14. lisabeth het gesê op Julie 19, 2010

    Hallo Ekke.

  15. lisabeth het gesê op Julie 19, 2010

    More Pruim…voel glad nie of ek jou sommer so kan “Pruim” nie …voel so of daar, soos met Flenters, iets vooraan moet kom…(en ek bedoel nou nie oupa soos by hom nie…net iets anders as sommer net so op die naam Pruim)

  16. bloukaap het gesê op Julie 30, 2010

    jis dis nou al 2 weke wat jy nie griffel nie, moenie lui weesie

  17. lisabeth het gesê op Julie 30, 2010

    Middag _ Pruim…hmmm so min of meer twee weke gelede het die kinders se skole weer beheer begin neem oor ons lewe…en verder 2 oudits wat voorle…genoeg om alle sagte woordjies in die kiem te smoor!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.