Jy blaai in die argief vir 2010 Julie.

Profile photo of lisa

by lisa

Prentjieparade

Julie 30, 2010 in Sonder kategorie

Pruimtwak het my sopas laat dink

dat ek darem baie daarvan sal hou

as die bloggers wat ek graag lees se prentjies so in ‘n ry

voor my neergesit kan word

en dan raai ek wie is wie…

Veel veel beter tydverdryf as debiete en krediete en dinge so op ‘n Vrydag agtermiddag.

En ek wil nog skryf van die mier

wat ek ingedagte doodgedruk het

(en agterna oor spyt was)

toe hy oor die verdorde en bekrapte blad van die pragtig geelhouttafel

in die munisipale kantoor voor my verbylgeloop het

want ek was ingedagte en ontstem oor die gordyne wat net aan elke 10e hakie hang

en oor die verwaarloosde houtblad voor my

(wat my aan die kwesbare benerigheid van mense wat eens met gloeiende entoesiasme geleef het en nou in rolstoele in ouetehuise verskif laat dink het)

en oor die prestikgeplakte papiere teen die mure

wat so heeltemal onvanpas vir ‘n raadsaal is

en oor die man wat nie opgedaag het vir die poging tot rekonsiliasie nie

en toe loop die mier oor na my kant toe

en ek druk hom dood

pleks dat ek hom laat lewe het

want hy is opreg besig met dit wat hy moet doen – om te mier

terwyl alles anders in die vertrek in ‘n ander staat is as wat dit behoort te wees.

so, maak my dag en stuur vir my kiekies

regtes en verkeerdes sodat ek kan raai en bly wonder

wie is wie en of die mier verdien het om te sterf.

Profile photo of lisa

by lisa

Vriesend koud.

Julie 14, 2010 in Sonder kategorie

Saans bid die seuns vir jou, al van annerdag af,

toe ek jou vaal langs die pad sien stap het

        maar dit was meer beweeg, of van posisie verander

        want in die flits van my verbyry het ek geweet jy gaan nerens nie.

en omgedraai het om die vyftig rand vir jou te gee.

 

Ek het gedink jy is doof, en daarom praat jy swaar,

en dis hoe ek dit vir hulle verduidelik het ook,

en dis hoe hulle vir jou bid,

– wees asseblief met Hendrik Maputle wat nie kan hoor nie, en nie ‘n huis het nie, en nie kos het nie, en ‘n ma en ‘n pa nie, en sorg asseblief vir hom –

 

Maar vandag het ek gehoor daar is ‘n strepie van jou verstand weg.

Ek het gestry. En gese jy is net doof.

(En vaal van die honger, en valer van nog baie ander ontberinge – voel jy dit nog?)

 

Hulle het kom se daar is ‘n man wat in die dennebos slaap, en hier al op die rand van ons grens rondbeweeg.   En toe word jou naam genoem.

 

Ek is jammer jy het gehol. Ons wou jou help. Die polisie sal jou terugvat Zastron toe

(Is daar nog van jou mense daar wat sal onthou?)

 

Weet jy, hierdie lessenaar het my oupa vir my gemaak. Hy was ‘n korrelkop en ‘n absolute perfeksionis, en op ons troue het ek en hy die dansbaan geopen. Stadig en statig. Dit was ‘n wals. En my pa het vir my die staanhorlosie in die eetkamer gemaak – in twee jaar se afknyptydjies. Die miniatuur replika van die tambotie armstoel is van drolpeer gemaak, dit was met ons oudste se geboorte – hy het dit gemaak terwyl sy in my gegroei het, en ons almal oor die nuwe lewe gedroom en gewonder het. En die kis in die sitkamer het hy vir my gemaak met die tweede dogter se geboorte. Hy lyk soos ‘n wakis – sonder fieterjasies, omdat ek nie daarvan hou nie. Alles is oor die jare stil stil gemaak…sonder dat ek daarvan geweet het tot die dag dat dit in die huis ingedra word. Weet jy, ek onthou my oupa se hande so goed…dit lyk baie soos my pa s’n nou lyk. Knokkelrig, presies, warm en sag, en ferm.

 

Die weerberig voorspel weer sneeu van vanaand af.

 

As jy iemand van my familie was, sou my hart vanaand onbedaarlik vir jou gepyn het. Ek sou nie kon slaap terwyl jy iewers buite skuil nie. As ek geweet het dat jy reeds jou Maker ontmoet het, sou ek dalk vanaand gebid het dat Hy jou moet kom haal. Jou vat waar dit warm en geborge en vol kosbare ervaringe is. Maar ek weet nie. En eintlik glo ek dat Hy genadig sal wees, as Hy vir jou ontydig kom, want ek bekommer my vanaand oor jou – sonder dat dit iewers pyn – terwyl Hy jou mos gemaak het.

 

So, Hendrik Maputle, se my, wat moet ek vanaand bid vir jou?

Profile photo of lisa

by lisa

Genade

Julie 13, 2010 in Sonder kategorie

Genade is jou hand op my kop omdat ek slegvoel,

Jou kniel langs my om saam met my te bid,

Jou bereidheid om die reis namens my te onderneem,

Jou daarwees toe ek ry, en jou daarwees toe ek terugkom.

As ek my oe toemaak weet ek daar is geel vlekkies in joune – maar ek sukkel om dit duidelik op te roep.

(En nou slaap jy – ek sal moet wag tot more om my te vergewis)

Intussen sal ek my lyf knus binne die  kromming van joune invou

en met ‘n dankbare hart jou warmte en nabyheid geniet.

12 Julie 2010, en dit is vir my genade.

Profile photo of lisa

by lisa

Lekker

Julie 9, 2010 in Sonder kategorie

Vandag ‘n grasgroen snoeisker persent gekry, saam met drie goudgeel magrietjies, skeef-skeef ingesteek tussen die sker se hef en die karton.

En ek is bly.

Profile photo of lisa

by lisa

Ontkenning

Julie 7, 2010 in Sonder kategorie

In “Moerbeibos” van D Matthee kom Silas Miggel tot die gevolgtrekking:

~ Die Here het ons aarde toe laat kom om te leer om nie te lieg nie ~

In ‘n helder oomblik voel dit vir my of dit alleen my dag in en dag uit sal besig hou.

Profile photo of lisa

by lisa

Ever-ready

Julie 5, 2010 in Sonder kategorie

HA! 

Ek het al baie dinge in my lewe kwyt geraak wat ek later weer moes kou en sluk.  Meeste daarvan het my baie ongemaklik herinner aan die feit dat ek mens is…nie verhewe bo ander mense nie…en veral nie verhewe bo die swakhede wat ek in ander verag en veroordeel nie.

My skaal het gekantel. 

 Soos die lewe en die tyd aanstap is ek gestroop van hoogmoedige oordeel.  Een vir een het die dinge wat my ander laat oordeel en afskryf het aan eie lyf gevat. 

Selfs Susan Boyle het saamgewerk om my daarop te wys dat ek niks weet van wat ek gedink het ek weet nie.

Die kilogramme wat ek opgetel het die afgelope jaar het ek afgelag (ongelukkig net figuurlik) want ek weet mos waarom dit gebeur het – ek kon nie oefen nie, en ek het onder andere  laat waai met alles wat die flukse baksters in die kantoor op my lessenaar laat beland het – vir ‘n goeie doel – hulle bak en brou vir ‘n nuwe watermasjien

Vriendin het uit Tanzanie laat weet dat sy 10 kilogram in twee weke opgetel het…hulle het luuks gesafari.  Ek lag haar uit – ek dink ek wen jou – sms ek terug sonder ‘n kommer van ‘n kilogram in my gedagtes.  Ons bedoel mos ons hou heerlik lui vakansie en eet lekker.

Na drie weke van droewors en skaaptjoppies en potbrood en kondensmelkkoffie met beskuit en geen oefening, behalwe lui stappies in die veld nie,  het ek my eie grense geskuif.

Ek dink die skaal se batterye is pap. 

Ek moes gryp na my kuper papier en pen.

Ek moes (baie vrywillig) die avokadopeer roosterbroodjies wat Liefie vir my bed toe bring bedank, en woes sluk aan die suurlemoenkookwater wat hy ook baie onskuldig en met goeie bedoelings aangedra het. 

Die skaal makeer iets – beduie ek terwyl ek my kop iewers tussen sy skouer en nek inwoel.  Het ek vet geword – wil ek weet. 

Ek sien jou elke dag – antwoord hy russen die happe avobroodjies deur – ek kan nie se nie.  Maar ek kan hoor hy smaail.

Daar was nerens spieels wat meer as mens se gesig wys die vakansie nie, kla ek, nou ingewoel in die veilige beskutting van sy arms.  En dit beteken niks kantoorklere gaan vanmore pas nie.  

Ek wil nie opstaan nie.  En ek wil liewer nie weet nie.  En ek dink ek moet deur die netwerk van die huis af werk vandag…net tot die vakansieklere alles deur die was is.

Want my skaal se batterye is pap vandag!

Profile photo of lisa

by lisa

Agge Nee!

Julie 2, 2010 in Sonder kategorie

Vir twee dae in Pretoria en gebruik die tyd om al die nostalgiese plekke te besoek…Loftus, Tukkies, Lynwoodweg, Menlyn, en toe draai ons Wes Brits se kant toe…het immers my laerskooljare daar in Bodensteinpark deurgebring…

Net verby Zanandi haal ek al my kamera uit sy sak…ek wil niks mis nie, fotos van alles neem…ek was 27 jaar gelede laas in Brits…

Name van maats en mense vlieg deur my brein.  Hier het ek fiets gery…hier geloop…hier was die fliek…die woonstel waarin ons gewag het vir ons nuwe huis om klaar te kom…die skool…die kafee… die kerk…Bodensteinpark…my eerste kerel se huis…ons straat… Blinkblaarweg…ons huis…

Die kamera het op my skoot bly le…lense nie eers eenkeer oopgemaak nie.

Die groen sypaadjies wat soos setperke langs die straat gele het is vaal…daar is agapante in al die blombeddings….die staanrose is uitghaal…my Kareeboom het GROOT geword…daai tak is die een waar ek gesit en boeklees het…gespeel het….gedroom het…om die draai is die parkie…verwaarloos. 

Gesigte en name stroom deur my geheue en my hart…maar ‘n tam verwaarloosing le oor die eens spogbuurt.

Ons ry Elandsrand toe…ek soek die blou swembadwater tussen die baie rotse en bome…muurtjies dop af…vullis le gesaai op al die oop erwe…

Die strate is vuil.  Ek wonder waar die nuwer dele van die dorp dan le…seker tog nie die afgeremde geboue wat ek sien nie.  Maar dit is dit.  Kentucky sit nog op sy plek, waar die buurman oorkant die straat hom destyds die eerste keer oopgemaak het. 

Ek is verstom.  En so klein bietjie verslae.  Dinge is nie bloot ouer nie…dis verwaarloos…erg verwaarloos. 

Waar is die plek waar ons straatbraaie gehou het, en in helderblou swembaddens baljaar het. 

Dis nie my grootwordplek die nie…dis soos ‘n geraamte van iets wat was.

Ek protesteer nie toe die motor se neus terugdraai Pretoria toe nie – ek het nie ‘n laaste blik op die plek nodig nie…dis nie dieselfde plek as wat ek geken het nie…

Ek sal dit onthou soos dit was.

Profile photo of lisa

by lisa

Imbumba!

Julie 2, 2010 in Sonder kategorie

My gunsteling hek in die hele wereld!