Profile photo of lisa

by

Slaan oor – moenie lees nie!

Mei 28, 2010 in Sonder kategorie

Want so patetiese storie verdien geen vermelding.

Seuns en hulle pa is uitgenooi na ‘n oorslaap partytjie.  Whau! Lekker!  Dit kan werk. Die pa moet more oggend by ‘n vergadering wees en ek by ‘n funksie, maar wonder bo wonder kry ons albei afslag…so die planne gaan voort.

Mannetjies is vanoggend half ses reeds besig om hulle sakke te pak vir vanaand sesuur se oorslapery.  Soos die meeste kinderpartytjies is daar ‘n tema.  Die seuns pak dus in om by die “jag” tema te pas.  Ek pak voor ek kantoor toe ry gou weer die sakke uit om te sien wat is ingepak – dit is overkill – 4x4xfar –  maar ek sit alles terug met ‘n klein vervanging hier en daar.

Teen vyfuur bel die pa – ek moet seblief solank die slaapsakke ens ens regsit, hy word opgehou.  Die geesdriftige partytjiegangers moet ses-uur so vyftig kilometer van ons af aanmeld vir die groot oorslaap.  Ek en die ma van die verjaarsdagspruit ruil effens besorg die nuutste weerberig uit.  Vanaand 7 grade, more oggend 3, maar die partytjie gaan voort verseker sy my vasbeslote oor die telefoon.  Ek maak seker wat die manne alles moet saambring, en sy verseker my net slaapgoed, warm klere en dalk ekstra drinkgoed. 

Half ses hou die pa se bakkie buite stil.  Dit is eintlik al tyd om te ry.  Ek oortuig hom om deur die stort te spring, maak nog koffie en probeer tussen sy baie gejaagde kort sinne ‘n gesprek met hom voer.  Ek weet dit begin sesuur, maar ek weet ook hy was opgehou en dit is nie die dood van Katryn nie, dan kom hulle maar bietjie later.  Toe hy my kamera wil leen begin ek die ongemaklike gevoel kry dat ons twee tale praat, en toe die geweer en teleskoop uit die kluis kom vra ek verward waarna hy soek.

Dat daar verlede Saterdag om die rugbyveld groot planne gemaak is vir die naweek terwyl ek 150 km anderkant toe staan en kyk het hoe nommer twee hokkie speelm is nou eers vir my duidelik.

Dat die manne eers sesuur hier kon wegtrek omdat daar skielik ook veldstoele en flitse en verkykers en wat nog ingepak moes word is waar.   Dat die jaggeselskap sonder hulle moes vertrek om die laaste daglig te kan benut vir die kampopslanery is ook so.  En dat hulle toe nie net anderkant die verjaarsdagspruit se huis in die veld gaan oornag nie is toe ook waar…en die keer is die teikens nie van karton nie.

Ai! Dit was sleg.  Ek hoop hulle kry die ander jagters.  Ek hoop hulle vries nie.  Ek hoop hulle ry veilig.  Ek hoop hulle geniet hierdie oorslaap jagpartytjie vreeslik baie.  En ek hoop hulle is nog lief vir my as hulle terugkom!

Oor en uit hier uit lalaland.

4 antwoorde op Slaan oor – moenie lees nie!

  1. jr_hewing het gesê op Mei 28, 2010

    wat ‘n dag!

  2. loudavisi het gesê op Mei 28, 2010

    Jy moet rustig slaap, ek is seker hulle geniet dit en sal in jou arms in terugkom.

    Lekker slaap.

  3. HeavyHenry het gesê op Mei 29, 2010

    Ag jy moet maar regstaan om biltong te maak…

  4. DallaSePa het gesê op Mei 29, 2010

    ” En ek hoop hulle is nog lief vir my as hulle terugkom!” … Hoe dan nou anders?!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.