Jy blaai in die argief vir 2010 Mei.

Profile photo of lisa

by lisa

Slaan oor – moenie lees nie!

Mei 28, 2010 in Sonder kategorie

Want so patetiese storie verdien geen vermelding.

Seuns en hulle pa is uitgenooi na ‘n oorslaap partytjie.  Whau! Lekker!  Dit kan werk. Die pa moet more oggend by ‘n vergadering wees en ek by ‘n funksie, maar wonder bo wonder kry ons albei afslag…so die planne gaan voort.

Mannetjies is vanoggend half ses reeds besig om hulle sakke te pak vir vanaand sesuur se oorslapery.  Soos die meeste kinderpartytjies is daar ‘n tema.  Die seuns pak dus in om by die “jag” tema te pas.  Ek pak voor ek kantoor toe ry gou weer die sakke uit om te sien wat is ingepak – dit is overkill – 4x4xfar –  maar ek sit alles terug met ‘n klein vervanging hier en daar.

Teen vyfuur bel die pa – ek moet seblief solank die slaapsakke ens ens regsit, hy word opgehou.  Die geesdriftige partytjiegangers moet ses-uur so vyftig kilometer van ons af aanmeld vir die groot oorslaap.  Ek en die ma van die verjaarsdagspruit ruil effens besorg die nuutste weerberig uit.  Vanaand 7 grade, more oggend 3, maar die partytjie gaan voort verseker sy my vasbeslote oor die telefoon.  Ek maak seker wat die manne alles moet saambring, en sy verseker my net slaapgoed, warm klere en dalk ekstra drinkgoed. 

Half ses hou die pa se bakkie buite stil.  Dit is eintlik al tyd om te ry.  Ek oortuig hom om deur die stort te spring, maak nog koffie en probeer tussen sy baie gejaagde kort sinne ‘n gesprek met hom voer.  Ek weet dit begin sesuur, maar ek weet ook hy was opgehou en dit is nie die dood van Katryn nie, dan kom hulle maar bietjie later.  Toe hy my kamera wil leen begin ek die ongemaklike gevoel kry dat ons twee tale praat, en toe die geweer en teleskoop uit die kluis kom vra ek verward waarna hy soek.

Dat daar verlede Saterdag om die rugbyveld groot planne gemaak is vir die naweek terwyl ek 150 km anderkant toe staan en kyk het hoe nommer twee hokkie speelm is nou eers vir my duidelik.

Dat die manne eers sesuur hier kon wegtrek omdat daar skielik ook veldstoele en flitse en verkykers en wat nog ingepak moes word is waar.   Dat die jaggeselskap sonder hulle moes vertrek om die laaste daglig te kan benut vir die kampopslanery is ook so.  En dat hulle toe nie net anderkant die verjaarsdagspruit se huis in die veld gaan oornag nie is toe ook waar…en die keer is die teikens nie van karton nie.

Ai! Dit was sleg.  Ek hoop hulle kry die ander jagters.  Ek hoop hulle vries nie.  Ek hoop hulle ry veilig.  Ek hoop hulle geniet hierdie oorslaap jagpartytjie vreeslik baie.  En ek hoop hulle is nog lief vir my as hulle terugkom!

Oor en uit hier uit lalaland.

Profile photo of lisa

by lisa

piepklein groot wereld

Mei 26, 2010 in Sonder kategorie

Wat is die kans dat ek op facebook ingaan en ‘n blogger se prentjie op Vriendin se profiel sien.  En dan by die blogger se profiel ingaan en sommer sien “you have 2 (ja rerig TWO) mutual friends.  En dan na die blogger se vriendelys kyk, nog bloggers herken, hier en daar kliek en sowaar daar spring nog twee gemeenskaplike kennise uit die tas! 

Nou wonder ek – (ek jok, ek is lekker nuuskierig) om te weet of die gemeenskaplike kennisse van die mense wat ek weet blog ook blog! 

Dit gaan my groot laat glimlag!

Maar, die heerlike vryheid van anonimiteit is lekkerder as wat nuuskierigheid groot is – so hierdie klein wereldjie moet maar sy grootheid vir my behou!

Profile photo of lisa

by lisa

Soek en Ruil:

Mei 24, 2010 in Sonder kategorie

Goeie dosis emosie, diep en suiwer, te ruil vir goeie dosis gesonde verstand.

Tas jy verward in jou binnekant rond wanneer iemand  jou vra wat jy voel?   

Dit kan ‘n aanduiding wees van ‘n essensiele gebrek aan gevoel, en ook moontlik ‘n aanduiding wees dat jou denke jou emosie domineer in jou funksioneringsproses.

Dit is egter nie die einde van die pad vir jou nie.

Die omgekeerde verskynsel kom ook voor, en deur ‘n eenvoudige ruilproses kan gesonde balans in jou herstel word.

Bottel eenvoudig van jou goeie verstand en ‘n bloudruk van jou denkproses, en stuur dit aan LISA met jou adres en ‘n kort beskrywing van die toestand waarin die gebottelde ware verkeer en ook die vervaldatum.  In ruil kan jy heelwat emosie – die hele spektrum is beskikbaar – kry.  Goed opgepas, mooi bewaar, en baie reaktief.

Maak seker jou naam en die adres waarheen jou pakkie versend moet word is duidelik gemerk.  Geen verwysing is nodig nie – die naam van jou blog is voldoende.

LW: Die volume van die botteltjie is nie ‘n aanduiding van die intensiteit van die emosie nie – jy weet mos – groot gif kom in klein botteltjies, en lekkerlag strek wyd.

****************

Dankie vir julle ondersteuning, en kommentaar die afgelope tyd  – net soos hierdie hart van my,  is dit vir my ietwat duister hoe presies hierdie gesiglose klanklose wereld se onderskraging werk – maar dit werk. Lisa

Profile photo of lisa

by lisa

Rice Crispies

Mei 23, 2010 in Sonder kategorie

Se die predikant vanmore vir die gemeente hulle moet bietjie smile.  Hy wou ‘n ballon met ‘n groot smile opgeverf gebring het en hom met ‘n speld gesteek het sodat ons kan se soos wat lyk ons, die opgeblaasde ballon met die groot glimlag of die geprikte ballon?  Verlede week se preek het gegaan oor glimlag.  En hy herinner ons dat as ons nie smile nie ons nie verbaas moet wees as ons lewens eensaam is en ons mense afstoot nie.  

 Van daar af was dit downhill vir my.  Ek kan ongelukkig nie die arme man oordeel omdat hy nie oplossings vir my het nie, want ek het ook nie.

Ek het gedink ek het klaargemaak met maskers.  Maar nou hoor ek dit is maar hoe dit gedoen moet word. Plak daai smile op jou gesig en sing.  Sodat jy mense in jou lewe kan he.  Sodat jy vreugde kan namaak.  Hou net aan smile…dit sal makliker word.  Ek wil nie.  Ek wil nie smile as ek nie wil nie.  Ek wil nie sing as ek nie wil nie.  Ek wil nie maak of ek glo in wat die predikant se as ek nie doen nie.

EK gaan drink my tee eenkant buite waar ek ver kan kyk.  Agter my drom die gemeente saam om die kuiertafeltjies vol lekkernye en die teepotte  en mekaar. 

Ek was lank ‘n inkommer in hierdie gemeenskap waar ek nou wil uit. Ver weg.  Na oorbegin.  Na skoonbegin en weer probeer om hierdie stukkende lewe geleef te kry sonder die gewig van ‘n kleindorpse geheue om jou. 

En ek kan nie ophou vra waar die Here is nie.  Want ek dink nie Hy het ‘n smile verwag nie.  Ook nie dat ek sing as ek nie so voel nie.  Ook nie dat ek so onvergenoeg reageer terwyl ek vol dankbaarheid moet wees vir dit wat behoue gebly het in my lewe nie.  Maar ek is nie seker nie.  Ek sou Hom graag self wou vra, en self wou hoor wat Hy antwoord. Want ek dink daar is ‘n distorsie in die boodskappe wat ek via ander van Hom af kry. 

Ek kan na kerk nie ophou om in mnr Lisa se arms in te stap as hy verby my kom nie.  Om vir klein oomblikkies my gesig in die warmte van sy nek te druk en net vas te hou nie.  Ons woorde is op.  En my sin is op.  En ek voel soos die ou wat gese het hy slaan sy oe op na die berge, waar sal sy hulp vandaan kom. 

Die rice Crispies dieet van ons kerk is nie meer vir my goed genoeg nie.  Ek het vaste kos nodig.  Dalk ‘n spesiale dieet.  Ek weet nie. 

En ek kan werklik niemand oordeel nie – want ek weet ook nie.

Profile photo of lisa

by lisa

21.05.2010

Mei 21, 2010 in Sonder kategorie

Ek sit hier bo teen die koppie vir jou en tik. 

Dis vandag 3 jaar later.

My hart was nie seer vanoggend nie.

Ek het wakker geword met gewone gedagtes – geen seer wat my binnekant toevou nie.

Net die verlang na God.  Om tuis te voel by Hom. Om te weet wat Hy dink en voel en wil.

Om seker te wees.

Ek is so naby aan die punt om te se dis mensgemaak – maar dan kan ek J nie verklaar nie. Hy verander steeds.

Dink as ek hartseer voel vandag is dit nie oor wat gebeur het nie, maar oor my vrees en  onvermoe om voluit te leef en te vertrou.

Dankie vir als – ek weet elke dag minder hoe ek en die lewe werk.

Hoop dit bly vir jou duidelik, en dat jy koersvas en seker is.

En nou rol die trane.

Word gou gesond.

Die dagbreek hier voor my is mooi.

Profile photo of lisa

by lisa

In ‘n klein inhampie so entjie anderkant Kleinmond… (Maankind se storie vervolg)

Mei 20, 2010 in Sonder kategorie

“Vir wat antwoord jy nie die selfoon nie?”

“Vir wat bel djy alewig as djou Honour besig is om vi my orders af te gee?”

“Want ek het my bril laat le, en jy moes die ding vir my saamgebring het – op die bedkassie.”

“En hoe dink djy kom ek by djou bedkassie iet?”

“Daar’s een in die kombuis ook…by die deur onder die rakkie met sleutels…Selina kan hom mos vir jou aangee as jy te sleg is om hom self te gaan haal.”

“Selina ne….Daai vroumens kyk my reeds met ‘n houtoog.  Noudat djy weg is issie vroumense in charge en die lewe is sleg se ek djou sleg.”

“Gatiep, maak dat jy weg is en terug is ek soek my bril.  Ek kan boggerol sien wat ek doen sonder hom.  My hande jeuk om die vliegies aanmekaar te vleg.  Toe skoert.”

“Ek willie”

 

Gabriel kyk van die kraaines in sy hand op. “Wat bedoel jy jy wil nie?”

 

“Dissie snaaks da by djou huisie.  Die karre kom nonstop met koeke en terte en paais en kos en ek moet dit alles maak pas in djou friedge innie garage, want djou Honour se dis vir djou  en djouse goete hoort in djouse garage. En ek moes die manne by die musipaliteit betaal om djou  stokke terug te kry wat djou Honour my laat ytsit het saamie vylgoed.”

 

“Watse goed van my? Praat Skerminkel!”

 

“Al djou goet. Die golfgoed ennie res vannie visstokke ennie toolbokste en allie goed.  Ek’t hulle meddie paais betaal ommie goed vi my af te sit by Spekkies by die polieskantoor, en ek moes lieg en se die goed is vuil daa-om gooi djou Honour dit yt die hys yt…want kyk net hoe’t djy verdwyn…en dit ga met hulle ok gebeer as hulle nie alles vir die polieste vattie.  Ma ek is klaar.  Ek gannie terug nie.  G’n man kannit hou da nie…djy moet vir my ‘n anner jop kry ek en djouse Honour kommie reg nie. En djy beter vannag djouse storie ken, want ek bring die vrou om djou te sien, want sy willie glo die phone is djy wat my bellie, en enniecase is die phone nou poer in sy dinges want van allie worries oor djou stokke het ekkie ding laat val toe djou Honour wil weet wie issit wat my so amekaar in werktyd bel.  En daas die res van die paais innie rugsak…ek moes’ie biltong vir Spekkies vat virrie bere vannie goet tot djy revive…so djy sal moet survive oppie paais, en hy’t gese hulle sal annerkant toe soek, ma djulle sal moet praat oor wanner djy terukgkom want daai Honour van djou het ‘n prys op djou kop gesit en hy se as iemand anners djou kry gan djy  hoes.  Enne djy gan in enniecase hoes  want ek moes ‘n paar anner ouens ook paai  en daai vroumens in Oppieklippie se straat se bek is groot en ha brein is klein, ma sy ga djou bribe  ek se djou.”

 

“Gatiep…ek kort my bril…gee vir  Selina enige iets uit die vrieskas net nie die emmertjies met die aas nie…en dan bring jy my bril…en vra vir haar die bottel met die dik wit medisyne wat in die badkamerkassie is…sy moet dit saamstuur….!   En my dasse, se sy kan van die dasse  kry…en vat vir jou vrou ook daarvan…maar bring my bril!” 

Profile photo of lisa

by lisa

…soos ‘n akker!

Mei 19, 2010 in Sonder kategorie

Block Cascade gespeel tot by 29173…

Blogs gelees tot my batteryliggie begin flits…

Skape getel tot hulle nie meer oor die heining wou spring nie…

Wat nou?

Profile photo of lisa

by lisa

Koringkorrels val

Mei 8, 2010 in Sonder kategorie

ONS RY WES. DIE LAASTE SON SKERP IN MY OE. KAN BLOG MET MY NUWE SELFOON, KAN N MAANLANDING VAN NOM AF REEL, NET  NIE BEL NIE, WANT SY OPVANGS IS POWER.      

ONS RY WES EN DOUGLAS SIMPIWE NTSUDU IS DOOD. 

EK HET BLY SIT TOE DIE RES VAN DIE GEMEENTE SONDAG OPGESTAAN HET OM KERSIES AAN TE STEEK – SIMBOLIES VAN DIE BESLUIT OM HULLE LIG TE LAAT SKYN, DALK HET DAAR AGTER MY NOG IEMAND BLY SIT, EK WEET NIE. MAAK OOK NIE SAAK NIE. EK HET NIE OPGESTAAN NIE. TOG WAS MY EERSTE INSTINK MAANDAG OGGEND OM MY ARM OM TUINMAN SE SKOUERS TE SIT EN VIR HOM TE BID VIR ASEM, WANT EK KON DIE BORRELS VLAK HOOR KLAP MET ELKE TEUG.  MY GARINGDRAAD IS OPGEROL, HET HY GESE. EK GAAN NIE DIE JAAR SAAM MY VROU KLAARMAAK NIE.

 EN NOU HET SY SON GESAK. EN EK KAN NIE OPHOU OM HOM TE MIS NIE. EK WIL MY HAND VIR HOM IN RESPEK LIG, SOOS HY VIR MY GEDOEN HET OOR JARE. 

DIE SWEMBAD MOET MAAR GROEN WORD, EN DIE GRAS LANK. WANT ONS ROU. 

EK SAL VIR HOM N KRUIS PLANT IN DIE TUIN MET  DAHLIAS AAN SY VOETE. OM SY LEWE TE ONTHOU, EN DAT EK ALTYD VEILIG BY HOM  WAS. EN VIR DIE KRUIWAENS VOL SAND WAT HY AANGERY HET VIE DIE MANNE. EN DIE SAKKE VOL GRAS VIR DIE HASE EN DIE PERDE. EN AS N GEBED DAT GOD MY N ORDENTLIKE MENS SAL MAAK WAT MOOI KYK NA DIE WAT HOM NA AAN DIE HART LE, MAAR NIE NOODWENDIG VIR MY NIE.

EK ONTHOU SY OUMAGROOTJIE WAT TENNIS GESPEEL HET, EN SY SEUNTJIE WAT DOOD IS VOOR HY N KANS GEHAD HET OM TE LEEF. EN DIE DAG TOE HY BLINKOOG VIR MY VERTEL HET HY HET DIE HERE GEVIND, EN HY IS VRY.

EK IS BLY VIR JOU PIWE, DAT JY VRY IS, DAT JOU SON  NOOIT SAL SAK NIE, DAT JY BY JOU SEUNTJIE IS EN DAT EK JOU KON KEN. EK MIS JOU MEER AS WAT EK OOIT KON DINK EK SOU.

DIS LAAT, MAAR BAIE BAIE DANKIE, EK WEET DIE GROENTETUIN GAAN VREK, MAAR EK GAAN PROBEER.