Profile photo of lisa

by

tiek tok

Maart 27, 2010 in Sonder kategorie

Kry gisteraand die “kostannie” by die Buffelsdrifbordjie.  Net my en Oudste se ore steek uit tussen die pakke macaroni en rolle toiletpapier.  Kostannie se man ken al die storie, want hy daag paraat op met ‘n waentjie vir die proviant.  So in die oorlaai uit die stasiewa na hulle waentjie (alle eer aan die getroue  Volvo want ons maak hulle Merc se agtersitplek en die waentjie vol!) lewer die tannie kommentaar op die aankope, moedig die oom aan met die inpakkery, en wens my sterkte toe met die kamp.  En hou vir hou se ek vir haar dat sy die een is vir wie daar sterkte toegewens moet word (sy is  immers verantwoordelik vir 55 maaltye drie keer ‘n dag vir 5 dae lank).  Maar die tannie hou vol. 

Skoenmaker hou jou by jou lees.  Sy lyk alles behalwe hulpbehoewend.  Sy lyk nie bekommerd of besorgd nie.  Sy lyk nie eers of die oordeelsdag aagekondig is nie.  Sy lyk bloot of sy 55 x 3 x 5 etes moet voorberei, en wat daarvan.

Ek tree met respek terug.  Sy het oondpanne en yskasspasie en vadoeke en gas en resepte en plan A en plan B en ‘n noodplan in haar agterkop.  En sy gaan 40 VB kinders Woensdagaand toelaat om 4-4 hulle eie potjiekos te maak. 

Dis ‘n groot okkasie.  Verlede jaar Oktober reeds beplan, toe 2010 se dagboek nog ‘n reine wit was.  Nou is die dagboek opgeskryf, min afgemerk en die dinge bottelnek hier by my.  Mnr Lisa is kwaai.   Ek hap en stik aan meer as wat mens kan kou.  En ek weet dit.  Maar ek kry nie gestop nie.  (Moeg vir dinge half doen.  Moeg vir dringende sake hanteer.  Moeg vir werk). 

Ek wil daai klein dogtertjies laat opdress vir ‘n teepartytjie.  Ek wil saam hulle kolwyntjies versier.  Ek wil hulle leer popspeel – sonder om die ogies uit te steek.  (Ek wil elke klein lyfie wat ogies uitsteek aanmeld. En ek wil sien hoe hulle versorg en gehelp en gesond word.) 

En ek wil die manne leer skaak speel en monolpoly en pictionary.  Ek wil hulle wys hoeveel mense uit hulle nageslag gebore gaan word, en hoe bepalend hulle keuses vir hulle kinders en kinders se kinders ens gaan wees.  (seker nie so erg nie, maar amper).  Ek wil sien hoe hulle iemand se hand kan druk terwyl hulle hom met selfvertroue in die oe kyk. 

En ek wil deesdae ‘n ma wees.  ‘n Goeie ma wees.   En net ‘n ma wees. 

5 antwoorde op tiek tok

  1. wynvdm het gesê op Maart 27, 2010

    Ek glo dis die hoogste, en edelste, roeping denkbaar.

  2. HeavyHenry het gesê op Maart 27, 2010

    “Sy lyk bloot of sy 55 x 3 x 5 etes moet voorberei, en wat daarvan.”

    Dis nou iemand om aan jou kant te hê!

  3. DallaSePa het gesê op Maart 27, 2010

    “En ek wil deesdae ‘n ma wees. ‘n Goeie ma wees. En net ‘n ma wees.”

    Ek het nog altyd gedink jy is … niemand sal my anders oortuig nie …

  4. loudavisi het gesê op Maart 27, 2010

    Puik skrywe!
    voorspoed met die take.

  5. Janklaas het gesê op Maart 28, 2010

    Ek is ook seker jy is. Jy’s net moeg, jong.

Los ’n antwoord vir loudavisi. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.