Profile photo of lisa

by

Red roses for a blue lady.

Maart 22, 2010 in Sonder kategorie

Ek het Sunday Blues op ‘n Maandag vandag. 

Ek is wat ek eet en wat ek geeet het vandag (behalwe die blok sjokolade en die pasta) is ‘n paar groot vet happe sinisme en ‘n skyf of drie lusteloosheid.

Dis tyd vir vakansie.  Nie vir niksdoen nie, maar vir iets anders doen as werk.

Ek is moeilik met die kerk.  Ek is moeilik met die staat.  Ek is moeilik met myself.  Ek is moeilik oor die werk. 

My pa het meer as een keer gese hy werk saam met 100 mans voor hy saam met 5 vrouens in ‘n kantoor werk.  En ek wonder. Ek dink nog altyd hy het dit sleg getref met die dat hy eintlik in sy hart ‘n chauvinis is en toe ‘n besonderse weergawe van ‘n feminis as kollega gekry het om mee saam te werk.  Dit kan ook wees dat dit sy is wat die chauvinis in hom gevorm en laat gedy het.  (Nie een van die twee het ooit uit die kas gekom nie – maar die frustrasie met mekaar en mekaar se sentimente skree so hard dat die kasdeure deursigtig was).

Hy was bitter min verbaal negatief teenoor my in my lewe…maar die keer toe ek in st8 wou weet waarom die man bly sit en die vrou die tee aandra terwyl dit die man is wat dors is, het ‘n tipe reaksie uitgelok wat ‘n diep indruk gemaak het.    As hy enige iets gese het soos “omdat ek vreeslik bederf word in die huis” tot ” omdat die maan van kaas is” sou dit goed gewees het, maar toe reageer hy met “ag asseblief tog moenie soos die vroumense by die kantoor wees nie”. 

So het sy werk hom ook in ‘n rasis verander.  En nie in ‘n klein mate nie.  Met baie respek vir die ouens wat werklik deel was van die struggle en wat werklik gestruggle het om reg en regverdigheid te laat geskied,  en dit self onderhou het, kry hy steeds Kersboodskappe en goeie wense van Ndlovus, en Mavusus en Madonselas, maar sy laaste jare in die tuig in ‘n hoe posisie het hom vervreem van die respektabele stryders op grondvlak, en hom daagliks in aanraking gebring met meer feministe en meer kommuniste en meer korrupsie en van hom ‘n mens gemaak wat ek dankie-tog nie in my vormingsjare geken het nie.

Self ‘n sielkundige behoort hy ‘n sielkundige te gaan sien om al die opgekropte skade veilig te laat ontlont, want hoe ouer hy word hoe meer begin hy vir my die aansien van ‘n tydbom kry.  Iewers dink ek – het iets met hom gebeur soos wat met manne in n oorlogsituasie gebeur het –  hy praat nie daaroor nie, maar dis daar, die iets, die skade,  die te veel gesien en beleef en die anders-as-wat-hy-ons-geleer-het wat so van tyd tot tyd deurslaan in wat hy se en doen.  Ek weet hy is nog erens en iewers betrokke waar sy dieet uit die dinge wat om ons aangaan bestaan.  En ek sien nie dat dit hom goed doen nie.

Toe ek klein was kon ek op sy skoot klim en se hy moet vir  my ‘n mooi storie vertel tot ek slaap.  Maar daai dae is verby. Ek is groot en stories help nie meer nie.     Ek  moet nou stories vertel vir my kinders.  Mooi stories om hulle te laat droom, en tawwe stories om hulle voete op die grond te hou.    

Blou is my kleur vandag.  Blou, Blou Danube, Baby Blue, en Monday Monday…

Signing off

Lisa

8 antwoorde op Red roses for a blue lady.

  1. Janklaas het gesê op Maart 22, 2010

    Daar is so baie soos hy. Later sit hulle in aftreeoorde hulle gemeenskaplike kwaad en troetel. My skoonma was ook so.
    Dis so hartseer. Mens wil hulle graag tevrede en gelukkig sien.

  2. dinkweer het gesê op Maart 22, 2010

    Dit is nogal boeiend watter uitwerking selfs net ‘n gedagte of ‘n oënskynlike klein gebeure op ‘n mens se gemoed kan hé.Die Nederlandse psigiater, JH van den Berg, het nogal boeiend daaroor geskryf. Vertel onder andere hoe net ‘n kort telefoonoproep een aand die hele aand meteens verander het. Hy was gesellig aan die lees voor die vuur. Toe die oproep. Daarna is die aand ongesellig en hy lusteloos, hy kry meteens koud, raak berwus van die wind wat waai en kom nie weer aan die lees nie edm.

  3. JWinAus het gesê op Maart 23, 2010

    Ai Lisa, ek hoop die dag het darem mooi gedraai. Ek sien dieselfde met my Ouboet gebeur. Hy is in die onderswys betrokke, en dis ook besig om ‘n groot en negatiewe invloed op hom te hê.

  4. lisabeth het gesê op Maart 23, 2010

    Het op die Maandag aand saam met vriende gekuier tot dit amper Dinsdag geword het…flou opgestaan, maar uit die blou! Mooi dag doer ver…

  5. lisabeth het gesê op Maart 23, 2010

    Ek was op ‘n stadium agv tiroiedstorms so sensitief vir adrenalien dat ek wanneer ek die kinders sien hardloop het, en net gedink het een kan val, ek die adrenalien soos ‘n siek golf oor en deur my voel speol het…met dieselfde nagevolge as wanneer mens baie groot geskrik het. Daardie was baie selg maar ook genade tyd, want ek kon fisies ervaar hoe my gedagtes ‘n effek op my liggaam het.

  6. lisabeth het gesê op Maart 23, 2010

    Weet jy wat is die slegste vir my…om te sien hoe my held dit wat hy my geleer het nou oorboord gooi. Asof hy kleiner word.

  7. lisabeth het gesê op Maart 23, 2010

    Jig, ek voel sleg oor my eie antwoord hierbo!

  8. Janklaas het gesê op Maart 23, 2010

    Onthou hom asseblief eerder soos hy was. Hierdie is ‘n ander mens, ‘n oumens wat jy op ‘n ander manier moet liefhê. Anders gaan hy net al kleiner vir jou word.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.