Jy blaai in die argief vir 2010 Maart.

Profile photo of lisa

by lisa

Nag.

Maart 31, 2010 in Sonder kategorie

Nee wat…my battery is nou pap (en die laptoppie s’n ook)…sal maar anderdag weer die foto-ding probeer.   Ek wou vir julle kampfotos gewys het…maar die laatnagte haal my nou in.

Lekker slaap.

Profile photo of lisa

by lisa

Iemand wat tyd het…

Maart 31, 2010 in Sonder kategorie

Kom help gou bietjie hier om die fotos op te laai – dit vat te laaaaaank! 

(ek los die laptop aan, leer se naam is op die papiertjie teen die skerm)

Dankie solank.

L

Profile photo of lisa

by lisa

tiek tok

Maart 27, 2010 in Sonder kategorie

Kry gisteraand die “kostannie” by die Buffelsdrifbordjie.  Net my en Oudste se ore steek uit tussen die pakke macaroni en rolle toiletpapier.  Kostannie se man ken al die storie, want hy daag paraat op met ‘n waentjie vir die proviant.  So in die oorlaai uit die stasiewa na hulle waentjie (alle eer aan die getroue  Volvo want ons maak hulle Merc se agtersitplek en die waentjie vol!) lewer die tannie kommentaar op die aankope, moedig die oom aan met die inpakkery, en wens my sterkte toe met die kamp.  En hou vir hou se ek vir haar dat sy die een is vir wie daar sterkte toegewens moet word (sy is  immers verantwoordelik vir 55 maaltye drie keer ‘n dag vir 5 dae lank).  Maar die tannie hou vol. 

Skoenmaker hou jou by jou lees.  Sy lyk alles behalwe hulpbehoewend.  Sy lyk nie bekommerd of besorgd nie.  Sy lyk nie eers of die oordeelsdag aagekondig is nie.  Sy lyk bloot of sy 55 x 3 x 5 etes moet voorberei, en wat daarvan.

Ek tree met respek terug.  Sy het oondpanne en yskasspasie en vadoeke en gas en resepte en plan A en plan B en ‘n noodplan in haar agterkop.  En sy gaan 40 VB kinders Woensdagaand toelaat om 4-4 hulle eie potjiekos te maak. 

Dis ‘n groot okkasie.  Verlede jaar Oktober reeds beplan, toe 2010 se dagboek nog ‘n reine wit was.  Nou is die dagboek opgeskryf, min afgemerk en die dinge bottelnek hier by my.  Mnr Lisa is kwaai.   Ek hap en stik aan meer as wat mens kan kou.  En ek weet dit.  Maar ek kry nie gestop nie.  (Moeg vir dinge half doen.  Moeg vir dringende sake hanteer.  Moeg vir werk). 

Ek wil daai klein dogtertjies laat opdress vir ‘n teepartytjie.  Ek wil saam hulle kolwyntjies versier.  Ek wil hulle leer popspeel – sonder om die ogies uit te steek.  (Ek wil elke klein lyfie wat ogies uitsteek aanmeld. En ek wil sien hoe hulle versorg en gehelp en gesond word.) 

En ek wil die manne leer skaak speel en monolpoly en pictionary.  Ek wil hulle wys hoeveel mense uit hulle nageslag gebore gaan word, en hoe bepalend hulle keuses vir hulle kinders en kinders se kinders ens gaan wees.  (seker nie so erg nie, maar amper).  Ek wil sien hoe hulle iemand se hand kan druk terwyl hulle hom met selfvertroue in die oe kyk. 

En ek wil deesdae ‘n ma wees.  ‘n Goeie ma wees.   En net ‘n ma wees. 

Profile photo of lisa

by lisa

Blou my gedagtes, bou om my heen

Maart 23, 2010 in Sonder kategorie

Blou is ‘n bogger.

Ek wou nie vandag submit nie. 

Nie die knie buig nie.

Nie  nie oordeel nie.

Nie kopgee nie.

Nie saamwerk nie.

Sommer net kinderagtig dwars wees.

En blou.

Het die voorsitter  op ongelyk grond uitgedaag. Het my eie standpunt geswaai net om dwars te wees.  Het ‘n lae hou gespeel.

(Was dit ek wat tydens sy biegsessie gese het die een wat sonder sonde is kan die eerste klip gooi?  Was dit ek wat saam met hom gebid het?  Vir hom gebid het?  Was dit ek wat die beste raad gegee het waartoe ek instaat was?) 

En toe gooi ek vandag met houding. En dieper as net in my gedagtes – want dit was ‘n hartsgesindheid van meerderwaardigheid en veragting en nugter weet wat nog.  En of dit die moeite werd was kan ek nog nie weet nie.  Want dit is te vars en ek is nog op my high horse (watter reg het ek?)

En eintlik weet ek waar hierdie diep opstandigheid vandaan kom.  En waarom ek nie die knie wou buig nie , en nie sy gesag wou aanvaar nie. 

En ek weet dit is nie relevant nie.

Hou nie verband nie. 

Maar dit is dieselfde. 

Net ander mense.

Blou is die kleur van kneus.

Profile photo of lisa

by lisa

Red roses for a blue lady.

Maart 22, 2010 in Sonder kategorie

Ek het Sunday Blues op ‘n Maandag vandag. 

Ek is wat ek eet en wat ek geeet het vandag (behalwe die blok sjokolade en die pasta) is ‘n paar groot vet happe sinisme en ‘n skyf of drie lusteloosheid.

Dis tyd vir vakansie.  Nie vir niksdoen nie, maar vir iets anders doen as werk.

Ek is moeilik met die kerk.  Ek is moeilik met die staat.  Ek is moeilik met myself.  Ek is moeilik oor die werk. 

My pa het meer as een keer gese hy werk saam met 100 mans voor hy saam met 5 vrouens in ‘n kantoor werk.  En ek wonder. Ek dink nog altyd hy het dit sleg getref met die dat hy eintlik in sy hart ‘n chauvinis is en toe ‘n besonderse weergawe van ‘n feminis as kollega gekry het om mee saam te werk.  Dit kan ook wees dat dit sy is wat die chauvinis in hom gevorm en laat gedy het.  (Nie een van die twee het ooit uit die kas gekom nie – maar die frustrasie met mekaar en mekaar se sentimente skree so hard dat die kasdeure deursigtig was).

Hy was bitter min verbaal negatief teenoor my in my lewe…maar die keer toe ek in st8 wou weet waarom die man bly sit en die vrou die tee aandra terwyl dit die man is wat dors is, het ‘n tipe reaksie uitgelok wat ‘n diep indruk gemaak het.    As hy enige iets gese het soos “omdat ek vreeslik bederf word in die huis” tot ” omdat die maan van kaas is” sou dit goed gewees het, maar toe reageer hy met “ag asseblief tog moenie soos die vroumense by die kantoor wees nie”. 

So het sy werk hom ook in ‘n rasis verander.  En nie in ‘n klein mate nie.  Met baie respek vir die ouens wat werklik deel was van die struggle en wat werklik gestruggle het om reg en regverdigheid te laat geskied,  en dit self onderhou het, kry hy steeds Kersboodskappe en goeie wense van Ndlovus, en Mavusus en Madonselas, maar sy laaste jare in die tuig in ‘n hoe posisie het hom vervreem van die respektabele stryders op grondvlak, en hom daagliks in aanraking gebring met meer feministe en meer kommuniste en meer korrupsie en van hom ‘n mens gemaak wat ek dankie-tog nie in my vormingsjare geken het nie.

Self ‘n sielkundige behoort hy ‘n sielkundige te gaan sien om al die opgekropte skade veilig te laat ontlont, want hoe ouer hy word hoe meer begin hy vir my die aansien van ‘n tydbom kry.  Iewers dink ek – het iets met hom gebeur soos wat met manne in n oorlogsituasie gebeur het –  hy praat nie daaroor nie, maar dis daar, die iets, die skade,  die te veel gesien en beleef en die anders-as-wat-hy-ons-geleer-het wat so van tyd tot tyd deurslaan in wat hy se en doen.  Ek weet hy is nog erens en iewers betrokke waar sy dieet uit die dinge wat om ons aangaan bestaan.  En ek sien nie dat dit hom goed doen nie.

Toe ek klein was kon ek op sy skoot klim en se hy moet vir  my ‘n mooi storie vertel tot ek slaap.  Maar daai dae is verby. Ek is groot en stories help nie meer nie.     Ek  moet nou stories vertel vir my kinders.  Mooi stories om hulle te laat droom, en tawwe stories om hulle voete op die grond te hou.    

Blou is my kleur vandag.  Blou, Blou Danube, Baby Blue, en Monday Monday…

Signing off

Lisa

Profile photo of lisa

by lisa

Pienkvoetmanne

Maart 19, 2010 in Sonder kategorie

Vanoggend voor sonop die helfte van die pienkvoete rugbyspan help aanry skooltoe en baie slim geword tussen die manne. 

Het julle geweet die verligte kruis op die berg is waarheen mens elke dag moet kyk om te sien of die teewies gaan werk, want as hy brand werk die teewie en as hy nie brand nie werk die teewies nie. 

En van die bobbedjaan met ‘n swart gesig en hare in sy ore wat agter die berg bly wat ‘n vrou se gesig afgevreet het, en nou kan sy nooit weer slaap nie, al lewe sy, want sy het nie meer oe om toe te maak nie. 

En dat die liggies op die pad is oor die ouvrou wat naby Wilge Wandel gebly het wat hulle weggejaag het in die nag toe spoeg sy vuur op die pad en nou brand die liggies want dit was in die nag.

En as hulle daai bobbejaan kry, slat hulle hom lightsout en saag sy tande af, en as sy tande in die rivier val en die visse sluk dit in word hulle sharks. 

En as ek vinniger ry lat die naaldjie in die rooi gaan gaan die enjin deur die bonnit vlieg soos ‘n vierpyl, want daar sit ‘n computer voor tussen die sitplekke wat met ‘n code werk in karre. 

En die vrouens by die padwerke het almal weggeloop uit die pakstore want die vloere is te koud daar want mens kan morsdoodvries in koelkamers, en nou waai hulle borde langs die pad, maar nie daai een nie want hy is ‘n man.

Net voor ek hulle aflaai, herinner ek hulle dat die skoolhoof hulle met die bussie na die rugbydag neem, en wat hulle alles moet onthou en wat om liefs nie te doen nie so hulle reken  hulle weet klaar, hulle moet nie nonsens praat nie, en net sag, dan is mnr ok.

I rest my case.

Profile photo of lisa

by lisa

Ek wil huistoe gaan…na mamma toe…

Maart 17, 2010 in Sonder kategorie

OP ge-debiet en op ge-krediet en op teen die trappe uitgedraf en op geglimlag en op ge-alles….ek wil huistoe gaan!

Profile photo of lisa

by lisa

Beste stuurman aan wal

Maart 9, 2010 in Sonder kategorie

Hierdie is nie ‘n inskrywing nie…dis PS na my vorige inskrywing…

My sterk, dapper stuurman en sy seuns se hare is gisteraand geknip.   Hulle aandag op NaGeo se rekonstruksie van 9/11 en die vrou in hulle lewe se aandag op die taak voor hande: om hulle hare getem te kry.

Almal goed behaard en stekelrig spring die seuns vir die stort met die opdrag, “stort, tandeborsel, ligte af, in die bed” terwyl Stuurman die hare opvee en ek die honde oopmaak en gordyne toetrek.

“Gaan ons sommer swem?” vra hy met ‘n baie bree glimlag en die skoppie vol mannehare in sy hand.  (Sien dit was baie baie warm by ons vandag).

Ek knip die buiteligte af in die verbygaan en begin solank van die harerige klere ontslae raak.  Ek het immers vandag 10 lengtes, dus 115m in die einste swembad gewem, en ek is vol moed dat die aanvanklike koue my nie gaan stuit nie.   En natuurlik wil ek vir my grootste ondersteuner wys hoeveel sy aanmoediging vir my beteken het, en hoe dapper ek die koue water ding kan doen.

Op die boonste trappie van die swembad kyk hy vir my.   Nog net sy hemp is uit. 

“Is dit koud?” vra ek

Daar is ‘n langerige stilte terwyl my grootste fan, die dapper ondersteuner, enkeldiep in die swembad oor die water tuur…

“Stort jy met klere aan?” wil hy darem net eers seker maak. 

En toe begin ek lag “Inderdaad nie!”

Profile photo of lisa

by lisa

Groot probleempie

Maart 7, 2010 in Sonder kategorie

Nuwe buurvrou en ek het begin oefen…nie sommer so nie…ons wil (hoor ek ) Oktober fiks genoeg wees om deur Meiringspoort te draf.  Tjoef tjaf.  Drie dae ‘n week stap en draf en twee dae swem.  Elke week verminder die staptyd en vermeerder die draftyd en die lengtes wat ons swem ook. 

Hier is egter ‘n klein probleempie by my.  En ek kan dit ‘n struikelblok of ‘n uitdaging of sommer net die koue water van die swembad noem…dit help niks. Probleempie gaan nie weg nie!  Die kinders moedig aan, en mnr Lisa gee laggend raad…dit help niks!

(Fluisterstem) en dit het oornag gebeur…

Ek dink dit moes daai nag gewees het toe ek veertig geword het…maar dis nie ‘n wetenskaplike waarneming nie, aangesien dit nie herhaalbaar is nie…ek is nou net elke dag nog ‘n dag verder van die eerste dag van veertig af. 

Ek het met afgryse almal se kommentaar gelees op DSP se vraag oor wat die ouderdom inhou…en niks van wat genoem is het my getref nie (waarskynlik omdat ek nie ‘n man is nie)  maar ek bly wonder…

Is dit dalk die 4 en die 0 wat nou op die manier presenteer!

Ek wil nie vetkoekpaleisstyl Worsie se ma namaak nie, maar regtig – ek het vier babatjies in die lewe gebring …

En nou kry die koue swembadwater my onder!  Meiringspoort gaan my nie sien as dit van swem afhang nie, want ek kom nie in die water nie!  

Hoe laf is dit!?  “Vrou oorleef huwelik, kinders, werksdruk, koskook, skoonfamilie, familie, stoepverkopings, vroue-dienste, perdry, tiroiedstorms,  af rug, trek oor die Drakensberge en stuit voor die water van een onskuldige swembad”.

Tragies!

Profile photo of lisa

by lisa

Tyd om te tik!!!!!!!!!!!!

Maart 3, 2010 in Sonder kategorie

Ek is stoksielsalig alleen in die kantoor.  Net die rekenaar se lig is aan – en ek kan tik vir ‘n minuut of twee! En as die internet konneksie so lekker blitsvinnig bly kan  ek lees ook! 

Die netwerk is al af…en ek kan nie verder werk nie.  Jippie.  En koebaai, gaan gou lees wat julle aanvang!