by

Die nuwe nou.

Februarie 16, 2010 in Sonder kategorie

As mens gewoond is aan die interaksie tussen ses gesinslede, is die weggaan van twee meer as net minus twee.  Dit is minus elke ander lid van die gesin se interaksie met die twee wat weg is, en dis minus die twee wat weg is se interaksie met mekaar. En dis minus die saamstaan van daardie twee teen die res, en die saamstaan van die manne teen die meisies en dis minus die pa se interaksie met die dogters en dis minus baie.

En dis stil.

Het ons aandele in Vodacom gehad, kon ek voel dat ons finansieel indirek by ons uitgawes baat…maar ons het aandele in Telkom, en dit mag dalk ‘n fout gewees het.  Want koshuiskamers het nie telkom fone nie. 

Ek bevind my in ‘n stil huis.  Sonder drama.  Die gesprekke gaan oor konkrete dinge. En net die nodigste word gekommunikeer.  Die enigste herhaling is die oorvertel van ‘n situasie wat die manne laat skater, en by my hoogstens ‘n glimlag uitlok.

In die kombuis word RSG geluister.  Altyd.  Die radio is af of die radio is op RSG.  Daar vang ek stukkies nuus, en stukkies gesprek, en stukkies musiek op.  Alles net in stukkies.  Nie net omdat ek nie ure daar deurbring in die voorbereiding van maaltye wat binne 30 minute geskiedenis is nie, maar omdat dit een van die spilpunte in die huis is.  Allemansland.  Ook die honde en die papagaai het daar regte.  Stukkies is dus al wat hoorbaar is in die tussen-in-tye van die gesin se kom en gaan.

Die braaivertrek werk in stereo.  Daar het elke tyd van die dag sy eie orde, en wissel die verskillende toestelle se desibels volgens die tydgleuf van die dag.  Nuustyd is daar ‘n klein verposing.  Dan moet alles anders stil wees, sodat Riaan Cruywagen kan praat, en die pa kan orde skep in sy kop na ‘n lang dag, en die ma kan kophou sodat daar nie sokkies in die slaai beland en kaas in die sportsakke nie.   

In die seuns se kamer heers stilte.  Wanneer hulle bou, of uitmekaarhaal, of slaap is hulle daar.  Weg van die gedruis.  Een been onder hulle ingevou die ander opgetrek sodat die ken op die knie kan rus, vooroorgebuig in konsentrasie op die projek in wording.  Daar is nie musiek nie, nie klank nie, daar is stilte, en baie baie goeters wat nooit die kamer sou haal as hulle nie ook ‘n pa gehad het nie.

Oudste se bed is wit.  En ek weet presies hoe groot sy geword het, want dit bly wit en skoon en sag.  Soos haar musiek.  Soms in lawwe uitbundigheid doef doef dit deur die toe kamerdeur, maar oor die algemeen kan mens met haar kommunikeer ten spyte van die klank.  As jy n musikant is en jou cd haal haar kamer, kan jy weet jy is geluister en gehoor en geweeg en heilsaam bevind.  As jou lirieke vlak is, mag jou ritme magies wees, jy sal nie die voorreg he om deur haar ruimte te doef doef nie.  Anders as haar ma op haar ouderdom gaan sy nie kompromiee aan nie.  Jy’s reg of jy is weg. 

Nommer twee raak soos haar pa aan die slaap met musiek.  Klassieke musiek, insturmentale musiek, ingewikkelde klank, ryk aan kompleksiteit en ondeurgrondelik soos die simfonie van die see.  Soos sy.  Jy mag haar branders sien breek, maar die kragte wat haar beweeg is nie sigbaar vir die blote oog nie.  Tyd en ondervinding is wat jou die getye laat lees, wat jou op die golf laat ry, maar wat maak dat jy altyd waaksaam en oplettend is, want net soms en onverwags kom daar ‘n dumper. 

En dan is daar ons kamer.  Die vlugtelingkamp.  Die plek waarheen almal of een soms uitwyk vir alleenreg op stilte, of koelte, of beheer oor die kontrole, of sommer net vermoed ek, omdat ons reels hier geld, en hulle kan rus sonder om hulle grense te bewaak.  

Ek mis die warboel.  Ek mis die gedruis.  Ek mis die doef-doef en die simfonie.  Ek mis die ingewikkelde gesprekke. Ek het onverwags tyd vir myself.  En ek leer nuwe dinge – soos dat seuns mekaar vermaan om nie in die paddapoef te trap nie, nie omdat hulle besorg is oor die ander se welsyn nie, maar oordat die poef nie bederf moet word nie, want dis ‘n interressante verskynsel wat hulle onbederf wil sien.  Ek het nie geweet nommer drie kan sing nie.  Hy sing nooit.  Vanoggend in die motor het hy en sy boet ‘n liedjie uit Gulliver gesing, nie ter wille van sing nie, maar omdat die storie en die liriek snaaks is.  Hy sing so mooi en nootvas dat ek hoendervel gekry het.  Ek wonder of die dogters dit weet – dat hy kan sing.

Ek leer dat die manne nie gepla is oor slaai nie, dat hulle eet omdat hulle honger is,  dat hulle met hulle hande eet omdat dit vinniger en makliker is.  Dat “Hoe was jou dag?” ‘n baie eenvoudige vraag is met ‘n baie eenvoudige antwoord “goed” of “sleg”.  En dan is dit oor en uit. 

Ek leer ook dat daar twee paar oe minder is wat gunsteling hemde en broeke en skoene kan “spot”. En dat “trek iets gemakliks aan” ‘n baie gevaarlike opdrag is in manne se hande.

Ek is in ‘n nuwe vreemde werklikheid.  Nie sonder sy bekoring nie, maar heeltemal anders.

3 antwoorde op Die nuwe nou.

  1. Ek het baie gemis. Was eers lank weg, het teruggekom en moes weer gaan. Ek het jou blogs so paar weke teruggelees. Lisa, ek kom agter jy is ‘n mense wat die lewe diep ervaar. Dit maak ‘n mens ‘n besondere mens. Liewers die vreugde en pyn werklik in diepte ervaar as om bo oor die lewe die leef.

  2. Ek kan my net voorstel hoe anders dit moet voel. Sit die musiek maar bietjie harder en se vir die manne slaai maak slim en bou spiere!

  3. Hierdie is ‘n PUIK inskrywing!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.