Jy blaai in die argief vir 2010 Januarie.

Profile photo of lisa

by lisa

Afpakplek

Januarie 28, 2010 in Sonder kategorie

Liewe Litnet

As jy my dagboek was sou ek vanaand hier kon stoom afblaas en raas en skel en baklei en moed skep en beter voel.

My inhokkies is oorvol – propvol

Ek het tred verloor met wie ek wat waar belowe het – te veel te veel – en ek het twee dubbelafsprake self gereel

Probeer die mense weghou van die glasdeur af – probeer die magdom admin klaarmaak -probeer uitstel om te praat en te luister

ek het beheer verloor en balans

alles is net net min of meer amper by

niks reg afgerond nie

niks sonder druk en rustig klaargemaak nie

niks voor enige sperdatum uit by die deur nie

hoeveel laat omdraai – ek kan regtig nie nou luister nie

Liewe Litnet , dit gaan net bietjie heeltemal te dol met my.

Profile photo of lisa

by lisa

Skeiding

Januarie 18, 2010 in Sonder kategorie

Na drie konstante dae in mekaar se gesleskap, ken ek en my handsak mekaar se swakpunte. Weet ons presies hoe onversoenbaar ons is.  Om die waarheid te se, ek dink die verhouding het bo alle redelike twyfel onherstelbaar verbrokkel.

Dis nie dat hy vir my lelik is nie – hy het immers my oog daai eerste dag op so manier gevang dat ek impulsief my kredietkaart uitgehaal het met die bedoeling om ‘n lang en gelukkige verhouding aan te knoop.

Die eerste dae was hemels.  Hy was vir my mooi,  sag onder my vingers,  sy lyf het na leer geruik.   Ons het stil en gelukkig na mekaar gekyk.  Dit het goed gegaan met ons.  Net die naby aan mekaar wees was genoeg.   Ek het uitgesien na ons eerste afspraak, opgewonde gedroom oor hoe hy my gaan laat voel en lyk, en hoe maklik hy al my dinge in hom sal ronddra.

Die eerste oomblikke alleen saam was vreemd en nuut en opwindend.  Ons moes mekaar se lywe leerken, en uitsorteer wie waar wil wees en wat waar moet inkom. 

En toe die drie dae wegbreek – byna net ek en hy. 

Ek kan baie klein dingetjies opnoem wat my teen dag twee grensloos begin irriteer het. My ma het my egter reeds op laerskool geleer om nooit uit ‘n verhouding te stap met verbittering in jou hart nie.  Altyd iets om te leer uit elke ervaring.  En om nooit ooit die ander persoon sleg te maak nie – dit was immers jou keuse.

Ek het te oppervalakkig gekyk.  Ek het  te vinnig in die verhouding ingestap.  Impulsief en onoordeelkundig.

En nou kan ek niks doen behalwe om te se ek is jammer nie.  Ek kan nie bly nie.  Ons is nie goed vir mekaar nie, en op die lang duur gaan ons albei skade opdoen.

Ek sal net die nodigste neem.  Ek weet jy gaan iemand anders baie gelukkig maak.  Ek is nie reg vir jou nie.

Ek is regtig jammer – ek weet dit maak niks beter nie – maar dis al wat ek kan aanbied.

Vergewe my, asseblief.

Profile photo of lisa

by lisa

Tussen die mure.

Januarie 10, 2010 in Sonder kategorie

Die dag toe hierdie kamer se fondasie uitgemeet is, is  een koninggrootte bed se posisie bepaal – reg oor die skuifdeur met ‘n uitsig oor die berg.  Daarna is die spasie vir 4 matrasse rondom die koninggrootte bed afgetree.  Daarna die loopspasie om die matrasse,  toe die spieelkas en die lessenaar en die vertoon-musieksentrumkas-kas en die boekrak en die klerekaste en die oefenmasjien en die kaggel se staanplek.  En toe is  die fondasie uitgemerk.

Vanoggend word ek wakker in die middel van die kamer…met die kosbare lywe langs my en  om my versprei soos dit beplan en afgemeet is. 

Agter die glasdeurtjies is lankal nie net meer my eie en Anderhelfte se kosbaarhede nie (niemand het nog die melktandjies agter die stoomenjintjie ontdek nie – of niemand het dit al erken nie). 

Ek durf nie ‘n sekonde huiwer om te leef nie.  Om te doen wat ek moet nie, om te doen waarvan ek droom nie.  Want eendag het nou geword.

Gister het ons die fondasie uitemeet, en vandag dra hulle self die springmielies en die matrasse kamer toe. 

Vandag.  Vandag wil ek leef.