Die eerste brief

February 27, 2019 in Uncategorized

Liewe Melissa,

Hierdie is die eerste brief in ses jaar wat ek vir jou skryf. Hierdie is nie ‘n verskoning nie. Maar beide ek en jy weet hoekom hierdie brief nooit in jou posbus sal land nie.

Tog voel ek die behoefte om met jou te praat. Oor die afgelope ses jaar, oor die veranderinge wat nie ek of jy ooit sou kon voorspel het nie. Terwyl ek in hierdie vreemde landskap sit, dink ek baie aan jou en wat ek jou graag wil vertel. Soms ontmoet ons in my drome – jy, aangetrek in daardie koninklike skakering van purper waarvoor jy lief is, met goue armbande in die vorm van slange wat om jou bo-arms krul – en ek, die een wat altyd aanhoor dat jy nou terug moet gaan, kort voor ek wakker word.

Ander kere hoor ek jou in my gedagtes op daardie wankeldun-grens tussen kreatiewe- en logiese denke. Of ek sien jou vlugtig uit die hoek van my oog, altyd regs van my. Wanneer ek my oë knip, of te vinnig my blik direk na jou draai, is jy weg. Al wat ek dan sien, is ‘n leë vertrek, of die bedding waar daar vorige jaar nog mielies en tamaties gegroei het.

Waar sal ek dan begin met hierdie brief aan jou? Sal ek die gebeure chronologies voor jou neerlê en alles wat my in hierdie oomblik bloots ry eers maande later aan jou vertel kry? Of sal ek begin by die duiwels wat nou in die donker hoeke van my hart en gedagtes wegkruip?

Dan onthou ek wat jy vir my ses jaar gelede getoon het: Uiteindelik is die hede al wat is. Die verlede is maar herinneringe en die toekoms onsekere verbeeldingstogte. Ek beslis dus om oor die hede te skryf.

Jou vriendin,

Black Velvet