Twaalf Mandjies vol!

Ek is bly, ek is bly

Ek verbly my in die Heer

Hy het ons ‘n nuwe lied gegee.  Hy het ons verlos  Hy het ons verlos

Soos ‘n bruidegom en bruid, ek is bly.”

 Die reis na die groot sakrament het Saterdag 19 Maart reeds begin met die pak van die blou trommel wat jarelank ek in ons motorhuis gebêre staan.  Dit laat my dink aan die geheuespeletjie tydens tiekieaande op skool – jy kry een blik en moet dan onthou wat alles op die skinkbord uitgepak is.  Dis vlaggies vir die voorafkuier op die kampterrein, groen ink net vir ingeval, cable ties, kerse, glas bakkies, popcorn shakers, steranys en masala vir die kerrievis, geleende grimering, baaibroek vir swem by Vleesbaai tydens die nabetragting, wasgoedpennetjies, tou en tafelplasings en geskenkies vir die helpers.   Alles…. behalwe Winterklere vir die onvoorspelbare weersomstandighede in die Kaap De Goede Hoop.

Verkenners word 2 weke voor die tyd uitgestuur en na ‘n deeglike inspeksie van die terrein en vele toetskuiers in die opelug op Happy Lands, is ons dit eens:  Ons moet heroorweeg. WItwyn sal moet plekmaak vir meer rooiwyn.  Bietjie minder ys en bier en nog ‘n kaggelvuur.  Nog ‘n aanwysbordjie moet geskryf word:  Koue Voete , Warm kombersies en nog een trippie Pep Stores toe vir snoesige khaki kombersies.  Danksy die Groot Voorsiening, kan  ons  nog ‘n tent bekostig en bring ons nog ‘n paar gasverwarmers in … net vir  die ouer mense en die koue.

Ek verkas na Monteith waar die’ lingsusters’ Oupa Hoppies se gunsteling kerrievis sorgvuldig voorberei en in bottels verpak.   Peetma Tina het haarself oortref die rondte.  Die rok hang wit en wasig teen die kas nadat 60 jaar oue copier kant van Ouma se trourok danksy haar  nuwe lewe gekry het op die aanlynkopie met ‘n storie.

Paasmaandag daag die Coetsees en die ander  Huisamens by Huis Venter op vir die volgende rondte voorbereidings.  Elkeen kry ‘n jobkaart. Take wissel van “hou die bruid kalm tot, tel die teelepels na die tyd, asb.”  Dit spoeg en plak, ‘n volle 24 h skof vir 5-man om die 16 bladsye program in 80 ou, vergeelde boeke netjies te plak.  Elke gas ontvang ‘n program (‘n kleine referaat) oor die volgorde van gebeure, die liedere en stories van die bruid en die bruidegom en hulle werf van herkom s.  Gaan iemand kans kry om dit te lees?  Ons hoop so.

Maandagmiddag begin die groot pak venue toe.  “Quick en Nasty Removals” (John en Dirk se nuwe ondernemig) is bereid en beskikbaar om tot op hierdie stadium nog enige iets te doen wat die “wedding planner” en haar komitee  verlang. Dis voëlhokke en ou, wit deure, ballasmandjies  en wit lampetbekers, kerkboeke , gomgeweer en boesmansaag.  Slaggereed trek ons op Gesinsdag  Stellenbosch toe.  Happy Lands sal nooit weer die selfde wees nie.

By die hoofhuis wag die ander Maria (Mev. Steyn) ons in met ‘n oop huis en oop hart.  Gereed vir enige gebeurlikheid en met volle vertroue dat die ou plaashuis tussen die Simonsberg en Drakensteinberge hierdie fees te wagte is.  Dis oppak en afpak, wegpak en oorpak en so tussendeur inpak vir die groot trek van die gasheer en vrou wat eintlik besig is om te verhuis.  So hier en daar wonder iemand oor die georganiseerde chaos.  “Papp, dink jy  rerig mamma is in beheer, vra Caryn met kommer  haar pa teen Woensdagmiddag toe Mother of the Bride ‘n lang agterwee tandartsafspraak ook nog  inpas.

Leë sakke kan nie staan nie en so tussendeur die genesskroppery deur kry die taakspan nog viskoekies en gebakte patat vir middagete ook.

Spontaan kom die ou CSV lied by my op terwyl ek  heen en weer en heen weer werskaf en woel:  Ek is bly, Ek is bly – soos ‘n bruidegom en bruid Ek is baie bly.

Vrydagoggend 1 April is die werkery in volle swang en op ‘n stadium stop Tina my op ‘n drafstap vir ‘n paar sekondes en vra, “Sus, het jy  al getel – hoeveel mense is hier op die werf, dink jy?  Ek kyk rond.  Dis ‘n trekker met 8 man wat saagsels aflaai vir die nat gras en die afronding by die ingang, skoonfamilie en bloedfamilie wat saam blomme doen op die stoep, peetma Renda en haar ingevoerde “PA”, Sonja al die pad van KNysna  wat harte ophang aan ‘n boom en palette oortrek en ronddra, Mama Taleta  en Sister Kathleen wat anyskoesisters maak in die  kombuis, Pa John wat verbete vlieë jag in die voorhuis, Squeeza  Annelize en nig Ane wat koeke versamel onder glasstaanders, Gloria en Beauty wat probeer voorbly met die skottelgoed en wasgoed.  “En om te dink,” sê ek – hier is geen professionele dienste nie”.  Alles pure dade van liefde.  Een groot community troue in volle swang.

Saterdag breek aan.  Die tafels word gedek met uitvoerdruiwe van De Doorns, olyftakke van die plaas, granate van Bonnievale en Adamsvye uit Prins Albert.  Ek het min geslaap vannag, maak laaste lysies, maar bly by my voorneme om die laaste paar ure met Juffroue Huisamen in die Banhoeklodge se luukste aantrekkamer te kuier.  Caryn het vir haar sus ‘n mobiele massering georganiseer en moeder van die Bruid kry dit reg om na ‘n vinnige draai in Banhoek se kombuis (net gou 5 komme  patatrolle) aan die gang gesit met deeg aan de hande neer te val op die wit bed.  Die luiperd le op haar rug en ons drie skaterlag vir al die eerstes – eerste massering, gesigmaskers, manicures, en eerste troue in die familie.  Daar is ‘n klop aan die deur.  Dis ‘n bossie proteas vir die bruid – van die bruidegom.  Met ‘n briefie.

Soos ‘n bruidegom en brui-uid.  Ons is bly.  Jesus is ons blydskap Jesus is ons bly – y- ydksap ons is bly.

Die strooimeisies daag op en trek aan, beeldskoon in die perskebloeisel en roomwit rokke.  Hulle lampe is vol en daar is vreugde in die kamer. Om kwart voor 3 daag die drywer, Marais Styen, met die die vader van die bruid  in die geleende groen landrover op. Die handgemaakte, hout ukulele pryk trots op sy bors.  Vandag gaan daar musiek gemaak word … in die hemel en op aarde!

Na ‘n draai of twee, daag die bruidskar op by Ebenhaezer.  Voor in die kerk maak die strooijonkers ‘n kring  rondom Herkie en seën vir oulaas die jong man op sy reis.  Ouma Rinette sit voor, Peetma Tina en Peetpa Andries ondersteun die Moeder van die Bruid   Drie geslagte  Sandenbergh pak die voorste gestoeltes halfpad vol.  Die kleinkinders weerkaats die afwagting in die kerkgebou. Die kerkklok beier een keer en toe begin die viole.  Kara Steyn se krulvoshare blink in die middagson wat na ‘n week heel tydig nou sy verskyning maak.  Sy loop stadig en deel bossies blomme uit vir die gaste wat die klein kerkie stampvol sit. Daarna is dit Caryn. Sy berei die weg.  Diep bevoorreg.

En toe kom Papa John. ‘n Skoon agtergrond vir die blosende, beeldskoon bruid.  Sy is werklik mooier as ooit.  Hy loop trots, huil sag binnetoe  vir die oomblik en ‘n mens kan sien hy is diep dankbaar.  Voor die kansel vind ‘n liturgiese uitruiling van ‘n verbond tussen hom en sy dogters plaas.  Die ringetjie wat hy vir sy dogters van sy trougoud laat maak het, word ongemerk afgehaal van Lize-Marie se vinger en aan Herkie oorhandig.

Dis tyd vir aanbidding.   Herkie se broers en susters vat voor.  Daar was baie mooi goed, onthougoed en spesiale oomblikke tydens die bruilofsfees, maar as jy vir die gaste sou vra, wat was die hoogste hoogtepunt,  waar het jy vir God ontmoet tydens die bruilof? Dan sou die meeste saamstem daar bymekaar tydens die saamsing.  Ek het nog altyd gewonder wat bedoel die profete met ‘n lofoffer.  Ek dink daardie was ‘n lofoffer.  En toe vat ons vriend en nog ‘n  surrogaat vader van ons kinders, Johannes Malherbe, voor.  Hy is met die hand uitgekies om die diens te lei.  Soos altyd was dit eg, inspirerend, goddelik en vol humor. Twee vaar beter as een.  ‘n Gemeenskap beter as individue. “ It does indeed take a whole village to raise a child.”  Die mense geniet Masungu se storie, die strooijonkers en strooimeiesie trek die olifant uit die gat.  Dis ons troue die. Nie net die Huisamens s’n nie. Ons breek die tuisgemaakte, ongesuurde brood en bedien nagmaal uit blikbekers.  Buite die kerkgebou kuier en gesels die mense land en land. Dis asof hulle nie wil aanbeweeg nie.  En dis soos Renda sê, na die diens sou ons op die sypaaadjie kon gaan sit en slaptjips eet en beaam, dit was genoeg  en goed en van God af, hierdie bruilof.

Maar op Happy Lands wag daar nog verrassings .  Die ingang na die voorafkuierarea verskaf ‘n agtergrondpentjie wat Pinterest ver in die skadu sal stel.  Marjorie en Annelie maak  hemelse agtergrondmusiek op kitaar en fluit en Taleta bedien warm spinnakopitas en sjerrie vir ‘n lusmakertjie.  Tot Ouma Rinette se verbasing eet die trougaste die springmielies wat op die tafel troon wat uit die boom uithang . Die vure brand hoog en  mense kuier lekker. Na die twee pa’s se pittige toesprake beweeg ons om die draai lang gang af tussen  getuies van familie portrette .  Die genooide gaste soek hulle naam op die stoep en beweeg deur na die grooteet tafel in die pragtige oop tent wat uitkyk op die Simonsberg. Alles is  prentjieboek mooi en watertandlekker.  Die gemeste skape kom van Skeiding en Kliprivier.  Dis ‘n ruim aanbod.

Na ete is die bruid en brudiegom aan die woord.  Hulle eer God en bring hulde aan hulle ouers op ‘n baie egte manier.  Die gaste drink elke woord in en kry koue rillings terwyl Herkie Psalm 1 kwoteer soos wat hy dit in sy ouerhuis geleer het.  Daar is nie sprake van die ellendige Tant Koek se Hoenderhaan nie.  Toe die huwelikspaar die dansbaan open, is daar weer eens ‘n gewyde stilte.  “You came into my life like a wildfire.”  Die misterie van die liefde moedig die ongetroudes aan om geduldig te wag op die Koning en die lank getroudes dans ook later saam, knie of heup ten spyt.  Daarna beweeg ons soos een man na die voorhuis vir die dekadente afsluitinkies, noukeurig voorberei deur die gemeenskap, perskepienk appelrosies soos net my “ling” dit kan maak, sjokolade salami, macadamiaclusters, Laeveld truffels en grysgroen Skeiding Cake pops.  Die barista bly besig en die mense kuier lank en lekker.

Ons maak ‘n gangetjie en groet die bruidspaar na ‘n Grootse Fees.  “Die Bruilof van die eeu”, bespiegel ek en die bruid so onderlangs in ‘n sms later.  En ons is almal in die woorde van die bruidegom vol antisipasie oor die hemelse fees waarna alle mense kan uitsien eendag.  Nie net die Huisamens en die Sandenberg familie en vriende nie.  Dis vir almal.  En dis verniet!

Sondagoggend is die nabyfamilie moeg en broos.  Ons bekers loop oor.

Die “Mother of the Bride” is diep dankbaar en baie  tevrede met die verloop van gebeure soos opgesom in die woorde van haar aanstaande ander skoonseun, Geo Coetsee….  Raak waarnemer, die jong man.

 Iewers op ‘n eiland

Sit twee verliefdes nou

En dink terug aan hulle troudag

En ‘n ongelooflike vrou

Sy het haar dorp verlaat

En baie ver gereis

Om op ‘n vliee bedekte perdeplaas

Vir ons ‘n ding of twee te wys

Soos ‘n bekwame dirrigent

Voor sy groot konsert

Het sy hierdie troudag van die vloer af ontwerp

Sys vroeg Vydag op

En laat aan die werk

Daag saterdag op

Trotse ma in die kerk

Moeder van die bruid

Moeder van die res

Dankie mama Riekies

Vir die grootte van jou nes

 En Maandagoggend toe ek om die hoek van Caryn se huisie op Happy Lands kom, kom  die plaas se trekker van voor met ‘n wavrag vol van die bruilof se weggooigoed .  Twaalf mandjies vol.  Dit was groot en dit was goed.  Baie goed. En daar was en is genoeg.  En om te dink almal sien kans vir die volgende hoofstuk wat geskryf word as ons eersgeborene in die voetspore van haar sussa volg.  Halleluja.  Prys sy Naam!  Tot ons mekaar weer sien op die 9de Julie.

Ons is bly.  Ons is bly.  Soos ‘n bruidegom en bruid. 

Hy het ons ‘n  nuwe kleed  gegee.  Hy het ons verlos  Hy het ons verlos

Soos ‘n bruidegom en bruid, ons  is bly.

 

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *