You are browsing the archive for 2017 January.

Ons onthou

January 15, 2017 in Sonder kategorie

Dis Donderdagaand 5 Januarie kwart voor 8. Ek steek ‘n kers aan en sit die koormusiek CD op wat ek verlede week by Swellendam se SPCA vir ‘n winskpie gekoop het. Die keuse van die eerste snit verras my asof Iemand geweet en die uur bepaal is.
“Laat my nooit die grond verlaat nie.
Laat my in u skadu bly
Gee dat elke aardse vreugde en vrees eindelik nietig word vir my
Wat ek is is net genade. Wat ek het is net geleen.”
Eintlik smag ek na U waters van rus.
Lei my, Heer, vanaand daarheen.”
Kan dit wees dat hierdie die finale samevatting is, die klanke suiwer en die woorde profeties, ons ma se versugting van die laaste tyd en eintlik haar lewe opsom in ‘n skrale 5 min? Die telefoon lui so skuins voor 8 en Pietie bevestig dit. Dit was toe Mamma se laaste groet. Die Here is oneindig goed.
Stap saam met my op die onthoupad terwyl ons die lewe van Rinette Uys vier.

Ek onthou ‘n ma wat ‘n eredoktorsgraad vir ouerskap verdien. Iemand wat die taak tot ‘n edel professie verhef het – die uiterste bekwaamheid waarmee sy verlede week nog die wasgoeddraad benader het, verstom mense soos ek. Sy het nou wel party dae gevoel sy het liederlik gefaal as sy na my, haar loskopkind se oop kasdeur, deuremkaar linnekas en onpraktiese skottelgoedwaspraktyk kyk maar, sy kan beslis nie skuld kry dat ek sommige huishoudelike take nooit bemeester het nie. Diep binne was sy beskeie-dankbaar vir die eindresultaat , maar het sy geen krediet gevat vir dit wat sy in haar kinders agtergelaat het nie: volop selfvertroue, diep gelukkig en dankbaar gelowig. “Dis alles net genade, my kind, net Genade”. Sy het haar rol verstaan om nie ons beste vriende te probeer wees nie, maar ons beste ma. Sy en Pappa Hoppies het ons vlerke gegee en wortels. Hulle het in ons geglo. Ons onthou ‘n onbaatsugtige, selflose versorger – ‘n ma wat net altyd daar was. Gratis noodhulp, taxidienste, bed, dinner en ontbyt en laundry dienste haar lewe lank verskaf. Sy verdien voorwaar ‘n toekennig vir die oorlewing van 5 kinders in 4 jaar. Dit was nie aldag ‘n stemmige storie wat in ons huis hier op Kliprivier geskryf is nie. So het ons liewe moeder eers eendag nadat ons almal op universiteit is ontdek: “My wêreld daar is voëls op die plaas”. Voorheen was daar net ‘n gepraat en soms ‘n geraas. Ons ma was daar sonder die luukse van wegbreeknaweeke vir die ouer, of kwaliteit tyd vir haarself.
Ek onthou haar wysheid toe ons later self ouers was. “Die beste geskenk wat jy vir jou kinders kan gee is om jou man/vrou lief te hê”, en haar insig om sommer by geboorte al die naelstring van jou kinders te knip. En toe hierdie wysheid in 1985 met die onverwagse dood van Hendrik getoets is “soos deur vuur heen”, toe het sy haar geloof in ‘n goeie God behou. Die geloof wat sy as ‘n jong vrou herontdek en oorgeloop het van.
Ons eer haar vir haar kinderlike geloof dat God goed is. Selfs toe alles verander het die dag toe Pa Hoppies vir altyd weg is en sy die alleenpad moes stap.
“Dit help nie om jou te bekommer nie en die bobbejaan agter die bult te gaan haal nie”, het sy dikwels gesê. “Die krag, Jesus se opstandingskrag ontvang jy op die oomblik, net op daai oomblik wat jy dit die nodigste het. Nie ‘n oomblik te vroeg of te laat nie.”
Sien julle ook haar sit op die Groot Pawiljoen terwyl sy ritmies klap saam met die skare geloofsgetuies “Hou so vol, enduit. Julle kan!”

“Eer jou vader en jou moeder” het in Rinette se lewe geen perke geken nie. Ons pluk die vrugte tot in die duisendste geslag van ‘n Ma wat haar ouers geëer het, diep lief gehad en by hulle geleer het. En ons en ons kinders sê dankie.
Die dinamika van die twee-sustersverhouding is genoeg stof vir ‘n lekkerlees komedie met een deurlopende tema: “Ek is hard en duidelik lief vir jou!” En ons stry sommer van pure lekkerkry. Dis net dat die feite en die fiksie oor hulle kinderdae nie altyd ooreen gestem het nie en dit tot groot vermaak van die toehoorders in die uitgebreide familie dalk na ‘n bakleiery geklink het. Ons salueer ‘n formidabele suster, ons Tannie Mardine en mamma se naaste naaste. Hier vanuit die binnekring kan ek my kop op ‘n blok sit. My ma het nie een aand in haar lewe kwaad of dikbek vir iets of iemand gaan slaap nie. “She travelled light” sonder enige wrokke en verwyte. Dis ‘n persoon wat maklik kon vergewe.
Ons onthou ‘n mense mens vir wie niks meer belangrik was as ‘n ou koppietjie tee en ‘n geselsmaat nie. Ene wat nie gewag het vir die lewe om haar te nooi nie, maar ons geleer het om onsself te nooi, ons eie dag te maak en ‘n vriendin te wees. Nie ‘n allemansvriend nie, maar ‘n baie lojale vriendin deur dik en dun.
Ons onthou ‘n profeet wat soms wel in haar eie land geër is, wat loshande die meeste optredes by troues, Bybelstudiegroepe en gebedsbyeenkomste gehad het in haar eie dorp. En wat na die voorbeeld van Jesus die ouer mense by Aan De Drostdy nie vergeet het nie en getrou vir hulle gaan lees het.
Ons onthou ook al die dinge waar sy ‘n kleintjiedood aan gehad het. Soos bidure waar daar nie gebid word nie en ‘n grote kerkgebou waar mense kol kol sit en nie die plek van vooraf vol maak nie. Dis hoekom ons liewer in die Groot Kerk onder die bome kerk hou vandag.
Ons onthou ook haar liefde vir haar skoonkinders, soos vir haar bloedkinders en soms nog meer, want hulle het eerlik in haar oë nie foute gehad nie. Sy was nie van die breggerige soort nie, maar die skoonkinders se lof is nederig besing. . Min het sy geweet dat Suria die een sou wees wat haar die Donderdagaand sou ‘dignify’ toe sy vir die laaste keer verhuis het. Jy was daar namens ons almal. Dankie, my liewe squeeza.
Die voorlaaste onthou is ons Ouma-onthou. Die weldeurdagte presentjies, handgeskrewe kaartjies, tydig en ontydige inval in haar dorpshuis in hul skooldae, rondry agter aktiwiteite en swem en tennislesse wat niks opgelewer het nie, vuil doeke omruil kleutertyd en vakansie ore toedruk saam met die 20 stuks op Groot Rumoer op Infanta. En die kaart games, o die kaart games. En die baie bid op haar knieë vir elkeen by die naam. Ons is so bly moeder kon die troutabberds uit die motbolle verlos toe daar darem 2 van die kleinkinders verlede jaar die knoop deurgehaak het. Die twee troues was groot. Ons Ouma het gestraal nes die bruide en die bruide se ma. En ons kan kiekies kyk en dankie sê vir ‘n gedeelde erfporsie , ‘n nageslag wat die Here dien. Wat meer kan ons vra. Ons bekers loop oor. Elke gebed gehoor . En die wat nog vir hulle maters wag, kan ontspan – vooruitgedateerde gebede vir julle lewensmaats is lank reeds opgeteken en gereed om vrygestel te word op sy eie tyd.
En die laaste onthou is nog ‘n goeie onthou. Ons laaste Kersfees saam net nou die dag op Onrus. Die Erwee kinders was almal saam in die kerk en ouKersaand het ons met nuwe aangetroude Coetsee familie aan die langtafel gekuier. Tydens ons gebruiklik “care en share” oefeninkies was almal diep geraak deur Ouma se bydrae om in 2017 aan sagmoedigheid te werk. Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal God sien. Nog ‘n profetiese uitspraak hier naby die wenstreep. Nog ‘n gebed verhoor.
En dan was daar die laaste swem saam met my en Saar op Vleesbaai. Die water was badwaterwarm en die golwe oumensvriendelik. Toe het Mamma reeds geweet: “Hierdie is my laaste swem, my kind.” En dit was goed, baie goed. Die Here het gehoor:
“Gee dat elke aardse vreude en vrees eintlik nietig word in my … dat ek asseblief, sommer net so groet sonder pyn of lyding of ‘n lastigheid vir iets of iemand.”
Daarom sê ons almal saam net weer dankie. Dankie vir die Here., want “Wat ons is, is net genade. Wat ons het, is net geleen.”