You are browsing the archive for 2016 April.

TWAALF MANDJIES VOL!

April 16, 2016 in Sonder kategorie

Ek is bly, ek is bly

Ek verbly my in die Heer

Hy het ons ‘n nuwe lied gegee.  Hy het ons verlos  Hy het ons verlos

Soos ‘n bruidegom en bruid, ek is bly.”

 Die reis na die groot sakrament het Saterdag 19 Maart reeds begin met die pak van die blou trommel wat jarelank  in ons motorhuis gebêre staan.  Dit laat my dink aan die geheuespeletjie tydens tiekieaande op skool – jy kry een blik en moet dan onthou wat alles op die skinkbord uitgepak is.  Dis vlaggies vir die voorafkuier op die kampterrein, groen ink  vir die stempeltjie, cable ties, kerse, glas bakkies, popcorn shakers, steranys en masala vir die kerrievis, geleende grimering, baaibroek vir swem by Vleesbaai tydens die nabetragting, wasgoedpennetjies, tou en tafelplasings en geskenkies vir die helpers.   Alles…. behalwe Winterklere vir die onvoorspelbare weersomstandighede in die Kaap De Goede Hoop.

Verkenners word 2 weke voor die tyd uitgestuur en na ‘n deeglike inspeksie van die terrein en vele toetskuiers in die opelug op Happy Lands, is ons dit eens:  Ons moet heroorweeg. WItwyn sal moet plekmaak vir meer rooiwyn.  Bietjie minder ys en bier en nog ‘n kaggelvuur.  Nog ‘n aanwysbordjie moet geskryf word:  Koue Voete , Warm kombersies . Danksy die Groot Voorsiening, kan  ons  nog ‘n tent bekostig en bring ons  ‘n paar gasverwarmers in … net vir  ingeval vir die ouer mense en die koue.

Ek verkas na Monteith plaas  waar die’ lingsusters’ Oupa Hoppies se gunsteling kerrievis sorgvuldig voorberei en in bottels verpak.   Peetma Tina het haarself oortref die rondte.  Die rok hang wit en wasig teen die kas nadat die 60 jaar oue coupier kant van Ouma se trourok danksy haar  nuwe lewe gekry het op die aanlynkopie met ‘n storie.

Paasmaandag daag die Coetsees en die ander  Huisamens by Huis Venter op vir die volgende rondte voorbereidings.  Elkeen kry ‘n jobkaart. Take wissel van “hou die bruid kalm tot, tel die teelepels na die tyd, asb.”  Dit spoeg en plak, ‘n volle 24 h skof vir 5-man om die 16 bladsye program in 80 ou, vergeelde boeke netjies te plak.  Elke gas ontvang ‘n program (‘n kleine referaat) oor die volgorde van gebeure, die liedere en stories van die bruid en die bruidegom en hulle werf van herkoms.  Gaan iemand kans kry om dit te lees?  Ons hoop so.

Maandagmiddag begin die groot pak venue toe.  “Quick en Nasty Removals” (John en Dirk se nuwe onderneming) is bereid en beskikbaar om tot op hierdie stadium nog enige iets te doen wat die “wedding planner” en haar komitee  verlang. Dis voëlhokke en ou, wit deure, ballasmandjies  en wit lampetbekers, kerkboeke , gomgeweer en boesmansaag.  Slaggereed trek ons op Gesinsdag  Stellenbosch toe.  Happy Lands sal nooit weer die selfde wees nie.

By die hoofhuis wag die ander Maria (Mev. Steyn) ons in met ‘n oop huis en oop hart.  Gereed vir enige gebeurlikheid en met volle vertroue dat die ou plaashuis tussen die Simonsberg en Drakensteinberge hierdie fees te wagte is.  Dis oppak en afpak, wegpak en oorpak en so tussendeur inpak vir die groot trek van die gasheer en vrou wat eintlik besig is om te verhuis.  So hier en daar wonder iemand oor die georganiseerde chaos.  “Pappa, dink jy  rerig mamma is in beheer?”, vra Caryn half bekommerd teen Woensdagmiddag toe Mother-of-the-Bride ‘n lang agterweë tandartsafspraak ook nog  inpas.

Leë sakke kan nie staan nie en so tussendeur die genesskroppery deur kry die taakspan nog viskoekies en gebakte patat vir middagete ook.

Spontaan kom die ou CSV lied by my op terwyl ek  heen en weer werskaf en woel:  Ek is bly, Ek is bly – soos ‘n bruidegom en bruid, Ek is baie bly.

 

Vrydagoggend 1 April is die werkery in volle swang en op ‘n stadium stop Tina my op ‘n drafstap vir ‘n paar sekondes en vra, “Sus, het jy al getel – hoeveel mense is hier op die werf, dink jy?  Ek kyk rond.  Daar loop ‘n trekker met 8 man wat saagsels aflaai vir die nat gras en die afronding by die ingang, skoonfamilie en bloedfamilie wat saam blomme doen op die stoep, peetma Renda en haar ingevoerde “PA”, Sonja, al die pad van Knysna  wat harte ophang aan ‘n boom en palette oortrek en ronddra, Mama Taleta  en Sister Kathleen wat anyskoesisters maak in die  kombuis, Pa John wat verbete vlieë jag in die voorhuis, Squeeza  Annelize en nig Ane wat koeke versamel onder glasstaanders, Gloria en Beauty wat probeer voorbly met die skottelgoed en wasgoed.  “En om te dink,” sê ek – hier is geen professionele dienste nie”.  Alles pure dade van liefde.  Een groot community troue in volle swang.

Soos die Nagmaalnaweke van ouds begin die fees al Vrydagaand toe Broer Piet  van Swellendam met braai , hout en wors  opdaag . My nuwe squeeza Corrine staan reg.  Ons het dit goed gedink dat die ys bietjie gebreek kan word en die skugter families mekaar voor die tyd kan leerken.  Ek het gedog Lize-Marie trou op, maar Herkie Snr. help my reg – ons trou in. Ons  begin sommer nou al met sus Thes se  krakerige pekaneuttertjies en outydse  dadelbolletjies  vir ‘n “poeding starter”.

Saterdag breek aan.  Die tafels word gedek met uitvoerdruiwe van De Doorns, olyftakke van die plaas, granate van Bonnievale en Adamsvye uit Prins Albert.  Ek het min geslaap vannag, maak laaste lysies, maar bly by my voorneme om die laaste paar ure met Juffroue Huisamen in die Banhoeklodge se luukste aantrekkamer te kuier.  Caryn het vir haar sus ‘n mobiele massering georganiseer en Mother-of-the-Bride kry dit reg om na ‘n vinnige draai in die kombuis (net gou 5 komme  patatrolle aan die gang gesit) met deeg aan de hande neer te val op die wit bed.  Die luiperd le op haar rug en ons drie skaterlag vir al die eerstes – eerste massering, gesigmaskers, manicures, en eerste troue in die familie.  Daar is ‘n klop aan die deur.  Dis ‘n bossie proteas vir die bruid – van die bruidegom.  Met ‘n briefie.

Soos ‘n bruidegom en brui-uid.  Ons is bly.  Jesus is ons blydskap Jesus is ons bly – y- ydksap ons is bly.

Die strooimeisies daag op en trek aan, beeldskoon in die perskebloeisel en roomwit rokke.  Hulle lampe is vol en daar is vreugde in die kamer. Om kwart voor 3 daag die drywer, Marais Styen, met die die vader van die bruid  in die geleende groen landrover op. Die handgemaakte, hout ukulele pryk trots op sy bors.  Vandag gaan daar musiek gemaak word … in die hemel en op aarde!

Na ‘n draai of twee, daag die bruidskar op by Ebenhaezer.  Voor in die kerk maak die strooijonkers ‘n kring  rondom Herkie en seën vir oulaas die jong man op sy reis.  Ouma Rinette sit voor, Peetma Tina en Peetpa Andries ondersteun die Moeder van die Bruid   Drie geslagte  Sandenbergh pak die voorste gestoeltes halfpad vol.  Die kleinkinders weerkaats die afwagting in die kerkgebou. Die kerkklok beier een keer en toe begin die viole.  Kara Steyn se krulvoshare blink in die middagson wat na ‘n week heel tydig nou sy verskyning maak.  Sy loop stadig en deel bossies blomme uit vir die gaste wat die klein kerkie stampvol sit. Daarna is dit Caryn. Sy berei die weg.  Diep bevoorreg.

En toe kom Papa John. ‘n Skoon agtergrond vir die blosende, beeldskoon bruid.  Sy is werklik mooier as ooit.  Hy loop trots, huil sag binnetoe  vir die oomblik en ‘n mens kan sien hy is diep dankbaar.  Voor die kansel vind ‘n liturgiese uitruiling van ‘n verbond tussen hom en sy dogters plaas.  Die ringetjie wat hy vir sy dogters van sy trougoud laat maak het, word ongemerk afgehaal van Lize-Marie se vinger en aan Herkie oorhandig.

Dis tyd vir aanbidding.   Herkie se broers en susters vat voor.  Daar was baie mooi goed, onthougoed en spesiale oomblikke tydens die bruilofsfees, maar as jy vir die gaste sou vra, wat was die hoogste hoogtepunt,  waar het jy vir God ontmoet tydens die bruilof? Dan sou die meeste saamstem: daar, bymekaar, tydens die saamsing.  Ek het nog altyd gewonder wat bedoel die profete met ‘n lofoffer.  Ek dink daardie was ‘n lofoffer.

En toe vat ons vriend en nog ‘n  surrogaat vader van ons kinders, Johannes Malherbe, voor.  Hy is met die hand uitgekies om die diens te lei.  Soos altyd was dit eg, inspirerend, goddelik en vol humor. Twee vaar beter as een.  ‘n Gemeenskap beter as individue. “ It does indeed take a whole village to raise a child.”  Die mense geniet Masungu se storie, die strooijonkers en strooimeiesie trek die olifant uit die gat.  Dis ons troue die. Nie net die Huisamens s’n nie. Ons breek die tuisgemaakte, ongesuurde brood en bedien nagmaal uit blikbekers.  Buite die kerkgebou kuier en gesels die mense land en land. Dis asof hulle nie wil aanbeweeg nie.  En dis soos Renda sê, na die diens sou ons op die sypaaadjie kon gaan sit en slaptjips eet en beaam, dit was genoeg  en goed en van God af, hierdie bruilof.

Maar op Happy Lands wag daar nog verrassings .  Die ingang na die voorafkuierarea verskaf ‘n agtergrondpentjie wat Pinterest by verre in die skadu sal stel.  Marjorie en Annelie maak  hemelse agtergrondmusiek op kitaar en fluit en Taleta bedien warm spinnakopitas en sjerrie vir ‘n lusmakertjie.  Tot Ouma Rinette se verbasing eet die trougaste die springmielies  wat op die tafel troon wat uit die boom uithang . Die vure brand hoog en  mense kuier lekker. Na die twee pa’s se pittige toesprake beweeg ons om die draai lang gang af tussen  getuies van familie portrette .  Die genooide gaste soek hulle naam op die stoep en beweeg deur na die grooteet tafel in die pragtige oop tent wat uitkyk op die Simonsberg. Alles is  prentjieboek mooi en watertandlekker.  Die gemeste skape kom van Skeiding en Kliprivier.  Dis ‘n ruim aanbod.

Na ete is die bruid en bruidegom aan die woord.  Hulle eer God en bring hulde aan  beweehulle ouers op ‘n baie egte manier.  Die gaste drink elke woord in en kry koue rillings terwyl Herkie Psalm 1 kwoteer soos wat hy dit in sy ouerhuis geleer het.  Daar is nie sprake van die ellendige Tant Koek se Hoenderhaan nie. Ek kom uit ‘n praterige familie ,  hou van ‘n goeie toespraak en haat flou grappies op ‘n troue.  Maar die wat die lysie gehaal het, sal weet, hierdie kan met reg bestempel word as die 7 (ja 7) beste toesprake wat hulle in hulle hele lewe al gehoor het. Daar was ‘n sleutelpersoon, ‘n geheime agent, die seremoniemeester.  Martin, ons het voor die tyd gehoor jy  kan, maar, man, jy was meesterlik!

Toe die huwelikspaar die dansbaan open, is daar weer eens ‘n gewyde stilte.  “You came into my life like a wildfire.”  Die misterie van die liefde moedig die ongetroudes aan om geduldig te wag op hul beurt en die lank getroudes dans ook later saam, knie of heup ten spyt.  Daarna beweeg ons soos een man na die voorhuis vir die dekadente afsluitinkies, noukeurig voorberei deur die gemeenskap, perskepienk appelrosies soos net my “ling” dit kan maak, sjokolade salami, macadamiaclusters, Laeveld truffels en grysgroen Skeiding Cake pops.  Die barista bly besig en die mense kuier lank en lekker.  Ons almal mag ons hoogtepunte hê en op ‘n fees soos hierdie is dit moeilik om te kies. Die wat my ken, sal weet: ‘n okkasie moet ‘n  bietjie van ‘n konsert (of ‘n prysuitdeling he).  Hierdie een het ek egter nie beplan nie, blykbaar ‘n tradisie onder die jarelange vriende om gou-gou ‘n liedjie te skryf en dit dan verhoog toe te vat.  Ons skaterlag en dis hier waar die sakrale en die sekulere mekaar vir my ontmoet.

Ons maak ‘n gangetjie en groet die bruidspaar na ‘n Grootse Fees.  “Die Bruilof van die eeu”, bespiegel ek en die bruid so onderlangs in ‘n sms later.  En ons is almal in die woorde van die bruidegom vol antisipasie oor die hemelse fees waarna alle mense kan uitsien eendag.  Nie net die Huisamens en die Sandenbergh familie en vriende nie.  Dis vir almal.  En dis verniet!

Sondagoggend is die nabyfamilie moeg en broos. Nabetragting.  Leon vra;  “Kom ons deel met mekaar – waar het ons oral  God die afgelope bruilofweek  ontmoet?.”   Ons bekers loop oor.

Die “Mother-of-the-Bride” is diep dankbaar en baie  tevrede met die verloop van gebeure soos opgesom in die woorde van haar aanstaande ander skoonseun, Geo Coetsee….  Raak waarnemer, die jong man.

 Iewers op ‘n eiland

Sit twee verliefdes nou

En dink terug aan hulle troudag

En ‘n ongelooflike vrou

Sy het haar dorp verlaat

En baie ver gereis

Om op ‘n vlieë bedekte perdeplaas

Vir ons ‘n ding of twee te wys

Soos ‘n bekwame dirrigent

Voor sy groot konsert

Het sy hierdie troudag van die vloer af ontwerp

Sys vroeg Vydag op

En laat aan die werk

Daag saterdag op

Trotse ma in die kerk

Moeder van die bruid

Moeder van die res

Dankie mama Riekies

Vir die grootte van jou nes

 En Maandagoggend toe ek om die hoek van Caryn se huisie op Happy Lands kom, kom  die plaas se trekker van voor met ‘n wavrag vol van die bruilof se weggooigoed .  Twaalf mandjies vol.  Dit was groot en dit was goed.  Baie goed. En daar was en is genoeg.  En om te dink almal sien kans vir die volgende hoofstuk wat geskryf word as ons eersgeborene in die voetspore van haar sussa volg.  Halleluja.  Prys sy Naam!  Tot ons mekaar weer sien op die 9de Julie.

Ons is bly.  Ons is bly.  Soos ‘n bruidegom en bruid.

Hy het ons ‘n  nuwe kleed  gegee.  Hy het ons verlos  Hy het ons verlos

Soos ‘n bruidegom en bruid, ons  is bly.

Op my our ramkiekie met nog net een snaar… Boy meets girl. Herkie en Lize-Marie Sandenbergh se storie…

April 7, 2016 in Sonder kategorie

 

Kersfees 2014 het die “Huisies” weer een onverwags betrap en so sit ons viertjies, Lize-marie, John ek en ouma iewers in ‘n bos op Harkervill droëbek en wonder  hoe het ons dan nie eers ‘n ou geskenkie vir mekaar nie.  “As julle enige iets kon wens, vra John, Wat sou dit wees?”  Sulke speletjies is aan die orde van die dag in ons huis.  “Experience is more important than things,” het ons mos hoeka ons kinders van kleins af geleer..  “Ek wil graag ‘n ukulele hê,” se lize Marie. “Maar jou Oupa Hoppies het ‘n ukelele gehad as jong man”, sê Ouma Rinette. Hy het dit vir sy peetkind, Leon gegee.  Ek wonder of hy dit nog het.”Die volgende dag gaan ons heel toevallig op Heroldsbaai aan en kuier by die einste Leon se broer.  Toe ons uitstap om te groet sêvra Mama Riekies; “Pierre, weet jy dalk wat van my pa se ukulele geword het?” “Dis ek wat dit het,” slaan Pierre ons voete onder ons uit, wil julle dit sien?” Net kyk, hoor!”, maan hy niksvermoedend.

oorbarige ek skroom nie om Lize se droomkersgegskenk van die    vorige aand uit te lap nie.  En net daar offer sy sagmoedige vrou, Annette:  “Gee dit vir haar, Pierre” – dis immers haar oupa se       erfstuk” En so klim Lize-Marie, ons loshaar, boskind in die kar, half    verleë met die antieke skat op haar skoot. And so the ‘we’story begins…

erste Sondagin 2015 terug in Jozi, doen lize diens op die verwelkomingspan. Herkie staan na kerk skugter (hy is hoeka nie van die voorbarige soort nie) nader vir ‘n geselsie – sommer net omdat hy gehoor het die fassinerende meisie hou ook op Vleesbaai vakansie .  Dit beoog ‘n aanvaarbare “conversation starter” te wees.  “Weet jy dalk van iemand wat ‘n ukelele kan regmaak”, vra Lize-Marie vir Herkie.  (Die outeur weet tot op hede nog nie of die karakter in die storie enige valse voorwendsels gehad het toe sy die versoek aan die “worship” leier van die kerk gerig het nie)‘ En sonder om te skroom vertel die Johannesburgse prokureur net daar die wit leuentjie wat sy saak moontlik kan verbeter in die toekoms.

“Maar natuurlik, sê hy. Ek doen.  Beslis, ek doen ukuleles!.”  (Google is my friend en as jy kan lees, kan jy enige iets doen).

‘n Week later is die ukulele reg om gespeel te word.

Is dit ‘n nuwe lied wat geskryf word in die lewe van 2 beautiful jong mense? Is dit die meisie waarvoor Herkie se ma dekades al bid? (die inligting is korrek volgens ‘n faceboek inskrywing op 6 Desember 2015 deur Corrine) En die man waarvoor Lize-Marie haar uitgespaar het en kleindogterjie drome oor gedroom het wat eendag haar pa gaan vervang?

Liza” is beslis nie ‘n ‘maklike” meisie nie en het behoorlik die man lat sweet voor hy sy sin gekry het.  (Die arme siel het 5kg verloor in die hofmaakperiode.) Haar familie het nog altyd geweet sy gaan die spreekwoordelike “haas” uit ‘n hoed ruk  en toe die karaktervolle jong man die dag met sy pet en CL registrasie nr by ons huis opdaag, toe het Vader en Moeder geweet:  Hier word ‘n nuwe liedjie geskrywe. Ja, ons het  by hul vertrek op daai eerste dag al nadat Herkie ‘n ciabata’tjie saam met ons gebreek het  kamer toe gegaan en op ons knieë dankie gesê vir die Here. Ons het toe reeds stil stil geweet dis die begin van die goddelike vennootskap wat vandag hier tussen ons voltrek word.

n om te dink hierdie is maar net ‘n afbeelding, net ‘n glimps,  van die Groot Bruilof. ‘n Nuwe lied word geskrywe en ons sing hartlik saam met al die getuies voor ons in hierdie eeu oue kerkgebou “Ebenaezer, tot hier to het die Here ons gehelp”  Die wat lank reeds getroud is, die wat nie meer getroud is nie en die wat nog gaan trou…”Drie hoera’s vir die huwelik!”

En die ouma wat nog hier is en die ma’s en pa’s sê saggies dankie.  Dit was die moeite werd om dekades te bid.

Boy met girl.  She came into his life like a wildfire. En ons blompot blom.En ek sê soos oorle Salamo:

“Daar is drie dinge wat vir my verbasend is, nee eintlik is daar vier wat ek glad nie kan verstaan nie:

Hoe ‘n arend in die lug kan bly

Hoe ‘n slang teen ‘n rots kan seil

Hoe ‘n skip op die seek kan vaar

En hoe ‘n man die hart van ‘ meisie wen…..”

Geskryf deur Mama Riekies