You are browsing the archive for 2015 August.

Carpe Diem

August 2, 2015 in Sonder kategorie

Ek en my “true companion” het die afgelope 10 dae ‘n nuwe begrip van tyd ontdek. Tien dae terug het ons nog in die Romeinse kwatiere rondgedwaal, stofstrate van die Forum “ in die sweet van ons aangesig ‘ platgetrap en ons hand in die boustene gesit wat 150BV meesterlik deur ‘n slaaf neergelê is. En nou is ons al weer oppad terug na die Goudstad aan die suidpunt van Afrika. Nes Columbus wil ons ook gaan kyk hoe groot die wêreld regtig is. “ It’s a small, small world afterall.’

Konings en keisers het gekom en gegaan. Nasies sal opstaan en val. Hier stap ons deur die Kolosseum en bewonder die monumentale argitektuur , ons verkyk ons aan die oorblyfsels van die Middeleeue in ander dele van die stad en ry met die rooi bus deur ‘n skeppende Rennaisance tydperk. In die St Peter katedraal word ons bewus van die mens se soeke na God oor die eeue. Michelangelo is van die min wat die magie van die geskiedenis van Jesus en Maria kan vasvang en wat in ‘n glaskas na al die jare behoue gebly het en ons nou nog na ons asem laat snak. Dis sekerlik 40 grade in Rome vandag. Ons skuil indie koelte van die groot katedraal en neurie saam met die handjievol kerkgangers: Sanctus Deo.

Dis veral Paulus se voetspore in die Romeinse stad wat ons gemotiveer het om ons reisplan aan te pas om hier tyd te vertoef. John is op ‘n misie en ek probeer sin maak van die reünis wat getuig van‘n magtige Romeinse ryk wat die hele outydse wêreld domineer het. Dis veral die moed van eenvoudige mense soos Paulus en Petrus wat gesê het: “ Ek beroep my op die Keiser!” wat nuwe betekenis kry as mens bult op loop op die pad wat Paulus sou loop vir sy verhoor. Toe ek jonger was, was ek verwaand genoeg om myself met Paulus te vereenselwig wat geroep is om die evangelie aan die heidennasies te verkondig .   Vandag is ek stil as ek besef watter “guts” dit sou verg om hierdie wêreld kaal hande aan te vat. Net toe ons besluit ons het nou alles gesien, dit lyk nie of die tronk (sel) waarin Paulus opgesluit is voor sy dood behoue gebly het soos John op die Youtube video gesien het nie. Dis in elkgeval ondraaglik warm. Toe sien ons dit: “The prison of the Martyr, St Paul and St Peter”.   Dis asof die ander 20 0000 besoekers wat Rome per dag kry nie geïnteriseerd is in die ryk geskiedenis van die gelowiges van die Bybel nie. Ons klim teen die nou trappie af tot in die donker , nat sel. Ek en John is bevoorreg om op ons eie, doodmoeg en natgesweet te kan skuil in die einste ruimte waar Paulus met sy bloed en sy lewe betaal het vir die vryheid waarin ons as postmoderne gelowiges kan leef. Paulus se brief aan Timoteus kry nuwe betekenis by ons terugkeer. ‘n Mens neem immers die laaste woorde van ‘n man wat weet hy gaan nie meer lank leef nie, ernstig op! Dit spoor ons en die ander Timoteuse op ‘n nuwe manier aanr vir ons reis hier op aarde.

Maandagaand 13 Julie dwaal ons deur die nou straatjies oppad van die Vatikaan na ons kamer naby die Terminus stasie. Ons eet Laeveldse macadamias en vliegtuig crackers om die ergste honger te stil. Die SA Rand het nie die toets van die tyd deurstaan nie. Ons moet hom rek. Maar ons belsuit tog om ons 29ste troudag op ‘n eg, Italiaanse manier te vier. Die klein stoepkafeetjie se lasagna stel nie teleur nie en John se tamatie pasta is die ware Jakob. Ons kuier op die stoep van die straatkafee saam met ‘n gesin van Niew Zeeland. Die pa is ’n Hindu, die dogter ‘n Christen, die seun glo ‘n Ateis en ma ‘n Rooms Katoliek. Wens ons kon langer gesels en verduideik van die hoop wat in ons lewe. Carpe Diem! Wie sou kon dink dat John se droom om in die wêrelddeel te reis waar sou word? Dis groots!

Dag 3 vertrek ons Kroasië toe om by die res van ons toergeselskap aan te sluit. Die Franse Riviera is blykbaar iets besonders. Die Kaap des Stoms het sy eie bekoring, maar die kuslyn van Kroasië is eiesoortig, asemsnak mooi. Hie is die verkfkwas behoorlik uitgehaal en ‘n driedimensionele kusnwerk tot stand gebring wat enige seeliefhebber vir altyd verslaaf sal maak. Ek het dit glad nie verwag nie. ‘n Seevakansie in die middel van die SA Winter in ‘n gerieflike huis stapafstand van die swemplek. Ons sluit aan by ons reisgenote : die Northbound Global span en hulle ouers.   Dis hier in die see wat ek vir een van die spanlede, Johnston van Zambië ooreed dis die plek om te leer dryf en swem. Die soutvlakke is hoog, daar is geen branders en geen strome en geen haaie nie.   Wat ‘n vreugde o om ‘n 27 jarige jong man die nuwe vaardigheid te sien geniet. Johnston is en het ‘n storie van sy eie. Hy verkies om my Maria te noem ek wens ek het nog meer tyd spandeer saam met iemand wat nooit ‘n ma geken het nie. Hy weet nie eers haar naam nie. Ons 2de swemles is 11h in die aand onder die maanlig. Johnston wys vir almal hy kan dryf.   Carpe Diem

Ons het die dag gegryp en niks tyd gemors om te slaap nie. Die jongmense se reisstories uit Masedonië, Jordanië, Tanzanië, Turkye, t en Griekeland gryp ons aan die hart. Dis veral die hulp aan die Duitse dame by ‘n skooltjie vir Siriese vlugtelinge wat my inspireer. Ons is dankbaar om meer as toeriste te wees in ‘n vreemde land. Ek is so tussenin kok vir die span wat hier is om te rus en te reflekteer en John is bevoorreg om ‘n oor te wees vir die manne wat so baie het om te vertel.

Ek is in my element in die kombuis en met bietjie hulp van een van die ouerpare se ruim voorsiening van ekstratjies, bly ons binne die “sending ‘ budget en bederf die span met geposjeerde eiers op mieliepap, Brischly muesli met spaanse somervrugte, zucchini pasta en plaatkoekies met biltong en Nutella. Die Amerikaner op die span glimlag breed en die Suid-Afikaners is elke ete verras deur die verskyning van erg lekker SA cabanossie, biltong of droëwors erens op die spyskaart.

Woensdagoggend vroeg gaan ek vismark toe in Omisch.   Die dag se manna is prawns en seekat wat 3 x goedkoper is as in SA en elkgeval baie lekkerder is as vleis. Ek maak ‘n kleurryke Paella vir die pastoor en sy vrou se kuier. Die gaste sorg vir roomys en uit my sak kom daar nog 3 plakke sjokolade van Checkers in Roodepoort vir ‘n heerlike sjokolade sousie. Net vir ‘n ou afslutinkie. Volgende week is die span weer op hulle “shoestring budget’ van R3 per persoon per dag. Hoe weet selfs ek as bekwame randrekker nie, maar Jenneke, die penningmeester van die Northbound span getuig hoe die Here nog elke dag voorsien.

In Split het ons ‘n regte middeleeuse ervaring. Gisteraand het ons gehoor van ‘n dorpie waar duisende Christen martelare uitgewis is. Vandag loop op ons op die voetspore van die of ander moontlike martelare en monnike op ‘n onbeduidenede roete uit die ou stad uit berg op. Die marmertrappies ia afgeslyt en glad onder onder my somerskoentjies.   As hierdie klippe kon uitroep, wat sou hulle nie alles sê nie. Die pelgrimstog berg op is uitmergelend . Daar is blykbaar ‘n hittegolf in Europa. Ons voel dit aan ons lyf, maar kan nie wag om te sien waarheen die ongekende pad ons lei nie. Die bos is plek plek koel en daar is ‘n fontein met vars water aan die bo-punt.

Ek en John bid saam vir die mense van die stad. Dis sommer nou die dag nog wat die land in ‘n wrede oorlog gedompel was . Mag U koninkryk kom, o God. Die dominee van ‘n plaaslike gemeente het gister genoem dat die toeiste stad ‘n modern Sodom en Gemorra is waar duisende Europese jongmense kom uithang en hoer en remoer. Die Globalspan is sopas terug van ‘n kamp waar baie kinders uit gerehabiliteerde dwelmverslaafde huise kom. Die skepping sien uit met reikhalsende verlange dat u alles sal kom nuut maak, asb, O Heer.

Die uittog agter die uitsig aan was beslis die moeite werd, as ek net nie my dekselse sefoon op die rusbank aan die bo-punt vergeet het nie. Moes noodgedwonge kwartpad af omdraai en weer terug. Split is poskaartprentjie mooi. En darem het ek ‘n foto’tjie om te wys waar ons was. Die mooiste mooi in Kroasië was tog die bootrit op die Seburivier by ‘n kusdorpie, genaamd Omisch. Die kalksteenberge en heldergroen water is anderwêrelds en ek kan nie die versoeking weerstaan om ook hier te swem nie.

Die treinrit Budapest toe doen ons in egte Global style. Shosholoza af Kaap toe is luuks teen die kompartement waar ons ingeboek is. Die nag gaan nog lank wod. Die gesoute Global reisigers besluit gou die paadjie is platter en geriefliker as die regop slaapsit styl. Oral klim nog mense op wat hulle ook maar tuismaak in die gang. Geboekte sitplek beteken niks. Dis inelkgeval so warm dat daar darem ‘n luggie trek in die gang en die toilet stink so dat mens maar liewer knyp tot by ons bestemming. Ek neem my rol as kosma ernstig op en verander gou ons kompartement indie eetsaal waar heerlike vars Kroasiese brood met regte bottteren biltong op my skoot gesny en uitgedeel word. My kapelana was al ‘n rok, is nou ‘n broodbord en gaan nog ‘n handoek word. Daar is selfs gerookte koue vleisies en ‘n roosmaryn takkie wat ek in in split langs die straat gepluk en in my handsak gebêre het. Garnering is belangrik en ons eet met ons oë – selfs op die trein. Toe die dag breek staan die gange vol mense vir wie die nag te lank in die kompartement was en ons verkyk ons aan die aktiwiteite langs die Balaton meer – blykbaar die grootste binnelandse meer in Oos Europa .

In Budapest boek ons weer eg Global style in by ‘n universiteitskoshuis wat hulle kamers leeggemaak het vir die somervaksnie. Die kamers is halfskoon en die lakens halfvuil, die kombuis is effens sif, maar wat meer het mens nodig as ‘n koue stort en yskaswater. Die stad is stil op die sondagmiddag en baie plekke is toe. Ek krap in die span se kossak en kom wraggies op ‘n sakkie bulgar uit turkey af wat my pakkie cous cous en droë vrugte wat saamgevlieg het kan aanvul vir ‘n heerlike meditereense slaai met ‘n Kaapse draai.

Budapest kry lewe in die aand. Die Danube rivier en die liggies van die parlement en ander historiese geboue verklaar hoekom hier films, onder andere the Lord of the Rings op Castle Hill gemaak is. Ek en John en ons Global dogter, Jeneke, gaan die volgende dag op ‘n begeleide fiets stadstoer. Daar is 2 anderste monumente wat ‘n mens aan die hart gryp. Die brons skoene op die walle van die Danube en die ystergordyn voor die House of Horror. Beide getuig van die vreemde wêreldoorlog wreedheid waartoe die mens instaat is. Dit word vertel dat duisende onskuldige burgers na die tweede wêreldoorlog hier aangetree is, Hulle is deur die SowJet Unie verdink van sameswering met Hitler en is beveel om hulle skoene uit te trek . Skoene was blykbaar ‘n “novelty.” En dan is hulle boosaardig geskiet en in die rivier gegooi. Ek word naar om net daaraan te dink. Ons gids vertel ons hoe sy ma gehuil het die dag toe die Berlynse muur val. Hy was 10 en wou weet hoekom huil sy. ‘You will understand one day, my child”, she said en sluk haar trane. Ek loof die Here vir manne soos Mr. O wat getrou gebid het vir die kinders in die Oos-Europese lande en vir reuse soos Broer Andrew wat Bybels ingesmokkel het ater die ystergordyn terwyl ons gerieflik lofliedjies sing.

Ons het so baie beleef in ‘n kort tydjie en het beslis elke dag aangegryp. Amper vergeet ek om te vertel van die gesprek met die ontvangsdame oor die stad Budapest en haar verbasing dat almal dit so geniet hier. Sy erken die Hongare is ‘n pessimistiese nasie en sy self is baie sinies. Die jong regstudent erken dat sy en haar familie nie glo in ‘n lewe na die dood nie.   Ek het die kosbare geleentheid om te verduidelik van die hoop wat in my en die ander lede van die SA groep lewe.   Dit lyk of dit haar fassineer. “I want to believe’ she said. Ons bid vir haar die aand by ons groepsbyeenkoms en die volgende dag skep die Here weer ‘n geleentheid om hom aan haar te openbaar toe sy met my deel dat sy in ‘n krisis is by haar werk. Sy vertel my kort voor ons vertrek hoe daar ‘n deurbraak was en sy glo dit was in antwoord op gebed. Ek bid dat ons die gesprekke kan voortsit oor die lug en dat die Gees sal werk waar hy wil en as Hy wil vir ons gebruik langs die pad.

Ons laaste aand in Budapest is ‘n aand vir celebration. Ons besluit om dit op Catherine eiland in die Danube rivier te doen. Die spuitfonteine dans op musiek in die agtergrond terwyl die ‘ouderlinge” die span seën en bemoedig vir die res van hulle reis. Ons vier die lewe op eg Hongaarse manier – ek was die oggend by die plaaslike mark en het die spyskaart daarvolgens beplan Langos en tofu met gerookte hongaarse worse en kaas. Daar is ook heerlike vars kersies en nektariens uit die omgewing. Die gebruiklike beker word omgestuur en waar die Huisamens is, speel ons die “glad game” Nie moeilik na die week saam nie.

Die Global span inspireer my en John om meer as toeriste te wees in elke stad waar hulle kom. Hulle intensionele omgang met elke mens wat hulle ontmoet is mooi om te sien. En ons is dit eens: Ons sal nooit weer anders wil toer nie. Join the missions and see the world! Dwarsdeur die middeleeue, the “ age of discovery”, renaissance, industriële rewolusie, modernisme en post modernisme is daar min dinge wat bly staan. Slegs die stories en die liefde of die haat waarmee mense geleef het. Dit relativeer ons eie koninkryke waaraan ons bou in SA en motiveer ons om die tyd uit te koop. Ons het net vandag. Carpe Diem!