You are browsing the archive for 2013 November.

Agter elke goeie kok, staan ‘n handige man!

November 12, 2013 in Sonder kategorie

Sover ek kan onthou het ek nog nooit gewens om ‘n droomhuis of droomkombuis te hê nie. Om die waarheid te sê dit het nog altyd vir my gegrens aan ydelheid om te praat van “my” huis en “O, ons bou en dit is tog so ‘n gemors!” Dit klink vir my soos selfaangedoende pyn. Ek het nog altyd ‘n kombuis gemaak van wat voorkom: die vuil tafeltjies langs die pad in die Karoo was baie jare die plek waar die Huisamens hulle wegneemetess voorberei het. ‘n Vuilgoeddrom in Sabie se karavaanpark is in ‘n tafel omskep en in Warmwaterberg naby Barrydale het ons die heerlikse pasta in die badkamerkombuis gekook (Ja gaan kyk, daar bad mens in die kombuis) En laas Sondag nog het ek vir ons die lekkerste pasta in ons slaapkamer gemaak terwyl John onverpoosd aan de boue was en ons kombuis toe ook ‘n redelike gemors as jy bly en bou.
My liewe man, het vandat hy die eerste keer in die tweeslaapkamer woonstel in Helderkuin waar ons nou bly, ingestap het, sy oog net op een ding gehad: Hier gaan hy vir sy vrou ‘n kombuis bou! Dit was hoeka net nadat ek gekies is om aan die kosrealiteitsprogram deel te neem – ek was van die begin af in sy oë ‘n wenner en verdien glo ‘n kokkedoorkombuis – terugbetaling vir al die jare se lekker kos in treurige kompleksstofies, klein gasstofies langs die pad en sommer net omdat hy self hou van skep en sy hande soos sy Pa s’n vir niks verkeerd staan nie. ‘n Droomkombuis waarvan sy nooit gedroom het nie. Hy het geloofsoë as dit by sulke goed kom. Ek kon net die plastiek konsertina deure raaksien en kon nie besluit of die gerookte glas venstertjies en reeks kassies wat die kombuis van die sitkamer skei baie lelik of baie mooi is nie, baie prakties of vreeslik onprakties.
Die kapperasies het hier net net na die Julievakansie begin. Ek het vir die eerste keer elke ou Tuis tydskrif met ‘n kombuis voorop, deurgeblaai . Dié man van my werk met ‘n plan en ek wonder hoeveel ure het hy net gestaan en kyk, gedink en gewonder wat die volgende stap is met die beperkte gereedskap tot sy beskikking. Party mense sê bou is ‘n “passion killer” –– nadat ons egter besluit het dat dit ‘n goeie belegging is om die winskopie woonstel in Eikdeal se waarde te verhoog, het ons omtrent net saamgestem oor al die idees. Die saamdink en droom het gewerk vir ons. Ons soek nie “Country style”, ou geroeste blikkies en kaggelkakkertjies nie. Dit moet funksioneel wees,” Riekies proof” en mooi en tog so ‘n bietjie. outentieke vintage karakter hê. Ons kry gratis kaartjies na die gewilde interiorskou, Decorex, toe en dwaal rond tussen die kombuise wat tentoongesel word. Ons het al so ‘n halwe idée wat ons soek. Ek sien iets. Ek moet vir John wys – hy gaan mal wees hieroor. Ons kry mekaar en sowaar uit al die moontlikhede is dit een en dieselfde kombuis wat hy vir my wou wys
Sal mens op ‘n DIY manier die eindresultaat kry wat ons soek, die prentjieboekmooi tuiste kan skep uit niks? Soos wat ek kosmaak van “scratch”af en blom voor ‘n leë yskas, so gebruik Jonna elke uitgekapte deurtjie en tel al wat ‘n spyker is op om niks te mors nie. Arm man het nie size nie. En om van ‘n “werkswinkel “ waar alles moes gebeur nie eens te praat nie! Die twee vierkante meter loopspasie in die enkelmotorhuis word deel van die absolute, formidabele storie van ‘n man wat glo in sy vrou en so graag haar wil bederf met ‘n lekker kombuis. En van ‘n vrou wat glo haar man kan en wil net mooi alles doen.
Sommer vroeg in die geskiedenis van die bouery, het ons die rolle uitgeklaar. Ek moet liewer opsystaan, genoeg tee maak, kossies aandra en sê dit lyk mooi. Maar ek mag nie aan ‘n kwas vat nie. Ook nie aan ‘n hamer nie. En ‘n waterpas – eish, hoe het my pa my dan nie geleer nie Ek het dus myself aangestel as die hulpbronne bestuurder. Dit was nog altyd vir my ‘n uitdaging om ‘n winskopie uit te krap en na dese is daar nie ‘n “second hand bulding site” aan die Wesrand wat ek nie opgespoor het nie. Ek ken hulle almal en hulle verkoopsmanne op die voornaam. Die hele idée is om te “reclaim and re-use”. Ons leerken so bietjie vir Donovan, die jong man, wat by die klein, 2dehandse bouhandelaars in Krugersdorp sy daaglikse brood verdien. Ek het van die begin af ‘n sagte plekkie vir hom en knoop diep gesprekke so tussen die scaffolding en die skroewe aan. Piet Plank en Gert Pawn is op my foon gesave as ‘n nuwe kontakte.
Ek en John is altwee baie opgewonde oor die gedagte van sementblaaie –dit behoort die “hammering” van ‘n Huisamen kombuis te kan vat. En die “prefab” sement blaaie is ideaal – dit maak net ‘n oneindige geraas as die goed gesny word – skuus liewe, bure. Dit sal weer rustig word rondom ons. Ons is nie eintlik van die raserige soort nie!
John besluit om vir hom ‘n klein strykplankie in te bou waar hy sy hemde kan stryk soos hy daarvan hou. ‘n Ingenieursontwerp wat nog so bietjie afronding kort, maar beslis baie potensiaal! Bietjie vir bietjie vorder ons
En dan is daar Mandla, die Zimbabwe entrepreneur, wat homself bemark as ‘ CemCrete applicator”, so trots is op sy werk en in sy goeie Engels graag vir my presies verduidelik hoe die proses werk. Mandla weet egter nie alles nie en groot was ons teleurstelling toe ons uitvind die sementblaaie is toe nie Riekies proof nie, en kan beslis nie op gesny of gemors word nie. Die sement is weersensitief en het reg aan die begin verkoue opgedoen en wys steeds elke watermark wat ons herinner aan die onvolkomenheid van selfs hierdie geharde element. Net soos die lewe. Niks is vir altyd nie. Ek geniet die mooi en wys graag my man se handewerk vir kuiergaste, maar diep binne weet ek hierdie is maar net nog ‘n kamer in die tent. Ek hoop darem daar gaan êrens in die hemel n plekkkie wees waar almal wat wil, kan speel met idees en kreatief kan wees. En dat ons en al ons liewe diensverskaffers wat ons in die proses ontmoet het om ‘n lang tafel gaan sit en brood breek. Ek ontmoet ook vir Raphael die vriendelike Mosambieker wat in Maputo geleer het om meesterlik stoffeerwerk te doen. Ek maak ‘n commitment om vir hom kliënte te kry want waar sal jy sulke werk vir sy prys kry anders as daar oorkant die krapwinkel in Krugersdorp. Here, seen vir Raphael en sy 3 broers asb. en mag ons nooit mense uitbuit omdat hulle goed is nie.
Elke Saterdag kom ons ‘n stappie nader aan die nuwe “kombuishuis”. So hier en daar, moet ek erken, het ek as die slawedrywer bekendgestaaan – veral hier na die einde toe toe ek so baie graag als reg wou hê vir Lize-Marie se tuiskoms. ‘n Week voor haar koms werk John in HotasHell . Groot was my verbasing toe ek via die “grapevine” hoor hy het na 27 jaar getroude lewe by my ma gekla en vir haar ‘n smsie gestuur om te laat weet dis warm op Hotashell maar tog rustiger as by die huis waar sy vrou projekkie kombuis dryf vir die vale. Die pampoen smaak nog lekker en na ‘n week is hy weer uitgerus en lag en gesels ons laatnag oor die vordering.
So tussen die gebouery deur moet ‘n man eet ook. Leë sakke kan nie staan nie! En al bly ons oorkant Woolworths Food , moet ek erken ek het nooit vir die versoeking geval om die vinnigste uitweg te soek nie. Ons bak Ciabata, pannekoek, maak slaai uit my stoeptuin en eksperimenteer selfs met nuwe idees sonder ‘n oond terwyl John timmer en kap. Liewe Elias, Marais se drywer, kom doen die verfwerk. Hy is nie ‘n man wat eet of drink op die job nie, maar toe ek darem vir hom hier in die pylvak van die kombuiskassies ‘n sjokolade melkskommel aanbied, het hy vir altyd sy opinie oor eet en werk verander. Daai man lek sy lippe op die trapleer af – onmiddelik verslaaf!
Beligting is belangrik en ek gaan prys die ligte wat ons in gedagte het vir die eiland. Ons kan dit nie oor die hart kry om darem so baie geld op “ouma’ se kombuislig uit te gee nie en dink dat die stoom staan. Ek het met Lize se 21ste die kerrie in enamel bakkies voorgesit. So speel- speel draai ons dit om en siedaar ontstaan ‘n lig, kompleet . Neem 1 blikbord, 1 blik mengbak en 1 gebruikte kerriebakkie op hulle koppe gedraai en behendig aanmekaargesit. John ontwerp die praktiese kant en ek as selfaangestelde hulprbronbestuiurder kry die spuitverf om ook die toebehoor te “re-invent” Liggies was nog altyd die Chinese se voorland en daar is niks wat by Builders Warehouse is wat hulle nie ook het nie – vir die helfte van die prys! Dit is dus die plek om die toonbankliggies by te kry. Sedert my kind se toer in die Midde-Ooste, dink ek anders oor die Chinese by Hillfox. Dis mense met stories. Vreemdelinge in ‘n Christenland. Ek knoop ‘n geselsie aan met die eienaar van die liggieswinkel en vind uit hy het in China ‘n Bybelkorrespondensiekursus gedoen. Ek sal moet terugkom. God laat sy lig skyn oor almal in die groot wêreld wat baie klein geword het.
Die tweedelaaste uitvindsel is om ‘n braairooster se “mesh” te gebruik vir die oop rakke in die kombuis. John kan egter nie weer sweis in die garage waar hy nou slegs 1 vierkante meter werkspasie oor het nie. Hierdie jobbie sal uitgekontrakteer moet word. Tienie Pitzer en Tony kom tot my redding en doen ‘n netjiese stuk werk. Dankie, Here vir wonderlike mense in Johannesburg – ek sal moet betaal met brood. O, ja net op in dieselfde straat daar naby die plakkerskamp adverteer ‘n man al jare lank sy granietbesigheid. Ek soek nog ‘n blad vir die eiland, ene wat meer hitte en morsbestand is as die sement. Daar op die plot staan die rou stukke marmer, quarts, granieten Ceaser stone rond, wag om geslyp te word. Ek is tevrede met ‘n ongeslypte afvalstuk en na drie pogings om die sware stuk klip in en op ons Volkswagenstasiewa” bakkie” te laai, laai ek dit, gratis en verniet hier by die huis af. Ek skuld nou nog ‘n vars brood aan die weldoener.
Die idée is om ietsie van Ouma se kombuis te kombineer met 2013 se funksionaliteit – so die kassies kort ‘n “distressed” look. Ek is amptelik afgedank as verwer, maar doen huiswerk op die internet. My oefenpogings lyk amateuragtig en toe ontmoet ek ‘n nuwe vriendin in Johannesburg – Julia bly ‘n klipgooi ver en is ‘ kunstenaar van beroep. Sy kom kyk en bied aan om die finale opknapping ook teen die prys van ‘n Ciabata werkswinkel vir ons te kom doen. Ons kuier heerlik saam en ek sê dankie vir die seën van nuwe vriende en sien uit na nog baie kuiers in die “ou” nuwe kombuis. Kitchens is a place where friends and family meet …
Môre verjaar ek en gaan vir die eerste keer in Johannesburg vriendinne nooi vir middagtee (eintlik kaaskoek en koffie) Ek verdien nie ‘n huis nie – ook nie ‘n droomkombuis nie. Mag die gawe van gasvryheid God se koninkryk laat kom – ook in Johannesburg.
En o, ja as iemand êrens ‘n “Before en After’ huis/kombuis kompetisie sien – laat weet tog. Ons het foto’s om dit te staaf en ek gaan my man inskryf! Hy gaan nie net ‘n finalis wees nie. Hy gaan wen!