DIE GROOTSE GESIN ONTMOETING

September 10, 2013 in Sonder kategorie

Dit was in Augustus wat ek en John ons groot buitelandse reis as deel van toerusting van ons bediening by Petra Kollege met die hele gesin aangepak het – amper 20 jaar gelede. Sal ons ooit ons hout loft in Kilzimmer, Switerland met rêrige koeie met klokke buite ons dakvenster of John se verjaardag in die Alpe vergeet? Die vertrekdatum van die gesinsreis is so sterk deel van ons familiegeskiedenis dat John nou nog sy gesinsgenote jaarliks herinner om die 12de Augustus “Kamerika day” te vier. Ons moet almal waar ons ook al is iets soos ‘n Dunkin Donut of Cinnabon of Swistserse croissant gaan koop en geniet en onthou. ..
En toe hierdie jaar 23 Augustus was dit sowaar weer tyd vir die Huisamen familie om saam in die buiteland te reis , nie sommer sulke buiteland nie, in die Bybelland, Turkye. Danksy ons jongste! As daar een wêreld is wat John en ek as ‘n bestemming sou kies, dan is dit Klein Asië soos wat dit agter in My rooi Bybel bekendstaan. Om die stofstrate waar Paulus en Timotheus, Akwilla en Priscilla, Erastus en Gaius, Aristargos en die liewe dissipel Johannes geloop het, op te soek. is nie almal beskore nie. Die uitnodiging van Global Challenge se kant af vir die ouers om by hulle kinders aan te sluit op hulle jaarlange mission trip en in Istanbul te ontmoet, het ons dus nie twee keer laat dink nie. Ons “first born” sit al ‘n jaar lank sorgvuldig vakansiegeldjies eenkant en sy bly dus nie agter nie. Die hele jaar lank kuier ons niks, want Augustus kom . Die opwinding is amper te groot – soos voor my troue – sê nou die wederkoms kom voor ons op Planeet Aarde weer bymekaar is. As ons eers daar is , is dit ok, dan is ons selfs nader aan Jerusalem.
Toe ek in die beplanning van ons tyd daar by John hoor wat hy die graagste sal wou sien of doen, was hy baie duidelik.: “Ek wil net weer my kinders vashou – die res kan ek gaan google.”
Ons eerste ontmoeting was dus op Dubai lughawe waar Caryn toe al 11 ure vir ons wag. Dit was groots en behalwe dat sy nie nou heeltemal meer kan agteroorbommelakiesie teen John se skouers op nie, is sy nog klein genoeg om te kan spring in ons arms. Ons kies die lekkerste leer stoele by die dure Hage Das en deel ‘n roomys om daar te kan sit en gesels en gesels tot ons vlug Istanbul toe.
Intussen het die ander ouers almal by ons aangesluit en sommer uit die staanspoor ek ‘n diep gewaarwording van ‘n Groter Gesin wat herenig. Die Fölschers van Brandvlei, Ria van Fochville en Karen, Maryke se mammie van Benoni Anita , Jacques en Leanie van Pretoria en Doep en sy vrou ook hier uit die Noorde. Almal ewe opgewonde om hulle kinders 8 maande ver op hulle jaarlange “journey” hier in die vreemde vir die eerste keer weer te sien. In Istanbul wag die Gobal span ons in. Ons hou nie terug nie en drafstap hardloop ons jong vrou-kind in die vêr land tegemoet.
Mama Riekies kom ook maar min uit so ek “oe” en “aa” oor alles wat ek sien op die trem Istanbul stad toe. Aangenaam verras oor die standaard van backpackers in die middel van die ou stad, maak ons ons vinnig tuis in die grootgenoeg kamer vir ons hele huis, ontmoet die leiers en vat toe die klipsteenpaadjies Konstantinopel in.
“Taste your way through Istandbul” het die tydskrif , aanbeveel. Ons wonder net wie gaan al die baklava in die vensters eet as ons hulle nie help nie. Caryn probeer die vars uitgedrukte granaatsap en spaar sommer op ‘n hele dosis Vitamien C die res van die maand. Lize kan nie wag om ons aan die amusante roomysman met sy truuks en bietjie later aan ‘n eg , turkse koffiekie bekend te stel nie. So af en toe moet ons net weer vat aan mekaar om te weet dis rërig. Ons is hier – die gesin herenig na 6 maande wat soos 6 jaar voel.
Gelukkig vir John is die Grand Bazaar op ‘n Sondag toe en hoef hy behalwe by ‘n matwinkel of twee nie by winkeltjies te stop of the shop nie. Die Haga Sophia was groot en buitekant die Blue Mosque moet ons nog ‘n teleurgestelde Turk agterlaat toe ons nie na sy matte wil kyk nie. Ek is ook hier om ‘n mat te koop, maar mens besef gou, dit kan jou hele dag in beslag neem. En die verkoosptegniek is oral baie dieselfde: “Where are you from? O South Africa. Come, look – you don’t have to buy “ “First customer” Best price”, “Its our family business,” “ you can pay later,.” En dan die verfrissende appeltee in die glaskoppietjies – wat ‘n gasvrye nasie! Die Turke kruip onder mens se vel in. Dis asof ek sommer nou vir Paulus beter ken. Soveel charisma en soveel humor en briljante bemarkers, die mense . Sowaar ‘n uitstekende plan om die evangelie aan die boorling van Tarsus en sy trawante toe te vertrou. En die manne moes murg in hulle pype hê om dwasdeur Anatolia, te voet en te perd en te see soveel kilometers af te lê in die uitmergelende hitte. Die naaste wat ons daaraan kon kom is om Efese vanaf Selcuk met die ysterperde te begroet, en het dit amper nie eers gemaak nie. Op een van die baie klippe onder die naaste koelteboom lees Lize vir ons uit Handelinge – ons bid oop oë, en sukkel nog om die grootheid van diie biblioteek en ouditorium en die ou stad heeltemal te begryp. Ons is hier saam met ‘n Groter Gesin, en toe ons verby die ou stadion met ons fietse ry, toe verbeel ek my of ek hoor ‘n skare geloofsgetuies ritmies handeklap en roep: “Hou so vol, Hou so vol. Gibela Phambili, Doe so voort.”
In Bergama deel Annemarie haar hart uit die brief van Johannes aan die ou stad Pergagum . Haar opgewondenheid oor die Groot Builof en haar liefde vir die Hemelse Bruidgeom straal uit die blou oë van die alleenvrou . Wat ‘n formidabele leier vir ons en ons kinders! Ons sit voorwaar aan die voete van Gamaliël en sal hierdie toer vir geen ander kommersiële toergeselspak wil verruil nie.
Ons dwaal tussen die legkaartstukke bo op Pergamum – John was van kleins af beter as ons almal in legkaartbou en geniet elke oomblik van die rondstaan tussen randstukke en hoeke soek. Ek en Caryn is meer gefassineer oor die uitsig van bo af en wonder hoe het die kos onder uit die vallei bo in die dorpie gekom. Op ons terugpad na ons verblyf by die gastehuis kan ek dan ook nie die versoeking weerstaan om ‘n sak bloedrooi peppers en vars Adamsvye te koop in ‘n nou straatjie nie. Die gasvrou by die eenvoudige, maar netjiese gastehuis is ons eerste kennismaking met die vroue in die land – die mans is volop in die strate en die wat nie verkoop nie, is stoepsitters wat die boere in die Kooperasie en die vroue in Johannesburg na amateurs sal laat lyk. Hulle kan vir jou sit en koffie drink die hele dag lank. Ons gasvrou kruip dadelik in ons harte in en verduidelik vir my hoe ek met die salie tee kan maak. Ek pluk ‘n bossie salie om saam te bring huis toe en om te onthou…
Die eerste paar dae op die toerword gegun vir ons as ouers om genoeg na ons kinders en hulle reis na buite en binne te luister, nog te luister, diep te luister. Miskien sal hierdie sendingreis, Northbound 2013 nie in die Bybel opgeteken word soos Paulus sin nie, maar ons besef dis net so outentiek, so uitdagend, so lewensveranderd, so verrykend, so benouend en so verrassend soos wat Johannes Markus en Paulus en die ander dit moes vind. En ons is diep dankbaar vir elke stukkie groei wat lewensgroot voor ons sit in ons “last born”. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Dankie Here. U hoor nou nog Paulus en ander van ons se gebede vir die Efesiërs en vir ons kinders.
“I could not stop thanking god for you every time I think of you and give thanks But I do more than that. I ask. I ask the god of our Master Jesus Christ the God of glory to make you intelligent and discerning in knowing him personally. Your eyes focused and clear so that you can see exactly what it is he is calling you to do, grasp the immensity of the glorious way of life which he has for Christians, oh the utter extravagance of his work in us who trust him – endless energy, boundless strength!
In Pamukele het ons Klein Gesin tyd . Die Huisamens gaan groot en ek bespreek vir ons in ‘n klein hotelletjie, ‘n eerste vir ons klomp. Caryn, soos haar Ouma Rinette, erken sy sal kan doen met marmer onder die voete. Dis ‘n groot bederf en teen ‘n goeie prys
In Kusadasi se karavaanpark het ons tyd vir kampvuurkuiers rondom ‘n geleende braai van ‘n kampeerder wat oënskynlik nie gou terugkeer nie. Ek word ontdek as Turkse kokkedoor en bied aan om die Griekse Phyllo pastry wat verkeerdelik vir wraps aangekoop is te omtower in ‘n tradisioneel Turkse maaltyd, genaamd Borek. Daar is niks wat Google nie weet nie en ek kry gou ‘n idée hoe om die aankoop te verwerk. Die kampplek het egter nie ‘n oond van ‘n aard nie, ook nie ‘n skottel nie. Sonder taal en sonder skaamte benader ek die vreindelike Turke in die naaste restaurant om te hoor of ons ‘n skottel en hulle oond kan gebruik om die gereg in te bak. Hulle stem in en daai aand eet ons Borek en ratatouille asof ons ou vrinne lank al in die land is. Die ouers en die res van die geselskap , Erna, Nittzie, Marion van Global Challenge voel eintlik al baie meer soos familie as ou vrinne. Diep mense met ‘n diep gedeelde liefde vir die Here en vir jongmense en die nasies.
Ek het vergeet om te noem van ons uiteetprobeerslae. Dit was die reuse wraps, alias pancakes en die mamas wat dit op groot oop skottels reg in die ingang van die plaaslike restaurante sit en maak wat ons ingelok het – dis mos hoeka een van die Huisamens se signature disse. Die hoogtepunt van die uiteet was egter eerder klein Sonet soos ons haar gedoop het, verfaard vol selfvertroue kom plak sy een na die ander dis wat ons nie bestel het nie voor ons neer. Twee dae later in die legendariese dorpie Sirengi bedien ene Yusuf, 12 jarige jonge knaap ons. Hy is net so ‘n karakter en behalwe vir die Cola wat Finito is, was die “pancakes” lekker warm en outentiek . Ons seën die kos en bid saggies vir Yusuf – dat hy sy naam sal ken
Terug in die kamp bestudeer ons saam van die briewe en stories wat juis hier gebore is en wat in die Groot Boek opgeteken is. In die uitspeel van Paulus se sendingreise in die eerste persoon, kom daar verrassende talent ook onder die ouers na vore en jonk en oud skaterlag vir Johan van Brandvlei in sy Bybelse mondering, die ene Paulus en sy vrou alias Silas tydens hulle vertelling.
Ek het ‘n diep belewenis van ‘n Groter Gesin wat onder ons velle kom inkruip. Amper soos Lize hulle in elke land op hulle reis moes voel met die ontmoeting van mede gelowiges.
Sondag ontmoet die span juis weer so ‘n groepie spesiale mense, met ‘n merkwaardige storie hier in die einste hawestad. Dit was een van Global se jong manne wat ‘n paar jaar terug op die strand sit en Bybel lees het, toe ‘n inwoner hom sien en naderstap. “Young man are you reading the word of God?” he said. Dit was die begin van ‘n ontmoeting met die Global span , die begin van ‘n gemeentetjie deur ‘n Turk wat in Switerrland gaan bly het, in die Alpe vir Jesus in ‘n droom ontmoet het en na al die jare teruggekom het na sy tuisdorp omdat hy die Goeie Nuus nie langer vir homself kon hou nie. Hy het net ‘n bietjie aanmoediging nodig gehad en daar in die karavaanpark saam met die Suid-Afrikaanse jongmense het God hom kom bemoedig. Vandag bemoedig die storie ons meer as wat hy dalk besef. Dankie Here vir buitengewone ontmoetings met lede van die Groter Gesin.
Die tyd loop uit en ons moet terug. Ons harte loop oor. Ons los ons kind deel van groter storie as net die Huisamens van SA.
Terwyl die bomme die een na die ander bars in die Midde-ooste en die buurlande van Anatolia brand, hoor ek die aanklag vanaf Patmos teen Efese: “Ek het dit dit teen julle dat julle julle eerste liefde verlaat het, en ek pleit, Jesus mag U ons Eerste Liefde bly en mag ons getrou wees aan u laaste wens – dat die nasies die waarheid wat vrymaak sal hoor. Dankie vir hemelse ontmoetings met mekaar en met U en met ou wêrelde . Dankie vir nuwe ywer vir U koninkryk.”
Op die 23ste Augustus sal ons voortaan Baklava met groen pistachio eet of Turkish Delight of appeltee drink of Turkse koffie in klein koppietjies al is die helfte daarvan ene moer. Ons was daar, saam-saam en het gesien en geproe. Al was dit ons beste este tyd saam as gesin, weet ek, dit was nog maar ‘n voorsmakie….

1 response to DIE GROOTSE GESIN ONTMOETING

  1. Jong jou brief het my nou in trane, Riekies. Ek moet volgende jaar my dogter op die Northbound stuur en dit is as pa vir my ‘n grooter geloofsaksie as toe ek alles gelos het en in geloof begin wandel het 14 jaar gelede. Ek hoop om ook die gesin so saam te kan trek by ‘n geleentheid volgende jaar saam met Willemien op haar reis, as ek dan nie al Turkeye gestap het in verlange na my kind. Seen vir julle as gesin en dankie vir die vensters tot julle harte deur die brief. dti was vir my ‘n groot seën.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *