KAPPIE BOTHA PIONIER FILMMAKER

Januarie 27, 2010 in Sonder kategorie

Kappie Botha is op 22 Mei 1917 gebore en op 13 Mei 1997, enkele dae voor sy tagtigste verjaardag, op George oorlede. Ek het hom nooit persoonlik ontmoet nie, maar deur sy vrou, Odie, skoonma se suster, het ek die kosbaarste vertellings oor hierdie merkwaardige mens gehoor. Sy was ‘n nooi Kritzinger van Misgund in die Langkloof. Sy woon nog op George en verkeer in goeie gesondheid en is ‘n wonderlike bron van inligting. Sy en oom Kappie het nie kinders gehad nie.

Kappie Botha is naby Botha-Kelder in Rawsonville gebore en het na die dood van sy ouers, by twee tantes van hom op Malmesbury groot geword.

Hy was ‘n gekwalifiseerde snyer of kleremaker wat aanvanklik op Worcester gewerk het. Later, na hulle troue, is hulle Paarl toe en het in Stewartstraat in die Suider-Paarl gewoon. Hulle buurman was die bekende Paarlse skilder, David Botha. Daar is ‘n rykdom staaltjies van David en Kappie se kapperjolle.

Kappie Botha was ‘n kunstenaar en het baie in fotografie belanggestel. Hy het later dan ook begin om met die rolprentkamera te eksperimenteer. Dit het daartoe gelei dat die beroemde dr Anton Rupert in die beginjare van Rembrandt hom gevra het om ‘n reklamefilm oor die Rembrandt-maatskappy te maak vir die destydse African Mirror. So gevra, so gedaan. Toe dit by die betaalslag kom, stel Rupert aan Kappie die keuse: hy sal hom kontant betaal of hy kan 200 Rembrandt aandele as vergoeding kry. Maar hulle het pas hulle huis gekoop en verkies toe eerder die kontant. Later was hy spyt dat hy nie eerder die aandele geneem het nie.

Later het Kappie Botha hom by Carfo (Christelike Afrikaanse Radio en Film Organisasie) aangesluit. Hy was een van die baanbrekers op die gebied van die Afrikaanse film, en meer spesifiek die Christelike film. Hy was regisseur van onder andere films soos Ek sal opstaan (1958), Kyk na die Sterre (1960), Die hele dorp weet (1961), Voortreflike Familie Smit (1965), Bennie-Boet (1967), Twee broers ry saam (1968), Hulda Versteegh MD (1970) en K9 Baasspatrolliehond (1972).

Na sy aftrede het hy en tant Odie hulle op Wildernis gevestig. Hulle huis, Opkyk, was aan die teenoorgestelde kant van die strandmeer as die huis van die Groot Krokkedil.

10 antwoorde op KAPPIE BOTHA PIONIER FILMMAKER

  1. louisna het gesê op Januarie 27, 2010

    Mooi stuk. Eina. Daai Rembrandt aandele.

  2. Hierdie vakansie het tant Odie weer van daardie fout gepraat.

  3. Omdat my skoonma, tant Odie se suster ‘n Kritzinger was, het ek die boek oor die Kritzingers gelees en dit heel interessant gevind. Hulle is meer hier rondom Misgund.
    Dankie vir jou besoek.

  4. Vetjan het gesê op Januarie 27, 2010

    My magties, ek het oom Kappie en tannie Odie geken.

  5. En hoe? Vertel asseblief. My eposadres is op my hoofbladsy. Ek is op soek an inligting oor hierdie twee mense.

  6. Ek het dit my roeping gemaak om ter wille van die jonger geslag mense uit die vergetelheid te gaan haal sodat hulle kan sien daar was ook helde en baanbrekers gewees.

  7. Sy is so interessant dat ek die stories maar aanteken. Sy het nie kinders om dit voor te vertel nie.

  8. Vetjan het gesê op Januarie 28, 2010

    In std 7 was ek heeltemal verlief op die mooie Debbie, wie se pa oom Kappie se ou huis gehuur het,langs oom Kappie se nuwe huis terwyl Debbie hulle se nuwe huis op die duin in aanbou was. maak dit nou sin ?

    Oom Kappie was ‘n meester, ek het hom gelaaik… wel wat weet ‘n outjie van 14 in elk geval?

  9. Izakdv het gesê op Januarie 28, 2010

    Fassinerend.

  10. Ek het dit my mission gemaak om oor die oom op te lees. Miskien moet iemand groter as ek oor hom navorsing doen. Ek het ‘n aanvoeling dat hy iets groots gedoen het.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.