GEGROET, OU GROTE!

September 10, 2012 in Sonder kategorie

 

Nie alle mense speel ‘n ewe groot rol in jou lewe nie. In die twaalf jaar wat ek op skool was, is dit die hoërskooljare wat vir my uitstaan. En daar was ‘n paar onderwysers wat in my lewe ‘n geweldige vormende rol gespeel het.

 

Die gelukkigste tyd van my skoolloopbaan het in 1956 begin. Standerd ses was ‘n nuwe fase in my lewe. Ja, ons het ‘n klasonderwyser gehad, maar anders as in die laerskool, het verskillende onderwysers verskillende vakke aangebied.

 

In daardie jaar het die skool ‘n nuwe skoolhoof gekry, mnr Gideon van Lill. Hy het van Bedford af gekom en was my hele hoërskoolloopbaan die skoolhoof. Sy entoesiasme was aansteeklik, behalwe vir ‘n paar van die leerlinge en onderwysers wat dit nie gedeel het nie. Hulle het dan ook nie lank gehou nie.

 

 Mnr van Lill sal daarop kan roem dat hy ‘n paar monumente nagelaat het. Die eerste een was die bou van die sportveld aan die suidekant van die skool. Op daardie stadium moes ons vir rugby en atletiek gebruik maak van die landbouvereniging se skouterrein aan die oostekant van die dorp. Dit het beteken dat die atletiekbaan elke begin van die jaar uitgemeet en gemaak moes word. So ook met die rugbyveld. Die rugbyveld het bestaan uit ‘n kaal geskraapte stuk grond. En nie alleen was dit hard nie, maar daar was genoeg dubbeltjies. Dit was nie bevorderlik in verdediging nie. Jy het maar probeer om jou opponent te probeer vang sonder om grond toe te gaan. Later was daar naby die stasie langs die Cradock pad ‘n rugbyveld. Maar dit was ook maar net ‘n kaal geskraapte stuk veld. Van gras was daar nie sprake nie.

 

Hy het dit reggekry deur die samewerking van die ouers en om die gemeenskap te monster om ‘n netjiese rugbyveld en atletiekbaan te ontwikkel. Elkeen moes help. Pa en sy kollegas by Landbou Tegniese Dienste moes die opmetings doen en die hellings uitwerk sodat die boere met hulle trekkers en skroppe die grond gelyk kon maak. Die terrein was nie waterpas nie, maar dit het skuins na die suidekant opgeloop. Daarom moes grond verskuif word sodat die finale produk ten minste waterpas kan wees.

 

Maar daar moes ook water wees om die terrein te besproei. Daarom is daar aan die oostekant van die terrein ‘n boorgat gesink en ‘n dieselpomp aangebring. ‘n Reservoir is ook gebou, besproeiingspype en sproeiers is aangekoop.

 

Rondom die rugbyveld is ‘n 440 tree atletiekbaan gebou – ‘n asbaan. Sandputte vir hoog-, paal- en verspring is aangebring.

 

Dit was ‘n gewerskaf van ‘n ander wêreld soos die manne met hulle trekkers en skroppe en wat nog alles die grond verskuif het en alles waterpas gemaak het. Maar die spreekwoord van vele hande het dit bewaarheid. Hofmeyr se skool het sy eie sportterrein gekry en dit self gebou. Later jare is daar selfs ‘n pawiljoen opgerig, nie groot nie, maar ten minste funksioneel. Dit was die Gideon Van Lill-pawiljoen.

 

Al wat nog moes gebeur, was dat die gras geplant moet word. Maar meneer het ‘n plan gehad. Een dag met skoolsluiting het elke onderwyser in sy klas aangekondig dat die kinders die volgende dag met ou klere skool toe moet kom. En ‘n halfuur vroeër as gewoonlik. En ons hoef nie ons skoolboeke saam te bring nie. Toe ons die volgende dag opdaag – al 200 plus kinders – was die rugbyveld netjies verdeel in 12 blokke. Een blok per standerd. Maar nie ewe groot blokke nie. Vir die kindertuinklasse is ‘n klein blokkie uitgemeet, maar vir die groter kinders weer ‘n groter blok, al was hulle minder as die kinders in kindertuin. Die gras wat in sakke verpak was, is op elke blok gesit en die opdrag was dat ons dit moet plant. Dit was nogal groot pret. En toe die laaste sooie in die grond was, is die besproeiing aangeskakel. Dit was met trots dat ons ons hande (harde) werk kon aanskou. Toe ek baie jare later weer daar kom, was daar so ‘n warm trotse gevoel in my hart om te weet dat ek deel van daardie skepping was.

 

Die tragedie is dat ek met my besoek in Mei 2011 aan Hofmeyr moes sien dat die rugbyveld nie meer bestaan nie. Die pawiljoen het die Landbougenootskap verskuif na hulle terrein aan die oostekant van die dorp. Maar verder was die stuk grond oorgroei van die vuilgoed. Net die veld van die rugbyveld het oorgebly.

 

Mnr van Lill het ook die Voortrekkers op Hofmeyr gestig. Meer korrek, hy het dit herstig, want in my ma se tyd was daar reeds ‘n kommando wat later doodgeloop het. Met die stigting was omtrent al die kinders by die beweging betrokke. Ons het spankamers gehad. ‘n Huis wat uit ‘n ry vertrekke bestaan het, is verkry, skoongemaak en as spankamers ingerig. As ek reg onthou, het dit eers aan die Jordaans van Kareefontein behoort. Die eiendom was op die hoek van ‘n straat geleë en mnr Manley het ‘n regte wawiel geneem en die Voortrekkerwapen geskep. Dit is in die hoek van die erf opgerig sodat niemand kon twyfel wie se terrein dit is nie.

 

Elke Vrydag was dit Voortrekkers. En niemand wou dit mis nie. Wat aangebied was, was werklik stimulerend. Baie van die teorie wat ons op skool geleer het, het nou sin en betekenis begin gekry. Die offisiere, wat hoofsaaklik onderwysers en ouers was, het moeite gedoen om dit vir ons lekker te maak. Mnr van Lill was die Kommandant. Oom Hendrik Erasmus, een van die boere in die distrik, was die Onderkommandant.

 

En dan was daar natuurlik die gereelde Voortrekkerkampe. Daardie tyd was kampterreine nie vrylik beskikbaar nie – veral nie in die Karoo nie. Om die waarheid te sê, dit het nie bestaan nie. Daarom is daar sommer in tente op die plase gaan kamp, of sommer in die skuur of buitekamers. The Pines van oom Naudé Cillie was een van die gereelde kampplekke. Ons het ook verskeie kere op oom Hendrik Erasmus se plaas gaan kamp.

 

Ons het later selfs streekskampe bygewoon. Ek onthou dat daar so ‘n kamp in Oos London was. Dit was reënerig en koud in Oos London. Die koud was niks nie, want dit ken ons, maar daardie ligte sousreëntjie het daardie Karoo-kinders moerig gemaak. Alles was klam en koud, ook jou beddegoed. Slaapsakke het toe nog nie bestaan nie.

 

In Mei 1960, met die Uniefees in Bloemfontein, is ‘n hele groep van ons ook fees toe. Ons het met die trein van Conwaystasie na Bloemfontein gery. Dit was Mei-maand en Bloemfontein kan maar ordentlik koud word. En dit was daardie jaar nie anders nie. Al die Voortrekkers van reg oor die land het op die skoolterrein van Sentraal Hoërskool saamgetrek. Daarvandaan is ons met etlike busse na die sentrale feesterrein vervoer en saans laat weer terug na die skool en koshuis geneem. Saans op daardie oop pawiljoene was dit ysig koud. En die koue het sommer van oral oor gekom. ‘n Mens het maar gesorg dat jy langs ‘n meisie sit om darem so ‘n bietjie warmte te ervaar.

 

In 1959 was dit Taaljaar. Op die dorp is daar ‘n fees gehou toe die fakkel daar aangekom het. En ons skool moes ook daaraan deelneem. As deel van die Taalfees, het ons skoolkinders laat middag saam met die personeel die Tweelingkoppies uitgeklim. Ons moes padkos saamneem en het so teen skemeraand ge-eet. Mnr van Lill het ‘n toespraak gehou waarin hy die skoonheid en uniekheid van ons taal besing het. Intussen het die personeel ‘n groot vuur aangepak. Die reëling was dat die vreugdevure landswyd op die selfde tyd aangesteek moes word. Op die gegewe oomblik is die teken gegee dat ‘n paar van ons met fakkels die vuur moes aansteek. Dit was aangrypend om daaraan te dink dat daar op daardie oomblik ook dieselfde seremonie landwyd plaasvind, van die Kaap tot Limpopo. Daarna is weer volksliedjies gesing en die aand is afgesluit met aandgodsdiens.

 

Die volgende dag moes ons die fakkel verder neem, Molteno toe. Elkeen van ons moes dit vir ‘n sekere distansie dra en aan die volgende een oorgee. ‘n Hele stoet motors het die prosessie gevolg.

 

Jare later, toe ek die Jeugorganiseerder van die Ned Geref Kerk in Wes-Kaap was, het ek ‘n afvaardiging van die Kerk na die destydse Superintendent van Onderwys in die Kaap, dr Flip Meyer, gelei. Ons het hom in sy kantoor in Waalstraat ontmoet. Mnr Meyer het aan die kop van die tafel gesit en aan die ander kop het ek gesit. Sy afvaardiging het links van hom aan die tafel gesit en myne weer links van my. Net voor ons kon begin, het mnr van Lill – daardie tyd was hy toe al dr. van Lill – gevra of hy iets mag sê. Alte seker, het dr Meyer geantwoord. Dr van Lill vertel toe dat dit vir hom ‘n eer is om vandag by die samesprekings te mag wees omdat die kerk se afvaardiging deur een van sy oud-leerlinge gelei word. Hy het verder daarop uitgebrei en vir my so ‘n bietjie skaam laat voel met al sy lofbetuigings.

 

Toe hy klaar was, vra ek beleefd of ek daarop mag reageer. Natuurlik, was dr Meyer se reaksie. Ek sê toe dankie vir dr van Lill se mooi woorde, maar gaan toe verder om te sê dat ek die voorreg op skool gehad het om Geskiedenis en Afrikaans by hom te kon leer. En twee dinge wat hy menigmaal vir ons gesê het, sal ek nooit vergeet nie. Die een was dat jy jou eie moedertaal, Afrikaans, moet bestudeer. Jy tel dit nie soos perdemis langs die pad op nie. En die tweede een is, dat hy in die geskiedenisklas, veral die Suid Afrikaanse geskiedenis, werklik laat leef het. Hy maak toe op ‘n dag die opmerking: ’n Leerling wat Geskiedenis by hom geloop het, en hy stem eendag vir die Sappe, wel, ek was dan my hande in onskuld. Almal het heerlik gelag en ou doktor was nog rooier in sy gesig. Maar dit het die ontspanne grondslag vir ‘n baie vrugbare gesprek tussen kerk en staat gelê.

 

Mnr van Lill was ‘n sportman wat ook op daardie terrein met die materiaal wat tot sy beskikking was, wondere kon verrig. Maar ook op akademiese gebied kon hy daarin slaag om jou te motiveer om bo jou vermoë te presteer.   

 

Mnr van Lill is ongeveer 1963 na Grens Hoërskool in Oos London. Daarna is hy by die Kaapse Onderwysdepartement as keurder aangestel. Hy het nadat hy van Hofmeyr af weg is, ook sy doktorsgraad verwerf.

 

Een van sy seuns, Gideon, was op ‘n kol in Namibië en het in Windhoek as dokter gepraktiseer. Terwyl ou Doktor daar by sy kinders gekuier het, het hulle gaan jag, iets waarvoor hy baie lief was. ‘n Paar dae daarna het hy ernstig siek geword van bosluiskoors, maar later is hy met Kongokoors gediagnoseer. Hy het dit oorleef en toe ek hom op ‘n keer daaroor uitvra, was sy antwoord dat hy nie so maklik sal doodgaan nie. Maar een ding weet hy: daardie bosluis het oombliklik gevrek nadat hy hom gebyt het.

Gideon van Lill het in my lewe ‘n geweldige vormende rol gespeel waarvoor ek hom altyd dankbaar sal wees. Hy het ons nie net akademies bekwaam nie, maar bowenal vir die lewe voorberei.

 

Hy is gistermiddag op Stilbaai oorlede. Ek groet ‘n groot man wat ‘n geweldige invloed op my lewe gehad het.

 

Gegroet, Ou Grote!

 

 

TANT SAN EN DIE BUL

April 10, 2012 in Sonder kategorie

Ek het reeds in my kinderdae in die politiek belang gestel. In 1954 het PW Botha op Hofmeyr ‘n toespraak kom hou. Daardie tyd was hy ‘n NP-organiseerder. Dit was die dae toe die vete tussen die Sappe en die Natte nog hoogty gevier het. Menige politieke vergadering is opgebreek en was soms redelik gewelddadig. Pa het my saamgeneem maar dit baie duidelik gestel dat as daar probleme sou kom, ek dadelik die saal moet verlaat en huis toe gaan. Gelukkig, of is dit ongelukkig, was dit ‘n redelike kalm vergadering. Al wat ek van die toespraak onthou was dat PW die aand te velde getrek het teen integrasie. Die beeld wat hy gebruik het, was soos om koffie en melk te meng. Wat het jy? ‘n Gemengde drankie wat nie wit of swart is nie.

 

Toe ek destyds in die Kaap gewerk het, het ek dikwels na die debatte in die praathuis gaan luister. Pa se kleinneef, oom Joggie Victor, was toe die Sekretaris van die Parlement. Hy het gesorg dat ek altyd kaartjies gekry het vir die belangrikste debatte. Gewoonlik het hy my geskakel en gesê wat aan die gang is en gereël dat ek die kaartjie kan kom afhaal. Die toesprake van minister John Vorster aan die einde van die Wantroue-debat het ek nie gemis nie. As hy eers so met die een voet op die groen bank se sitplek plaas en hy vreet die opposisie behoorlik uit, het jy geweet dat hy vandag weer op sy stukke is.

 

Daar is natuurlik baie staaltjies wat met hierdie praathuis verband hou. Daar is byvoorbeeld die een wat van ons LV van destyds, oom Gerrit Bekker van Steynsburg vertel word. Hy was blykbaar maar ‘n man van min woorde. Hy het wel sy nooienstoespraak oor die een of ander onbelangrike saak gehou, maar daarna glo net een keer weer gepraat. Dit was die dag toe hy die Speaker gevra het dat die bodes asseblief die een of ander venster moes toemaak want daar is ‘n trek in die saal.

 

Me Gladys Steyn, dogter van die Vrystaatse president, was vir baie jare die VP-lid in die Vrystaatse Provinsiale Raad. Op ‘n stadium was sy die enigste Sap wat oorgebly het. Met die volgende verkiesing toe haal sy egter nie die paal nie. Miskien was dit Hennie van Deventer wat dit gedoen het, maar die hoofopskrif van die volgende dag se Volksblad het gelees: Gladys sit die pot mis; die hele Vrystaat is nou Nat.

 

Dan is daar die een waarvan my pa my vertel het. Tant San van Christiana het die dag die woord gevoer. Dit was ‘n debat oor voorgestelde wysigings aan ‘n wetsontwerp wat ter tafel gelê is. Maar tant San het maar gesukkel om by die onderwerp te bly. Kort-kort het die Speaker haar gemaan: Will the honorable member please stick to the Bill. Maar tant San dwaal dan maar weer af. En dan vermaan die Speaker haar maar weer. Seker so na die derde of vierde keer, het een van lede toe die tussenwerpsel gemaak: Mnr die Speaker, ek is bevrees jy gaan ou San nie vandag by die bul kry nie.

 

JONA EN DIE VIS

Maart 9, 2012 in Sonder kategorie

Hennie (Uit Melkbos) se inskrywing oor die Groot Drie en Groot Vyf, het my laat dink aan iets wat jare gelede gebeur het. My pa het, toe ons nog baie jonk was, en daar ook baie min sosialeverpligtings was, saans huisgoedsdiens gehou. Gewoonlik het hy ‘n hele Bybelboek geneem en dit vir ons hoofstuk vir hoofstuk voorgelees. Ons moes natuurlik luister sodat ons na  die tyd iets kan vertel van wat ons gehoor het. 


Pa het op daardie stadium uit die boek Jona vir ons voorgelees. Na die tyd vra hy vir my jongste suus, Rina, wat sy onthou. Sy antwoord sommer dadelik: Pa, Jona het die vis ingesluk. 


Nee, help pa haar reg. Die vis het vir Jona ingesluk.


Issie, kap sy terug. Jona het die vis ingesluk.


Ter versagting moet ek darem sê dat ons Karoo-kinders se ervaring van visse beperk was tot die paddavissies in die leidam en -voor. Verder het pa soms, as hy in Cradock se distrik gaan werk het, op Cradock vir ons vis en skyfies gekoop. Ons het eintlik geen benul gehad hoe groot sommige visse kan word nie.

BESTUUR, MET OF SONDER BRIL?

Februarie 21, 2012 in Sonder kategorie

Gister was ek by die verkeersdepartement hier in ons dorp. Nee, nie om verkeers- of spoedboetes te gaan betaal nie. Twee van die lisensies wat my toelaat om van die openbare paaie gebruik te maak, my bestuurslisensie en die motor se lisensie verval aan die einde van hierdie maand. Die eerste een het my nogal so effens bekommerd gemaak. Ek het mos einde van verlede jaar in albei my oë ‘n lensoorplanting gehad. Die regteroog s’n was egter ietwat gekompliseerd. Maar dit het reg gekom en ek ry die meeste van die tyd sonder ‘n bril – net ‘n lekker sonbril wat die skerp sonlig verdof. Ek wil nie met skrefiesoë bestuur nie. Al waarvoor ek op die oomblik die getoetste bril gebruik, is om TV te kyk. Die pienk van die Pienkkoeie is dan helderder, die rooi van die Lions rooier en die strepe op my stormagtige spannetjie is duideliker.

 

Ek het vooraf ‘n paspoortfoto gekry – in kleur! Ek het ook seker gemaak dat ek my ID-dokument saamneem asook die bestaande bestuurslisensie. Toe vat ek die pad na die verkeers-departement. My moed het gesak. Daar is ‘n tou mense. Maar ek delf maar diep in my reserwe geduld wat sommige dae redelik laag is en begin om die vierbladsy vorm te voltooi. Ek en ‘n vorm is nou nie eintlik maats nie. Die pen by die toonbank se tou is te kort en dit lyk soos ‘n lunsriem, so vuil is dit. En by voorbaat weet ek al dat dit seker leeg is. Ek gebruik toe maar my eie pen. Staan-staan met ‘n rug wat al seerder word, vul ek daardie vorm deeglik in. Sommige inligting word dubbeld gevra, maar ek verstrek dit alles. En toe gaan val ek in die tou. Gelukkig is daar stoele om op te sit. Op ‘n kennisgewing teen die muur sien ek die lys dokumente wat gereed gehou moet word as dit jou beurt is, onder andere twee swart en wit paspoortfoto’s. Ek glimlag. Ek het dit ook, ingeval hulle nie die kleurfoto gaan aanvaar nie.

 

Uiteindelik kom my beurt en ek beland by ‘n baie oulike verkeersman. Ek stel myself voor (soos dit maar my gewoonte is) en gee vir hom die pakkie aan hom. Eers sit hy my bestaande lisensie op ‘n platform van die skandeermasjien sodat hy die inligting daarop kan nagaan. Toe neem hy my vingerafdrukke met ‘n moderne masjien. Nie meer die ou metode waarna jou hande van ink besmeer is nie. Die man sê toe vir my dat hy sien dat my lisensie aandui dat ek bril dra en dus met ‘n bril motor bestuur. Ek verduidelik toe aan hom dat ek deesdae, na my oogoperasie, sonder bril bestuur. Hy moet dit asseblief so aandui op die nuwe lisensie. Nee, sê die man, hy kan nie. Ek moet ‘n sertifikaat van ‘n oogkundige verkry waarin verklaar word dat ek wel sonder ‘n bril kan en mag motor bestuur. Moet ek nou Paarl toe ry, want my oogarts en oogkundige is daar? Kan hulle nie maar net ‘n faks stuur waarin hulle dit verklaar nie. Nee, dit is nie aanvaarbaar nie, antwoord hy. Maar, sê die vriendelike man, hier naby is ‘n oogkundige wat gratis my oë sal toets en dan ‘n sertifikaat sal uitreik.

 

Ek los toe die vorms en goeters by die man. Toe ek uit sy kantoor stap, sien ek dat die tou mense aansienlik aangegroei het. As ek terugkom, sal ek weer agter in die ry moet inval. By die oogkundige het alles goed verloop. Hy het my oë getoets en die sertifikaat uitgereik. Terug by die verkeersman, sak my moed in my skoene. Inderdaad het die ry aansienlik langer geword. Gelukkig sien die verkeersman my raak en knipoog vir my. Toe hy klaar is met die persoon wat by hom was, roep hy my toe in. En doef-daf handel hy alles af en sê dat ek my nuwe bestuurslisensie oor ses tot agt weke kan verwag.

n

Toe mos ek gaan betaal. R140 vir die voorreg om op die openbare paaie ‘n motorvoertuig te mag bestuur – sonder ‘n bril. Toe alles afgehandel is, skuif die dame agter daardie dik glas ‘n vorm deur en vra dat ek dit asseblief vir die korrektheid daarvan moet kontroleer en teken. Ek lees dit deur. Ja wragtie, daar staan dit: Beperking: Bestuur met bril. Ek wys haar daarop dat ek ‘n sertifikaat het om sonder ‘n bril te mag bestuur. Sy vra vriendelik om verskoning en maak die fout reg. En ek onderteken dit en kry my kwitansie.

 

Toe ek uitstap, dink ek toe so by myself. As ek by ‘n padblokkade voorgekeer sou word, en hulle sien dat ek eintlik met ‘n bril moet bestuur en ek doen dit nie, met hoeveel wat gaan hulle my beboet? Word dit ooit gekontroleer? 

KAN JY HULLE VERTROU?

Februarie 20, 2012 in Sonder kategorie

Dit het werklik gebeur. ‘n Kliënt gaan na ‘n winkel in die nywerheidsgebied om ‘n paar goedjies te gaan koop. Terwyl hy deur die rakke stap en soek wat hy nodig het, storm daar vier gewapende persone in die winkel in. Hulle skree op die man en vrou, eienaars van die besigheid, dat hulle plat moet val. Hulle maak toe so. Met die wapens in die hand word die man en vrou gedreig dat hulle niks verkeerd moet doen nie. Hulle sal skiet. Twee van die mans neem die vrou se handsak en haal al die geld uit. Die skootrekenaars se bedrading word afgeruk en in ‘n sak gesit. Hulle vra waar die sleutels van die kluis is. Die man gee dit vir hulle en oorhandig die geld in die kluis aan die rowers.


Intussen kom hulle egter agter dat daar ‘n kliënt in die winkel is en beveel hom om dadelik die perseel te verlaat. Hy vertel agterna dat hy elke oomblik gevrees het dat hulle hom gaan skiet. Wanneer hulle met hulle buit gevlug het, weet hy nie. Hy skakel toe later die winkelier wat hom meedeel dat hulle genadiglik ongedeerd is. Maar hulle het groot skade gely. Die eienaar vra die man of hy van die rowers kon sien. Ja, was sy antwoord. Hy sal van hulle kan uitken. Die eienaar vra hom om by die polisiestasie ‘n ooggetuieverklaring te gaan aflê. Maar hy gaan nie dadelik nie.

 

Die volgende oggend eers gaan hy toe na die polisie. Agter die toonbank staan drie polisiemanne. Hy herken dadelik die een man. Hy was een van die vier rowers. Hy besef dadelik dat hy nie daar die verklaring moet aflê nie. Sy lewe is in gevaar. Hy ry toe na ‘n ander stasie en lê sy verklaring daar af. Die konstabel vra hom toe of hy enige van die rowers sal herken. Hy verseker hom dat hy dit beslis sal kan doen. Die konstabel waarsku hom toe dat dit baie riskant gaan wees. Hy vertel toe vir die polisieman dat hy die een verdagte by die ander stasie gesien het. Dit is toe dat die polisieman vir hom sê dat sodra hierdie verklaring na daardie stasie sou gaan, dit daar eenvoudig weg sal raak. En dat hy dan ‘n gemerkte man sal wees. Uit vrees het hy toe maar sy verklaring teruggetrek.

 

Dit het my hartseer gemaak. Om te dink dat sommige van hierdie mense wat ons moet beskerm, nie vertrou kan word nie. 

DETOX

Februarie 12, 2012 in Sonder kategorie

Ek sien vandag weer ‘n groot advertensie in die Sondagkoerant waarin ‘n middel adverteer word waarmee jy ge-detox kan word. As gevolg van ‘n ongesonde leefwyse en die voedsel wat ons eet soos kits- en gemorskos, word die mens se gestel stelselmatig vergiftig. Van daardie gif moet ontslae geraak word. Want dit lei tot allerhande kwale en ongesteldhede wat nie net ongerieflik is nie, maar ook lewensgevaarlik kan wees.


Dit is natuurlik niks nuut nie. Ek onthou baie goed (met ‘n smaakse smaak in die mond) hoe dat my ma ons ook ontgif het. Ja, ons het op skool uitgesien na die dag wanneer die skool vir die kwartaal gaan sluit. Of van die mense het gepraat van die skool wat gaan opbreek. Maar laat ek eerlik wees, ek het rêrig nie daarna uitgesien nie. Want ek het geweet wat vir my by die huis wag. Ons gaan ge-detox word. Reg gehoor! Maar daardie woord het toe nog nie bestaan nie. Ons het elkeen ‘n stywe dop kasterolie (of epsomsout wat in louwater opgelos is) gekry. Die een was so sleg soos die ander. Kasterolie met sy olierige smaak wat ‘n lank nasmaak gelaat het, was dalk vir my die slegste van die twee, as ek moet kies. Epsomsout (of Engelse sou) met ‘n teelepel suiker daarin was darem effens beter. Daar was geen uitkomkans nie. Ons moes dit drink. Ma het geglo dat dit die gif uit die bloed laat kom en dit sal van ons gesonde kinders maak. As troos het sy dan na die tyd vir ons lekkers gegee om te suig om die smaak te versag.

 

Dieselfde het ook gegeld aan die einde van die vakansie. En hoe gou gaan ‘n vakansie nie verby nie? Dit was ‘n dubbele hartseer want wie wil nou skool toe gaan? En dan wag die bloubottel ook nog daar, twee dae voor die skool weer oopmaak.

 

Miskien was daar tog groot wysheid in die gebruike en rate van ons ouers. Miskien moet ons maar al hierdie duur kure en medisyne vervang met die getroue ou bloubottel. Dit het sy ding gedoen. Dit sal steeds sy ding doen.

 

Of is dit ook al tot verbode medikasie verklaar en van die rak af gehaal? Miskien moet ek môre by my apteker gaan hoor.

 

HOME IS WHERE YOUR JOURNEY BEGINS

Februarie 7, 2012 in Sonder kategorie


Nostalgie word beskryf as daardie bittersoet verlange wat ‘n mens oorval wanneer jy na dinge, persone, situasies en ervarings van die verlede verlang.  Dit kan ook beskryf word as homesickness. Die verlange na die huis.

 

By Houthoop in Namakwaland is daar ‘n bordjie waarop daar staan: Home is where your journey begins. Jou reis het daar begin. Maar intussen het jy al ver op die lewenspad gereis. Elke tree wat jy gee, is verder van die huis, van die verlede af. As jy op ‘n dag van die besige pad afdraai en stilhou en stil word en nadink, dan oorval hierdie gevoel jou. Jy besef eintlik dat jy nie na die verlede kan terugkeer nie.

 

Max Lucado skryf hierdie treffende woorde: You no longer have yesterday.  It slipped away as you slept.  Sorry, what’s gone is gone.  The second hand of the clock refuses to tick backward.  You no longer have yesterday.

 

Onlangs het ek ek my neef, Koos Victor, tot baie laat die aand op sy heerlike dek van sy huis op Onrus gesels. Natuurlik het ons oor die verlede gesels en aangename en minder aangename herinnerings opgediep. Ons het onder andere gepraat oor oupa Koos se plaas, Aasvoëlbos, en die tuishuis op Merweville, Voortrekkerstraat 66, waar ek gebore is. Dit is nie meer in die besit van die Victors nie. In daardie huisie en op daardie plaas het my lewensreis begin – baie jare gelede. En tereg sê Max Lucado, die horlosie kan nie agteruit loop nie. Jy kan dit ook nie met geweld terugdraai nie. Want ‘n horlosie is nie tyd nie. Dit meet maar net die tyd soos dit verbygaan. En met die water wat verby is, sal jou meul nooit weer maal nie, het die wyse Langenhoven geskryf.

 

Op Aasvoëlbos lê ‘n hele paar van ons voorsate begrawe. Daar is pa se jongste broertjie wat by geboorte oorlede is, ouma Kittie wat na hom daar begrawe is en oupa se tweede vrou. Oupa self se graf is daar en sy een suster, tant Trynie. So ook die graf van pa se broer wat vir baie jare, eers saam met oupa en later alleen, daar geboer het. Maar die begraafplasie is verwaarloos. Die omheining is stukkend. Van die grafte het ingeval. Die terrein is vol bosse en vuilgoed. Ek het verlede jaar met die eienaar gesels en genoem dat die plek onnet is. Sy antwoord was dat dit ons saak is. Ons is welkom om dit te kom regmaak. Ek het nie geantwoord nie. Ek sou graag egter wou weet wat die verantwoordelikheid van ‘n nuwe eienaar is ten opsigte van grafte op ‘n eiendom wat hy koop. Sal dit in die koopbrief dalk beskryf word? Om te verwag dat die nageslag dit instand moet hou, is amper onmoontlik.  

 

Dis toe dat ons twee neefs vir mekaar sê dat ons seker die laaste twee is wat nog enige sentiment oor ons herkoms en plekke van herkoms het. Sy kinders woon in die buiteland en ek het nie kinders nie. En met ons ander niggie en neefs is dit maar dieselfde. Van hulle was sedert oupa se dood in 1966 nooit weer daar nie. En as ons geslag nie meer daar is nie, kan ons tog nie op hulle wat na ons kom, reken om daarna om te sien nie. Daarom dat ek toe die opmerking maak dat dit dan maar ook so moet wees. Ek kan tog nie daarna terugkeer nie. Dit mag die plek wees waar my reis begin het. Maar dit sal nie daar kan eindig nie. My reis na die toekoms gaan voort. En waar ek gaan rus, is nie in my hande nie.

 

Mon repos! My rusplek is elders.

 

 

EET SOOS ‘N STOFSUIER

Februarie 5, 2012 in Sonder kategorie


Normaal weg doen die gewone mens dit drie keer per dag. Daarmee bedoel ek dat hulle as gesin soggens, middae en saans by die tafel aansit om te eet. Hoeveel mense vandag dit nog doen, weet ek nie. Op die plaas en miskien op die platteland seker. Maar in die stad waarskynlik nie. Die meeste mense wat ek ken, eet nie soggens saam ontbyt nie. Wie eet dan nou op jou nugtermaag eier en spek? En dan nog voor die haan gekraai het? Gewoonlik is dit ‘n geskarrel om almal deur die badkamer te kry en alles bymekaar te sit om skool en werk toe te gaan.


In ons huishouding eet ons saans. Soggens is dit rooibostee en ‘n gesondheidsbeskuitjie. Cecile neem vir haar vrugte saam kantoor toe. En as die sjef in die huis, sorg ek vir die aandete. Moenie die fout maak en dink dat ek elke aand braai nie. Nee, soms is dit ‘n bord gekookte boerekos: vleis, rys of aartappels en ‘n bak gemengde groente.  Let wel, die stysel word tot een beperk. Die gemengde groente word gaar gestoom. Ook nie te gaar nie; dan is dit te pap. Ander kere is dit weer ‘n bredie wat gemaak word van ‘n goedkoop snit soos skenkels of rugstring. As ek baie avontuurlik raak, dan maak ek frikkabelle of hoendersosaties wat ek in die Weber gaarmaak. Baie lekkerder as die wat jy koop. En wat dan van ‘n hoender met bier in sy agterent in die Weber? Of ‘n ontbeende lambsboud. Of het julle al vergeet wat dit is?

 

Maar dan is daar die kere dat die sjef ook lus raak vir kos wat iemand anders gemaak het. Dan trakteer ek vir Cecile met ‘n uiteet. Ons besoek ook nie altyd daardie eksotiese restourante met spyskaarte wat in Frans opgestel is nie. Ek wil weet wat ek bestel. Gewoonlik is die garnering op die bord by hierdie plekke meer as die klein stukkie vis of hoender of bees wat in die middel van die bord met laag op laag blare en souse bedek is. Nee, ons gaan veral na een spesifieke restourant, nie ver van ons huis af nie. (As ‘n mens die aand lekker geëet het, wil jy tog nie ver van jou bed af wees nie.) Ons is daar so bekend dat hulle al dikwels my stem herken as ek skakel om plek te bespreek. En ons het ons tafel.


Vir ons twee is ete ‘n ritueel. Ons sal vooraf eers ‘n drankie drink, in my geval ‘n rooietjie (nie noodwendig altyd uit die bottel nie) en Cecile haar wittetjie. Duur wit wyn akkordeer nie met haar nie. Daardie lae kalorie wyn met lae alkohol inhoud is net die een wat haar nie kopseer gee nie.


Nadat ons daarmee klaar is, is die kos ook gereed. Beide van ons is stadige eters. Om saam te eet, val die klem op die saam; saam wees, saam gesels en saam geniet. Veral die saam gesels. Dan word kopstukke gesels en drome gedroom en reise beplan en noem maar op.


As ons uiteet, gaan ons gewoonlik vroeg sodat daar genoeg tyd vir gesels is. Daar is dan nie die onderbrekings van om kort-kort kospotte toe te gaan nie. Behalwe die kere as ons dit ongelukkig tref in die restourant met klein kindertjies wat reken dat die restourant ‘n buitelug park is waar hulle rond kan hardloop en spring en skree soos hulle wil terwyl hulle ouers niks daaraan doen nie.


Om mede-eters soms dop te hou, is ook heel vermaaklik, maar ook soms skokkend. Dit gebeur nogal dikwels dat daar ‘n eetgeselskap opdaag, nadat ons al ‘n rukkie daar is. Hulle spring weg en bestel sommer dadelik die kos. En as die bord kos voor die pa neergesit word, gryp hy die mes en vurk en bestorm daardie kos asof dit iets is wat dalk kan weghardloop. Hy wag nie dat die mede-tafelgenote se kos ook daar is nie. In ‘n japtrap is dit blinkbord by hom. Alles is op. Ek het al gesien dat hy klaar was voordat die laaste eter se kos opgedaag het. En as hy klaar is, dan rek hy hom so behaaglik uit. Dit is duidelik dat die ander mense aan die tafel nou moet klaar maak. Hy wil huis toe gaan.


‘n Vriendin het op ‘n keer gesê dat hierdie soort eters soos stofsuiers is.

 


SWANLAKE IN DIE ALHAMBRA

Januarie 27, 2012 in Sonder kategorie

Ek en my goeie vriend en kollega, Wentzel van Huyssteen, was nie net saam op skool nie, maar het ook saam op Stellenbosch studeer. Hy is ‘n besonder begaafde mens en uiters musikaal. Ek reken soms dat hy van ‘n voltydse musiekloopbaan net so ‘n groot sukses sou kon maak as wat hy as wêreld bekende akademikus tans maak. Hy is verbonde aan die Princeton Theological Seminary.

 

Sy ouers het in Boston in Bellville gewoon nadat hulle van Hofmeyr af weg is. Hy kom eendag by my aan in my koshuiskamer en nooi  my om saam met hom vir die naweek na sy ouerhuis te gaan. So ‘n uitnodiging wys ‘n mens nie sommer van die hand nie. Net om weer in ‘n gesinsverband te kan wees, is al klaar ‘n bonus. Ons is Vrydagmiddag na die laaste klas stasie toe en neem die trein na Bellville. Treinry was daardie tyd die enigste vervoer stad toe. En dit was niks snaaks om eers teen middernag met die laaste trein weer terug te ry Stellenbosch toe nie.

 

Sy ma, ‘n baie fyn mens, vertel ons die Vrydagaand dat Swanlake in die Alhambra in Kaapstad draai. En ons besluit terstond dat ons dit gaan kyk. Dit sou my eerste besoek aan so ‘n groot teater wees. Maar ook die eerste ballet wat ek sou sien – al is dit ook maar op film. Vooraf het Wentzel my die hooflyne van hierdie meesterstuk vertel.

 

Maar eers iets oor die teater. Die Alhambra-teater, so lees ek in die geskiedenis, was die eerste, en ek haal aan, atmospheric theatre in die land. Dit was geleë in Riebeeckstraat in Kaapstad. Die argitek was P Rogers-Cooke en dit is in ‘n Spaans-Moorse-styl gebou. Die eerste vertoning in 1929 was The Singing Fool met Al Jolson in die hoofrol. Die teater het plek gehad vir 1 931 mense. In Januarie 1972 is dit egter gesluit en dit moes dit plek maak vir die nuwerwetse geboue met hulle glaspanele sonder enige gevoel en atmosfeer.

 

Ek en Wentzel is Saterdagmiddag met die trein in Kaap toe. Ons het sommer na Bellville se stasie gestap. Eers het ons ons kaartjies by die teater gaan koop. Ek was geweldig beïndruk met die gebou. Dit was ouwêreldse prag en praal. Die weer was nie lekker nie en dit het by tye so effens gedrup. Maar ons het eers ‘n paar draaie in die stad geloop. Die stad was vir my ook ‘n vreemde wêreld en ‘n eerste ervaring. Ek kon my verkyk aan die goed in die winkelvensters.

 

Ongeveer ‘n halfuur voor die begin, is ons weer Alhambra toe. Ons het ingegaan en ons plekke ingeneem. Soos ‘n regte plaasjapie het ek my behoorlik verkyk aan hierdie gebou en die kunswerke. En natuurlik die mense. Almal was, soos die Engelse sal sê, gekoller en getaai. Die mans met aandpakke en strikdasse en die dames met lang rokke en nertse om die skouers. Natuurlik het ons twee ook ons beste klere aangehad.

 

Toe die ligte later gedoof word, kyk ek op en sien dat die sterretjies skyn. Ek stamp aan Wentzel en sê gedemp vir hom dat ek darem maar bly is dat die reëntjie opgeklaar het. Die sterre skyn. Ons gaan gelukkig nie nat reën nie. Waar maak ek toe my naam krater. Hy sê vir my dat die gebou wel ‘n dak het, maar die plafon is soos die lugruim beskilder en klein liggies is aangebring wat soos sterretjies lyk. Dit skep die illusie van ‘n sterrehemel.

SEWENTIG

Januarie 26, 2012 in Sonder kategorie

In Ps 90 skryf Moses: Ons lewe is maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig. Wel, daardie sewentig het ek op 4 Januarie hierdie jaar bereik. En dit vat nogal aan ‘n mens, veral as jy dink aan hierdie woorde van Moses. Maar ek is daar verby. Nou kan ek maar net hoop dat ek sterk genoeg sal bly vir tagtig. Maar dan sien ek dat Moses ‘n stertjie bygelas het: en dié is vol swaarkry en leed. Maar dan is daar darem ook die troos as hy sê: Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe. Laat ek nou maar eerlik wees, ek is gereed om te gaan, maar so haastig is ek darem nie. ‘n Skoolvriendin uit Hofmeyr se dae skryf vir my: Ouma Nelie, A3 se ma, het altyd gesê ‘n mens moet die “nots” vier. My 7not was die dag na A3 weg is.

 

Cecile het lank voor die tyd aan my gekarring dat ons hierdie mylpaal beslis moet vier. Jy raak net een maal in jou lewe sewentig, het sy argumenteer. Dit spreek vanself, het ek by myself gedink. Uiteindelik het ek ingestem. Maar nou moes ons ‘n geskikte tyd en plek kry. Ek het dit baie duidelik gestel dat ek op twee voorwaardes instem: nommer een: dit moet ‘n dagfunksie wees. My vriende (sommige van hulle) wil of kan nie meer in die aand ry nie. En twee: dit moet informeel wees. G’n das en pak nie. Jeans en gemaklike klere. Ons kan nie ‘n funksie op my verjaardag hou nie omdat die meeste van ons vriende en familie dan met vakansie is. Daarom besluit ons dat dit die veertiende Januarie sal wees. Die datum is bepaal. Nou vir die plek.

 

Ons kry toe die plek nadat ons verskillende opsies oorweeg het. Hartenberg-Landgoed in Stellenbosch se omgewing. Dit leen hom vir ‘n lekker informele kuier onder die bome. Oorgenoeg parkering en selfs ‘n dienspad waar die minder mobiele gaste afgelaai kan word sodat hulle ‘n kort entjie het om te stap. Daar is selfs ‘n paadjie vir persone in rolstoele. Dit gaan ‘n piekniek onder die bome wees. Ons het toe gaan sit om die gastelys saam te stel. Sjoe, wie nooi jy en wie nooi jy nie. Uiteindelik was die lys gereed en kon ons die uitnodigings uitstuur. Maar dit moes hier teen die middel van November gedoen word voordat die vriende en familie met vakansie gaan. Hulle moet vroeg in Desember terug antwoord sodat ons die getalle kan deurgee.

 

Ek het al die jare gedink dat ek regtig op ‘n simpel tyd verjaar. Met Kersfees pas verby en nuwejaarsfees ‘n week later, het die familie nie meer die kapasiteit vir ‘n verjaardagpartytjie gehad nie. En wat geskenke betref, het my ouers met Kersfees sommer ook my verjaardagpersent gegee. Sodat daar darem ‘n paar mense sal wees, het ons dus die partytjie tien dae later gehou, op 14 Januarie op Hartenberg-Landgoed. Die weer het saamgespeel, nie te warm nie en ‘n heerlike lafeniswindjie. Die piekniek het almal geniet.

 

As ek my sin kon kry, sou ek vir my gaste gevra het om geen geskenke te bring nie. Hulle vriendskap en teenwoordigheid is die grootste geskenk. Maar toe werk dit nie so nie. Toe verras ek hulle die dag om vir elke gas wat dit wou hê, ‘n boek te skenk: Die Kronieke en Wedervaringe van ‘n Wittebroodbaba. Die skrywer? Die uwe. Dit het enkele dae voor die piekniek verskyn. Ek het dit self uitgegee en ‘n beperkte oplaag laat druk. Dit is beslis nie in die handel beskikbaar nie. Daarmee wou ek my dank betuig aan soveel mense wat ‘n rol in my lewe gespeel het – en steeds speel.

 

En nou kyk ek vorentoe. Wat daar wag, weet ek nie. Maar ek gaan met ‘n verruimde hart die toekoms tegemoet!