Wat ons tot dusver geleer het…

November 12, 2012 in Uncategorized

Eendag, lank lank gelede, toe ons nog op Chrissiesmeer gebly het, het ons sit en kuier met ander naweekboere.  Hulle het ook die perd-ding probeer.  Daar is regtig iets romanties aan die idee van fris vars sonsopkoms-ritte en luilekker sonsondergang-ritte. 

Die ou het vier perde gekoop, en al die saals en tooms en goeters wat nodig was.  Ketjieng-ketjieng-ketjieng. Mens raak regtig maklik meegevoer met perdrygoed, en NIKS daarvan is goedkoop nie. Dit was egter “veldperde” – soos wat meeste plaas-ryperde maar is.  Dit werk heeltemal goed genoeg op plase waar die ruiters gereeld daar is en die perde gewoond gemaak is daaraan om gevang en gery te word. Maar uiteindelik het ons naweekboer-vriend en sy familie moeg geraak om kilometers ver agter perde aan te hol om hulle te probeer vang en ry, net om afgegooi te word. Hy het die perde uit moedeloosheid weggegee op die ou einde, en verklaar “Dit Werk NIE!”

 In retrospek dink ek ek weet wat verkeerd gegaan het.

In die eerste plek was die keuse van die perde oorhaastig.  Tensy mens ‘n rodeo-ruiter is sonder ‘n bang haar op jou kop, moet jy nie dink jy gaan sommer enige perd koop en hom klim en ry wanneer jy op die plaas kom nie.  Dit het ons geleer met Muskiet, en ook met Maxi.  Muskiet het ons uiteindelik “verloor”…want hy was net te intimiderend, en later het nieand hom ooit meer gery nie, so hy het meer en meer bederf geraak. 

Maxi was (is) net so intimiderend soos Muskiet…maar ons het nou baie duisende rande en baaaaaie ure spandeer om haar “foolproof” af te rig.  O-kay – sy is miskien nog nie so “foolproof” nie en sal seker nooit heeltemal wees nie – maar ek as haar ruiter, het haar so goed leer ken dat ek net aan my sit kan voel wanneer sy moeilik gaan wees, en wanneer sy ontspan.  En ek het ook geleer hoe om met haar te werk, om haar weer te laat ontspan. Touch wood.

Hier is Maxi en ek oppad. sy is ‘n senuweeagtige ou dingetjie en daai oortjies draai heeltyd al die kante toe. As ek op Luke ry so in die veld, voel dit ek seil op ‘n skip, en sy ore flop-flop-flop sommer so van ontspannenheid. (-;  Maar ek glo dit sal beter gaan hoe meer gewoond sy aan die plaasritte raak.

Ice en Luke was die regte keuses van die begin af:  Hulle is nou byna ‘n jaar lank al op die plaas, ons ry hulle net so een keer per maand, en tog is hulle elke keer inskiklik en gehoorsaam en beheerbaar…selfs al het Ice vir ses maande lank herstel van sy besering, terwyl niemand op hom gery het nie.

Hier is Luke aan’t brekvis op die grasperk terwyl die Klipkoppe brekvis op die plaasstoep:

Riverdance – op wie ons Muskiet uiteindelik “ingeruil” het – het ons versigtig gekies, met al ons verwagtings en vereistes en voorafkennis in plek.  Hy is absoluut die regte perd vir die situasie, want hy het ‘n stabiele temperament en mens kan sien hy HOU van aandag en om gery te word. (Anders as Maxi – wat hou van aandag, maar seker nooit regtig sal hou daarvan om gery te word nie, al het ek en sy mekaar nou goed leer verstaan…)

As mens nie self daar kan wees nie, is dit steeds belangrik dat die perde in roetine gehou word.  Gelukkig het ons goeie werkers op die plaas, wat sorg dat hulle elke aand op stal slaap en nie wilde veldperde word nie, elke oggend op dieselfde tyd uitgelaat word, en elke dag op dieselfde tye bietjie kragvoer kry – wat hulle teruglok stal-toe sodat hulle vanself “huistoe-kom” elke middag.  Die perde is handmak – hulle is gewoond daaraan om hanteer te word en ge-“groom” te word op gereelde basis – dus, al word hulle nie elke dag gery nie, vind ons dat dit maklik is om hulle te vang en op te saal wanneer ons wel op die plaas is om te ry.

Wat ons meeste van alles geleer het, is dat daar nie ‘n “maklike” manier is met ryperde nie – behalwe, natuurlik, as jy daai cowboy-skrik-vir-niks mentaliteit het – wat ons familie nie een het nie, ons ins deur-die-bank ‘n klomp bangatte.

 ***

Hierdie naweek was die eerste herdenking van die Klipkoppe se re-lokasie na Kliprivier-Salamander.  Ek en Klipkop het dit gevier deur alleen plaastoe te ry, met die uitsluitlike doel om NET met die perde tyd te spandeer.  (Niks kinders of ouma of kuiermense nie – net Daniëltjie, wat in die huis gesit en Angry Birds speel het terwyl ons die plaas vol ry, met Kombuis-Anna wat ‘n ogie hou.)

Hier ry die baas van die plaas op Riverdance oor die wydte en breedte van sy koninkryk:

Dit het gevoel soos ‘n hoogtepunt – uiteindelik, na al die bloed, sweet, stof en trane – het dit vir my gevoel asof ons gekom het waar ons wil, met die perde. Dit was HEERLIK om die plaas plat te ry, al het ons paar benoude oomblikke gehad – dit was ook heerlik om DEUR daardie oomblikke te kom en te besef ons het dit hanteer. 

Mission accomplished.

 

11 antwoorde op Wat ons tot dusver geleer het…

  1. Dit klink of julle die dinge baie geniet. Dis lekker om mense so positief in hierdie tyd te sien

    • @ts Ja, hierdie tye….
      Wel, ek kan nou ‘n inskrywing skryf oor…nee kom ons los dit eerder.
      Laat ons eet en drink en perdry, want môre sterf ons.

  2. ‘n Stukkie grond van julle eie, en perde, wat meer het mens nodig?
    Dankie vir hierdie blik in julle en die perde se lewe. Ek volg al van laaaaaaankal af jou blogs oor die perde al kommentaar ek nie altyd nie.

  3. @modderkoekie. Dankie! Dis vir my verskriklik lekker om oor hulle te skryf. Dit was regtig ‘n lewensles; hulle het van my iemand anders gemaak as wat ek twee jaar terug was.

  4. geniet dit.
    Ek beny julle die vryheid van die plaas nie die plesier van die oggend en aandritte nie – my eie bene sal my daarvoor moet bedien. 🙂

  5. Pragtige diere ! Terapeutiese diere !

  6. vega het gesê op November 12, 2012

    Julle het die beste van twee wêrelde. En baie deursettingsvermoë.

  7. Hoor jy hoe hard klap ek vir julle hande!!!

  8. Ek het deur ‘n klomp van jou ‘posts’ gewerk K … jou spasie is LEKKER!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

1 terugspoor