Profile photo of Tanya

by

Laaste woorde … dade … gedagtes

April 3, 2017 in Algemene murmur

Ons lewe in ‘n tyd van verwyte. Almal verwyt mekaar of jy nou skuldig is al dan nie, maar die verlede het nou eenmaal net ‘n manier om hom op te haal. Vergewe en vergeet is maar ‘n moeilike konsep en ek het alle respek vir elkeen wat dit werklik tot diep in die diepste fondamente van hul hart kan regkry.

Die vergewe is seker nie so moeilik nie, maar ai die vergeet. O ja, en wanneer daar so ‘n effense trilling in ons menslike aardkors kom, dan vind ons al te gou dat die vergeet onthou geword het en die vergewe moet van voor af weer begin. ‘n Moeilike taak of sal ek sê amper ‘n bomenslike taak om die twee saam te doen en dit so te hou.

Maar vandag is dit nie die vergewe en vergeet wat my op die hart lê nie, maar eerder die laaste woorde, die laaste dade, laaste gedagtes …

Met die tyd het dit al telkens tersprake gekom tydens die dood van ‘n bekende of selfs ‘n geliefde dat die laaste interaksie tussen die twee nie van die beste was nie en die oorlewende word dan swaar belas met die wete en selfverwyte dat op die laaste ontmoeting dit nie so goed gegaan het nie en dat daar dinge gesê was of gedoen (of nie gedoen) is wat nie gedoen moes gewees het (of gedoen gewees het). Herhaaldelik word die laaste avondmaal afgespreek in die oorlewende se gedagtegang.

Verskeie kere is dit nie noodwendig dat die skermutseling ‘n dag of twee of week of vier terug was nie, maar soms het die twee partye mekaar maande laas voor die oorledene se heengaan gesien, maar steeds was daar dié swarigheid tussen die twee – mag dalk jare wees. En so leef ons aan met ons sware gedagtes en verwyte en word ons siek en gaan ons dood.

Wat my egter so deur die nag getakel het, is wat weet ons van die oorledene se laaste oomblikke? Kan dit wees dat die verwyte ook by so ‘n persoon afspeel en dat hul die hiernamaals toe ingaan met ‘n pakkie op hul rug wat insluit al die laaste oomblikke wat hul met die mense op hul pad gedeel het. Dit het my nogal laat skrik. Vergeet van al die groot sondes waarvoor ons bid, wat as ons vandag op die trein moes klim om ons hiernamaalspad aan te durf, sou ons pakkie dalk ‘n skewe kyk wees na ‘n mindergegoede, ‘n afkrakende woord aan ‘n dronkie langs die pad, ‘n snedige antwoord aan ‘n kassier by ‘n betaalpunt, ‘n onthou wat ek vandag vir jou sé” toegesnou aan ‘n familielid of ‘n “ek sal jou binne tien minute laat seniel verklaar” aan ‘n ouer wat nie meer vandag se kind is nie.

Op daardie laaste oomblikke is dit wat ek en jy dalk in ons rugsak sal moet pak? Is ons bereid om dit te dra? Gaan ons werklik kan verklaar hoekom ons dit saam met ons moes dra omdat daar nie tyd was om dit reg te stel nie. Wat ek met vandag se gedagte wil sê, is dat dit nie net die eenkant is nie, maar dat ek ook dink dat daar baie van ons is, wat op ons sterfbed sal lê en wens met ‘n diepe begeerte dat ons nie so hard, so veroordelend en selfgesentreerd was nie en dat dit nie net tot ons onmiddellike familie en vriende beperk is nie.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *