Chanette Paul oor aanneming, geweld en gulhartigheid

May 20, 2016 in Uncategorized

“Ek was omtrent so agt jaar oud toe my ma op ’n dag vir my ’n glas melk en koekies na my kamer gebring, by my kom sit en vir my vertel het.” Chanette Paul

Chanette Paul is ’n baie bekende skrywer. Sy het onlangs geld geskenk aan ons skoolskoenprojek en het baie moeite gedoen om ander skrywers uit te daag om dieselfde te doen.

Izak de Vries is nie net ’n kaalvoethardloper nie, hy is ’n joernalis ook. Hy het hierdie onderhoud namens ons gedoen.

Chanette Paul deur Ian Dennewill

Skrywer Chanette Paul

Foto: Ian Dennewill

Chanette Paul is een van Suid-Afrika se groot spanningskrywers. Sedert die begin van 2013 was sy reeds meer as 100 keer op die weeklikse, landswye topverkoperlyste, soos gemeet deur amptelike boekwinkelverkope. Dink aan die hoeveelheid weke wat daar in ’n jaar is, dan word hierdie prestasie skerper omlyn. Sy het ook die Lekkerlitprys, wat deur lesers toegeken word, drie maal in ’n ry ingepalm.

Paul is ook een van die skrywers wat baie moeite doen om die Durbanville Kinderhuis te steun. Nie net het sy geld geskenk nie, sy het ook haar naam en facebook-profiel daaraan gekoppel om medeskrywers aan te moedig om geld te skenk vir die Durbanville Kinderhuis se skoolskoenfonds.

Izak: Soveel van jou boeke raak kwessies aan wat gereeld deur Kinderhuiskinders ervaar word. Met Offerlam, wat ook jou deurbraak in Europa beteken het, word die kwessie van emosionele geweld binne gesinne duidelik onderstreep. Offerlam het grootliks te make met ’n kind se soeke na haar wortels; juis omdat sy as baie klein dogtertjie deur haar ma versaak is. Waarom so ’n onderwerp aanpak?

Chanette: Ek is self ʼn aangenome kind en ek weet hoe dit voel om nie te weet waar jy vandaan kom nie. Die feit dat jou biologiese moeder jou afgeteken het, dus besluit het sy wil (of kan) jou nie grootmaak nie, het ’n geweldige impak op ’n mens. Dis seker die grootste vorm van verwerping wat ’n mens kan ondervind.

Daar is egter altyd redes daarvoor en ek dink enigeen wat uitvind hulle is aangeneem, wil graag weet wie hulle ouers is en waarom hulle jou laat aanneem het. Jy weet die kanse dat jy nog seerder gemaak gaan word, dat die redes daaragter meesal nie edel is nie, is groot, maar die drang om te weet, bly daar.

Ek het al dikwels gewonder hoe dit moet voel om as volwassene vir die eerste keer uit te vind. Ek dink dis danksy daardie gewonder dat Caz vir my gestalte aangeneem het.

Izak: Jy het al tevore in die openbaar gesê dat jy self ’n aangenome kind is. Hoe verskil jou ervaring van aangeneem wees van dié van jou hoofkarakter?

Chanette: Ek was omtrent so agt jaar oud toe my ma op ’n dag vir my ’n glas melk en koekies na my kamer gebring, by my kom sit en vir my vertel het. Sy het dit op die mooiste manier denkbaar gedoen. Sy het gesê sy en my pa kon nie kinders van hulle eie hê nie en dat hulle baie graag ’n babatjie wou hê. Hulle het toe hulle name opgegee vir aanneming en die Here het my na hulle gestuur. Sy het my verseker dat hulle my liewer het as wat hulle enige eie kind kon gehad het.

Waar ek as kind tyd gehad het om gewoond te raak aan die gedagte, nog voor ek te analities daaroor kon wees, word Caz aan die diepkant ingegooi.

Caz vind eers uit op twee en vyftigjarige ouderdom en op die wreedste manier denkbaar. Boonop het sy haar hele lewe lank verwerping ondervind in haar aangenome gesin ook, terwyl ek liefdevolle aanneemouers gehad het.

Die hele emosionele speelveld asook die intellektuele verwerking daarvan verskil dus.

Maar daar is ook ’n paar ander ooreenkomste en verskille tussen my en haar ervaring.

Caz word groot as ’n verworpeling as gevolg van ’n hele paar oorsake. Haar ouers is nie Suid-Afrikaners nie en ken nie die geskiedenis of gewoontes van die land nie – hulle is inkomelinge. Daarenteen was my ma wel ’n Nederlander, maar my pa was ’n gebore Suid-Afrikaner.

Caz is ’n laatlam, daar is ’n elf jaar gaping tussen haar en haar suster. Sy lyk anders as haar suster en ouers, sy is besonder lank en sy voel vervreem van ander kinders op skool. Haar suster is jaloers op haar en haar pa steur hom nie aan haar nie.

Ek daarenteen was ’n enigste kind en ek het nogal baie op my ma getrek. Ek was wel meestal die langste kind in die klas en vir ’n meisiekind is dit ’n straf.

Die groot verskil lê egter daarin dat Caz se ma ’n nydige, negatiewe persoon was. My ma was die liefdevolste mens op die aarde en my pa was ook baie lief vir my. Al was daar probleme in ons gesin, het ek nooit aan my ma en pa se liefde vir my getwyfel nie.

Caz het nie daardie voorreg gehad nie, inteendeel.

Izak: Caz Colijn, die hoofkarakter in Offerlam, het ’n baie moeilike verhouding met haar aanneemma, soos jy hierbo noem, tog het sy ’n mooi verhouding met haar dogter. Die dogter word egter groot sonder om haar pa te ken. Wil jy vlugtig daaroor iets sê?

Chanette: Caz weet hoe dit voel om binne ʼn gesin verworpe te wees, al vind sy eers so laat in haar lewe uit waarom en tot watter mate sy eintlik verwerp is.

Ek dink sy het onbewustelik ’n man en skoonfamilie gekies wat sy gedink het standvastigheid vir haar kinders sal kan gee sodat hulle nooit verwerp sal voel nie. Soos meeste ouers, wou sy hê haar kind moet in beter omstandighede as sy grootword.

Toe haar dogter egter “uitsonderlik” gebore word, word sy en haar dogter weer eens verwerp.

Dit, voel ek, het Caz net nog meer vasberade gemaak om binne die omstandighede die beste moontlike ma vir haar kind te wees. Om vir haar ’n liefdevolle tuiste te gee, juis omdat soveel dinge teen hulle tel. Ek dink dis juis Caz se behoefte aan liefde en aanvaarding wat daartoe bygedra het dat sy ’n liefdevolle ma kon word en haar uitsonderlike dogter tot die dood toe bystaan en probeer beskerm.

Terloops, in Offerande, Offerlam se opvolg, ontmoet Lilah haar pa. ☺

Izak: Ha! Die internet gons reeds oor Offerlam se opvolger. So die titel is Offerande? Wanneer verwag ons dit?

Chanette: Ek word bietjie deur lesers verwyt dat hulle so lank moet wag vir die opvolg, maar ek skryf so ywerig as wat ek kan daaraan. Ja, die titel is Offerande en die boek behoort in Oktober op die rak te wees.

Izak: Jy skryf ten eerste om te vermaak. Tog, regdeur jou oeuvre skram jy nooit weg van aktuele onderwerpe nie. Gesinsgeweld – in vele vorme – is deel van jou skryfwerk. Dit is iets wat talle Kinderhuiskinders aan eie bas voel. (Letterlik.) Vind jy dat jou lesers hiermee identifiseer, of hoekom is dit vir jou belangrik om daaroor te skryf?

Chanette: Net omdat ’n mens ontspanningsfiksie skryf, beteken dit nie dat jy nie ernstige onderwerpe kan betrek nie. Soos André P. Brink gesê het, Suid-Afrikaanse misdaadfiksie is die nuwe littérature engagée, oftewel betrokke literatuur, hier te lande.

Gesinsgeweld en spesifiek emosionele geweld is vir my die gemeenste soort geweld wat daar is omdat dit uitgedeel word deur mense wat veronderstel is om alle feil vir jou te hê, wat veronderstel is om jou lief te hê.

Daar is baie boeke wat dit het oor fisieke geweld en hoewel ek dit nie uitsluit uit my stories nie, dink ek emosionele geweld – wat dikwels die voorloper is van ernstige fisieke geweld – en die gevolge daarvan, word nie genoeg beklemtoon nie.

Vir my is emosionele geweld die vernietigendste soort wat daar is. Dis ’n skelm, agterbakse soort geweld. As slagoffer kan jy nie na iemand toe gaan en sê kyk hoe het my man of pa of ma of ’n boelie my geslaan nie. Daar is geen uiterlike bewyse nie. Die blou kolle, kneusplekke en wonde lê veel dieper. Die slagoffer besef dikwels self nie – tot dit te laat is – dat hy of sy daaraan onderworpe is nie.

Ek hoop om met my boeke beter begrip vir emosionele geweld te kweek. Al is daar net een persoon wat een van my stories lees en besef maar, magtig, hoekom verduur ek hierdie afknouery en afkrakery, dis niks anders as sielemoord nie, is my hele skryfloopbaan die moeite werd.

Om myself op emosionele vlak te beskerm, skryf ek nie oor geweld – emosioneel of andersins – teenoor kinders nie. Nie vanuit ʼn onmiddellike perspektief nie. Daar is vir my geen groter boosheid as kinders wat geweld aangedoen word nie.

Izak: Laastens. Dis lekker om te sien hoe goed Afrikaanse fiksie doen. Offerlam is reeds in Nederlands vertaal en daar is ook sprake van ’n Engelse vertaling. Wil jy iets uit die mou laat?

Chanette: Ek is baie opgewonde oor die vertalings. Dis vir my baie spesiaal dat Offerlam in België en Nederland gelees word, veral omdat my ma Nederlands van geboorte was.

Die vertaler werk tans aan die Engelse weergawe en dit is nou weer vir my ekstra opwindend omdat Engels so wyd gelees word. In Engels bereik mens ʼn veel groter gehoor, maar ook ’n gehoor wat jou werk nie ken nie en dalk anders daaroor sal voel as jou huidige lesers. Daar is dus so ’n bietjie angs by die opwinding.

Ons hoop dat Sacrificed (voorlopige titel) teen die einde van die jaar sal verskyn, moontlik in November.

* * *

Lees meer hier: http://www.chanettepaul.co.za/

Hoe kan jy help?

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *