Saamskryf Vervolgverhaal 2/10

Junie 4, 2011 in Sonder kategorie

Hoofstuk 1 deur Jan Twak

“Ja nee kyk Johana. Toe sy die dag met daai Blou Apie van haar hier aangestap kom, en vir almal vertel sy het hom net hier agter in die dam tussen die riete gekry…”

“Ja, net soos Moses en die Farao se dogter se storie uit die kinders se slaaptyd storie boek.”

“Wel, dit was hààr storie, natuurlik!” antwoord Tant Johana met so all-know kyk op haar gesig, terwyl sy haar Lexington se rook die lug inblaas.

“Wie. Jakoba se storie?”

“Nee. Die Farao se dogter se storie. Sy was seker vir nege maande daar tussen die riete soekend na daai mandjie. Maar ja. Toe pis die apie mos op daai Lotto kaartjie van haar. En sy weet nie wat om te doen nie. Hardloop mos toe met die ding hier af na Koos Karwas toe om te kyk of hy nie die kaartjie kan skoon kry voor sy hom gaan incheck by die Porra shop daar op die hoek nie. En die Ingels outjie wat net daai oggend daar begin werk het, verstaan nie ‘n woord wat Jakoba so uit asem praat nie. Toe vra hy mos vir haar “Come again?” met so vraag op sy gesig. En Jakoba antwoord toe mos “Nee man. Dis Blou Apie pis, onnosel!” Maar toe die Porra eers daai Blou Apie pis besmeerde Lotto kaartjie in sy masjientjie druk, en daai ding flikker heeltyd dat Jakoba drie miljoen rand gewen het, toe start sy V6 brein mos dat jy hom kan hoor ref tot daar in Portugal,” vertel Tant Johana.

“Net jammer ou Jakoba was die enigste een wat hom nie kon hoor idle nie. Toe vang hy haar mos met so lekker slappe. Vertel vir haar sy het drie miljoen rand gewen, maar dat hulle haar elke jaar drie rand sal betaal, vir die volgende miljoen jaar. En dat sy moet onthou om haar tiende elke jaar vir die kerk te gee,” las Ant Katie weer simpatiek by.

“Ja sister. Als in die dorp het begin skeefloop die dag toe die Porra aankonding hy is nou die AGS se nuwe Pastoor. Dit mos net na Pastoor Klasie hier weg is en ou Siena van onder by die treinspoor hoog en droog gelos het met ‘n baby op die heup en een in die pens.” Tant Johana staar die straat af, na waar Koos Platte besig is om sy tuin se gras af te brand. In die buurt is daar mos nie een grassnyer nie.

“Ek kry ou Koos se vrou ook maar jammer. More moet sy weer gordyne was om daai rook se stank uit te kry,” praat Tant Johana weer, die stomme Jakoba nou weer vergete.

“Maar sy het dan nie eens gordyne om te was nie!” antwoord Ant Katie, half vraend.

“Nee, nie die huis se gordyne nie. Koos se Ford bakkie se canopy se gordyne,” verduidelik Tant Johana

“O ja. Natuurlik!”

“Hoor hier. Kan ek jou strykplank leen vir vanaand?” vra Tant Johana.

“Jy kan seker. Is joune alweer in die garage met ‘n engin op hom gemount?” vra Ant Katie.

“Nee man. Die kinders kom mos vanaand kuier, en ek wil ‘n buffet ete maak. Ek het gedink om die twee strykplanke langs mekaar te sit om die buffet op die bedien. Sommer hier buite op die stoep,” verduidelik Tant Johana opgewonde oor haar planne. “Mash op die een plank en die meatballs op die ander. Ek hoop net ou Jaap kry weer van daai cheap vleis wat hy altyd hier aandra as hy van die Kaap af kom. Blykbaar kry hy dit vir next to nothing by ‘n slaghuis daar op die N1. Behalwe vir die hare wat ek soms eers moet afbrand en die fyn stukkies bene is die vleis meestal smaaklik. Hy reken die ouens noem dit ‘Roadkill”. Seker maar ‘n nuwe bread beeste of iets.”

Die volgende oomblik hoor die twee vroue ‘n geplof agter Ant Katie op die sypaadjie. Albei ruk hul nekke in die rigting van die plof geluide, wat intussen stof begin maak het. Klippe. Dit reën klippe.

Aan die oorkant van die pad staan die 13 Pretorius laaities van Gertruida, besig om Ant Katie se kat uit die boom te probeer gooi.

“Hiert julle klomp donners. Wat dink julle doen julle? As ek my sonde nie ontsien nie, gee ek elkeen van julle vandag ‘n p**sklap!” skree Ant Katie.

“Nee. Gee hulle pielewappers. Dis so tien desibels harder as ‘n p**sklap!” moedig tant Johana haar aan, soos ‘n regte klein keffer brakkie.

“Nee tannie. Onth wil maar net die kat uit die boom gooi thodat onth hom kan vryf!” antwoord Plaatjie, die oudste van die Pretorius dertien.

“Gee pad hierso. Julle wil my kat verkrag, net soos julle ou Jakobatjie se blou apie destyds verkrag het. Voertsek!” skree Ant Katie met swaaiende arms. Jy sien net sigaret as wat spat.

“Shame. En niemand het ooit die suspect gekry nie nê?” praat-vra Tant Jakoba.

“Nee. En hulle sal ook nie. Want almal in die buurt se DNA is mos dieselle,” antwoord Ant Katie verontwaardig. “Die polieste het mos ou Mal Jan hier weggevat, maar ons almal weet dit was nie Mal Jan nie!”

“Siestog. Sara het ook nooit herstel van die skok na daai aand wat Jan Jan mos Mal Jan geword het nie.”

Ek tag Charlene(Al is dit eers Maandag)

Ek ken ‘n man

Mei 31, 2011 in Sonder kategorie

 

Jammer. Ek het hierdie in die donker gesit en skryf, half deur die slaap, half koulik, en nooit besef dis eers MORE die 1ste Junie nie. So, hy verjaar eers more.

*sug* 

Ons is altyd lief daarvoor om mooi herinneringe van iemand neer te pen as die persoon nie meer daar is nie. Is daar fout daarmee om dit ook te doen as die persoon nog leef?

 

‘n Dooie vriend het jare gelede in ‘n gedig, “Ek ken ‘n  man”, wat gehandel  het oor geloof, geskryf

“Want Hy huil as ek huil

En Hy troos my as ek snik”

 

Twee insidente uit my blog lewe wat uitstaan, is een middag wat die kar gebreek het, en hoe bitter ek was toe niemand moeite doen om te stop en hulp aan te bied nie. Selfs nie eens die buurman wat verby gery het, nie. En hoe die paar mense wat ek gebel het om te kom help, almal verskonings gehad het. Almal het kommentaar gelos oor hoe erg die lewe geraak het, en hoe niemand meer omgee vir mekaar nie. Maar een persoon het geskryf “Volgende keer bel jy my.”

Meer onlangs was ek in ‘n donker plek. Almal het kommentaar gelos van hoe hulle verstaan en self al daar was en hoe ek moet maak om daar uit te kom. Maar een persoon het ‘n boodskap gestuur “Ek gaan nie maak of ek weet hoe jy voel nie, maar weet ek dink aan jou.”

 

Ek het hom leer ken as ‘n persoon met ‘n passie vir mooi dinge in die lewe. ‘n Sonsondergang agter ‘n sandduin, of die vol damme op sy plaas wat hom opgewonde maak. ‘n Mooi gedig, of selfs die ritme en lirieke van ‘n Rammstein.

 

Sy kinders wat nie een dag laat verby gaan sonder om iets te leer nie. Watter kind weet waar die Comrades vandaan kom? Of Nike? Of hoe ‘n visvanger lyk. En sy kinders wat altyd reg is met ‘n grappie. Soos onlangs wat ons heel naweek soek na ‘n visvanger op sy plaas. Toe kom roep hulle ons, want daar is ‘n regte egte visvanger buite: Een van sy seuns met ‘n visstok.

 

Ek ken van Sondag oggend SMS’e wat lees “Kom eet vanmiddag by ons”. En net-vinnig-oorkom-vir-vuurhoutjies-kuier.

 

Ek ken van lang uitgerekte kuiers op die stoep, en gesprekke oor werk, oor mense, oor die lewe, oor foto’s en kameras, oor verre plekke en ons families. Ek ken van bome plant saam met hom en sy familie langs die Vaalrivier, en van Nuwejaar om ‘n ses liter wyn. Van ‘n vuurput in die bosveld en verloor-die-middel-van-die-wortel herders pastei in die koolstoof se oond.

Ek ken van bakstene met sy voorletter op wat uit die lug uit val, en bloed wat by sy kop uitvloei. Van moerkoffie in ‘n erde ketel, met kondensmelk en beskuit. Van skaapskenkels wat van die been afval en van bottels en bottels wyn. Van lag om die kombuis tafel saam met vriende en heildronke op die wat nie daar kan wees nie.

 

‘n Man met ‘n passie vir sy werk, sy vrou, sy kinders, sy ouers, sy familie en sy vriende.

 

Ek ken so man.

 

En dis vandag sy verjaardag

 

Lekker verjaar Leon.

 

Prostaat probleme

Mei 14, 2011 in Sonder kategorie

“Die ysmasjien se alarm liggie bly aankom. Wat is dit vandag met die ding?” vra Ma verlede Saterdag.

“Hy kort water,” gee ek raad.

“Hoe weet jy dit?”

“Ma kan mos hoor die water spuit bo in die bakkie in soos ‘n ou omie met ‘n prostaat probleem,” veruidelik ek.

“En hoe sal jy dit nou weet?”

“‘n Ou omie het dit een aand vir my vertel in die Stadskouburg in die dorp.”

So paar jaar terug was ek by ‘n opvoering in die dorp, toe ek en so klein hakkelende seuntjie, saam met sy pa,  tydens ‘n pouse agter ‘n ou omie in die ry staan en wag om die toilet te gebruik.

Ons staan. En die oom staan. En ons wag. En die oom wag. Later maak die oom verskoning omdat hy so lank vat.

“Prostaat probleme…” verduidelik hy.

“P…P…Pappa? W…W…Wat is…s…s… is p…p…poe… uhm, prostraat p…p…probleme?” vra die outjie vir sy pa, wat agter hom staan. Nog voor die oom kan antwoord, draai die omie so skuins na die seuntjie toe. “Ek piepie soos wat jy praat. Hakkel-hakkel.”

Kyk of jy MY kan herken

Mei 5, 2011 in Sonder kategorie

Maandag stop ek gou by ‘n ou skoolvriend wat ek jare laas gesien het. Daar is al verlede Maandag gereël dat ek op pad huis toe gou daar gaan stop vir koffie.

Opsoek na hul huis, bel ek sy selfoon, maar kry geen antwoord. Ten einde laaste ry ek amper verby hul huisie iewers in Melville. Heel per ongeluk. Terwyl ek in die bakkie sit, probeer ek nog ‘n laaste keer om te bel.

“Kerneels, is dit jy hier buite?” kom sy stem fluisterend deur.

“Uhm… Ja?” antwoord ek, half onseker.

Die volgende oomblik staan hy langs die bakkie, so half en half in die pad van die deur se oopmaak.

“Ons het kuiermense…”

“O. Wel, ek wou net gou kom groet. Ons het mekaar jarrrrrre laas gesien, en…”

“As dit enigiemand anders was wat hier gekuier het, sou ek plek maak vir jou, maar… Dis nou bietjie moeilik,” maak hy verskoning. Ek begin ook sommer die vasstaan langs die bakkie se deur, verstaan.

“Ek gaan dan nie pla nie. Hoe kom ek hier uit om by die huis uit te kom?” vra ek.

“Nee, kom in. Drink gou iets saam met ons. Bogger die mense,” verander hy skielik van plan.

“Ek het nie skoene aan nie. My skoene is vol modder, en is agter op die bakkie. Ek wou nie modder intrap oral nie. Ek sal maar weer eendag kom kuier, as ek beter lyk en julle nie kuiermense het voor wie jy jou hoef te skaam vir my nie,” maak ek grappig verskoning.

“Nee man. Kom!” en hy maak ook sommer die deur oop.

Binne in die huisie volg ek die stemme tot agter in die sitkamer. Outjie stel my voor aan die mense, en verduidelik dat hulle besig is met die redigering van ‘n fliek of iets. Maar hy stap tog yskas toe en haal vir my ‘n bier uit, terwyl ek die mense elkeen met die hand groet.

“Jammer oor my kaalvoete,” en ek veruidelik die hele relaas oor die modder en plaas en een stel skoene, ens.

“Ag dis niks om oor skaam te wees nie. Daar is baie mense daar buite wat nie ‘n tweede stel skoene kan bekostig nie,” antwoord die dik outjie, wat toe blykbaar een of ander bekende akteur is.

Ek verduidelik dat ek net een nag saam plaas toe was, en nie die doel kon sien om ‘n honderd paar skoene saam te vat nie, maar die ou is daarop uit om my ongemaklik te laat voel, moontlik omdat ek inbreek maak op hul kuier daar.

“Ten minste is jou voete skoon. Nou nie iets om na te kyk nie, maar tog,” slaan hy weer met ‘n hou in my rigting. “If you’d like, I’ll donate a pair of my shoes to you, but I’m sure they won’t fit. Jou voete lyk soos proper kak trappers.”

Die groepie mense lag, en ek stap maar net deur kombuis toe, waar ek my bier staan en drink. Die geselskap is maar styf tussen my en Outjie.

“Ek weet ek het met jou gepraat op jou verjaardag, maar het ons gereël dat jy vandag sal kom kuier? Ek kan dit nie onthou nie,” vra Outjie.

“Ja, ons het gereël, maar dis niks. Ek sal net gou die bier afsluk en pad vat. Moenie stress nie,” probeer ek hom gerusstel. As die bier nie klaar oop was nie, het ek sweerlik net omgedraai en geloop.

Ons gesels nog so paar minute oor als en not wat, toe die Akteurtjie by die kombuis inbars. “Listen, I’m not trying to be rude, but we’re going to continue with the DVD over here,” vinger gewys in die rigting van die sitkamer.

“Ja ja. Ek is klaar. Ek gaan nou ry,” vererg ek my.

“Ag dankie tog. So bly jy vang die skimp. By the way. Don’t you recognize me? Ek het gespeel in die fliek(Ek kan nou om die dood nie die naam onthou nie, maar hy is blykbaar nou besig om te wys by die kines). You MUST have recognized me when you walked in? I’m the big, fat, hairy one,” en hy verduidelik in detail presies wie en wat hy al oral was, terwyl hy kant toe draai om te beaam hoe groot sy maag regtig is.

Ek staar so paar sekondes na hom terwyl ek probeer onthou of ek ‘n naam kan koppel aan daai pens. Na nog so kort rukkie sit ek die bier bottel neer, en begin my broek se toutjie los te trek.

“Wat maak jy?” vra hy half bekommerd.

“Ek wil jou wys hoe lyk my tottie. Jy moet my kan herken van die porn movies waarin ek speel?”

“NEE! Ek kyk nie na stront movies nie!” antwoord hy driftig, rooi in die gesig.

“Hmmmm. Same here!”

Kamp is wat jy daarvan maak

April 25, 2011 in Sonder kategorie

Hulle paradeer heeldag in hul hoë hak skoentjies in die modder rond. Jassies met dooie hondjies vir krae, vou om hul nekkies, en die oorbele haak telkens iewers aan ‘n tent se muskiet net vas. Die denims vou om hul boude soos ‘n te klein kondoompie om ‘n te groot tottie. Hul ogies is so erg beplak met maskara dat dit lyk of hulle ook nie seker is watter velkleur hulle eintlik wil wees nie. En vroeg oggend kan jy dit nie naby hul tent waag nie, want hulle probeer kyk of hulle man-alleen, ek bedoel, twee jonge dames alleen, die gat in die osoon laag kan vergroot met meters per oggend.

Die koffie is te warm en die warm sjokolade te bitter. Die beskuit te hard, en die mosbolletjies te soet. Die braaivleis te rou en die aartappel slaai te mayonaisse-erig. Die groenslaai te vars en die stort te koud. Die toilet te chemies en die reën te nat. Die dam te vuil en die grond te hard. Die vissies die klein en die vuur te rokerig. Die kouevleis te gevries en die kragopwekker te raserig. Die liggies te flou en die selfone se batterye te pap. Die beddens te sag en die kussings te hard. Hul hare te krullerig en die spieëltjies vir make up te klein. Die haar borsels te hard en die stoele sit te laag. Die son is te warm en die bewolktheid te koud.

Toe hulle gisteroggend stil-stil hul goedjies pak, of eerder, sit en kyk hoe een van hul ouens als oppak, in die sleepwa pak, en hulle besluit om die 400 kilometer terugtog aan te pak, kon my hart nie harder juig nie.

Hoe kan mens enigsins kla as die natuur sy mooiste skilderye elke oggend op lewendige doek uitstal?

Vroeg oggend mis

Oggend son

Middag rus

Slaaptyd

Stem, ja?

April 14, 2011 in Sonder kategorie

Vanmiddag lui die foon. Dis ‘n vreemde nommer, maar ek kan darem uitmaak dit kom uit die buurdorp uit.

“Hallo?” antwoord ek.

“Good afternoon ” en die stem, ‘n man sin, bevestig dat hy wel met my praat, en dat die epos adres wat hulle iewers gekoop het, wel aan my behoort, ens.

“Mag ek vra in verband waarmee al die vrae is?” probeer ek nie ongeduldig klink nie.

“E-yes. I em phoning from de ANC, and I wood like to know if we ken count on your vote in da upcoming election?”?”

“My genade! Oom Zuma!!!. Ons het… wel, nog nooit met mekaar gepraat nie. En daar is so baie om te vertel! Eina!”

“Sir?”

“Askies. Dit was ‘n gat in die pad wat ek deur gery het. Ek ry elke dag deur dieselfde gat nou al vir maande. En elke dag kry die kar seer. As ek dalk stil raak, moenie stress nie. Ek het nou uit die kar geklim en is besig om te stap. En dis maar ‘n gagga deel waarin ek stap. Die gras groei meters hoog hier. Dit kos my elke maand ‘n paar rand uit my eie sak, want ek moet ‘n bush cutter huur om die gras op my eie sypaadjie kort te sny. Dis daai sypaadjie waar julle nou net verlede week, saam met die DA julle karton bordjies op die lamppale geplak het? Julle was gelukkig. Iemand het darem die gras vir julle gesny die dag voor julle met jul leertjies daar op en afgeklim het, om seker te maak jul bordjies is beter sienbaar as die ander party sin. Maar dis nie regtig daai gras wat my pla nie. Dis die gras op die ander sypaadjie. Die een tussen die huis sin, en daai een. Daai een wat die voetpaadjie het waarop niemand meer kan loop nie. Omdat die mangate so twee jaar gelede oopgemaak is om ‘n pyp te vervang, en toe nog nooit weer toegemaak is nie. Daai paadjie wat mos so afloop tot doer onder in die straat, waar hy doodloop? Daar by daai sloot langs die snelweg. Die sloot wat so toegegroei is van die vuilgoed en bome, en waar die mense uit die oorkantste buurt, die een wat so mooi omhein is met die palisades, hul tuinvullis kom weggooi in ONS buurt. En dit gebeur ook net in die nag. Want ek draf elke middag daar verby. En as ek more oggend daar verby ry, is daar vullis wat nie gister daar was nie. Ek het al gekla daaroor, maar niemand doen mos iets daaraan nie. Net soos die sloot verder af langs die snelweg. Waar die vuilgoed so hoog groei, jy kan nie eens die pad sien nie. Einste daar waar my pa reken hulle baie lyke sou kry, as hulle ooit eendag daar gaan skoonmaak. Nou nie dat ek snaaks wil wees nie, maar ek glo as daar lyke daar weggesteek sou word, sou daar ‘n reukie ook mos daar rondhang. Maar dan ook weer. Dis so vuil en toegegroei, as ek ‘n reukie was, sou ek te bang wees om daar rond te hang. En dis ook einste daar onder die snelweg deur, waar daar sommer gesinne ingetrek het in die gang wat onderdeur die snelweg loop. Daar is sulke groot yster deure voor die gange, wat met groot slotte toegesluit was. Maar die slotte is afgebreek, en nou bly daar mense daar. Ons het ook al daaroor gekla, want dis vandat hulle daar ingetrek het, dat daar inbrake en goed in die buurt is. Maar nou ja. As mens honger is, is mens honger. Nie dat ek kan verstaan wat die mense met ‘n groot flat screen teevee wil maak as hulle honger is nie. En hoekom hulle ou tannies in hul bed verkrag en kindertjies doodskiet wat hulpeloos toekyk hoe hul ouers se kele afgesny word. En dit als net vir kos? Maar nou ja. Ek het nou so baie gebabbel. Jy vra of jy op my stem kan staatmaak volgende maand? Jong. Ek weet nie. Ons mag mos nie meer die Stem sing nie, so, ek weet nie of julle op my stem sal kan staatmaak nie. En ek sukkel maar die laaste tyd met my keel. Hy krap. So ek moet baie keel skoonmaak terwyl ek praat. So, nee. Ek dink nie julle sal veel uitgerig kan kry met my stem nie. Maar ‘n lekker middag vir jou verder.”

Babbelbekkie

April 12, 2011 in Sonder kategorie

Ek leef vir Sondae. Saterdae werk ek gewoonlik. Saterdae middae as ek van die werk af kom, is dit gewoonlik die swembad wat gevee moet word, of die gras wat gesny moet word. Of, soos hierdie Saterdag, die soeke na een of ander spoegende slang wat my arme worshond gespoeg het. Rassssssssistiese ding… Saterdae is dit dan ook half en half tradisie om harde werk te beloon met ‘n koue bier. Soos braaivleis en pap. Braaivleis sonder pap is nog braaivleis, maar pap sonder braaivleis is ontbyt!

Sondae hou ek dit rustig. Danksy Papeslaai se Weber raad op sy blog het ek dit die laaste drie weke elke Sondag reggekry om ‘n varkboud met aartappels en ander groente, en Sondag selfs twee van daai poefter hoendertjies, met die bierbottels in die alie, suksesvol gaar te kry in die Weber. Of, soos verlede week, waar ek sommer ‘n Bees en Niertjie pastei in hom gaar gemaak het. Dit nadat ek self die niertjies skoon en gaar gemaak het.

En, soos Papeslaai se raad ook aandui, is dit ‘n stadige proses. Dus, anders as met vleisbraai, waar jy kyk hoe vinnig jy die vleis kan verskroei op ‘n oop vlam, terwyl jy aan die anderkant probeer kyk of jy ‘n kas bier afgesluk kan kry voor die vleis gaar is, verg die Weber ‘n rustige siel wat nie ongeduldig probeer kyk of hy die kooltjies warmer kan blaas as wat dit reeds is nie. Daarom dat ek deesdae se Sondae ‘n bottel wyn oopmaak, en rustig sit en agterstallige leeswerk opvang, terwyl ek wag dat wat-ook-al onder die swart deksel lê, gaar kan word.

Verlede Sondag het ek sommer vroeg die kurk getrek. En all by my lonesome self net rustig onder my afdakkie gesit en staar vir die rokie wat by die Weber se uitlaat uitborrel.

Kort voor middagete lui my foon.

“Oom Coennie. Dis ek. Kan oom vir my ‘n koek bak?”

“Wie is ek?” vra ek vir Claudette.

“Jy is Coennie!”

“Ja, ek weet wie ek is. Maar jy het gesê dis ek, nou vra ek wie is ek?”

“Uhm. Coennie? Jy is mos jy?” sê-vra sy.

“Ja, ek weet ek is ek. Maar ek wil weet wie is jy,” probeer ek weer.

“Maar ek is mos ek,” klink sy nou heeltemal deurmekaar.
“Maar wie ìs ek?”

“Maaa-haaa. Oom Coennie is nie lekker nie. Hy wil weet wie is hy!” skree sy vir haar ma terwyl sy die foon sommer dood druk.

Nadat ek laggend haar ma terug bel, hoor ek sy soek ‘n koek vir skool die volgende dag. Dit was nie deel van my plan vir die dag nie, maar ek stem toe maar in. Natuurlik heeltemal vergete die feit dat ek die laaste meel Woensdag aand gebruik het toe ek brood gebak het. Daar is dalk nog so halwe koppie meel oor.

Maar, siende die feit dat geen winkel mos voorsiening maak vir bachelors nie, is daar altyd halwe pakkies van als in my kas. So ontdek ek toe ‘n halwe pakkie kits muffin mengsel. Dis nie naastenby genoeg vir ‘n koek vir 30 kinders nie. Nog dieper in die kas is daar ‘n halwe pakkie wafel mengsel. En na nog twee minute se grou kry ek ‘n halwe sakkie sponskoek mengsel. Bitter teleurgesteld in myself dat ek op ‘n stadium als uit kits mengsels gebak het, staan ek na die goed en staar. Wafels bevat meel, muffins bevat meel en sponskoek ook. Sponskoek het meer suiker as wafels, en muffns het meer bakpoeier as sponskoek. Sponskoek soek meer eiers as wafels, en muffins soek weer olie.

Dus doen ek toe maar wat enige normale mens sou doen. Ek gooi al die poeier in een bak, breek ‘n paar eiers daarin, gooi bietjie bakpoeier by, vanilla geursel sodat als darem soos een ding kan proe, ‘n bietjie olie, bietjie botter, bietjie melk. En toe klits ek. Die sponskoek moet gewoonlik lank klits, en die muffins moet net met die hand geroer word. Die wafels vereis ook nie veel werk nie. Maar ek probeer toe maar so tussen als uitwerk hoe lank ek moet klits.

‘n Halfuur later is die deeg in ‘n pan en in die oond.

Nog ‘n halfuur later haal ek die gebak daar uit. Dit lyk soos een groot muffin, bruin gebrand soos ‘n lekker bros wafel, maar geen werklike teken van sponskoek nie. Inteendeel, hy is redelik hard.

Ek dink toe dat, as mens brood uit die oond haal, moet jy hom in ‘n nat lap toedraai om die kors lekker sag te maak. So gaan die muffeloek(Muffin+wafel+koek) toe in sy nat lap reguit yskas toe.

Laat die middag klop Claudette aan die deur om haar koek te kom haal.

“Wat is dit?” vra sy met so opgetrekte neus terwyl sy met haar vinger in die koek se rigting wys.

“Dis die koek wat jy gevra het,” antwoord ek kastig verontwaardig.

“Maar dit lyk dan nie soos ‘n koek nie.”

“Ek belowe jou dit is ‘n koek. Hy lyk net bietjie anders as ander koeke wat jy al gesien het,” probeer ek haar oortuig.

Intussen het dit tyd geword vir die hoender om uit die Weber te kom. Ek dra hulle sommer op ‘n broodbord kombuis toe. Claudette staar die hoenders wat regop bo op die bier blikkies staan, verbaas aan. Maar sy sê niks. Sy kyk net. Knip nie ‘n oog nie.

“Lyk dit nie lekker nie?” vra ek in haar rigting.

“Uhm. Die arme hoender…”

“Wat van die hoender? Jy moet proe hoe lekker is dit,” bied ek sommer ‘n stukkie aan wat ek afkerf.

“Nee dankie. Coennie, ek dink jy moet trou. Oom weet NIKS van kosmaak af nie.”

“Man, jy weet net nie wat is lekker nie,” spot ek, terwyl ek die blikkies uit die hoender se alie uittrek.

Na so rukkie se stilte gaan staan sy in die deur van die kombuis, en draai om in my rigting.

“Wel, ek weet oom is nie vandag baie lekker nie.”

Bekkige klein dingetjie. Om te dink toe sy nog ‘n babatjie was, kon ek nie wag dat sy begin praat nie.

Min wetend…

En so gebeur dit toe

April 1, 2011 in Sonder kategorie

Extra extra. Read all about it…

Ma het nog al die jare gesê dat trou my soos ‘n groot bol stront gaan tref. Sederdien loop ek met ‘n botteltjie toilet spray oral rond, want ek hou nie van die reuk van stront nie.

Maar nou ja. Na ‘n sekere dame wat ek onlangs ontmoet het, die laaste ruk aanhoudend kla van siek wees, naer word en opkots elke keer as sy my sien, is dit toe gister bevestig…

Kerneels word pa!!!

Ek is nie seker hoe ek daaroor voel nie. Sy het hoog en laag gesweer dat sy nie kinders kan kry nie, maar vir veiligheid het sy nogsteeds die pil gesluk. Pa reken mens moenie die pille sluk nie, jy moet hulle tussen jou knieë vasknyp en seker maak die pil bly daar tot jy slaap.

Wel, saamslaap was nog nooit iets wat my gepla het nie. Dis saam wakker bly.

Ouboet is blykbaar self baie trots op my. Hy reken dis goed dat ek ‘n ouer vrou bygekom het, en nie ‘n jong meisie nie. Blykbaar weet mens jou meisie is te jonk vir jou, as jy moet “tjoeke-tjoeke-tjoek-tjoek-hier-kom-die-trein” met haar moet speel sodat sy haar bene moet oopmaak.

Ek sal nou nie weet nie. Ek het gevra vir bloedtoetse. Ek weet vir ‘n feit ek is die pa, maar ek weet nie of sy die ma is nie.

So vang ons vis…

Maart 30, 2011 in Sonder kategorie

Daar is net omtrent twee dinge in die lewe wat ek baie van hou. En visvang is die een… Nie soseer die vang van die arme onskuldige vissies, wat lyk of hulle jou wil soen soos hul mondjies oop en toe gaan heeltyd nie. Maar die hele kamp storie.

Vroeg verlede maand was daar so naweek beplan. So week voor die tyd is als gereel. Wie ry saam met wie, wie eet wat, wie drink wat, waar, hoe…

Die plek wat gekies word, is ‘n plaas net so buite Oranjeville. Ek maak byna onmiddelik kapsie daarteen. Daar is omtrent nie meer ‘n pad tussen Deneysville en Oranjeville nie. Net die week tevore moes ons in die koerant lees hoe die inwoners met trekkers dorp toe moet ry, omdat die beeste die paaie so vol gate getrap het, en hoedat Kimberley dreig om van die Groot Gat Kaart afgeskop te word weens komptisie in Oranjeville se enigste straat.

Maar, kom Vrydag en ons vat die pad. Dit lyk soos ‘n begrafnis stoet soos al die bakkies agter mekaar uit Vereeniging en dele van Johannesburg die trek aanpak Oranjeville toe. Die pad is toe glad nie so erg soos dit in die koerant uitgemaak is nie. Die slegste deel van die pad is die brug wat oor die dam strek. My foefenjol het bietjies-bietjies geknyp toe ons daar oor ry, want dis dis soos een groot gat op pilare. Maar, almal veilig aan die anderkant, begin ons soek vir die plaas se ingang. Ons was nog aan’t soek toe die oproep deurkom: die plaas is bespreek vir ‘n kompetisie, en ons moet ander plan maak. Die plaas omie was darem vriendelik genoeg om sy buurman se nommer vir ons te gee, om te hoor of ons daar mag gaan afpak. Die buur omie is glad nie snaaks nie, en bied sy grond sommer gratis aan. Maar, daar is geen krag, water, toilette of bome nie.
“Maar hier is groot vis. Dit belowe ek julle!” Ek het daai woorde al baie gehoor. Dis visvang taal vir “Julle gaan ‘n kak naweek hê!”

Vrydag nag begin die stront toe al. Een of ander losloper koei wat kwaad is vir haar vervelige dag-tot-dag tietleegtappery lewe, vreet al ons brood, met sakkies en al, op. Dit ondek ons natuurlik eers toe ons Saterdag oggend klaar die spek, eiers en varkworsies gaar gemaak het, en daar niks is om te rooster nie. Intussen het ‘n paar van die manne se magies begin rondneuk, en ons sleep weer so streep terug Oranjeville toe. Sommiges om kos te kry, ander om daarvan ontslae te raak.

Hoe langer die dag terug op die plaas word, hoe warmer word dit. Ek is later vir die derde keer daai dag tot bekering gebring, want ek begin so effense idee kry hoe dit eendag in die hel moet wees. Dis so warm daar langs die dam, die plaas oom se hond het net voor middagete ‘n wilde kat gejaag. Albei het geloop.

Teen laatmiddag is die ergste hitte gebreek, en so begin daar weer lewe in ons kom. Ons het heeldag letterlik net gesit en staar na niks. Die bier was warm, want die ys wat die oggend van Oranjeville af saamgekom het, het nie eens dit halfpad terug plaas toe gemaak nie.

Laatmiddag kry ek van iewers die krag om die stort op te slaan. Dit is ‘n werkie op sy eie. Dis ‘n tent, ‘n tenklose verwarmer, ‘n gasbottel, ‘n pompie…

“Ons het nie genoeg water vir stort en drink nie, julle!”

“Tap dam water. Ons kan met skoon water afspoel!”

“Maar die visse piepie in die water!”

So halfuur later, met die reuk van shampoo wat uit die stort tent begin trek, worry niemand meer oor vissies en piepie nie. Dis net lekker om skoon te ruik.

“As head and shoulders moet sien wat ons met hul shampoo doen langs die dam, dagvaar hulle ons.”

En dis toe dat ons besluit het om vir hulle te wys dat dit nie altyd net mooi, maer tannies met blink hare is, wat shampoo gebruik en kan adverteer nie.

En nee, dis nie ekke op die foto nie. Die botteltjie is hopeloos te klein…