Bloedskenk kaskenades

Desember 5, 2012 in Uncategorized

Wat maak mens as jy ‘n honger persoon sien?

Wel, die normale mens draai sy gesig weg en draai by McD’s in om vir homself ‘n burger te koop.

Ek is nie normaal nie. En boonop hou ek nie van McD’s se stokkies wat hulle as chips verkoop nie.

So bevind ek my twee weke gelede in Kroonstad, met ‘n geval waar ‘n ouerige dame soos ‘n kleine kind karring dat sy ‘n boerewors rolletjie soek want sy is honger. Ons het mooi gevra, gesmeek, gunsies en gawes aangebied, maar die braaier het voet by stuk(En dit was ‘n GROOT stuk) gehou dat jy slegs ‘n rolletjie kry as jy bloed geskenk het.

Ongelukkig weeg die dame iets in die 40 kilogram, en mag sy nie haar eie bloed verruil vir ‘n broodjie nie.

Toe bied ek maar aan om dit te doen. So lus soos ek self vir daai broodjie was…

So wals ek daai bloedbank in Kroonstad binne. Dis net rooi waar jy kyk. Die tannies het almal rooi hare, dra almal rooi hempies, dis net rooi krismis liggies en rooi plakkate.

So stop een van die rooi tannies toe vir my ‘n wit vorm op ‘n rooi bordjie oor die toonbank aan.

“Vul net die vragies in. En antwoord net hierdie vragies met ‘n ‘Ja’ of ‘n ‘Nee’” verduidelik sy. So gaan sit ek toe maar in die hoekie met my vormpie en ek vul in.

Naam: Kerneels

Geslag: Ek het laas gestaan en piepie toe ek gekyk het.

En en en. Daar is letterlik 6784 vrae wat jy moet antwoord. Het jy geelsig gehad? Het jy pokke gehad? Wanneer laas het jy Disprins gedrink?

En dan natuurlik die stukkie met al die vrae waaroor almal altyd lieg.

Het jy onlangs saam met meer as een persoon seks gehad? 

Het jy ‘n rubbertjie gebruik die laaste keer? 

En die heel laaste vraag op die vorm: Het jy in die laaste twee weke geslagtelike omgang met ‘n ander man gehad?

Als word met ‘n definitiewe  “Nee” beantwoord.

En toe kry ek my sakkie met pypies en naalde en goed. Ek moet my pyniging self dra tot by my stoel. En ek mag darem kies in watter arm ek die 6 duim dik stuk yster gedruk wil hê, waarmee hulle die bloed uit my liggaam gaan suig.

So sit ek rustig. Die naeld gaan in, en ek stort nie eens ‘n traan nie. Ek neem tot ‘n foto en sit dit op Gesigboekie, sodat almal kan sien hoe hard ek werk in my nuwe pos.

Die foto was skaars gepos, toe kom die vrae.

“Wat het gebeur?”

“Is jy okay?”

Ek besef toe ek moet baie vinnig vir my ma laat weet ek skenk bloed. Ek is al drie weke op die pad, het ‘n week laas laat weet waar ek is, en netnou bel Boeta of Gatvlieg haar om te hoor wat gebeur het.

Ek was nog besig om te sms, toe begin ek warm kry. My hart klop asof hy betaal word, en als begin draai. En toe is ek weg. Maar blykbaar nie ‘n normale omdop en uitpass nie. Nee, ek moet mos als tot in die ergste vlak doen. My spiere trek saam. Eers die arm sonder die naald. En toe en een met die naald in. En ek druk daai naald toe so diep in my arm in dat ek nou nog, twee weke later, met ‘n pikswart arm sit.

Die eerste wat ek hoor, is hoe iemand heeltyd my naam roep

“Kerneels. Kerneels. Kerneels!” Amper dringend, uitasem, haastig… Soos in een van DAAI movies.

En toe maak ek my ogies oop.

Aan my linkerkant is ‘n tannie histeries besig om my bloeddruk te neem terwyl die sweet van haar voorkop af drup en die bloed uit my arm spuit. Skuins agter my staan ‘n baie oulike blonde dingetjie met ‘n koue lappie, besig om my voorkop af te vee en in my oor te fluister dat als okay sal wees. Aan die regterkant staan die honger vrou met my selfoon, Tablet, beursie, sleutels en als wat ek nog by my gehad het.

My ou lam koppie het sy draai van links na regs gemaak en toe uiteindelik genoeg krag gekry om homself op te tel sodat ek voor my kan kyk.

En daar sit ek. My bene wyd verspreid in die lug. Gedrappeer oor ‘n man se skouers, met ‘n haakskeen agter elke oor.

En dis hy wat heeltyd my naam roep.

Toe ek eers behoorlik by is en weer beheer het oor my eie liggaam, stap ek terug na die tannie wat my vorm geneem het.

“Meneer?” kyk sy my vraend aan terwyl ek met ‘n bewende vinger na my vorm wys.

“Kan ek die vorm gou terug kry asseblief?” vra ek.

“Seker. Is daar iets wat jy moet verander op die vorm?”

“Ja tannie. Die laaste vraag…”

5 antwoorde op Bloedskenk kaskenades

  1. tina10 het gesê op Desember 5, 2012

    Mensig so kan mens se seksuele voorkeur binne oomblikke verander – en dit nog oor ‘n worsbroodjie! 🙂
    Ek lees altyd so lekker hier by jou en is dankbaar jy is terug!

  2. Bloedskenk is beslis ook nie my idee van pret nie.

    Gelukkig kan ek nie bloed skenk nie en sou honger bly ook maar my voorland gewees het.

  3. Hahahahaha ja Kerneels

    Dis bloedskenk nie bloedgee nie…het hulle darem vir jou koekies en koekdrank gegee

  4. @kerneelsie

    Ag toe Kerneelsie….kom blog weer bietjie

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.