Saal opening

November 16, 2012 in Uncategorized

As jong kind het ons altyd op ‘n Maandag oggend vroeg in die skoolsaal bymekaar gekom vir “Saal opening”. Terwyl ons jong klomp op die koue vloer gesit het, gekruisde bene, boude later so dood gesit dit voel of hulle af is, het die skoolhoof dan sy preek gehou, gebid, geprys en uitgetrap.

Die uittrap was die lekkerste deel. Veral as jy hier in matriek rond is. Met die hoof wat rooi in die gesig op en af van die verhoog af loop en skree omdat hy wil weet wie jufrou Bisschoff se geblomde Mini tot in die middel van die rugby veld gedra het. En dit boonop een aand by koor oefening. Met arms wat wyd swaai, lippe wat spoeg skiet dat die standerd sessies later sopnat gespoeg is onder teen die verhoog, skreeuend oor hoe juffrou Bisschoff toe daai aand huis toe moes loop omdat haar karretjie weg is.

Dit was omtrent die enigste keer wat jy trots was dat jy koor gesing het. Want die eerste rugby span sou nooit weer daarna met die koorlaaities sukkel nie. Ek meen, om ‘n Mini te dra van die parkeer area tot op die rugbyveld, sit nie in enige ou koor moffie se broek nie.

Daar was ook die tye wat jy gevoel het jy wil jou polse afsny teen jou skoensool. As Lettie en Corra hul duet moes sing wat aan hulle ‘n B+ besorg het by die Eistedfort. Ek self het een Maandag oggend moes opstaan om “Kom dans Klaradyn” te sing voor die hele skool. Die einste liedjie wat my ‘n A++ in die sak gebring het in standerd vyf.

Toe my stem nog nie gebreek het nie.

Selfs ek het later gedink my knaters is saam met my mangels verwyder.(Terloops, my stem het darem in die somervakansie van daai jaar gebreek. Maar toe praat ek snaaks. Een aand het ‘n meisie by die kerk my gevra hoekom ek so deur my neus praat, toe sê ek vir haar “Want as ek deur my foefenjol gepraat het, het my asem gestink”)

Soms was die omies en tannies van die Gideons Bende daar om bybels uit te deel. Ek dink die enigste rede hoekom hulle dit ooit “Gideons Bende” genoem het, was om die kinders sover te kry om te luister na hulle. Vir ‘n kind van daai ouderdom was “bende” ‘n  ding wat chaos gemaak het in jou buurt, en jy moes beklei om deel van ‘n bende te word.

Soms was daar iemand wat kom praat het oor hoe belangrik dit is dat ons hard moet leer, sodat ons nie ook eendag in die tronk opeindig soos genoemde persoon nie. Soms was daar ook oud leerlinge wat kom praat het oor hoe lekker dit buite die skool is. As dit werklik so lekker buite die skool is, hoekom was hulle dan daar om te kom vertel daarvan?

In elk geval.

So deur dit als heen het ek altyd gesit en wonder hoe dit moet wees om doer bo op die verhoog te moes sit en kyk na al ons ou gevreetjies. En ek het die mense ge-envy, want na die saal moes ons gewoonlik een of ander toets gaan skryf waaarvoor jy heel naweek moes leer. Ek glo tot vandag toe nog my ouers het die skool meer skoolfonds betaal sodat ons naweke ekstra huiswerk gekry het om onder hul voete uit te moet bly.  Hoe ook al, daai mens het dan saam met die hoof iewers ‘n teetjie gedrink en stront gepraat na hulle die Groot Stront van die verhoog af gepraat het, waarna hulle dan kon ry. Weg uit die skool met sy vier heinings wat ons binne hou van sewe uur die oggend tot twee uur die middag.

Vanoggend was dit my beurt om op die verhoog te sit. En ek het die gevreetjies gesit en bekyk. Hoe een kind sy hande vou, ogies styf toe en met die grootste glimlag op sy gesig die “Onse Vader” sing. Terwyl ‘n ander een heeltyd die meisiekind voor hom se hare trek. Sy was op die ou end uit die saal gejaag omdat sy onder gebed haar tong geklik het oor die irriterende ou monstertjie agter haar.

Die hoof het gepreek. Hy het geprys. En toe geraas. Omdat die kinders nie die tuinjong “oom” noem nie, maar sommer net plain “Josef”.

En toe is ek voorgestel aan die kinders. Hulle het terug geantwoord met ‘n “Goooooood… Mooooorning… Miiiiiiister… Sooooooo…Ennnnnnnn… Sooooooo” Lank en uitgerek. So verveeld jy kan met hulle koekies bak.

Soos die kindertjies my groot oog aanstaar voor op die verhoog, het ek maar ewe nuuskierig teruggekyk. Van gesiggie tot gesiggie, en gewonder:  hoeveel dokters sit hier op die koue vloer voor my. Hoeveel prokureurs en onderwysers en rekenmeesters…

Of gaan hulle ook maar eendag net as “Josef” aangespreek word as hulle die gras op die rugbyveld sny?

9 antwoorde op Saal opening

  1. Hier skryf jy my nou sommer diep in die verlange in… ek is skoon tranerig
    Lekker om jou hier te sien

  2. Het ek iets gemis, is jy nou weer onderwyser of net Gideon’s Bende?

    Sit tog ‘n “skryf in” widget op jou blog dat ek email kry as jy iets gepos het!

    • Nee Jan. Gelukkig nie een van die twee nie. Een van die gevalle waar jy iets goeds doen met die hoop dat die linkerhand nie weet wat die regterhand doen nie. Maar die hoof het blykbaar nog nooit daarvan gehoor nie.

  3. Jy laat my gedagtes nou veeeerrrrr teruggaan. Ag ja !

  4. Ek wonder elke dag dieselfde wonder, Kerneelsie.

  5. twaksak het gesê op November 17, 2012

    Laat mens wonder, ja.

  6. maryna het gesê op November 17, 2012

    Ek hoop ‘n koerant raap jou nog op om vir hulle teen betaling ‘n weeklikse rubriek te skryf.

  7. celia het gesê op November 18, 2012

    Jy is so talentvol, jy skryf sommer tot reg in my sitkamer in. Ek sal maar vir Clari aanhaal: ***** en nog ‘n bietjie ************************

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.