Om baard te groei is harde werk

November 5, 2012 in Uncategorized

Om baard te groei is harde werk.

Moenie dat enigeen vir jou iets anders vertel nie. In die boeke wat die slimmes skryf, word daar genoem dat die uiterlike baie vertel as jy gaan vir ‘n onderhoud. Mans met ‘n baard is byvoorbeeld lui. Mans met ‘n bokbaardjie is presies en vol stront en baie skoon op hulself. Glad geskeerde mans is natuurlik waarna almal soek. Want hulle doen moeite met hul voorkoms. Hulle skeer elke dag. Hulle ruik lekkerder, en blablabla.

Nonsens. Alles nonsens.

Van Donderdag af het ek begin baard groei. Ter ondersteuning vir mans met kanker. Ek het nogal uitgesien daarna. Nou nie dat dit een van die dinge is wat ek op my kluitklaplysie(Bucket list) gesit het nie.

Die idee het egter salig geklink. Ek meen, ek sal nie meer elke oggend hoef te krap met ‘n stomp lemmetjie om die klomp haartjies te verwyder nie. Dus, 10 minute ekstra elke oggend. Ek sou nie meer hoef geld uit te gee aan daai roompie wat keer dat ek ‘n veluitslag kry elke twee dag nie. My allergie vir skeerroom is soos ‘n hoer se broek. Op, af, op af.  Vandag kan ek dit gebruik, en more brand dit die sewe soorte hel uit my uit.

Dus, ek spaar tyd EN geld.

Toe nou nie. Dit vat nou soveel langer om elke oggend te “trim”. Mens kan nie soos ‘n bosvark net als laat groei soos dit wil nie. Dit moet beheer word. So halwe sentimeter moet gesny word aan elke wang. En dan die berg onder die ken. Die DUBBEL ken. Ek hoor hoeka vanoggend die dubbel ken is my eie skuld. Blykbaar toe liewe jesus die dag kenne uitgedeel het, het hy geroep “Chin!” toe hoor ek “gin” en vra toe sommer vir ‘n dubbel. En dan moet mens R400 betaal vir so masjientjie wat seker maak elke haartjie is net so lank soos sy buurman. Ek praat nie eens van die krag wat dit gaan kos om die ding se batterye elke dan en wan te laai nie.

In elk geval. Die ken is ook die ander kopkrap van baard groei. Ek het grys hare net so bokant my ore. Al van standerd sewe af. Deesdae het die een haartjie wat in standerd 7 sy intrek in my kopvel gemaak het, al gegroei tot ‘n volwaardige familie van gryses.

Maar net soos almal wat iewers bo op die aarbol woon, moet daar ook altyd ‘n verlangse familie wees wat hul intrek iewers onder neem. Byna soos Suid Afrikaners wat Aus of NZ toe trek.

My ken het meer grys in hom as wat Einstein se grysstof bevat het. As die hele ken nou mooi grys was, was dit dalk ook nie so groot kopseer nie. Maar nou is dit sulke apache hare. Apachie aan die een kant en apachie aan die anderkant.

Ek oorweeg om Edgars se Rooi Vierkant winkel in te vaar en waterdigte maskarra of iets te kry om die baard mooi swart in te kleur. Maar met Murphy op my selfoon se speed dial, gaan ek heel moontlik die fout maak om die verkeerde maskarra te koop. Een van daai wat hulle op teevee adverteer wat jou wimpers blykbaar ekstra lank laat lyk En dan sit ek met ‘n baard wat sulke LANGGGGG fladderende haartjies oral rondswaai. Ten minste gaan hy swart wees.

En dan natuurlik is daar die aanmerkings:

Ma: “Jy soen my nie as jy daai ding om hou gesig het nie!”

Pa: “Bosvarkies!”

Gatvlieg: “Ek skeer daai ding af terwyl jy slaap!”(Aan Boeta, gelukkig nie aan my nie)

En dan die meisiekind met die mooi blou oë by wie ek elke oggend ‘n koffie koop:

“More oom!”

 

 

9 antwoorde op Om baard te groei is harde werk

  1. Sue het gesê op November 5, 2012

    Dit was nou lekkergiggellees!

  2. kleur jou baard blou

  3. @kerneelsie – Ek het nou so lekker gegiggel agter my laptop!

    Sterkte met die baard, dis ten minste for a good cause! Oom. 🙂

  4. Skeletor het gesê op November 6, 2012

    Ja. As hulle jou gaan oom in elkgeval groei dan sommer vir jou ‘n bosbaard en kry klaar. Jy weet, een van daais wat sommer die sop uit jou bord uitdroog as jou baard daar in land.

    Go big, Maak ‘n statement.

  5. Jy noem niks van ‘n jukkery nie. Blykbaar is dit ‘n algemene klagte, op ‘n sekere lengte net en dan is dit weer over and gone… ???

    • Die gejuk is vandag verby, dink ek. Vrydag, Saterdag en Sondag sit ek omtrent heeldag met ‘n valhelm op my kop. So, daai is nog ‘n storie wat geskryf moet word…

  6. celia het gesê op November 6, 2012

    Hoe bly is ek nie nou dat ek nie ‘n baard het nie, net so een of twee verdwaalde ooghare!!!!!!!!

  7. In Kaapstad se hawe staan ‘n reuse beker wat ‘n wisseltrofee is vir die ou wat met die spoggerigste baard terugkom van Antartika af, miskien moet jy jou jouself daardie kant toe werk dan is daar darem ‘n groot beloning op jou terugkoms 😉

  8. Naand … “Oom” !

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.