Stront storie

November 2, 2012 in Uncategorized

My eie stories is maar min. Maar as jy jou ore mooi teen die grond hoor, hoor jy ander mense se stories. Blykbaar oorvertel as die reine waarheid.

So paar jaar gelede: ‘n Skip met so 100 bemanningsledeaan boord arriveer in die Kaapse hawe. Die kaptein roep almal bymekaar en sê vir hulle as hulle die skip skoonmaak en daar nêrens ‘n stukkie stof te siene is nie, kan almal daai aand 19h00 uitgaan. Maar, hulle MOET voor 7h00 die volgende oggend terug wees op die skip, anders is daar GROOT marakkas.

So gesê, so gedaan. Hulle skrop daai dag soos hul ma’s hulle laas geskrop het toe hulle nog kinders was. En, getrou aan sy woord, 19h00 laat die kaptein almal van die skip af om die Kaap se nag lewe te ervaar.

Die volgende oggend stap die kaptein deur die grafstil skip. Hy ken sy manne. En hy weet hy kan op hulle staat maak. In sy hart der harte is hy vas oortuig daarvan dat die skip so stil is, omdat almal mooi in hul eie beddens kom slaap het die vorige aand.

Hy stap die eerste kajuit in, en die beddens is netjies opgemaak. Duidelik soos daglig dat daar niemand in hulle geslaap het die vorige nag nie. Hy stap na die volgende kajuit, en dieselfde gesig begroet hom. Daar is nie ‘n siel op die skip nie. Sy horlosie wys dis 7h15.

Briesend stap hy uit op die hoofdek, en sien in die verte een van sy manne aangedraf kom. Toe die outjie uiteindelik uitasem en natgesweet voor die kaptein staan, wys die kaptein met sy vingers na sy horlosie, en vra vir hom waar hy was dat hy so laat eers op die skip aankom.

Die outjie begin verduidelik.

“Kaptein. Ek het ‘n kroeg gekry. En Kaptein weet mos nou maar, ek het so paar biere gedrink. En toe ontmoet ek die mooiste vrou. En Kaptein weet mos nou maar, ek en sy kuier lekker en toe is ek laatnag na haar woonstel toe. Kaptein, vanoggend word ek wakker, want ek weet ek moet voor 7h00 op die skip wees. Maar Kaptein, soos Murphy dit wil hê, is daar nie ‘n taxi in sig om my terug te bring hawe toe nie. Kaptein, toe hardloop ek maar. En net so twee straatblokke verder, kry ek ‘n perd. Ek spring op die perd en hy hardloop volspoed hier na die hawe toe. Maar kaptein, net toe ons so by Adderley Straat indraai, val die perd morsdood neer. En toe moet ek verder hardloop…”

Die kaptein laat hom toe maar aan boord gaan, en sien in die verte nog een van sy manne wat aangehardloop kom. Die outjie se verskoning is presies dieselfde as die vorige man sit. Kroeg, vrou, woonstel, geen taxi, perd, Adderley straat, ens.

En so kom nog 97 manne aan boord, elkeen met presies dieselfde storie. Teen 19h00 daai aand kom die laaste outjie aangedraf. Die Kaptein keer hom voor waar hy die trappe na die skip ophardloop.

“Wag, laat ek raai. Jy was kroeg toe, het ‘n vrou ontmoet, is na haar woonstel toe, kon vanoggend nie ‘n taxi kry nie, toe vat jy ‘n perd en die perd val morsdood neer in Adderley Straat. Is ek reg?”

Die outjie antwoord. “Kaptein. Jy is 99% reg. Als het gebeur soos Kaptein daar sê. Bahalwe dat ek nie met ‘n perd gery het nie. Ek het ‘n taxi gekry. Maar Kaptein. Die aardigste ding gebeur toe. Die taxi jaag so deur die Kaap se strate. Maar Kaptein, toe ons hier onder in Adderley Straat indraai, toe lê daar so moerse hoop dooie perde, ons moes omdraai en ‘n ander pad soek om tot hier te kom!”

11 antwoorde op Stront storie

  1. Jan Twak het gesê op November 2, 2012

    Bleddie taxi’s is ook oral ‘n probleem.

  2. *giggel*
    Dis baie oulik

  3. @kerneelsie

    LOL arme dooie perde

    Lekker storie inderdaad…bly om jou weer terug te hê op die blogs

  4. Ek like jou kwaai – jy moet net meer kom kuier!!!

  5. lekker baie vleis vir salami maak. 🙂

  6. jade het gesê op November 2, 2012

    LOL very funny!

  7. celia het gesê op November 2, 2012

    Hahaha ek ken ook sulke mense. Dit is regtig gaaf om jou weer te sien, ek mis jou stories.

  8. Ek het nou lekker gelag ! 🙂

  9. Rumncoke het gesê op November 3, 2012

    As ek daai kaptein was, sou daai klomp b@#$%^&S nou nog geroei het! 😉

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.