Vetkoek en boontjie sop

Junie 8, 2011 in Sonder kategorie

Woensdae aande is kuier aande. Meer seker oor die feit dat daar dan geskype word met Pop wat in Holland sit.

Maar, wat die rede ook al daarvoor is, Woensdae aande word daar gekuier. In die somer braai ons vleis. In die winter is dit sop, bredies, lasagne of soms net hot choclit en koekies.

Ek kry nou nou ‘n oproep: Sop en vetkoek vir vanaand. Omdat ek die vroegste van almal van die werk af kom, sal ek sorg vir die sop. Die ander sal sorg vir die vetkoek.

“Ek sal vetkoek deeg aanmaak, dan bak ons dit sommer vars,” bied ek aan.

“Nee man. Ek koop sommer klaar gebakte vetkoek by die bakkery op pad huis toe,” kom die antwoord.

“O! Okay. Dan neem ek aan Cup a Soup sal die ding doen?” probeer ek my teleurstelling verwoord.

Nou nie dat ek ‘n ouma ooit geken het nie, maar uit die stories wat ek al gehoor het van ander mense en hulle se oumas, kan ek my net indink hoeveel oumas vandag in hul grafte omdraai as hulle moet sien hoe “fast food”-erig ons gasvryheid deesdae geword het.

Waar is die dae wat ouma die vorige aand al die boontjies in die vou van haar voorskoot sit en uitsoek, sommer so voor die kaggel vuur, om seker te maak daar gaan nie lelike boontjies, of nog erger, klippe, in die pot nie. Die uitgesoekte bone word dan oornag in kookwater geweek.

Vroeg die volgende oggend, so saam met die eerste ketel se koffie, word daar dan ‘n swaar ysterpot op die stoof gesit om te begin hitte vang van die kole onder in daai stoof. Dan vat Ouma regte vark spek met lekker dik stukkies vet so oor die rugkant, en dit word in blokkies saam met uie en een of twee opgesnyde tamaties, gebraai in die pot. Die uie moet goed “sweet” voor Ouma dan die gedreineerde boontjies ook in ysterpot gooi. Dan word die boontjies versuip met genoeg water om hulle goed te bedek. Op die stadium gooi ouma ook net ‘n paar peperkorrels in, saam met ‘n paar naeltjies en so een of twee knoffelhuisies wat opgesny is. Sout is taboe vir rou boontjies. Dit maak die bone taai, en geen mens wil boontjie sop eet wat bo aan jou verhemelte vasplak nie.

So sal daai pot dan staan en prut(nie kook nie!) vir die res van die dag. Elke nou en dan word daar so bietjie water bygegooi om seker te maak die bone kook nie droog nie.

Intussen word daar ook ‘n groot erde bak uit die spens gehaal. Daarin gooi Ouma ‘n paar hande vol meel, bietjie sout, bietjie suiker, ‘n paar stukke plaasbotter en ‘n paar koppies lou warm water saam met haar aartappel gis. Met haar boerehande word daai meel gemeng tot dit ‘n heerlike rekbare deegmengsel word.

Die deeg word dan iewers in die kombuis gesit waar daar hitte is. Nie baie warm hitte nie, anders “sterf” die gis en flop daai deeg. Onder ‘n klam vadoek. En so, tesame met die sop wat prut op die stoof deur die dag, sal Ouma daai deeg elke uur of so afknie.

In die na-middag, wanneer etenstyd nader kom, word die sop eers klaargemaak. Eers word ‘n boontjie of twee uitgeskep met ‘n lepel. Die word dan gedruk met die vingers, om te voel of hulle sag is. As hulle sag genoeg na wense is, word die groot houtlepel nader getrek. Afhangende van hoe dik Ouma dan haar sop wou hê, het sy dan die lepel gevat en so teen die kante van die pot die boontjies stukkend gedruk. “Mash,” soos ons dit vandag noem. Eers as sy tevrede is dat die sop se dikte reg is vir haar kroos, word daar sout, bietjie suiker en so paar drukke sap uit ‘n vars geplukte suurlemoen, bygegooi.

So proe-proe word die deksel dan weer stewig opgesit, en dan word daar olie met vet opgewarm vir die vetkoeke. Die deeg het Ouma intussen in ronde bolle gerol, met meel bestrooi en op ‘n bak pan laat “rus” voor sy hulle bak.

Klein stukkies deeg word afgebreek en in die warm olie gesit, om te kyk of die olie warm genoeg is. Koue olie “trek”in die deeg in, en dit maak siek. Die olie moes altyd warm genoeg wees om die deeg vinnig te seël, die meel aan die buite kant bros te bak, en die vetkoek is dan eintlik gaar gestoom van binne af.

Een vir een sal sy hulle braai, in die olie omdop, die ander kant braai, en dan word hulle in ‘n bord gesit om geëet te word. Eers as daar so tien vetkoeke in die bord is, sal Ouma dan almal roep om gou seën te vra voor daar weggelê word aan lekker dik boontjie sop en vetkoek. Oor die algemeen was daar nie nodig om die huismense nader te roep nie. Die reuk van die eerste vetkoek in die olie/vet mengsel, het gewoonlik ver genoeg getrek om selfs die buur kinders nader te roep.

Ouma het nooit saam geëet nie. Terwyl die res van die familie weglê, sal sy rustig staan en vetkoeke bak om seker te maak nie een kind gaan honger bed toe nie.

En daar was nooit te veel vetkoeke nie. More oggend is die ekstra vetkoeke gevul met kaas en soet appelkoos konfyt, wat sy die vorige seisoen ingelê het.

Ouma se boontjie sop en vetkoeke: ‘n Ete wat oor byna twee dae strek.

Nie gekoopte vetkoek en two minute Cup a Soup nie!

36 antwoorde op Vetkoek en boontjie sop

  1. Krokodilla het gesê op Junie 8, 2011

    Ek kon nog nooit ‘n ordentlike vetkoek maak nie. Myne lyk altyd soos kaiings

  2. maryke-anne het gesê op Junie 8, 2011

    Ons eet ook bonesop vanaand. Al twee weke terug groot pot gemaak en gevries. Kan nie wag nie!

  3. HeavyHenry het gesê op Junie 8, 2011

    Daai heeldag sop – niks soos dit nie!

  4. bon apetiet (hoekom die aap sin weet ek nou nie)

  5. Poppiekreer het gesê op Junie 8, 2011

    Eerstens,jou blog pragtig met al die nuwe fotos!!!!Dan, vetkoek….ai ek sal weer my voortande, almal van hulle, opoffer vir ‘n vetkoek met maalvleis. Die kwyle loop by my mond uit. Agge nee man!

  6. Park_Hadeda het gesê op Junie 8, 2011

    Ek weet regtig nie hoe hou iemand met jou talente dit uit in hierdie plek nie.

  7. loudavisi het gesê op Junie 8, 2011

    Skitterende skrywe, Kerneelsie!

    Ons eet ook sulke boontjiesop. Hartman kook ook heeldag daaraan.

  8. bernster het gesê op Junie 9, 2011

    Ons eet gereeld vetkoek, maar ons kroek deur ‘n brooddeeg by die P’nP te koop. Met ‘n kerriemince. Of stroop en kaas. Heerlik. Ek verkies egter ‘n vars tuisgebakte brood met botter saam met my sop!

    Briljant geskryf. Soos altyd.

  9. bernster het gesê op Junie 9, 2011

    Ek wou nog sê, wanneer mense sê kos is met liefde gemaak, is hierdie mos wat hulle bedoel.

  10. shlwanjan het gesê op Junie 9, 2011

    Darem het IEMAND opgemerk Ouma het nooit saam geëet nie…

  11. Vetkoeke is soos borste, alle vorme, groottes en teksture. My ouma s’n was die beste ooit. Vetkoeke bedoel ek!

  12. kerneelsie het gesê op Junie 9, 2011

    Ek het nooit eens ‘n toebroodjie by my ouma gekry om te eet nie, so ek verlang vandag eerder na die herhinneringe aan ‘n ouma, as die sop en vetkoek

  13. kerneelsie het gesê op Junie 9, 2011

    Daai kaiing vetkoeke is gewoonlike die lekkerste saam met dik gekookte lemoen marmelade. Dan maak jy met daai vetkoeke soos toffie appels.
    Njammie

  14. kerneelsie het gesê op Junie 9, 2011

    Ek is nie regtig ‘n sop mens nie. Glo mos dis net siek mense wat sop eet. Maar na vier dae sonder kos weens voedsel vergiftiging, neem ek aan ek kwalifiseer seker vir ‘n koppie sop.

  15. kerneelsie het gesê op Junie 9, 2011

    Dankie Wynvlieg. Ek raai maar dat dit so was. Ek het nooit die ervaring kon beleef nie.

  16. kerneelsie het gesê op Junie 9, 2011

    Jip. Waar jy verby die stoof loop en ‘n beker skep as jy lus het. Sop moet nie ‘n vaste etenstyd aan hom gekoppel hê nie.

  17. kerneelsie het gesê op Junie 9, 2011

    Hehehehe. Lekker giggel ek vir die apie se tiet.

  18. kerneelsie het gesê op Junie 9, 2011

    Dankie tannie Poppie. Dis darem baie mooier as die swart!
    So lekker kerrie maalvleis wat gemaak is met appelkoos konfyt. Die ergste sooibrand gewoonlik, maar elke Rennie werd. 😉

  19. kerneelsie het gesê op Junie 9, 2011

    Ek is bitter bang om jou te antwoord. Want, erken ek dat ek talent het(soos JY sê), word ek dalk later uitgehaal dat ek windgat is.
    Erken ek dat die plek op die oomblik nog net die reuk van die kakplaas kort om opreg as een geklasifiseer te word, gaan ek dalk later daaroor ook uitgehaal word.
    Erken ek dat ek verkies om net my kop in ‘n gat te druk een voort te ploeter, kan ek ook dalk later uitgehaal word daarvoor(Ek sien ons is blykbaar alreeds)
    So, ja, ek weet nie wat om jou te antwoord hierop nie.
    😉

  20. kerneelsie het gesê op Junie 9, 2011

    Dankie Lou. Geniet die sop(Ek weet dis al te laat daarvoor, maar nou ja. Geniet ook die nagevolge van ‘n goeie boontjie sop) hehe

  21. kerneelsie het gesê op Junie 9, 2011

    As ek regtig haastig is, sal ek ook ‘n degie koop. Maar my kombuis is nou al twee keer oorgedoen om plek te maak vir nuwe toerusting. Soos die broodmasjien. Gooi als in, stel hom om op ‘n sekere tyd te begin knie, en as ek by die huis kom van die werk af, is die deeg reg. Ongelukkig ontneem dit daai onglooflike gevoel van brood knie met die hand.

  22. kerneelsie het gesê op Junie 9, 2011

    Jip. Dis hoekom dit so lekker smaak.

  23. kerneelsie het gesê op Junie 9, 2011

    Die kuier, die sop, die vetkoek. Ja okay. Die winter het so klein bietjie lekker in hom ook.

  24. kerneelsie het gesê op Junie 9, 2011

    Hehe. Ek weet regtig nie. Ek het nooit ‘n ouma geken nie, ek raai maar dat dit so moes wees.

  25. kerneelsie het gesê op Junie 9, 2011

    Darem nie heeltemal nie. Hoe ouer ‘n vetkoek word, hoe fermer(spel?) word hulle.

  26. kerneelsie het gesê op Junie 9, 2011

    Vetkoek en sop vir Mevrou?

  27. shlwanjan het gesê op Junie 9, 2011

    Ek hou altyd my skoonma so dop, wat die massas by die kombuistafel voer terwyl sy eierspaan-in-die-hand voor die stoof bly staan. Ek nie so edel nie, Hel nee, ek eet saam of niemand eet nie!

  28. Ongelukig is dit Cup a soup op die rig vir my venaand. Die kok brand amper die water hier want hy is so kwaai.

  29. UNPOCO het gesê op Junie 18, 2011

    Ja oumas kon nog! Nou is die lewe net een gejaagde spul! Ek self hou nog daarvan om self te meng en te knie. Die kits-deeg proe net nie dieselfde nie. My dogter sê hoeka dit proe “plastiek”. Ek het juis my suurdeegplantjie reseppie uitgehaal om vir my dogter daarvan te leer. Iemand moet die goeie behou.

  30. UNPOCO het gesê op Junie 18, 2011

    Is jy nog nie terug in die land nie?

  31. UNPOCO het gesê op Junie 18, 2011

    Celia ek sal graag meer wil weet van die deeg in die meel rol. Deel bietjie asseblief. Ek het nie hiervan geweet nie.

  32. kerneelsie het gesê op Junie 18, 2011

    Ek gebruik beide metodes. Botter en meel… So, ek is seker maar ‘n mengelmoes kind. hehe
    Die meel veroorsaak dat die deeg baie vinnig ‘n kors bak. Wat dan beteken die opslurp van die olie is minimaal. En dit moet redelik uit die pan in die bord bedien word.
    Jy kan selfs so bietjie rooi peper saam die die meel meng waarin jy die deeg rol.
    Ek is weer baie lief daarvoor om my vetkoek deeg uit te rol(baie dun) en dan te stop met kaas en ham. Dan rol/vou jy hom op en bak hom in een van daai steak panne wat lyk soos ‘n toaster.
    Maar dis amper meer ‘n tramezzini. Tog vinnig, maklik, vullend, goedkoop en baie minder olie(geen) teenoor diepgebraaide vetkoeke.

  33. pasella het gesê op Junie 18, 2011

    Die koolstoof – dis die geheim!

  34. Wow,Kerneels… jy maak my nou sommer tranerig van die heimweë!

  35. FOXY1975 het gesê op Junie 22, 2011

    Goeiste, hoe laat jy my nou na my ouma verlang wat al die tydelike met die ewige verwissel het.. dit klink na amper woord vir woord (behalwe vir die kolestoof) hoe dit in my ouma se kombuis was.. haar kombuis (ongelukkig in die stad) was ons kuierplek.. die sitkamer was omtrent net vir die predikant en wanneer ons in die aand die nuus gekyk en dan na die radiostories geluister het wanneer die olie-verwarmer aangesteek is en ons gewoonlik op die mat gesit en speel het met een of ander iets.. waar is die dae!!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.