Winter en charity

Junie 6, 2011 in Sonder kategorie

Ek haat die winter.

Die meeste pret wat mens seker uit die winter kan kry is om innoverende maniere te kry om jouself warm te hou. Veral as die gas al ‘n week lank klaar is, en jy aanhou vergeet om die gasbottel te gaan omruil.

Deur die nag het ek al drie keer opgestaan om nog ‘n kombers uit die kas te gaan grou. Dit alleen is klaar ‘n orgie op sy eie. Eers moet die video masjien uitgehaal word. Saam met al sy drade en die afstand beheer. Dan moet die rekenaar drukker uitgehaal word.(Dit is darem als oor die naweek weggegooi) Dan die rugsakke wat ek op ‘n stadium versamel het. Dan die kussings. En dan eers is dit die komberse se beurt.

Na die kombers uitgehaal is, moet als weer teruggepak word, in die volgorde wat dit uitgehaal is.

Teen daai tyd het koue hul weg gevind deur die kort slaapbroekie se broekspype(Ware mans slaap nie in long johns nie) Teen die tyd wat die kombers eers oor die bed gegooi is, het my blaas skielik begin krimp. So dan word daar kaalvoet getrippel badkamer toe, waar mens kaalvoet voor die wit troon gaan staan om te piepie. En dan staan jy vir ‘n ruk en vroetel en soek. Want iewers het klein Kerneelsie weggekrimp van al die koue. Ten einde laaste gaan sit jy maar met jou kaal boude op die yskoue ring van die toilet en verwens die koue winter wat jou in ‘n vrou verander het.

Terug in die(teen die tyd) koue bed, word die lae en lae komberse oral ingedruk en ingevou, om seker te maak daar is nerens ‘n plekkie vir enige koue om in te kom nie. Sodra die lyf begin warm word, begin jy voel dat jou gesig half gevries is. Dus druk jy maar jou gesig ook onder die komberse in. En dan raak dit lekker. Soos jou asemhaling rustig raak, word dit warm onder die komberse. Salig. Hoe warmer dit word onder daai komberse, hoe meer begin jou brein te werk. Jy dink aan idees hoe om jou wekker af te sit as hy oor so uur of wat gaan afgaan, sonder om jou arms onder die kombers uit te steek. Jy beplan jou tyd tot op die sekonde, watter pad jy werk toe gaan ry, waar jy brandstof gaan ingooi, hoe vinnig jy sal kan ry op watter roete, sodat jy so laat as moontlik onder die kombers kokon kan lê en broei.

Salig.

Tot jy voel hoe gisteraand se vier-blikkies-baked-beans-vir-R21 van Pick & Pay begin werk in die onderlyf. En in diè lewe het jy mos altyd ‘n keuse. Jy kan let go, met jou kop styf toegkenyp onder die kombers, of jy kan jou kop uittrek onder die kombers, en die temperatuur onder die komberse met nog so paar grade opstoot, deur net die boude te laat ontspan.

Gastronomiese onploffings dwing jou egter mettertyd om voor die wekker op te staan en aan te trek.

Op pad werk toe praat die omroeper op die plaaslike radio stasie oor die projek wat hulle aan die gang het. Hulle samel komberse in om uit te deel vir straatkinders.

“As jy nie ‘n kombers het nie, gaan koop een. Koop sommer ‘n cheap een van Pep Stores en kom gee dit af…” praat hy verder oor die radio.

 Ek is dankbaar vir my paar los komberse, en ek is dankbaar dat iemand iets doen om te help om die koue meer draaglik te maak daar buite.

Maar ek kan nie help om te wonder nie; hoekom moet charity altyd cheap wees?

11 antwoorde op Winter en charity

  1. bernster het gesê op Junie 6, 2011

    Ek dink dis oor ons so baie charity het om te doen in die land. As die in nood baie minder was so ons seker kon bekostig om vir elkeen ‘n lekker sagte dik kombers by Stuttafords te kon koop.

    Ek wil ook net nie leer nie. In die winter drink mens nie iets kort voor slaaptyd nie…anders wag daai koue badkamer besoek. Maar ‘n goeie down duvet maak komberse half oorbodig…

  2. Modigliani het gesê op Junie 6, 2011

    Lekker gelag vir jou!
    Add to the mix twee kinders wat nie deurslaap nie en ‘n mamma en pappa wat in hulle verjaarsdag pakkies slaap, en dit word net al hoe lekkerder.
    Ek hou NIE van winter nie.
    Die Michelen Man look doen dit doodeenvoudig nie vir my nie!

  3. DallaSePa het gesê op Junie 6, 2011

    Naand my Vriend …

  4. louisna het gesê op Junie 6, 2011

    Ons is (ten minste) twee wat die winder haat Neels

  5. avega het gesê op Junie 6, 2011

    Party mense sê , eers wanneer dit jou regtig iets kos, jy waarlik GEE.

  6. zephur het gesê op Junie 7, 2011

    Hoekom moet charity altyd cheap wees…sodat dit ver kan gaan.

    Jinne jy drink lekker aan daai bier op die avatar

  7. Charity moet cheap wees want easy come easy go. Wanneer volgende winter aanbreek, waar’s daai komberse?

  8. LOL! Ek hou ook nie van die winter nie!

  9. loudavisi het gesê op Junie 7, 2011

    Ek hou van die winter!
    Ons winters is mos nie so koud soos julle sin nie.

    Heerlike skrywe, Kerneelsie.

  10. My oplossing vir die winter…2 katte en ‘n Jack Russel alger saam ons innie bed!
    Dagse Kerneelsie

  11. Krokodilla het gesê op Junie 8, 2011

    Ek maak myself deesdae snags wys knyp is goed vir ‘n vrou van my ouderdom 🙂

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.