Bloedskenk kaskenades

Desember 5, 2012 in Uncategorized

Wat maak mens as jy ‘n honger persoon sien?

Wel, die normale mens draai sy gesig weg en draai by McD’s in om vir homself ‘n burger te koop.

Ek is nie normaal nie. En boonop hou ek nie van McD’s se stokkies wat hulle as chips verkoop nie.

So bevind ek my twee weke gelede in Kroonstad, met ‘n geval waar ‘n ouerige dame soos ‘n kleine kind karring dat sy ‘n boerewors rolletjie soek want sy is honger. Ons het mooi gevra, gesmeek, gunsies en gawes aangebied, maar die braaier het voet by stuk(En dit was ‘n GROOT stuk) gehou dat jy slegs ‘n rolletjie kry as jy bloed geskenk het.

Ongelukkig weeg die dame iets in die 40 kilogram, en mag sy nie haar eie bloed verruil vir ‘n broodjie nie.

Toe bied ek maar aan om dit te doen. So lus soos ek self vir daai broodjie was…

So wals ek daai bloedbank in Kroonstad binne. Dis net rooi waar jy kyk. Die tannies het almal rooi hare, dra almal rooi hempies, dis net rooi krismis liggies en rooi plakkate.

So stop een van die rooi tannies toe vir my ‘n wit vorm op ‘n rooi bordjie oor die toonbank aan.

“Vul net die vragies in. En antwoord net hierdie vragies met ‘n ‘Ja’ of ‘n ‘Nee’” verduidelik sy. So gaan sit ek toe maar in die hoekie met my vormpie en ek vul in.

Naam: Kerneels

Geslag: Ek het laas gestaan en piepie toe ek gekyk het.

En en en. Daar is letterlik 6784 vrae wat jy moet antwoord. Het jy geelsig gehad? Het jy pokke gehad? Wanneer laas het jy Disprins gedrink?

En dan natuurlik die stukkie met al die vrae waaroor almal altyd lieg.

Het jy onlangs saam met meer as een persoon seks gehad? 

Het jy ‘n rubbertjie gebruik die laaste keer? 

En die heel laaste vraag op die vorm: Het jy in die laaste twee weke geslagtelike omgang met ‘n ander man gehad?

Als word met ‘n definitiewe  “Nee” beantwoord.

En toe kry ek my sakkie met pypies en naalde en goed. Ek moet my pyniging self dra tot by my stoel. En ek mag darem kies in watter arm ek die 6 duim dik stuk yster gedruk wil hê, waarmee hulle die bloed uit my liggaam gaan suig.

So sit ek rustig. Die naeld gaan in, en ek stort nie eens ‘n traan nie. Ek neem tot ‘n foto en sit dit op Gesigboekie, sodat almal kan sien hoe hard ek werk in my nuwe pos.

Die foto was skaars gepos, toe kom die vrae.

“Wat het gebeur?”

“Is jy okay?”

Ek besef toe ek moet baie vinnig vir my ma laat weet ek skenk bloed. Ek is al drie weke op die pad, het ‘n week laas laat weet waar ek is, en netnou bel Boeta of Gatvlieg haar om te hoor wat gebeur het.

Ek was nog besig om te sms, toe begin ek warm kry. My hart klop asof hy betaal word, en als begin draai. En toe is ek weg. Maar blykbaar nie ‘n normale omdop en uitpass nie. Nee, ek moet mos als tot in die ergste vlak doen. My spiere trek saam. Eers die arm sonder die naald. En toe en een met die naald in. En ek druk daai naald toe so diep in my arm in dat ek nou nog, twee weke later, met ‘n pikswart arm sit.

Die eerste wat ek hoor, is hoe iemand heeltyd my naam roep

“Kerneels. Kerneels. Kerneels!” Amper dringend, uitasem, haastig… Soos in een van DAAI movies.

En toe maak ek my ogies oop.

Aan my linkerkant is ‘n tannie histeries besig om my bloeddruk te neem terwyl die sweet van haar voorkop af drup en die bloed uit my arm spuit. Skuins agter my staan ‘n baie oulike blonde dingetjie met ‘n koue lappie, besig om my voorkop af te vee en in my oor te fluister dat als okay sal wees. Aan die regterkant staan die honger vrou met my selfoon, Tablet, beursie, sleutels en als wat ek nog by my gehad het.

My ou lam koppie het sy draai van links na regs gemaak en toe uiteindelik genoeg krag gekry om homself op te tel sodat ek voor my kan kyk.

En daar sit ek. My bene wyd verspreid in die lug. Gedrappeer oor ‘n man se skouers, met ‘n haakskeen agter elke oor.

En dis hy wat heeltyd my naam roep.

Toe ek eers behoorlik by is en weer beheer het oor my eie liggaam, stap ek terug na die tannie wat my vorm geneem het.

“Meneer?” kyk sy my vraend aan terwyl ek met ‘n bewende vinger na my vorm wys.

“Kan ek die vorm gou terug kry asseblief?” vra ek.

“Seker. Is daar iets wat jy moet verander op die vorm?”

“Ja tannie. Die laaste vraag…”

Saal opening

November 16, 2012 in Uncategorized

As jong kind het ons altyd op ‘n Maandag oggend vroeg in die skoolsaal bymekaar gekom vir “Saal opening”. Terwyl ons jong klomp op die koue vloer gesit het, gekruisde bene, boude later so dood gesit dit voel of hulle af is, het die skoolhoof dan sy preek gehou, gebid, geprys en uitgetrap.

Die uittrap was die lekkerste deel. Veral as jy hier in matriek rond is. Met die hoof wat rooi in die gesig op en af van die verhoog af loop en skree omdat hy wil weet wie jufrou Bisschoff se geblomde Mini tot in die middel van die rugby veld gedra het. En dit boonop een aand by koor oefening. Met arms wat wyd swaai, lippe wat spoeg skiet dat die standerd sessies later sopnat gespoeg is onder teen die verhoog, skreeuend oor hoe juffrou Bisschoff toe daai aand huis toe moes loop omdat haar karretjie weg is.

Dit was omtrent die enigste keer wat jy trots was dat jy koor gesing het. Want die eerste rugby span sou nooit weer daarna met die koorlaaities sukkel nie. Ek meen, om ‘n Mini te dra van die parkeer area tot op die rugbyveld, sit nie in enige ou koor moffie se broek nie.

Daar was ook die tye wat jy gevoel het jy wil jou polse afsny teen jou skoensool. As Lettie en Corra hul duet moes sing wat aan hulle ‘n B+ besorg het by die Eistedfort. Ek self het een Maandag oggend moes opstaan om “Kom dans Klaradyn” te sing voor die hele skool. Die einste liedjie wat my ‘n A++ in die sak gebring het in standerd vyf.

Toe my stem nog nie gebreek het nie.

Selfs ek het later gedink my knaters is saam met my mangels verwyder.(Terloops, my stem het darem in die somervakansie van daai jaar gebreek. Maar toe praat ek snaaks. Een aand het ‘n meisie by die kerk my gevra hoekom ek so deur my neus praat, toe sê ek vir haar “Want as ek deur my foefenjol gepraat het, het my asem gestink”)

Soms was die omies en tannies van die Gideons Bende daar om bybels uit te deel. Ek dink die enigste rede hoekom hulle dit ooit “Gideons Bende” genoem het, was om die kinders sover te kry om te luister na hulle. Vir ‘n kind van daai ouderdom was “bende” ‘n  ding wat chaos gemaak het in jou buurt, en jy moes beklei om deel van ‘n bende te word.

Soms was daar iemand wat kom praat het oor hoe belangrik dit is dat ons hard moet leer, sodat ons nie ook eendag in die tronk opeindig soos genoemde persoon nie. Soms was daar ook oud leerlinge wat kom praat het oor hoe lekker dit buite die skool is. As dit werklik so lekker buite die skool is, hoekom was hulle dan daar om te kom vertel daarvan?

In elk geval.

So deur dit als heen het ek altyd gesit en wonder hoe dit moet wees om doer bo op die verhoog te moes sit en kyk na al ons ou gevreetjies. En ek het die mense ge-envy, want na die saal moes ons gewoonlik een of ander toets gaan skryf waaarvoor jy heel naweek moes leer. Ek glo tot vandag toe nog my ouers het die skool meer skoolfonds betaal sodat ons naweke ekstra huiswerk gekry het om onder hul voete uit te moet bly.  Hoe ook al, daai mens het dan saam met die hoof iewers ‘n teetjie gedrink en stront gepraat na hulle die Groot Stront van die verhoog af gepraat het, waarna hulle dan kon ry. Weg uit die skool met sy vier heinings wat ons binne hou van sewe uur die oggend tot twee uur die middag.

Vanoggend was dit my beurt om op die verhoog te sit. En ek het die gevreetjies gesit en bekyk. Hoe een kind sy hande vou, ogies styf toe en met die grootste glimlag op sy gesig die “Onse Vader” sing. Terwyl ‘n ander een heeltyd die meisiekind voor hom se hare trek. Sy was op die ou end uit die saal gejaag omdat sy onder gebed haar tong geklik het oor die irriterende ou monstertjie agter haar.

Die hoof het gepreek. Hy het geprys. En toe geraas. Omdat die kinders nie die tuinjong “oom” noem nie, maar sommer net plain “Josef”.

En toe is ek voorgestel aan die kinders. Hulle het terug geantwoord met ‘n “Goooooood… Mooooorning… Miiiiiiister… Sooooooo…Ennnnnnnn… Sooooooo” Lank en uitgerek. So verveeld jy kan met hulle koekies bak.

Soos die kindertjies my groot oog aanstaar voor op die verhoog, het ek maar ewe nuuskierig teruggekyk. Van gesiggie tot gesiggie, en gewonder:  hoeveel dokters sit hier op die koue vloer voor my. Hoeveel prokureurs en onderwysers en rekenmeesters…

Of gaan hulle ook maar eendag net as “Josef” aangespreek word as hulle die gras op die rugbyveld sny?

Om baard te groei is harde werk

November 5, 2012 in Uncategorized

Om baard te groei is harde werk.

Moenie dat enigeen vir jou iets anders vertel nie. In die boeke wat die slimmes skryf, word daar genoem dat die uiterlike baie vertel as jy gaan vir ‘n onderhoud. Mans met ‘n baard is byvoorbeeld lui. Mans met ‘n bokbaardjie is presies en vol stront en baie skoon op hulself. Glad geskeerde mans is natuurlik waarna almal soek. Want hulle doen moeite met hul voorkoms. Hulle skeer elke dag. Hulle ruik lekkerder, en blablabla.

Nonsens. Alles nonsens.

Van Donderdag af het ek begin baard groei. Ter ondersteuning vir mans met kanker. Ek het nogal uitgesien daarna. Nou nie dat dit een van die dinge is wat ek op my kluitklaplysie(Bucket list) gesit het nie.

Die idee het egter salig geklink. Ek meen, ek sal nie meer elke oggend hoef te krap met ‘n stomp lemmetjie om die klomp haartjies te verwyder nie. Dus, 10 minute ekstra elke oggend. Ek sou nie meer hoef geld uit te gee aan daai roompie wat keer dat ek ‘n veluitslag kry elke twee dag nie. My allergie vir skeerroom is soos ‘n hoer se broek. Op, af, op af.  Vandag kan ek dit gebruik, en more brand dit die sewe soorte hel uit my uit.

Dus, ek spaar tyd EN geld.

Toe nou nie. Dit vat nou soveel langer om elke oggend te “trim”. Mens kan nie soos ‘n bosvark net als laat groei soos dit wil nie. Dit moet beheer word. So halwe sentimeter moet gesny word aan elke wang. En dan die berg onder die ken. Die DUBBEL ken. Ek hoor hoeka vanoggend die dubbel ken is my eie skuld. Blykbaar toe liewe jesus die dag kenne uitgedeel het, het hy geroep “Chin!” toe hoor ek “gin” en vra toe sommer vir ‘n dubbel. En dan moet mens R400 betaal vir so masjientjie wat seker maak elke haartjie is net so lank soos sy buurman. Ek praat nie eens van die krag wat dit gaan kos om die ding se batterye elke dan en wan te laai nie.

In elk geval. Die ken is ook die ander kopkrap van baard groei. Ek het grys hare net so bokant my ore. Al van standerd sewe af. Deesdae het die een haartjie wat in standerd 7 sy intrek in my kopvel gemaak het, al gegroei tot ‘n volwaardige familie van gryses.

Maar net soos almal wat iewers bo op die aarbol woon, moet daar ook altyd ‘n verlangse familie wees wat hul intrek iewers onder neem. Byna soos Suid Afrikaners wat Aus of NZ toe trek.

My ken het meer grys in hom as wat Einstein se grysstof bevat het. As die hele ken nou mooi grys was, was dit dalk ook nie so groot kopseer nie. Maar nou is dit sulke apache hare. Apachie aan die een kant en apachie aan die anderkant.

Ek oorweeg om Edgars se Rooi Vierkant winkel in te vaar en waterdigte maskarra of iets te kry om die baard mooi swart in te kleur. Maar met Murphy op my selfoon se speed dial, gaan ek heel moontlik die fout maak om die verkeerde maskarra te koop. Een van daai wat hulle op teevee adverteer wat jou wimpers blykbaar ekstra lank laat lyk En dan sit ek met ‘n baard wat sulke LANGGGGG fladderende haartjies oral rondswaai. Ten minste gaan hy swart wees.

En dan natuurlik is daar die aanmerkings:

Ma: “Jy soen my nie as jy daai ding om hou gesig het nie!”

Pa: “Bosvarkies!”

Gatvlieg: “Ek skeer daai ding af terwyl jy slaap!”(Aan Boeta, gelukkig nie aan my nie)

En dan die meisiekind met die mooi blou oë by wie ek elke oggend ‘n koffie koop:

“More oom!”

 

 

Stront storie

November 2, 2012 in Uncategorized

My eie stories is maar min. Maar as jy jou ore mooi teen die grond hoor, hoor jy ander mense se stories. Blykbaar oorvertel as die reine waarheid.

So paar jaar gelede: ‘n Skip met so 100 bemanningsledeaan boord arriveer in die Kaapse hawe. Die kaptein roep almal bymekaar en sê vir hulle as hulle die skip skoonmaak en daar nêrens ‘n stukkie stof te siene is nie, kan almal daai aand 19h00 uitgaan. Maar, hulle MOET voor 7h00 die volgende oggend terug wees op die skip, anders is daar GROOT marakkas.

So gesê, so gedaan. Hulle skrop daai dag soos hul ma’s hulle laas geskrop het toe hulle nog kinders was. En, getrou aan sy woord, 19h00 laat die kaptein almal van die skip af om die Kaap se nag lewe te ervaar.

Die volgende oggend stap die kaptein deur die grafstil skip. Hy ken sy manne. En hy weet hy kan op hulle staat maak. In sy hart der harte is hy vas oortuig daarvan dat die skip so stil is, omdat almal mooi in hul eie beddens kom slaap het die vorige aand.

Hy stap die eerste kajuit in, en die beddens is netjies opgemaak. Duidelik soos daglig dat daar niemand in hulle geslaap het die vorige nag nie. Hy stap na die volgende kajuit, en dieselfde gesig begroet hom. Daar is nie ‘n siel op die skip nie. Sy horlosie wys dis 7h15.

Briesend stap hy uit op die hoofdek, en sien in die verte een van sy manne aangedraf kom. Toe die outjie uiteindelik uitasem en natgesweet voor die kaptein staan, wys die kaptein met sy vingers na sy horlosie, en vra vir hom waar hy was dat hy so laat eers op die skip aankom.

Die outjie begin verduidelik.

“Kaptein. Ek het ‘n kroeg gekry. En Kaptein weet mos nou maar, ek het so paar biere gedrink. En toe ontmoet ek die mooiste vrou. En Kaptein weet mos nou maar, ek en sy kuier lekker en toe is ek laatnag na haar woonstel toe. Kaptein, vanoggend word ek wakker, want ek weet ek moet voor 7h00 op die skip wees. Maar Kaptein, soos Murphy dit wil hê, is daar nie ‘n taxi in sig om my terug te bring hawe toe nie. Kaptein, toe hardloop ek maar. En net so twee straatblokke verder, kry ek ‘n perd. Ek spring op die perd en hy hardloop volspoed hier na die hawe toe. Maar kaptein, net toe ons so by Adderley Straat indraai, val die perd morsdood neer. En toe moet ek verder hardloop…”

Die kaptein laat hom toe maar aan boord gaan, en sien in die verte nog een van sy manne wat aangehardloop kom. Die outjie se verskoning is presies dieselfde as die vorige man sit. Kroeg, vrou, woonstel, geen taxi, perd, Adderley straat, ens.

En so kom nog 97 manne aan boord, elkeen met presies dieselfde storie. Teen 19h00 daai aand kom die laaste outjie aangedraf. Die Kaptein keer hom voor waar hy die trappe na die skip ophardloop.

“Wag, laat ek raai. Jy was kroeg toe, het ‘n vrou ontmoet, is na haar woonstel toe, kon vanoggend nie ‘n taxi kry nie, toe vat jy ‘n perd en die perd val morsdood neer in Adderley Straat. Is ek reg?”

Die outjie antwoord. “Kaptein. Jy is 99% reg. Als het gebeur soos Kaptein daar sê. Bahalwe dat ek nie met ‘n perd gery het nie. Ek het ‘n taxi gekry. Maar Kaptein. Die aardigste ding gebeur toe. Die taxi jaag so deur die Kaap se strate. Maar Kaptein, toe ons hier onder in Adderley Straat indraai, toe lê daar so moerse hoop dooie perde, ons moes omdraai en ‘n ander pad soek om tot hier te kom!”

verlore onderbroeke

Oktober 17, 2012 in Sonder kategorie

Ek hoor ek MOET iets skryf om my blog te behou. So, here goes. en vir die paar wat dit in epos vorm gekry het, ek plagiaat sommer myself.

Dit is deesdae byna so groot mission om eposte te skryf/stuur soos dit is om ‘n robot suksesvol op mars te laat land.

Die rekenaar se spasie knoppie werk net as jy hom vloek. Die tablet met sy raak-aan-my-en-ek-doen-als-wat-jy-nie-wil-gedoen-hê-nie skerm en ek is nie maatjies nie. Dus, ek vermy hom soos pes. En wie wil nou stories sit en tik op ‘n selfoon? Die selfoon is in elk geval so stil, ek wonder of hy ooit nog werk.

So gepraat van werk

Daar is niks so lekker soos ‘n yskoue glasie na werk nie. En omdat ek mos altyd anders wil wees, koop ek nie my koue bier by ‘n winkel nie. Ek brou dit sommer self. Oulike brou stel wat jy kan koop, en dan gooi jy water en stroop en gis en goed daar in. Na so paar dae se borrel-borrel tap jy dit in bottels, laat staan dit en so paar weke later is hy net reg om te drink.

Meeste mense het ‘n probleem daarmee. Want niemand wil tog weke lank wag vir ‘n bier nie. Maar daar is regtig niks so lekker as om by ‘n braaivleis vuur vir almal ‘n glasie bier te skink en te spog dat dit jou eie is nie. En hulle wil ook nie glo dat die alkohol inhoud enigstens bestaan nie.

Wel, dit doen. Dis nou as ek nog reg kan onthou. Ek het so lanklaas bietjie van my eie tuisgemaakte bier oor my lippe gehad. Die laaste keer was met een van die oud litnet bloggers se “house warming”. Ek het my eie tuisgemaakte bier gevat. ‘n Dosyn. En als opgedrink. As ek nog enigstens gewonder het of my tuisgemaakte bier regtig alkohol bevat… Ek wonder nie meer nie. Danksy I-cloud kon ek die volgende oggend myself allokeer. Ek was toe nie meer naby die huis wat warm gemaak is nie.

Na ‘n sterk koppie koffie en ‘n handvol hoofpyn pille, is ek huis toe. Eers toe ek my klere uit trek om te stort by die huis, kom ek agter my onderbroek is weg. Onderboeke is klein. Hulle raak mos maar weg so elke nou en dan(Okay, dit was my eerste een wat weggeraak het) En nou die dag toe die koue weer ons so skielik tref, soek ek my gunsteling baadjie.

Die is ook weg.

En ek kan nie onthou waar die huis is waar ek wakker geword het nie.

Die Maandag na daai Sondag het ek ‘n epos van ene Yolanda-iemand@eenofandermail.com gekry wat iets gelees het van “Hallo my Beertjie…” Toe maak ek mos die fout om te vra “Wie is Yolanda?”

Ek het nou maar aanvaar ek gaan nie weer my onderbroek of gunsteling baadjie weer sien nie.

Ook nie vir Yolanda nie.

Hasie en die setpil

Julie 1, 2011 in Sonder kategorie

Hasie is ‘n plaasboer van doer iewers in die Noord Kaap. Vra mens hom uit oor sy boerdery, vertel hy skaam dat hy met bankrot bossies boer. Mielies. En so een of twee koeie om darem net melk vir die huis te gee.

En as jy hom vra waar sy plaas is, vertel hy jou dis daar waar jy op die lang reguit stuk pad ry en net sulke wit-swart, wit-swart sien aankom. Die wit-swart is nie die strepe op die teerpad nie. Nee, dis net so plat in sy wêreld, dat jy die dae en nagte van jou lewe sommer so in die verte sien aankom.

Hasie praat die mooiste afrikaans wat jy nog ooit gehoor het. Hy weier om ‘n woord engels te praat. Tussen sy bankrot bossies op sy plaas, veg hy vir die behoud van die afrikaanse taal. En juis daarom koop hy ook gereeld die Loslyf. Want Hasie glo dis beter om Loslyf se tottie van die maand genoem te word, as Hustler so boks van die jaar.

Maar al lees Hasie die Loslyf gereeld, sukkel hy maar as dit kom by vroue dinge. Hasie is maar skaam as dit by vroue kom. Hasie is een van daai boere wat nooit sal inskryf vir ‘n program soos Boer soek ‘n hoer nie. Ongelukkig het hy dinge in sy kinderlewe beleef wat hom maar skrikkerig gemaak het vir vroue.

Een van sy vroegste herhinneringe was toe hy nog in die aande saam met sy ma gebad het. So met die ouderdom saam, het die vrae ook maar meer geword. Tot hy een aan vir sy ma gevra het wat die “niks” tussen haar bene is, waar hy dan ‘n tollie het. Sy ma was eers onseker oor of sy die regte feite moet verduidelik, en of sy eerder net ‘n storie moet opmaak. Sy besluit toe maar op die storie.

“Dis mamma se mol,” veruidelik sy.

Hasie het nog so rukkie gestaar, maar nie verder iets gevra nie.

Een aand kom kuier Ouma, en met badtyd is Mamma besig in die kombuis met aandete. Ouma bied toe maar aan dat Hasie sommer saam met haar kan bad. Ouma en Hasie was nie vyf minute in die badkamer nie, toe Mamma net een onaardige gil uit die badkamer hoor. Mamma het als net so gelos en gehardloop vir die badkamer. Met die oopstoot van die deur sien sy hoe Hasie agter die toilet sit, met sy beentjies opgetrek tot teen sy lyfie, sy armpies om sy bene gevou, en hy huil met sy gesiggie so in sy opgetrekte knieë. Snotfontein en Tranedal. Ouma het ‘n japon gegryp en om haar gedraai, heel verbaas oor die skielike gehuil van Hasie.

“Hasie, wat gaan aan?” vra Mamma.

“Mm-m-mam-ma. D-d-dis Ouma se m-m-m-mol. H-h-hy is d-d-d-d-dòòd!” snik-huil Hasie so, jy sien net snotstrepe so teen sy knieë afloop.

Mamma buk intussen tot by Hasie en trek hom van die koue vloer agter die toilet af op.

“Maar Hasie. Hoe kan jy so iets sê van Ouma se mol?” troos Mamma verbaas oor die uitbarsting.

“M-m-mmaar dit i-i-i-is!” snik Hasie. “S-s-sss-sy t-t-t-tongetjie hang al uuuuuuiiiiit!” huil Hasie toe maar nog harder.

Ouma, heeltemal onbekend met die mol-verduideliking, probeer toe maar op haar manier troos deur te verduidelik dat dit nie haar mol is nie, maar dat dit haar kalkoen is.

Hasie het bedaar en die res van die aand om Ouma gekloek terwyl hy “koeloe-koeloe-koeloe” geluide maak.

So jaar later kom kuier ander Ouma een vakansie, om na Hasie te kyk terwyl sy ouers deur die dag werk.

Nou ander Ouma was ‘n groot vrou. Haar boude was so groot soos die Here se genade. Maar met die lang pad en baie sit op die busrit op pad na Hasie-hulle toe, het Ouma toe so bietjie hardlywig geword. Wel, bietjie meer hardlywig as net bietjie. Sy was so hard en verstop soos ‘n klei-os se alie.

Die dokter op die dorp het vir Ouma poeiertjies gegee En later stroop, pilletjies, inspuitings, maar niks wou help om daai verstopping te laat uitkom nie. Die dokter het geweet daar is net een uitweg, maar hy het dit so ver as moontlik vermy. Juis omdat Ouma so groot is. Maar, ten einde laaste het hy toe maar vir Ouma die boksie setpille gegee en verduidelik wat sy met hulle moet doen.

Ouma was nie bang nie, en het die dokter gerus gestel dat sy sal regkom met die plasing van die setpil. Haar voorouers het dan oor berge en dale getrek met ossewaens, en daar was ‘n boere oorlog wat baie erger was as die insit van ‘n setpil. Daar was mense dood in die oorlog.

So is Ouma terug by Hasie se ouerhuis, en met Hasie rustig voor die teevee besig om Liewe Heksie te kyk, betree Ouma die badkamer.

Ouma het die setpil so uit die foelie omhulsel getrek, en hom in haar regterhand vasgevat tussen drie vingers. Met die ander hand het sy haar rok oor haar kop gegooi, haar bloemer afgetrek tot by haar enkels, en toe met die einste linkerhand haar linkerboud gevat en hom getrek. Met die regterhand het Ouma die setpil om die regterboud probeer rek om by haar alie te kry, maar haar armpies was net te kort, en die boude net te groot.

Na ‘n paar minute se sukkel kom Ouma toe kreun en steun orent, onsuksesvol. Maar Ouma laat haar nie sommer onderkry nie. Sy vat die setpil tussen drie vingers in haar linkerhand vas, buk weer vooroor, gooi die rok oor haar kop en trek met die regterhand die regterboud uit die pad. En sy rek en trek, maar die setpil kom weereens nie naby haar alie nie.

Ouma kom weer regop, en besluit weereens om van taktiek te verander.

Nou, setpille is mos eintlik wonderlike goed. Hulle is lank, dun, en gevorm soos ‘n bullet. Skerp punt bo en plat kant onder.

Ouma slaan die toilet se deksel plat, plak die setpil, met sy platkant na onder, op die toilet se deksel vas, en sy gaan staan wydsbene bo oor die toilet. Die bloemer is intussen al heeltemal eenkant geskop om seker te maak haar bene kan wyd genoeg uitmekaar staan. Met albei hande die keer, trek sy weer daai rok to so onder haar twee elmboë vas. Sy gooi haar linkerarm so om die linkerboud, en die regterarm so om die regterboud. En sy trek daai boude uitmekaar soos toe die Here laas die see laat split het. Skuifel-skuifel tree Ouma agteruit en kank die knieë sodat sy op die setpil kan gaan sit.

Maar, helaas, dis mis. Die setpil het omgeval en van die toilet afgerol, van ‘n skielike wind wat na jare se vasknyp tussen twee boud blaaie, losgewikkel is met die groot split.

Ouma besluit toe daar is nou net een ding wat sy nog kan probeer.

“HASIE!!!!!” roep sy deur die toe badkamer deur. “HASIE, KOM HELP VIR OUMA!”

Die son het nie te lank water getrek nie, toe is Hasie by Ouma in die badkamer. Ouma staan toe nog al die pad met die twee arms om haar boude en trek. Bang om grip te verloor, sien?

“Hasie, sien jy daai pilletjie wat daar onder op die vloer lê?” beduie Ouma met haar kop so half tussen haar bene gedruk.

“Ja Ouma, ek sien hom,” antwoord Hasie.

“Nou vat vir Ouma daai pilletjie, en dan vat jy die skerp punt en druk hom hier agter by Ouma se boude in. Verstaan jy?”

“Ja Ouma,” antwoord Hasie, terwyl hy die pilletjie optel en so skuins-skuins agter Ouma se boude inbeweeg.

Hasie het so tussen die boude deur geloer en daar sien hy toe Ouma se bruin gaatjie.

“Moet ek hom in die bruin gaatjie indruk Ouma?” vra Hasie bewerig.

“Ja Hasie, die bruin gaatjie,” verduidelik Ouma.

Hasie het die setpil so bietjie nader aan die gaatjie gebring, en toe daal sy oog bietjie verder ondertoe, verby die bruin gaatjie. En toe steek hy vir eers vas.

“Hasie, kom jy reg? Die bruin gaatjie. Sit hom in die bruin gaatjie,” deel Ouma nog bevele uit.

“Ouma?”
“Ja Hasie?”

“Ouma, ek wonner nou net. Moet ek hom regtig in die bruin gaatjie druk? Sal dit nie makliker wees as ek hom net vir die kalkoen gee om te sluk nie?”

Sport, lag en simpel reëls

Junie 28, 2011 in Sonder kategorie

Ek is mos nie sportief nie. Ek hou van stap, en is baie lief vir fietsry. Maar verder verander ek in ‘n gestremde as ek die woord “sport” hoor. As die gevoel vir enige vorm van oefening in my binneste kom lê-plek soek, gaan lê ek self ook op die bed tot die gevoel weer weggaan.

Maar op ‘n stadium het ek gewerk vir ‘n sport mal baas. Hy het fiets gery, gedraf, ge-gym, ge-ski, ge-als. En vir ontspanning het hy ook ge-gholf. En hy het nie gehou van dik mense nie. Ongelukkig het ons werk ook die voordeel gehad dat ons elke dag ‘n ete uit die restaurant mag kry vir middag ete. En wie gaan nou peanut botter en konfyt broodjies inpak werk toe as hy t-bone en chips kan kry?

Skaars twee jaar in my pos, of ek lyk soos ‘n os. Die pens begin uitstaan, die ruggie begin krom trek en ek kan vir my eie borste in die spieël kyk en belustig raak. Byna begin lyk soos iemand wat swanger is met ‘n olifant, waarvan die slurpie al onder begin uithang.

Toe kom daar ‘n nuwe reël in. Woensdae middae, om 12h00, moet ons gaan sport doen. Nou weens my totale gebrek aan belangstelling in enige vorm van sport, het ons toe maar besluit ons sal gholf speel.

Vir weke soek ons soos proper gholf junkies na die regte stokke, sakke, tande stokkies waarop jy die bal moet balanseer, ‘n mikroskopiese bal uithaler vir die water, skoene, handskoene, hoedjies, onderbroeke, ens. Maar, soos ‘n pastoor jare gelede vir ons kinders gepreek het; jy kan elke dag in die motorhuis gaan sit en wroom-wroom geluide maak. Dit gaan egter nie van jou ‘n kar maak nie.

Maar as daar ‘n prys was vir die mense wat die hardste probeer het, sou ons die eerste, tweede en derde prys gewen het.

So paar maande later kry ek dit eendag reg om uiteindelik die balletjie raak te slaan. Hy het nou wel vir Willie, wat agter my gestaan het, in die knaters getref, maar dit het nie saak gemaak nie. Die feit van die saak was, ek het die bal raak geslaan.

Toe dit my baas se ore bereik, besluit hy ook sommer daar en dan om ons in te skryf vir ‘n pretdag storie, waar daar fondse ingesamel word vir polisie weduwees en kinders.

Intussen weet nie een van ons twee nogsteeds veel van gholf nie. Ons weet net dit behels die slaan van ‘n wit balletjie, en dan soek jy hom die res van die dag, en rol hom in die gaatjies op die sagte gras in. Die agtiende putjie is mos gewoonlik die lekkerste een.

Woensdag oggend slaan ons af so iewers tussen die semi-pro’s en die regte pro’s. Ek dink die feit dat ons op die inskrywingsvorms geskryf het ons “pro”beer nog speel, was misgelees.

Maar nou ja. Ons was nog nie eens by die eerste putjie nie, toe Willie sy balletjie slaan tot op die rand van so klein dammetjie net voor die weiveld. Nou, Willie is nie klein nie. Hy is wel kort, maar sy middellyf maak op vir die gebrek aan lengte. Hy stap toe maar nader aan die watergat, waar sy balletjie net so op die rand lê en loer vir hom. Soos almal seker weet, is ‘n gholf baan byna meer gewyd as ‘n kerk op nagmaal Sondag. Dis stil. Net hier en daar tjirp ‘n voëltjie wat sy lewe in ‘n nes waag so tussen die vlieënde wit balletjies. Waar ek so paar honderd meter weg staan en wag vir hom om sy balletjie verder te slaan, kan ek byna sy skoene hoor girts op die nat gras.

Willie het die balletjie geloer, en die vlaggie aan die anderkant van die gat beloer. Hy het sy stok verander na ‘n korter een, sy handskoen mooi reg getrek, sy hoedjie verstel sodat die son uit sy oë is, die sweet van sy bo lip afgevee, sy onderbroek uit sy boude getrek, weer gebuig oor die bal, sy knieë mooi gebuig en die stok begin mik en weeg vir die regte hou. Soos ‘n regte pro. En toe trek hy die stok terug so oor sy regter skouer. Nie stadig, soos die dronk eienaar van een van die bane wat ons by oefen, vir hom geleer het nie. Blitsig. Vinnig.

Die volgende oomblik sien ek net hoe sy linker voet begin gly. En die stok wild rondgeswaai word. Soos ‘n graad twee dogtertjie wat splits oefen by die ballet. Dit was die laaste sien van hom. Toe hy die water tref, is dit net modder en water. Pens en pootjies op die naat van sy rug tussen water lelies en ander groen water plante wat nog nie name het nie.

Nou ja. Ek het ‘n baie erge sin vir humor geëerf by iemand iewers. En ek is so twee jaar gelede by die ATKV oord in Hartenbos mos weggejaag omdat ek te hard lag. Afrikaners mag plesierig wees, solank dit nie in een van die ATKV se oorde gebeur nie

Die geweide nagmaal-stilte was net een te veel vir my bulderende gelag.

Lang storie, kort weergawe… Ons is weereens gevra om die gholfbaan te verlaat, want elke keer wat Willie sy gholf stok tot by sy skouers gelig het daarna, het ek weer die val gesien en van voor af begin lag.

En lag is ook verbode op die gholfbaan.

Ek het intussen my hele gholfstel vir Zeppie se laaitie gegee. Met die hoop dat die kind tog die sport meer ernstig sal aanpak, as ek.

Maar my lag van daai dag…

Ek bêre hom lekker diep.

Wie wil my familie wees?

Junie 22, 2011 in Sonder kategorie

Met die dat Ma mos uit die oudedoos(laatlam) is, is al my niggies(een) en nefies(twee) aan haar kant van die familie, omtrent haar ouderdom.

Aan Pa se kant is daar duisende niggies. Nie een enkele neef nie. Dis seker maar waar wat hulle sê: alle mense word gebore as mans, maar dan slaan die dokters die totties van die slimmes af, en dis waar ‘n vrou vandaan kom.

Die ding van die Bybel wat sê “gaan uit en vermeerder” is baie letterlik opgeneem deur Pa se ouers, en van daar af is dit ook geërf deur die kinders. Met 14 kinders uit daai huwelik is daar nie regtig veronderstel om ‘n probleem te wees met niggies en nefies nie. Behalwe dat al die mans jonk dood is. Selfmoord van een(daar is ‘n verlore niggie), nierversaking van ‘n ander(Nooit getroud nie), ‘n gay broer, en dan een wat net een kind die lewe ingestoot het. ‘n Dogter.

Meeste van die susters was steriel. Die een het drie kinders aangeneem na jare se sukkel om haar eie kinders te verwek. Na die derde aanneming het haar eierstok fabriek se deure skielik oopgevlieg. Drie niggies is sommer kort opmekaar gebore. Alhoewel ek vas glo sy het gemaak soos die hoenderboer van Delmas wie se henne net onbevrugte eiers gelê het. Hy het van “cock” verander.

Die een niggie koop haar lipstiffie net as Edgars ‘n “buy one, get one free” promosie het. Want sy gebruik die gekoopte lipstiffie vir die boonste lip, en die “free” een vir die onderste. En mens hop altyd rond as jy met haar staan en gesels, want geen mens weet watter oog kyk vir jou nie.

Haar sussie is weer beeldskoon. ‘n Model. Sy het die paal gekry waaraan skoonheid gehang het toe dit die dag uitgedeel is.

Dan is daar Heidi. Die enigste niggie wat ek ooit regtig geken het. Tot die insident een aand in my klerekas. Toe ons skielik op twaalf jarige ouderdom wegkruipertjie wou speel. Christo, by die skool het my verseker niggies is gemaak “ om mee te eksperimenteer.”

Ek het nooit gehou van eksperimente nie. Die goed het altyd ‘n manier gehad om in mens se gesig te ontplof. Soos die dag in die Tech, toe ons remvloeistof en swembad chloor in ‘n twee liter bottel gegooi het, om vir die wetenskap juffrou te wys wat gebeur. Sy was natuurlik nie ‘n wetenskap onnie se gat nie, want as sy was, sou sy mos geweet het wat volgende gaan gebeur, en ons gekeer nie.

Maar die insident waar ons toe meneer Louw se klaskamer vensters op die derde vloer uitgeslaan het met ons tuisgemaakte bom, het gemaak dat geen eksperiment meer sonder skriftelike toestemming van die ouers, mag plaasvind nie. En dan ook net in die vlei so vyf kilometer van die skool af. Ek het natuurlik wetenskap onmiddelik gelos en eerder vir iets soos Biologie gegaan. Ook net tot ons die dag ‘n swanger rot, Ballatjies, moes disekteer. Dit moes seker maar gebeur het in die tyd wat die juffrou besluit het om die rotte in die klas aan te hou vir weke aaneen, omdat sy nie kon besluit of ons sterk genoeg is om die goed op te kerf nie. Wel, ons was nie. Die rotte het name gekry. En niks met ‘n naam kan mos geslag word nie.

Teen die tyd wat ek klaar gemaak het met skool, het ek als behalwe huishoudkunde en tik gedoen. Huishoudkunde vir die rede dat een van die huishoudkunde leerlinge eendag, baie moeg, vir ons vertel het hoe erg haar naai eksamen was. En ek was mos ‘n kind van die kerk… En tik ook maar net omdat ons daai jare nog nie van tik geweet het nie. Ons het net bier en dagga geken.

In elk geval.

Heidi en haar ouers het kort daarna Kaap toe getrek. So paar jaar gelede, op ‘n begrafnis, sien ek vir die eerste keer in jare toe weer meeste van die familie. Maar die niggies word formeel voorgestel aan my, so tussen die kis draery deur, en ons groet met die hand en ‘n “aangename kennis”, heeltemal vergete dat die ouerige dame wat voor my staan, my as kind gekielie het tot ek my broek natmaak. Dan kon al die kinders vir my lag…

Nou die aand word ek genooi na ‘n groep op Facebook. ‘n Naam wys onderaan die lys van “members”. Die naam lyk bekend. Ek gaan doen bietjie ondersoek, en wragties, dis ‘n kleinneef van my ma. Na nog bietjie rondgrou ontdek ek ‘n neef en nog ‘n niggie. Daar is net drie aan my ma se kant van die familie. Een sit in skape tel in Aus, en die ander een is iewers in Kaapland. Ek epos almal. Die kleinneef is net ‘n jaar jonger as Ma, maar hoogs ingels. Ek “how’d u do” en “Naais toe meat joe” toe maar in my boodskap aan hom. Die een in Aus het ek nog nooit voorheen gesien nie. Ek vra toe maar net wie se kind sy is en hoop sy blêr nie terug nie. Die neef het ek darem in my standerd ses jaar ontmoet, toe hy my kort na ‘n operasie na sy pa toe gevat het vir ‘n kuier. Dus vra ek maar net of hy my kan onthou.

En so sit ek dag en nag voor die rekenaar en wag. Ek wil tog so graag ‘n niggie of ‘n nefie hê.

Maar niks. Niemand antwoord my navrae nie. Die afwagting was groot, wat die teleurstelling net nog groter maak. Maar, ek ken daai gevoel teen die tyd maar te goed. Elke nou en dan bel ek iemand, en kry die antwoord “Ek bel jou nou terug,” of “Kan ek jou gou terugbel?” of “Kan ons later bietjie gesels as ek jou terugbel?”

En dan wag ek in afwagting. Tot ek later maar opgee, omdat die terugbel nooit gebeur nie.

Gisteraand besluit ek toe maar om op te gee. Een en dertig jaar sonder niggies en nefies het my nie doodgemaak nie. En soos iemand eenkeer gesê het: Vriende is die familie wat destiny vergeet het om vir jou te gee.

Ek het genoeg familie, dankie!

Vetkoek en boontjie sop

Junie 8, 2011 in Sonder kategorie

Woensdae aande is kuier aande. Meer seker oor die feit dat daar dan geskype word met Pop wat in Holland sit.

Maar, wat die rede ook al daarvoor is, Woensdae aande word daar gekuier. In die somer braai ons vleis. In die winter is dit sop, bredies, lasagne of soms net hot choclit en koekies.

Ek kry nou nou ‘n oproep: Sop en vetkoek vir vanaand. Omdat ek die vroegste van almal van die werk af kom, sal ek sorg vir die sop. Die ander sal sorg vir die vetkoek.

“Ek sal vetkoek deeg aanmaak, dan bak ons dit sommer vars,” bied ek aan.

“Nee man. Ek koop sommer klaar gebakte vetkoek by die bakkery op pad huis toe,” kom die antwoord.

“O! Okay. Dan neem ek aan Cup a Soup sal die ding doen?” probeer ek my teleurstelling verwoord.

Nou nie dat ek ‘n ouma ooit geken het nie, maar uit die stories wat ek al gehoor het van ander mense en hulle se oumas, kan ek my net indink hoeveel oumas vandag in hul grafte omdraai as hulle moet sien hoe “fast food”-erig ons gasvryheid deesdae geword het.

Waar is die dae wat ouma die vorige aand al die boontjies in die vou van haar voorskoot sit en uitsoek, sommer so voor die kaggel vuur, om seker te maak daar gaan nie lelike boontjies, of nog erger, klippe, in die pot nie. Die uitgesoekte bone word dan oornag in kookwater geweek.

Vroeg die volgende oggend, so saam met die eerste ketel se koffie, word daar dan ‘n swaar ysterpot op die stoof gesit om te begin hitte vang van die kole onder in daai stoof. Dan vat Ouma regte vark spek met lekker dik stukkies vet so oor die rugkant, en dit word in blokkies saam met uie en een of twee opgesnyde tamaties, gebraai in die pot. Die uie moet goed “sweet” voor Ouma dan die gedreineerde boontjies ook in ysterpot gooi. Dan word die boontjies versuip met genoeg water om hulle goed te bedek. Op die stadium gooi ouma ook net ‘n paar peperkorrels in, saam met ‘n paar naeltjies en so een of twee knoffelhuisies wat opgesny is. Sout is taboe vir rou boontjies. Dit maak die bone taai, en geen mens wil boontjie sop eet wat bo aan jou verhemelte vasplak nie.

So sal daai pot dan staan en prut(nie kook nie!) vir die res van die dag. Elke nou en dan word daar so bietjie water bygegooi om seker te maak die bone kook nie droog nie.

Intussen word daar ook ‘n groot erde bak uit die spens gehaal. Daarin gooi Ouma ‘n paar hande vol meel, bietjie sout, bietjie suiker, ‘n paar stukke plaasbotter en ‘n paar koppies lou warm water saam met haar aartappel gis. Met haar boerehande word daai meel gemeng tot dit ‘n heerlike rekbare deegmengsel word.

Die deeg word dan iewers in die kombuis gesit waar daar hitte is. Nie baie warm hitte nie, anders “sterf” die gis en flop daai deeg. Onder ‘n klam vadoek. En so, tesame met die sop wat prut op die stoof deur die dag, sal Ouma daai deeg elke uur of so afknie.

In die na-middag, wanneer etenstyd nader kom, word die sop eers klaargemaak. Eers word ‘n boontjie of twee uitgeskep met ‘n lepel. Die word dan gedruk met die vingers, om te voel of hulle sag is. As hulle sag genoeg na wense is, word die groot houtlepel nader getrek. Afhangende van hoe dik Ouma dan haar sop wou hê, het sy dan die lepel gevat en so teen die kante van die pot die boontjies stukkend gedruk. “Mash,” soos ons dit vandag noem. Eers as sy tevrede is dat die sop se dikte reg is vir haar kroos, word daar sout, bietjie suiker en so paar drukke sap uit ‘n vars geplukte suurlemoen, bygegooi.

So proe-proe word die deksel dan weer stewig opgesit, en dan word daar olie met vet opgewarm vir die vetkoeke. Die deeg het Ouma intussen in ronde bolle gerol, met meel bestrooi en op ‘n bak pan laat “rus” voor sy hulle bak.

Klein stukkies deeg word afgebreek en in die warm olie gesit, om te kyk of die olie warm genoeg is. Koue olie “trek”in die deeg in, en dit maak siek. Die olie moes altyd warm genoeg wees om die deeg vinnig te seël, die meel aan die buite kant bros te bak, en die vetkoek is dan eintlik gaar gestoom van binne af.

Een vir een sal sy hulle braai, in die olie omdop, die ander kant braai, en dan word hulle in ‘n bord gesit om geëet te word. Eers as daar so tien vetkoeke in die bord is, sal Ouma dan almal roep om gou seën te vra voor daar weggelê word aan lekker dik boontjie sop en vetkoek. Oor die algemeen was daar nie nodig om die huismense nader te roep nie. Die reuk van die eerste vetkoek in die olie/vet mengsel, het gewoonlik ver genoeg getrek om selfs die buur kinders nader te roep.

Ouma het nooit saam geëet nie. Terwyl die res van die familie weglê, sal sy rustig staan en vetkoeke bak om seker te maak nie een kind gaan honger bed toe nie.

En daar was nooit te veel vetkoeke nie. More oggend is die ekstra vetkoeke gevul met kaas en soet appelkoos konfyt, wat sy die vorige seisoen ingelê het.

Ouma se boontjie sop en vetkoeke: ‘n Ete wat oor byna twee dae strek.

Nie gekoopte vetkoek en two minute Cup a Soup nie!

Winter en charity

Junie 6, 2011 in Sonder kategorie

Ek haat die winter.

Die meeste pret wat mens seker uit die winter kan kry is om innoverende maniere te kry om jouself warm te hou. Veral as die gas al ‘n week lank klaar is, en jy aanhou vergeet om die gasbottel te gaan omruil.

Deur die nag het ek al drie keer opgestaan om nog ‘n kombers uit die kas te gaan grou. Dit alleen is klaar ‘n orgie op sy eie. Eers moet die video masjien uitgehaal word. Saam met al sy drade en die afstand beheer. Dan moet die rekenaar drukker uitgehaal word.(Dit is darem als oor die naweek weggegooi) Dan die rugsakke wat ek op ‘n stadium versamel het. Dan die kussings. En dan eers is dit die komberse se beurt.

Na die kombers uitgehaal is, moet als weer teruggepak word, in die volgorde wat dit uitgehaal is.

Teen daai tyd het koue hul weg gevind deur die kort slaapbroekie se broekspype(Ware mans slaap nie in long johns nie) Teen die tyd wat die kombers eers oor die bed gegooi is, het my blaas skielik begin krimp. So dan word daar kaalvoet getrippel badkamer toe, waar mens kaalvoet voor die wit troon gaan staan om te piepie. En dan staan jy vir ‘n ruk en vroetel en soek. Want iewers het klein Kerneelsie weggekrimp van al die koue. Ten einde laaste gaan sit jy maar met jou kaal boude op die yskoue ring van die toilet en verwens die koue winter wat jou in ‘n vrou verander het.

Terug in die(teen die tyd) koue bed, word die lae en lae komberse oral ingedruk en ingevou, om seker te maak daar is nerens ‘n plekkie vir enige koue om in te kom nie. Sodra die lyf begin warm word, begin jy voel dat jou gesig half gevries is. Dus druk jy maar jou gesig ook onder die komberse in. En dan raak dit lekker. Soos jou asemhaling rustig raak, word dit warm onder die komberse. Salig. Hoe warmer dit word onder daai komberse, hoe meer begin jou brein te werk. Jy dink aan idees hoe om jou wekker af te sit as hy oor so uur of wat gaan afgaan, sonder om jou arms onder die kombers uit te steek. Jy beplan jou tyd tot op die sekonde, watter pad jy werk toe gaan ry, waar jy brandstof gaan ingooi, hoe vinnig jy sal kan ry op watter roete, sodat jy so laat as moontlik onder die kombers kokon kan lê en broei.

Salig.

Tot jy voel hoe gisteraand se vier-blikkies-baked-beans-vir-R21 van Pick & Pay begin werk in die onderlyf. En in diè lewe het jy mos altyd ‘n keuse. Jy kan let go, met jou kop styf toegkenyp onder die kombers, of jy kan jou kop uittrek onder die kombers, en die temperatuur onder die komberse met nog so paar grade opstoot, deur net die boude te laat ontspan.

Gastronomiese onploffings dwing jou egter mettertyd om voor die wekker op te staan en aan te trek.

Op pad werk toe praat die omroeper op die plaaslike radio stasie oor die projek wat hulle aan die gang het. Hulle samel komberse in om uit te deel vir straatkinders.

“As jy nie ‘n kombers het nie, gaan koop een. Koop sommer ‘n cheap een van Pep Stores en kom gee dit af…” praat hy verder oor die radio.

 Ek is dankbaar vir my paar los komberse, en ek is dankbaar dat iemand iets doen om te help om die koue meer draaglik te maak daar buite.

Maar ek kan nie help om te wonder nie; hoekom moet charity altyd cheap wees?