“Lockdown ZA 2020”

Image

Ek dink ek raak oud, want ek raak al hoe meer en meer tegnologies gestremd – of – die tegnologie raak net té gevorderd. Ek is amper 43 jaar oud en nie so dom nie, maar ek het wel eers ‘n “sellulêre telefoon” gesien toe ek 16 was. En, wow, dit was groot en vet en mooi, en o so slim! #nokia

Met die dat ons nou in ons huise moet bly vanaf Vrydag het ek so tussendeur work from home begin loer na ietsie om my sanity mee te behou. Kyk, ek probeer nou al vir jare blog, maar dan gebeur die lewe en ek kry ‘n kind of ek skei of ek date (bekendes en onbekendes … tong in die kies …) of ek raak swanger en trou weer. En aan die hartseerkant verloor ons my susterskind op elf maande (my dogtertjie is twee dae na haar niggie se dood gebore in dieselfde hospitaal) en toe, twee jaar later, vertrek my sussie … Sy was my lig. My hartsvriendin. My sielsgenoot …

Maar.

Laat ons ons bepaal by dit wat voor ons lê. Corona (of Korona) is op almal se lippe en dis nie die soort waarvoor ons gehoop het nie … sluk … sluk .. hou vas my wyn … cheers in elk geval, want ek het vanmiddag effens paniekerig begin raak toe ek al die nonsens en vrae op Netwerk24 lees: Gaan Tops @ Spar sluit???

Ek google vir antwoorde – maar, helaas, ek skink ‘n glas wyn (eintlik rooiwyn in ‘n wit porseleinkoppie, want die dishwasher moet nog was vanaand) en ek weet nog minder as voor my soektog: ALMAL is mos nou kenners op die gebied van wat met ons gaan gebeur tydens hierdie National State of Disaster. Dankie, Karen, Susan en Hermien – julle “hulp” laat my snak na my asem, en nee, ek is gesond!

O, Vader in die hemel, help ons. Help ons asseblief net om hierdie wêreld te oorleef. Hierdie inperking te oorleef. Ek worrie en het klaar gister gehuil omdat ek nie weet hoe ek vir 21 dae gaan cope saam met my seun wat aan outisme en Tourette’s sindroom ly nie (hy raak binne vyf minute verveeld). My pa is die enigste een wat my en my dinge verstaan en ek huil weer saggies omdat ek hom ook nie mag sien nie, al bly hulle 8km verder (ons wag nog om te hoor wat die goewerment hieroor te sê het).

Later meer oor my ander kind, my katte en die wyn waarvan ek hou!

God seën Afrika.
God seën ons.
En mag Hy ons help om staande te bly.

Sela.