by

Silwerskermfees – laaste aflewering

September 9, 2014 in Uncategorized

Die laaste dag van die fees het Saterdag vir my aangebreek, ongelukkig was dit net ‘n halwe dag omdat ek reeds vroegmiddag  moes terugvlieg huis toe. In retrospektief sou ek dinge natuurlik anders gereël het as ek vooraf genoeg ingelig was oor die laaste dag se kyklys.

Eerste aan die beurt was die kortfilm ‘Stom’, wat die realiteit van nageboortelike depressie uitbeeld. Hierdie tema is beslis iets waarmee baie ma’s kan identifiseer, al is dit bloot net omdat daar eintlik niks is wat jou heeltemal vir die geboorte van ‘n baba kan voorberei nie. Die meeste van ons het ‘n idealistiese idee van die oulike pienk bondeltjie vreugde wat jou lewe gaan verryk, maar ongelukkig is daar ‘n paar gapings in die prentjie wat slegs met praktiese ervaring gevul kan word en dan vervaag die romantiese aspekte bitter vinnig. Neem dan nog die fisiologiese veranderinge wat saam met die ‘ontnugtering’ gepaard gaan en die ontgogeling wanneer ‘n nuwe ma aan haarself moet erken dat sy glad nie aan haar eie (en ander!) se idees van die ideale mammie kan voldoen nie in ag en jy eindig met ‘n bitter eensame stryd om oorlewing.  Die storie word sonder enige tierlantyntjies en onnodige detail uitgebeeld en slaag daarin om die onvermoë van die vrou om haarself ‘reg te ruk’ aan die kyker oor te dra. Depressie, of dit gegrond is in ‘n ontnugterende ervaring of ‘n geleidelike afdaling in ‘n bodemlose put , is beslis ‘n moeilike onderwerp om te ontgin en miskien is ‘n kortfilm juis die antwoord daarvoor – dis ‘n bewusmaking sonder om met detail te verveel of die kyker kans te gee om op sy stoel te begin kriewel. Wel gedaan.

‘Totsiens Pa’ het ook verras en ‘n indruk gemaak. Dit het verras omdat die draaiboekskrywer so jonk is en die insig gehad het om ‘n storie te vertel wat terselfdertyd persoonlike bande het maar ook onopgesmuk aangebied is. Dis ook ‘n kwessie waarmee baie van ons kan identifiseer, al is dit bloot net omdat die samelewingstruktuur waarin ons onsself bevind een is wat isolasie en onafhanklike bestaan aanmoedig. Familiebande wat ‘n paar dekades gelede miskien ‘n ondersteuningsfaktor was, het grootliks verswak vanweë leefstyl en geografiese skeiding. Facebook en tegnologie kan eenvoudig nie opmaak vir die volledige prentjie wat ‘n mens met die fisiese deel van ‘n leefwêreld het nie en dit is dan ook die verhaal wat hier uitgebeeld word: vier susters wat deur omstandighede gedwing word om vir ‘n paar dae lank meer intiem met mekaar saam te leef as wat hulle aanvanklik voorsien het. Dis inderdaad so dat meeste families deesdae slegs vir troues en begrafnisse bymekaar kom en miskien selfs nie eers vir troues nie. Dis eintlik  meer as blote familie-saamwees, want dit het my ook weereens laat besef dat selfontdekking of eerlike kommunikasie ongelukkig meestal slegs gebeur wanneer ‘n mens met iets of iemand gekonfronteer word wat jy nie kan systap nie. Wanneer die fassades waaraan ons so sorgvuldig bou afgebreek word, is dit meestal verrassend bevrydend en bring dit geestelike groei mee wat andersins miskien nie sou plaasvind nie.  En ja, ek moet erken dat ek self baie emosioneel geraak het in die toneel waar die jonger suster sing. Iets wat juis gebeur het omdat Koos du Plessis se ‘Gebed’ so ‘n intense hartslied is…

Ek is spyt dat ek ‘Vuil Wasgoed’ (kortfilm) en Abraham (vollengte film) gemis het, maar ek sien uit daarna om laasgenoemde te sien wanneer dit vrygestel word.  Ek hoor net goeie dinge daarvan, asook van ‘n ander film wat ek ongelukkig gemis het toe dit gedraai het en wat ‘n hele paar toekennings op die fees losgeslaan het (ek bly mos in die grammadoelas) – Die Windpomp.

Ten slotte – die Silwerskermfees is ‘n uitstekende platform vir filmmakers en –betrokkenes in Suid-Afrika en is beslis ‘n vyfstergeleentheid. ‘n Mens het moed vir die toekoms van film in ons land, maar ook vir die toekoms van Afrikaanse film. Dit was inderdaad vir my ‘n verrykende ervaring, al het ek slegs maar ‘n klein deeltjie daarvan beleef.

6 antwoorde op Silwerskermfees – laaste aflewering

  1. tina10 het gesê op September 9, 2014

    Baie dankie vir die deel van jou ondervinding
    Windpomp het my aangegryp – hoewel daar dele is waarvan ek nie gehou het. Dit laat mens nog lank wonder, maar ek sal dit nie weer wil sien nie!

  2. Dankie Katrina, ek het lekker gelees aan jou Silwerskermfees ervaring.

  3. @ansiefourie Bly jy het dit geniet 🙂

  4. spokie het gesê op September 10, 2014

    @katrina
    Klink of ons trots kan wees op ons Afrikaanse filmbedryf. Eks bly. Ons kort lankal ‘n opgradering. Dankie jou moeite met al die skryfwerk.

  5. Klink of julle lekker gekyk het!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.