by

Silwerskermfees – aflewering vier

September 6, 2014 in Uncategorized

Vrydagmiddag en ek is weer ‘n bietjie vroeg vir die volgende kyksessie, dus kyk ek blitsig of daar vir my ‘n ‘uitkykhoekie’ is van waar ek uit die veiligheid van my eie aura die gebeure in die voorportaal kan gade slaan. Ek vra vir ‘n ouerige dame of dit reg sal wees as ek die rusbank met haar deel, waarop sy vriendelik antwoord dat dit glad nie ‘n probleem is nie. Ek knoop ‘n geselsie aan en hoor dat sy en haar seun daar is en dat hulle nie eintlik weet waarna om te kyk nie. Hulle was in die gelukkige posisie om kaartjies te wen (wanneer ek later ‘n kans vat om te hoor of dit dalk die Du Toitskloof-kompetisie se wenkaartjies was, bevestig sy dit. (Ek het toevallig daarvan gehoor toe ek vir Suzanne wat mediaskakeling gedoen het, per e-pos gevra het oor inligting omtrent toegangskaartjies. Klein weet-wêreld!), Hulle kyk nog die kat uit die boom wat filmkeuses betref.  Kort voor lank is daar egter iemand om te help en aanbevelings te doen en ek gebruik die tyd om gou ‘n paar notas neer te skryf.

Dan is dit tyd vir die volgende kortfliek, Nommer 37. ‘n Onpretensieuse titel en ‘n aangename verrassing om hierdie intense kortfilm te kon sien. Dit gee ‘n vinnige kykie in ‘n wêreld waarvan die meeste van ons maar net kan lees en selde eerstehandse ervaring van opdoen. Die Kaapse Vlakte, vae idees van swaarkry en bendegeweld en mense wat ten spyte van die ‘oorlog’ om oorlewing sin probeer vind en hulle lewens probeer leef.  Dit vertel van ‘n jongman wat sy lewe moet hervat noudat hy in ‘n rolstoel is, sy meisie wat dinge vir hom makliker probeer maak en vir hom ‘n verkyker gekoop het waarmee hy die tyd kan verwyl. ‘n Terugskakeling in ‘n gemeenskap wat hy nou vanuit die raamwerk van ‘n woonstelvenster kan waarneem. Dit hou egter nie die realiteite van die lewe, sy eie lewe, van hom weg nie, want daar is nie genade wanneer hy sy skuld moet terugbetaal nie. Tussen dit wat hy tot sy skok in ‘n woonstelblok oorkant hom sien gebeur en sy desperate plan om sy skuld te delg,  maak hy egter nie voorsiening vir Plan B waar dinge lelik kan skeefloop en die geweld tot tussen die mure van sy eie woonstel kan bring nie…

Uitstekende spel en dialoog, insette van almal wat betrokke was asook ‘n intelligente aanbieding het hierdie film vir my persoonlik een van die bestes gemaak. Ook in die besonder, die bespreking na die tyd wat ‘n mens net weereens laat besef dat niks binne in ‘n vakuum gebeur nie en dat daar baie besinning, beplanning en oorleg moet plaasvind om ‘n suksesvolle spanpoging en eindproduk teweeg te bring.

Volgende aan die beurt was Onder die Tafel wat ‘n redelike kontroversiële onderwerp vir baie mense, naamlik ‘uit die kas klim’, op ‘n natuurlike manier in ‘n doodgewone, middelklas Afrikaanse huisgesin as tema gehad het. Ook ‘n kortfilm wat eintlik terselfdertyd verskillende aspekte van ‘n komplekse kwessie aanraak. Beslis nie bedoel vir diegene wat gay-wees in ‘n Afrikaanse kultuur met ‘n enkele sin wil opsom nie. Goeie, natuurlike spel van al die betrokkens, alhoewel Rolanda haar karakter ‘n bietjie minder prominent kon vertolk.  Ek verstaan egter die denke daaragter, maar, soos wat hier en daar die geval met van die films was: moenie jou kyker se vermoë om tussen die lyne te lees onderskat nie. (Ek is regtig ‘n Rolanda-aanhanger, so moenie dink dat hierdie haar spel sommer net afskiet nie) Die ‘onder die tafel’ skote was ook nie vir my werklik funksioneel nie en ek sou persoonlik ‘n ander titel vir die film gekies het.

Tydens die paneelbespreking sien ek toe sowaar ‘n oud-leerling tussen die klompie en ek het hom gou na die tyd aan die arm gegryp vir ‘n geselsie. Hy, soos ek weet met baie van die jonger geslag wat daar was die geval is, is so begeesterd deur wat hy by die fees gesien en ervaar het en ek hoop van harte dat dit ‘n aansporing sal wees om self in die toekoms iets te maak of meer betrokke by spesifiek Afrikaanse films te raak.

Na ‘n kort breek was dit die premiére van Leading Lady.Sowaar, nog ‘n hoofrol vir ‘n gewilde Afrikaans sánger? As ek maar net nie geweet het wie Bok van Blerk was nie sou ek dalk met ‘n oper gemoed na die fliek gekyk het. Met ‘n fliek wat ‘n groot persentasie Engelse dialoog gehad het het die vervaardigers/regisseur waarskynlik gevoel dat hulle die Afrikaanse kykers ook wou intrek en hulle statistieke en feite oor die teikenmark is dalk nie so eensydig soos myne nie, dus sê ek maar net: sela. Hierdie is die verhaal van ‘n Engelse onderwyseres en haar ambisie om die hoofrol in haar kêrel (met ‘n woeste Amerikaanse aksent) se volgende fliek met ‘n Suid-Afrikaanse agtergrond te kry.  Die kêrel is oormatig ongeskik en sy is oormatig ondergeskik, wat die storielyn effens voorspelbaar maak, veral wanneer sy besluit om na ‘n mislukte oudisie agtergrondskennis oor Suid-Afrika en die hoofkarakter van die fliek se kultuur te gaan inwin. Sy land op die fiktiewe Fiksburg (so gespel, ja) internasionale lughawe (tong-in-die-kies) beland met haar stereotipe pienk tas in ‘n stereotipe taxi en eindig… sowaar op die plaas van die einste oorlogsheldin. Maar, moenie klein, plattelandse gemeenskappies onderskat nie (nie tong-in-die-kies nie), want daar is interessante mense met sluimerende talente wat net die regte persoon nodig het om dit te skaaf en te poleer. Dit was lekker om vir Brumilda van Rensburg in ‘n doodgewone rol, maar met ‘n besliste ondertoon van sluimerende menslikheid onder die fassade van nie-omgee-nie te sien en die film is beslis kykbare, ligte vermaak sonder werklike wroegings of verrassende intriges. Die voorspelbaarheid het effens gepla, alhoewel ‘n mens darem nie altyd kon raai wat wanneer gaan gebeur nie. Maar sou, sou dit wel.

‘n Kort breek voor die premiére van Hollywood in my huis. Die teater was stampvol en ek het weer heel agter ‘n plekkie gekry. ‘n Minuut of wat voor kyktyd het die dame en haar seun wat ek vroeër ontmoet het ook opgedaag en langs my kom sit waar daar nog twee oop sitplekke was. Ek het intussen ook weer ‘n geselssessie met hulle gehad toe ons in ‘n breek iewers saam koffie gedrink het. Die gemoedelikheid het daartoe gelei dat sy ‘n hele paar keer kliphard kommentaar gelewer het en ek bly was dat ons nie iewers naby Leon van Nierop gesit het nie, want ek weet hy het ‘n broertjie dood aan springmielies en klipharde kommentaar in ‘n teater.

‘n Pluspunt vir die rolverdeling wat nie soos Suurlemoen aan die onwaarskynlike gegrens het nie. Christia Visser se vars gesiggie was perfek vir haar rol as matriekmeisie met drome wat vir eers op die matriekafskeid en die ingewikkelde sosiale intriges rondom dit fokus. Dit, teen die agtergrond van ‘n ma wie se einste drome na haar eie matriekafskeid gesneuwel het en teen goeie oordeel in haar kind teen soortgelyke hartseer probeer beskerm en ‘n pa, werkloos en ambisieloos volgens alle standaardverwagtinge en… met die ongelukkige naam van … wag daarvoor…Tos!  Regtig?? Elke keer wat iemand die arme man aangespreek het het die gehoor uitgebars van die lag.  (Ek worstel so in my enigheid met die vraagstuk of die jonger geslag Afrikaanssprekendes glad nie bewus is van die konnotasies aan sekere woorde nie. Wel, as dit so bedoel was, het dit die lag-teiken en belaglikmaking van die arme karakter wat baie goed deur Louw Venter vertolk is, getref). Ek het ook van Edwin van der Walt, die goeie vriend wat heimlik op Jana verlief is, se spel gehou. Maar, kan ek nog net één ou vraagtekentjie ingooi?  ‘n Gebreide/gehekelde onderbroekie?  Regtig??

Die oer-feeks in die verhaal grens effe aan oordrywing (teen hierdie tyd het julle seker al agtergekom dat ek meer van ‘n subtiele benadering hou) maar aangesien ek deesdae nie meer vir meisies skoolhou nie, aanvaar ek dat hulle wel baie katterig en venynig kan wees wanneer die wêreld nie voor hulle neerbuig nie.

Uiters kykbaar, vir jonger sowel as ouer gehore – knap gedaan.

En hiermee, die einde van hierdie aflewering.

4 antwoorde op Silwerskermfees – aflewering vier

  1. tina10 het gesê op September 6, 2014

    Ek het al te lekker saam gekyk en geluister …
    Oud-leerders is ook altyd ‘n pluspunt

  2. Lekker gelees en dit sou ‘n ondervinding wees om dit by te woon.

  3. katrina het gesê op September 8, 2014

    @daniec Ja, dit was beslis ‘n baie interessante ervaring

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.