by

Silwerskermfees – aflewering drie

September 5, 2014 in Uncategorized

Met die aanvang van my tweede dag voel ek sommer al baie meer tuis in die opset van die fees, kaatjie van die baan (in my eie klein alleenkringetjie) – ek weet waar om te gaan registreer om my kaartjie vir die dag in die hande te kry, waar die Yskas is en waar die Rotunda is en dat ‘n mens voor die tyd ‘n lekker koppie koffie kan drink.

Vroegoggend was dit nog effens bewolk, maar nou skyn die son en die branders is nie meer so hoog en woes soos die vorige dag nie.  ‘n Mens kan nie anders as om daardie opwindende vakansiegevoel te kry wanneer jy die skuimende golwe, wit sand en die berg hoog bokant jou sien nie. Die hotel is verblindend wit en luuks in die oggendson en binne is die voorportaal byna leeg omdat meeste reeds vir hulle sitplek gaan soek het. Nog net ‘n paar bittereinders staan eenkant op die stoep en gesels, daar waar die mooi uitsig teen die berg is.  Ek maak nederig om verskoning voor ek een van die laastes is wat deurglip. Gelukkig is daar nog genoeg plek in die teater en ek gaan sit heel bo, agter, sodat ek sommer ook kan sien wat die gehoor aanvang.

Eerste op die kykspyskaart is die kortfilm, ‘n Liefdeslobotomie.Ek moet erken dat ek tipies van daardie mense is wat soms goeie dinge misloop omdat ek nie van ‘n titel hou nie. (Ek het byvoorbeeld vir twee jaar lank uitgestel om die boek My year of meat te lees, net omdat die titel nie veel belofte ingehou het nie). Ek was dus aangenaam verras met die verhaal en die akteurs – die bleeksiel wat daarvan hou dat alles in sy wêreld georden en perfek is en sy ekstrovert vriend wat ‘n bietjie balans in Zander se lewe wil bring (Eddie de Jager en Solomon Cupido). Ek dink die twee het die onderspeel en die oorspeel-balans nogal goed reg gekry. Terwyl ek so gesit en kyk het, het ek daaraan gedink dat ‘n kortfilm nogal heel dikwels soos ‘n gedig is – ‘n mens het ‘n beperkte tyd/hoeveelheid woorde om jou storie te vertel en dit moet so gedoen word dat jou kyker/leser tussen die lyne moet kyk en lees, ook pro-aktief  betrokke moet wees. Dis nou sonder daardie lang, sielswroegende analises oor die fyn nuanses wat net raakgesien kan word wanneer ‘n film weer en weer gekyk word. Die gehoor moet terselfdertyd nie oor- of onderskat word nie. Maak ‘n mens dit vir die ‘chosen view’ of vir die massa, of is daar elemente vir elkeen van hierdie groepe?

Die paneelbespreking na die tyd was ook baie interessant en insiggewend .

Voor die volgende kortfilm het ek weer ‘n sagte sitplek in die foyer gaan soek waar ek kon kyk en luister, koffie drink. Langs my het een van die jong aktrises van ‘n ander kortfilm gesit en ek het met haar ‘n geselsie aangeknoop. Sien, ek is al in daardie stadium in my lewe wat ek ten spyte van myself, met vreemdelinge kan gesels en so altyd iets interessants hoor. Hoe ouer ‘n mens raak, hoe meer loop ‘n mens die gevaar dat jy so selektief met jou vriende en geselskapkeuses raak dat jy onwillekeurig jou grense algaande nouer begin trek.

Die volgende kortfilm, Neem my saam, het my tussendeur aan die dink gesit oor die verskillende maniere waarop mense krisistye in hulle lewens hanteer en oor die vermoë van ‘n mens se verbeelding om ‘n ander werklikheid vir jouself en ander mense te skep. Goeie akteurs, goeie storie, die moeite werd om te sien. Ek moet egter hier ook byvoeg dat ek ‘n bietjie gewonder het oor die doel van Hannah (Jenna Dunster) se super-preutse, vreemde kleredrag. Ek vermoed dat dit haar sonderlinge, unieke karakter versinnebeeld het, maar dit het my aan die begin nogal laat kopkrap. ‘n Pluspunt was dat ‘n sensitiewe onderwerp nie oordrewe-emosioneel aangebied is nie en ‘n ander-hoek-benadering gevolg het.

Daarna het ek ‘n lang breek gehad voor die volgende kyksessie en besluit dat ek nie hierdie keer weer in my hotelkamer gaan sit en koerant less nie.  Ek het reeds op die eerste middag wat ek by die hotel aangekom het met ‘n vrou ‘n geselsie aangeknoop wat toevallig ook daar was om die Silwerskermfees by te woon. Sy was van doer ver in die Noordwes en haar seun se kortfilm het gewys (ek het dit ongelukkig gemis omdat ek Donderdag eers begin kyk het). Vrydagoggend gedurende ontbyt het sy en die twee meisies wat saam met haar was vertel hoe hulle die vorige dag bus gery het en ek het besluit dit klink na ‘n goeie idee. Die Kampsbaai-biblioteek was op pad na my hotel toe en daar het ek gaan uitvind oor kaartjies. Die jongman wat daar werk het gesê dat die taxi’s eintlik goedkoper is en ek het sy raad probeer volg, maar toe by die duur taxi’s uitgekom. Anders as hier waar ek bly en in Gauteng, moet ‘n mens raai watter minibusse taxi’s is, dus het ek eerder ewe beskroomd teruggegaan en maar ‘n buskaartjie gekoop.

Die bushalte was reg voor die hotel en ek het omtrent net twee minute gewag voor die volgende bus opgedaag het. Net daar het ek daardie Europese gevoel gekry – deels omdat die City Bus-busse net soos dié oorsee lyk, maar ook omdat ek oombliklik in ‘n ander wêreld met ‘n ander perspektief geplaas het. Ek het daar net weereens besef dat ‘n mens se ervaring amper geïsoleerd is wanneer jy uit die gerief van jou eie motor met jou oog op die pad na ‘n spesifieke bestemming op pad is en dan net verkeersligte en prominente bakens raaksien.

Dit was vir my ‘n openbaring  om te sien dat ‘n mens wel nog in die strate van die middestad kan rondloop – iets wat jy beslis nie meer in Johannesburg, Pretoria en Durban kan doen nie en iets wat ek so ongelooflik mis wanneer ek daar is. Winkelsentrums is vir my so kunsmatig, sonder karakter, het ‘n oormaat glans en ligte en is in ‘n sekere sin amper pretensieus en onpersoonlik. Ek het met die vrou wat langs my op die bus gesit het begin gesels en kort voor lank veel meer oor die hoe en die wat van Kaapstad uitgevind.  Die roete wat die bus volg is ook iets besonders en ek kon net sit en ontspan, dit geniet en soos ‘n wafferse toeris foto’s neem en my verwonder aan alles.

Ek het besluit om Waterfront toe te gaan en moes mooi uitvind waar om af te klim en oor te klim. Teen die tyd wat die bus in daardie area gekom het, het ek weer vir die bestuurder raad gevra en die volgende oomblik sien hy ‘n ander bus wat reg voor die sentrum sou stop en net daar toet hy vir die bus en kon ek gou uitklim en oorklim.

Ek het ‘n bietjie deur die sentrum geloop en toe middagete bestel, waarna ek vir ‘n lang ruk net rustig na die mense en hulle bedrywighede gesit en kyk het voor ek weer terug bushalte toe is, effens benoud of ek al die instruksies oor hoe om weer in Kampsbaai te kom, sou onthou. Ek moes ‘n rukkie wag, maar toe is dit weer net voorwaarts, terwyl ek so lekker luister na die gesprekke van die jongmense om my. By Queens-bushalte moes ek oorklim en ontdek toe eers dat die busbestuurder dieselfde een as die oggend s’n was.  Hy het so ewe saam met my uitgeklim enmy na die man toe geneem wat as ‘rigtingwyser-cum-algemene raadgewer’ daar dien. My bus sou eers oor ten minste tien minute arriveer en weereens het ek ‘n geselsie aangeknoop. Dit was baie interessant om te hoor hoe vroeg hy soggens moet opstaan en hoe sy skofte en dinge werk én dat hy ‘n vriend het wat nes ek, ook in KwaZulu-Natal bly. Die rit terug Kampsbaai toe was net nadat die skole vir die dag gesluit het  en daar het dus heelwat skoolkinders ook opgeklim. So in my enigheid het ek hulle met die seuns in my klasse vergelyk en tot die gevolgtrekking gekom dat tieners oral maar dieselfde is.  Ek kon amper nie sien waar ek weer moes afklim nie omdat daar ‘n klompie om my gestaan het, maar gelukkig het ek reg geskat en by die bushalte naaste aand fees afgeklim.

Hierdie busritervaring het my dag absoluut gemaak en ek was so bly dat ek dit kon doen. Ek is nou sommer lus om Kaapstad my volgende vakansiebestemming te maak en die plek saam met my gesin plat te loop. Reis is darem maar ‘n lekker ding, veral as daar ‘n goeie skeut onsekerheid met die opwinding vermeng word…

DSCN3408 DSCN3417 DSCN3418

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.