by

Silwerskerm – aflewering twee

September 2, 2014 in Uncategorized

Na iBokhwe bly almal sit en ek vind uit dat dit is omdat daar drie kortfilms direk na mekaar gewys word. (Ek het dit nie geweet nie, gedog ‘n mens kies een en dis klaar.) Dan kom daar onverwags iemand verbygeloop wat ek ken, om in die sagter sitplekke heel voor te gaan sit. Ek het in ‘n stadium vir hom ‘n e-pos gestuur toe ek uit desperaatheid nêrens ‘n plek kon kry van waar ek kaartjies vir die fees kon koop nie. Hy het ook nie geweet nie, maar gesê dat ek met hom moet kontak maak, wanneer ek daar is. Ek het dus gou gaan groet en terwyl ek nog met hom gepraat het, het die volgende kortfilm begin wys.

Wat ek nie in my eerste ‘aflewering’ vertel het nie, was die stryd om alles vir die fees gereël te kry. Toe ek einde Mei die groenlig kry om te kom, moes ek bedrae vir die begroting voorlê, maar kon dit nie doen nie omdat ek absoluut niks oor die fees kon opspoor, behalwe inligting oor verlede jaar s’n en toe later ‘n uitnodiging aan filmmakers vir inskrywings. Ek het kort-kort die soekwoord op Google ingetik, maar steeds was daar niks nie. Einde Julie was daar uiteindelik ‘n datum vir die fees, asook die inligting dat dit in Kampsbaai gehou sou word.  Kaartjies vir die fees was nog ‘n groter dilemma en ek moes plek op die vliegtuig en in ‘n hotel bespreek in die hoop dat ek wel kaartjies in die hande sou kon kry. Uiteindelik, skaars twee weke voor die aanvang, sou dit die Maandagoggend om tienuur oopgestel word. Ek het dus daardie oggend met saalopening stokkiesgedraai sodat ek met my oë vasgenael op my rekenaarskerm kon sit…

Die tweede kortfilm was, uhm, nie heeltemal my keuse nie.  Ek gaan dus nalaat om my beskeie meninkie daaroor te gee, behalwe om te noem dat dit nie jou tipiese kommersiële filmpie was nie, met ‘n titel wat my laat onthou het van my kinderdae toe ek nie kon verstaan hoekom die grootmense altyd gelag het oor die outjie met die naam van Orgie nie. Nou verstaan ek, natuurlik…

Ek sou die kortfilm onder die ‘kunsgenre’ klassifiseer, meer spesifiek die tipe tema wat jou noop om so ‘n neutraal moontlike, wêreldwyse en ‘ek is gewoond aan alles’ uitdrukking op jou gesig te hê wanneer die ligte aangaan. Meanwhile, back at the ranch…. wonder jy waaroor dit eintlik gegaan het en besluit jy einde ten laaste dat indien jou mening daaroor gevra gaan word, jy een of ander vae, niksseggende, alles-insluitende woord of twee sou uitdink.   Enigiets meer as dit mag dalk net jou oningeligtheid laat deurskemer en sou dus nie veilig wees nie. (Niemand het my mening gevra nie, so tussen hakies)

My twee metgesellinne is intussen deur die skare opgeslurp en aangesien daar nog ‘n rukkie tyd was voor die middagsessie, het ek gou by die Pick n Pay op die hoek ingeglip om iets vir middagete te koop.  Terug by my hotel het ek my skoene uitgeskop en die ongelooflike uitsig geniet. Ek was baie gelukkig om plek in hierdie hotel so na aan die feesvenue te kry en dit sonder dat ek dit spesifiek so beplan het.  Boonop, het ek ontdek, is dit veilig om op my eie hier rond te loop en is daar ‘n hele rits eetplekkies binne ‘n radius van ‘n kilometer. Dit is ook reg by ‘n bushalte (hieroor skryf ek ook later) en naby genoeg om sommer na die fees toe te stap.

Kwart oor drie het die volgende kortfilm, hierdie keer genadiglik in die Rotunda, gewys. Die film, Iemand Anders, met ‘n doodgewone ou met ‘n ongewone probleem, naamlik dat hy heeltyd voel dat hy iemand anders is en dit sy lewe so omverwerp dat hy hulp moet kry en hierdie hulp kom op die ou einde van iemand met presies dieselfde probleem. Die op die oog af humoristiese aanbieding loop parallel met die dieper filosofie van gesimuleerde werklikheid en gee die kyker dus heelwat om aan te herkou.

Wat baie interessant omtrent die Silwerskerm is, is dat die regisseur, draaiboekskrywer en betrokkenes van die kortfilms na die tyd voor op die podumpie gaan sit waar daar vrae aan hulle gestel word en die gehoor ook ‘n kans kry om òf self ook vrae te stel, òf om kommentaar te lewer. Dit is hierdie aspek van die hele ervaring wat dit ‘n ander perspektief gee en wat ek seker is, baie beteken vir die jong filmmakers. Terugvoering is ‘n belangrike aspek vir enige kunstenaar en glo ek, ‘n goeie motivering om voort te gaan en verdere uitdagings te skep en aan te pak.

Volgende op my kyklysie was Juweeldiewe, wat ek ook baie geniet het. Tinarie Van Wyk Loots pas so goed in die rol – sy het net die regte, eksotiese voorkoms daarvoor en is ongelooflik mooi in die kortfilm. Die genre is neo-noir en ek het daarvan gehou – dit skep die regte atmosfeer terwyl daar ‘n goeie balans is tussen fyn humor en spanning wat geskep word. (Goed, nou gaan ek nie verder met beskrywings en dinge uitkom nie, ek is uit my vaarwater…)

Met ‘n hele ruk voor die halfnege fliek tot my beskikking, is ek terug hotel toe waar ek  deur die dag se komplimentêre koerant geblaai het en vir myself spoegslegte plastiekkoffie gemaak het. Intussen het die hemele oopgegaan en het dit met ‘n gejuig begin reën. Ek het my daarop voorberei dat my goedkoop pers sambreeltjie beslis nie die elemente sou oorleef nie en het beplan om met die motor te ry. Groot my verbasing dus toe ek onder kom en ontdek dat dit ophou reën het – die Kaap, blyk dit, is lekker wispelturig.

Die film was Die Spook van Uniondale.  Nou ja, deesdae is dit mos die in-ding om so half beterweterig langs ‘n mens se neus af te kyk en hoogdrawend te sê, met so ‘n warmpatat-aksent: “You know, everybody is a critic. And an author. And a professional photographer…”, want sien,  die feit dat ‘n mens blitsige foto’s kan neem en dit dan durf waag om dit op verskeie platforms te deel, is mos ‘n diskwalifisering. Soos iemand wat per ongeluk sy aflosstokkie laat val het of oor die wit streep getrap het.  Of as jy ‘n fliek gesien het, maak dit beslis nie van jou ‘n resensent nie. Dus: resensente, belanghebbendes, lees verby, ek is maar een van vele. Belangstellendes:  neem dit met ‘n knippie sout, maar… rêrig… ek het gespóók om deur daardie fliek te sit.  Natuurlik is daar ‘n paar faktore wat daartoe bygedra het en ek noem hulle op, in geen spesifieke volgorde van belangrikheid nie:

  • Die fliek het in Die Yskas gewys…
  • My boude was deurgesit en die storie is uit-ge-rekkkkkk
  • Hoekom, o hoekom, is dit nodig om ‘n SANGER as akteur te gebruik? (Is dit om mense te lok? Het hulle geen vertroue in hulle akteurs of die publiek nie?)
  • Te veel paralelle stories! (Dis amper soos ‘n skrywer wat al sy kwinkslae, kennis, stories in één verhaal probeer sit!)
  • Tobie Cronjé, ongelooflike akteur, maar… ai, maak eerder ‘n fliek waarin sy karakter die volle aandag kry. Te veel spoke!
  • Verspotte effekte wanneer spoke ‘verdwyn’…
  • Plek-plek oordrewe karikature van karakters.
  • En dis dit. Sela, amen, gaan kyk maar self.
  • Naskrif: Daar was ‘n pakkie spookasem vir elkeen in die gehoor – oulike idee.

Dit was ‘n verligting toe die fliek uiteindelik klaar is, maar, moet ek byvoeg, ek is nie spyt dat ek dit gesien het nie.

Einde van aflewering twee.

NSS: Sorrie.

DSCN3425

11 antwoorde op Silwerskerm – aflewering twee

  1. tina10 het gesê op September 3, 2014

    Ek sal maar die spook verby vat…

    • katrina het gesê op September 3, 2014

      @tina10 Kyk maar eers na resensies daaroor – alles hang af van ‘n mens se persoonlike filters – voor jy finaal besluit of jy dit gaan kyk of nie. Ons verskil heel dikwels baie in terme van ons verwagtinge oor iets. Jy gaan tien teen een ook positiewe terugvoer daaroor kry.

  2. spokie het gesê op September 3, 2014

    @katrina
    Ek hoor hul sê dat ‘n land se filmstandaard gemeet kan word aan sy humoristiese flieks kwaliteit – en die was blykbaar nie te sleg hierdie jaar?

    • katrina het gesê op September 5, 2014

      @spokie Die stelling bevat nogal elemente van waarheid. Dit is egter ook meestal ‘n geval van die persepsie wat die filmmakers oor die kykerspubliek het en dan is daar natuurlik die teiken-faktor ook: wil jy ‘n goeie film maak, of wil jy ‘n lokettreffer produseer? En ja, minder humoristiese aanslae gewees, maar ek dink ook dat die fliekganger by die fees se humor dalk ‘anders’ is – dit was interessant om te hoor waar mense sou lag vir iets wat gebeur. Ek self hou meer van ‘n subtiele humor, weereens, natuurlik, subjektief.

  3. @katrina, ek het nou baie lekker gelees aan jou ervarings by die Silwerskermfees! Ek plaas dit op LitNet se tuisblad en nuusbrief ook, as jy nie omgee nie …

    • katrina het gesê op September 5, 2014

      Alles reg – solank die wat lees net besef dat dit totaal en al my persoonlike indrukke en gevoelens is. Daai ding van: “A closed mouth gathers no foot” is soms goeie raad… Bly jy het die lees geniet. 🙂

  4. Katrina,wat is neo-noir?
    Ek geniet hierdie vertellings.

    • katrina het gesê op September 5, 2014

      @perdebytjie Sjoe, moeilike vraag wat ek uit my leke-oogpunt gaan probeer beantwoord! Die woord ‘noir’ is, soos jy seker raai, ‘n Franse woord wat ‘swart’ beteken. Ek dink dit kan kortliks opgesom word met ‘n film wat ‘n misdaadstorie sowel as ‘n ‘femme fatale’ bevat. Die ‘neo’-gedeelte is dus soort van ‘n herlewing daarvan en regisseurs druk natuurlik hulle eie stempel daarop af. My eie idee daarvan (ek het maar slegs minder as ‘n handvol gesien) is dat dit ongelooflik atmosferies is. Ek onthou ‘n paar jaar gelede by TUT se filmskool het een van die studente daar ‘n kortfilm gemaak wat hy soos die destydse film noir in swart-en-wit geskiet het en ek was erg beïndruk daarmee. Juweeldiewe het die misdaadstorie en die ewige verleidster wat hoegenaamd nie onderskat moet word nie, gehad. Plus, uitstekende beligting- (volgens my kykers-opinie) en kamera-as-verteller, musiek en die dialoog het alles nie oordonder nie. Die kyker raai, maar word ook nie onderskat nie. Weet nie of dit jou vraag beantwoord nie…

  5. vega het gesê op September 5, 2014

    Nou so lekker gelees. Sou wat wou gee om so iets by te woon. Heelwat van die nuwe jong
    filmmakers was saam met my kinders op skool hier in Jhb. Baie opwindend hoe lewendig die Afrikaanse filmbedryf deesdae is.

  6. katrina het gesê op September 5, 2014

    @avega Daar is beslis ongelooflike talent onder hierdie jongmense en ek is so bly dat meer van hulle nou geleenthede kry. Nou moet ons net ook daardie outjies kry wat genoop was om ander weivelde te soek toe die filmbedryf so ‘n rukkie terug maar min kanse gebied het.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.