by

Silwerskerm deur my oë…

September 1, 2014 in Uncategorized

The Bay Hotel DSCN3408 DSCN3403Dis Donderdag en ek sit in die voorportaal van die luukse Bay Hotel in Kampsbaai, Kaapstad.  Ek vermoed ek smelt so min of meer saam met die res van die filmfeesgangers wat opgewonde orals in groepe staan en gesels, maar ek weet ek is waarskynlik een van die min on-filmmense wat hier rondhang. Of rondstaan. Of rondsit…

Miskien is dit ‘n voordeel om die objektiewe waarnemer te wees. Nie dat enige mens ooit volkome objektief kan wees nie – ek self sit hier met my stille vooroordele, idees, kwessies en verwysingsraamwerk.

Maar waar kom ek vandaan en hoe het ek hier beland? Ek is ‘n onderwyseres en ek stel belang in films en ‘n kollega het aanbeveel dat ek dit deur middel van ons departement se personeelontwikkelingsbegroting doen. Die woord self is waarskynlik al groter as die begroting self, maar deur welwillendheid en aanmoediging ten spyte van my aanvanklike onwilligheid, bevind ek my nou hier tussen die wie is nou eintlik wie in die Afrikaanse filmbedryf.

Terwyl ek almal so gade slaan en so wêreldwys as moontlik probeer lyk, kan ek myself skop dat ek my so met die tyd misreken het.  Ek kon ‘n halfuur langer in my hotelkamer, skaars ‘n blok hiervandaan, ontspan het voor ek weer die volgende sessie aangedurf het, maar nou ja, vir nou hou ek myself besig met ‘n paar notas in my self-ontwikkelde snelskriffie.  (Miskien lyk ek soos ‘n resensent of ‘n joernalis – ek moet erken dat ek al ‘n paar nuuskierige kyke na my kant toe opgemerk het. Wat ‘n teleurstelling sou dit vir hulle wees om te ontdek  dat ek nie iemand ‘famous’ of ‘fabulous’ of ‘amazing’ is nie! ) Helaas, ik ben een bruid, een anonieme aanhanger van die bewegende prentjiemedia. Ek het vroeg al in my lewe daaraan gewoond geraak dat ek so ‘n supermarkrakgesiggie het wat mense altyd aan iemand anders herinner, selfs aan bekendes.  Ek skat dit is wat gebeur na geslagte lange Europese oorsprongvermenging hier aan die Suidpunt van Donker Afrika.

My hand raak skoon lam van al die skryf – my vingers het al vergeet hoe dit is om ‘n pen vir meer as ‘n paar regmerkies en ‘n paar lukrake sinsnedes in opstelkommentare vas te hou. Anders as Lisa se klavier ken hulle slegs die pad op ‘n rekenaarsleutelbord en is hulle geoefen in mikrobewegings van die spiere aan die bokant van my hande wanneer ek daagliks met die kliek van ‘n muis die rekenaar- en kuberwêreld betree.

Terug na my onbetrokke gesig en effe minsame glimlag waarmee ek die skare bekyk – as daar iets is soos klatergoud, kan die term klaterskets seker nie ver verkeerd wees as ek so half-sinies na die gesprekke om my luister nie. Die stem in my kop is dié van buitestaander en nie-deelnemer wat hopelik die kuns aangeleer het om nie te veel uit plek uit te lyk nie. Kort-kort is daar uitroepe van blye verrassing en opgewonde weersiens, gevolg deur innige drukkies en soentjies op die wange, (Bladskud is nie aan die orde van die dag nie – hier is ‘n netwerk van ken-mekaars saam vergader.)

Ek het vanoggend net na nege-uur geregistreer en word nou as mede-filmfeesganger geag. Ek het die trappe na die foyer van die hotel met selfvertroue bestyg, volgens my eie beskeie mening, waar ek eers moes vra waarheen om te gaan en so effe verdwaal het om al die hoekies en draaitjies na die ‘Tent’ toe waar Suurlemoen sou wys. Op elke sitplek is ‘n klein suurlemoengeel blikkie waarop Suurlemoen se logo gedruk is, met klein wit lekkertjies binne-in.

Ek herdoop die plek onmiddellik na ‘Die Yskas’ toe. Die Kaap van Storms is besig om sy naam gestand te doen en my aanvanklike gedagte dat dit werklik nie so erg koud is as wat voorspel is nie, het gou verander toe die wind begin waai het en ek ‘n rukkie lank stilgesit het.  Die koue glip deur elke skrefie en gaatjie en later is dit moeilik om te konsentreer en blymoedig te bly. Boonop tref dit my (soos gewoonlik!) dat die langste persoon in die saal reg voor my sit. Wel, as ek moet erken, daar is waarskynlik nie veel feesgangers wat korter as ek is nie, maar die skoolsaal-idee is beslis nie ‘n wenner nie. Dis in sulke tye wat die immergewilde doktersfrase van ‘dit behoort effens ongemaklik te wees’ by my opkom – dit vertel mos nie die volle verhaal van wat sal volg nie…

Die draaiboek verskil nogal van Jaco Jacobs se gelyknamige roman waarop die film gebaseer is, maar vir die seuns wat altyd vra: “Is there a movie on this, Mevrou?” behoort dit kykbaar te wees. Dit sal interessant wees om te sien wat hulle daarvan dink.  Ek persoonlik sou dalk die twee seuns in die hoofrolle omgeruil het, maar dis nie noodwendig wat ander sou doen nie. Ek is, na alles, nie ‘n filmresensent nie en probeer met ‘n kykersvriendelike oog kyk. Ek het die uitbeelding van Zane net meer gemaklik as die van Tiaan beleef. Laasgenoemde se gesig speel nie altyd saam met sy woorde nie en wanneer die kyker se hart die byspeler kies, is dit nie juis ‘n pluspunt vir die fliek nie.  Iets waaraan ek ‘n kleintjie dood het, is wanneer die kyker onderskat word en akteurs wat duidelik diep in hulle twintigs is (in ander flieks soms selfs ouer) gebruik word om skoolkinders uit te beeld. Dit benadeel beslis die natuurlikheid en geloofwaardigheid van die karakters.

Na Suurlemoen tros ons uit terug na die warmer voorportaal waar ook koffie bedien word en dis net hier waar ek die eerste bekende gesig raaksien – ‘n medeblogger wat ek geweet het Saterdag hier sou wees maar toe vandag reeds opgedaag het. Ek stel myself voor as Katrina van die blogs en vir die volgende halfuur kon ek deel van ‘n klein aangename groepie wees – haar niggie is saam met haar daar en hulle gaan vanmiddag na haar seun se kortfilm kyk.

Hierdie ‘keuse-storie’ is miskien een ding wat ek as kritiek teen die feeskomitee het – toe ek die e-pos kry wat my uitnooi om vooraf te kies waarna ek wou kyk, het ek deur die program gegaan en beskrywings van al die bestaande films, kortfilms, lang films en dokkies gekyk en sommer lukraak besluit wat ek wou sien.  Dit sou nogal gehelp het as hulle vooraf gesê het wie die regisseur, akteurs en so aan sou wees sodat ‘n mens ‘n meer ingeligte keuse sou kon maak.

Ek het oorspronklik iets anders gekies om in dieselfde tydgleuf te kyk, maar het dadelik van plan verander.  Die drie van ons het sagte sitplekke gekry waar ons die tyd tussen twee kortfilms verwyl het met kennismaakgesels. Volgende op hulle lys is iBokhwe, en ek besluit om dit saam met hulle te gaan kyk Ons mis ‘n sessie voordat ons weer in die Yskas gaan sit. Ek moet weer tussen twee koppe voor my deurkorrel, maar ‘n rukkie raak ‘n mens min of meer gewoond daaraan om die silhoeëtte op die onderste kwart van die skerm te ignoreer.  Dis ‘n intense kortfilm, insiggewend wat die inisiasie van swart seuns in Suid-Afrika vanuit ‘n ander oogpunt beskou. Ek vind dit interessant om iets wat selde meer as ‘n kommerwekkende kort beriggie in ‘n koerant is, vanuit ‘n ander perspektief te beskou.  Ek gaan my egter nie verder uitlaat oor gehalte en kykbaarheid en al die tegniese aspekte nie.  Interessant behoort ‘n hele paar indrukke te dek.

Nou eers terug na die werklikheid toe – dis Maandag! Ek skryf binnekort weer oor die res…

7 antwoorde op Silwerskerm deur my oë…

  1. spokie het gesê op September 1, 2014

    @katrina
    Snaaks, ek het ook nooit daarvan gehou as ouer spelers die rol van skoolkinders vertolk. Lesers en kykers is nie maklik flousbaar. Selfs al ruil hul akteurs (wat redelik na mekaar lyk), is dit eerder vir my aanvaarbaar.
    Ja, hier in die Limpopo was dit ook winderig, koud en stowwerig oor die naweek gewees.

  2. katrina het gesê op September 1, 2014

    @spokie Mense is dalk te bang om kanse met die jong akteurs te vat. Daar was darem ander wat dit wel gedoen het en suksesvol was. Hoop dinge lyk al beter daar in Limpopo – hier in KZN was dit steeds snerpend koud toe ek huis toe kom.

  3. tina10 het gesê op September 2, 2014

    Grinnik … ek het nuus vir jou – as mens aftree dan wil jou vingers vir ‘n ruk lank nog kruisies en regmerkies maak, maar daarna verleer jou hande heeltemal om te skryf.

    Ek is eintlik vreeslik jaloers … ek sou graag eendag so filmfees wil beleef, maar ek sou beslis leiding nodig gehad het. Ek sien uit na die volgende aflewering.

  4. O, dis baie interessant – jy moet ‘seblief gou weer verder vertel!

  5. katrina het gesê op September 2, 2014

    @frandr Bly jy geniet dit!

  6. Dis baie interessant!Eintlik is jy as buitestaander en gewone filmkyker,’n beter kritikus,as die ouens wat té betrokke is.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.