by

Ant Grieta

November 19, 2012 in Uncategorized

Die jaar is nou op ‘n drafstappie en een van die dae, soos Modderkoekie tereg gesê het, sien ons net die stofwolkies wanneer ons so oor ons skouer agtertoe loer. Wil ek hierdie jaar in oënskou neem? Nie regtig nie. Net dankbaar dat dit nie meer verlede jaar hierdie tyd is nie. Dankbaar dat ek nie ‘n kristalbal het waarin ek vingers van onheil sou kon raaksien nie.

Ek het ‘n Antie Grieta gehad – my pa se tante. Noudat ek daaraan terugdink, ‘n ietwat vreemde vrou, eksentriek. As kind het ek altyd ‘n heilige ontsag vir haar gehad. Sy was lief vir haar sigaret en sy was lief vir haar tee, baie sterk tee wat sy in die skemer van haar kombuisie met die uitgetrapte Novilon-tapyt gedrink het. Daardie tyd was ek nog jonk en verveeld daar op die plaas en dan het ek die stofpad gevat om vir Ant Grieta te gaan kuier. Ek was onvergenoegd met die lewe, nuuskierig oor die toekoms wat ver en vreemd op die horison gewuif het. Tog ook huiwerig  om té veel te hoor van dit wat voorlê.

Sy moes vermoed het dat dit eerder om die halsbandjie as die hondjie gegaan het – haar sterk tee lê nou nog bitter in my mond – maar sy het geduldig diep in die koppie in gestaar, na die blaarpatroon getuur en dan gewys, met haar krom voorvinger, haar rokerstem: kyk daar, kan jy sien? Gmf, die hen wat op ‘n hele nes vol eiers gelê het en glo rykdom voorspel het, was toe ver uit. My rykdom lê vandag nie in goue muntsukke nie, maar wel in ander dinge waarvoor ek dankbaar is en nie anders sou wou gehad het nie.

Ons sou ‘n hele agtermiddag so in die kombuisie verwyl – sy al teugend aan ‘n sigaret en haar oë wat baie ver kyk, haar gedagtes ver terugvoer na die teleurstellings in haar lewe. Buite het die tarentale se kruiwawielskreeugeluide soms irriterend lank getalm. As die melkemmers begin klingel het en die skape en beeste in die laatmiddagson die voetpaadjies stofgetrap het, was dit tyd om weer huis toe te gaan. Doer in die Wes-Transvaal met sy vlaktes en bossies en wit gruispaaie …

Ek wonder of haar huisie nog staan?

3 antwoorde op Ant Grieta

  1. tina10 het gesê op November 19, 2012

    Wens ek sulke mooi woordprentjies optower soos jy

  2. nou die dag by ou vrou en haar kaarte verby gestap terwyl jonger vrou oorkant haar baie aandagtig luister. Opnuut besef dat ek my lewe lank al na ‘n fortuinvertelster wou gaan en dit nog nooit gedoen het nie. 🙂

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.