by

Bloguitdaging – my gunsteling tuisplekkie

November 18, 2012 in Uncategorized

Modderkoekie se uitdaging het my letterlik en figuurlik op ver paaie geneem.  Eerstens moes ek behoorlik rondsoek om uit te vind wat presies die uitdaging was – lieven loven, ‘n mens wil mos nou nie elke keer ‘n webadres gaan intik wanneer jy iemand soek nie. Mens sou sweer die blogs is ‘n staatsdepartement waar jy van die een skakel tot die volgende verwys word voordat jy op die regte plek uitkom!  Laat my nou ook sommer onthou van ‘n voorstel wat ek aan die geheimsinnige tegniese webadminspan  wil maak – hoe moeilik is dit om die TUIS-opsie wat op elke blogger se blog voorkom so te maak dat dit teruggaan na blogs.litnet.co.za   toe? Op die oomblik is dit elkeen se eie tuiste waar ‘n mens REEDS is die TUIS waarna verwys word.  Laat my dink dat ‘n mens met Jan Tuisbly se karretjie ry!

Terug by die begin.  My gunsteling wees-plekkie is veral soggens hier voor op my stoepie.  My uitsig is beperk – ek sien die groot bome en die grasperk en as ek links kyk, my bure se tuin.  Gelukkig het hulle ‘n baie mooi tuin. Dis ook daardie stukkie uitsig waar ek die sonsondergang kan sien en daarvan het ek al ‘n hele paar mooi foto’s geneem.

Die lekkerste van my plekkie hier is om na al die klanke te luister. Vroegsoggens wanneer die res van ons gemeenskappie nog slaap hoor ek net die voëls en so nou en dan ‘n trein wat doer onder verby ry voordat die klank vir ‘n minuut of twee in die leegtetjie verdwyn en jy dit weer hoor wanneer dit ‘n s-draai maak en teen die bult uit sukkel.  In die somer sit ek en drink my eerste beker koffie van die dag daar. (Ek het een keer met beker en al daar afgevoeter en die arme blomme platgeval toe my stoel te na aan die randjie was! Gelukkig het ek die ou bekertjie in die lug gehou en het daar net ‘n klein bietjie koffie gestort. 🙂

Laat agtermiddag is ook ‘n lekker rustige tyd met die skaduwees wat lank word, somergeure  en die klanke wat van onder af hiernatoe dryf. Krieketballe wat teen kolwe klap, nou en dan ‘n uitroep van iewers, die bure se drie seuntjies wat op hulle grasperk speel, ander bure se honde (uiters irriterend!) wat deur ‘n gat in die heining glip en vir almal blaf, huiswerkers wat onder in die straat verbyloop, jong mammies op ‘n wandeling met hulle babas in stootwaentjies, kleuters op fietse of skaatsplanke en so nou en dan ‘n kar wat verbyry.

 

Die uitdaging het my ook aan my gunsteling foto’s laat dink. Heelbo aan die lys is die een wat in 2005 geneem is toe Manlief ‘n kursus in Llubljana, Slovenië aangebied het en ons hele gesin daar was. Tweeling was toe elf jaar oud, maar het elke dag by die kursus ingesit en saamgesing.  Tussendeur het hulle hulleself altyd besig gehou wanneer daar ‘n pousetjie was.  Op hierdie een was pa besig om iets met die oudste te bespreek terwyl E sy eie pret in die agtergrond gehad het!

Boetie se eie pret op die verhoog

Moeg geploeg – lê en luister op die verhoog

Wonder wat dink die outjie hier!

18 antwoorde op Bloguitdaging – my gunsteling tuisplekkie

  1. My gunsteling tuisplekkie ….. op my bed met ‘n boek

  2. Jy beskryf jou gunsteling afskakel/tuisplekkie so mooi met woorde, ek sien dit in my gedagtes en hoor die straatgeluide. Dankie vir die deelname 🙂

    • katrina het gesê op November 18, 2012

      @modderkoekie Ek het hoeka gedink ons moet ‘n bietjie weer bloguitdagings rig sodat mens kan weet waaroor om te skryf. Dit help nogal.

      • Ek was altyd mal oor die blog uitdagings, so dit is ‘n goeie idee ja om dinge bietjie optehelder. Dit is al asof daar ‘n slump is blog gewys.

        • katrina het gesê op November 18, 2012

          @modderkoekie Ek stem saam – daar is elke dag maar ‘n handvol inskrywings na die aanvanklike belangstelling met die oorskuif. Hier is baie wat lees en kyk wat aangaan, maar min opdaterings.

          • Wat van ‘n lekker storie skryf uitdaging?
            Met Kersfees ophande is daar heelwat om oor te skryf, uit elke blogger se unieke oogpunt. Van suikerstroop tot ‘n goeie ou kersfees spookstorie in die Dickensian tradisie? 😀 (Onthou nog so goed jou spookstorie bydrae by een van my challenges, dit was awesome!)

          • katrina het gesê op November 18, 2012

            @modderkoekie Klink goed. Wat van jy plaas ‘n foto van ‘n interessante plek of ‘n voorwerp (almal lees daar by jou!) waaroor die wat wil dan ‘n storie kan skryf, Kersfees of nie. Maak dit dalk ‘n weeklikse ding en’tag’ dit as bloguitdaging op jou blad sodat mens maklik die spesifieke inskrywing kan kry. Moet dit net nie te kort maak nie, LOL. Ek het behoorlik moes krap en knaag om my oorspronklike storie van 800 na 300 terug te kry!

          • Ek sal bietjie dink daaroor, dit is ‘n puik idee.

  3. Ongelooflik hoe mens bekers, glase, blikkies of watookal vol voggies in die lug kan hou wanneer mens val. Ek het al gesien hoe ‘n ou bottel-bier-in-die-hand in die see staan toe ‘n golf hom onderstebo slaan. In die holderstebolder harwar het alles van hom onder die water verdwyn, behalwe sy hand en die bottel bier wat hy wonderbaarlik reggekry het om regop te hou.

    • katrina het gesê op November 18, 2012

      @kelkiewyn / @sirpsa (Ek weet nie watter een jou verwysing sal optel nie!) Hahaha! Ek het nogal daaraan gedink toe ek oor die beker koffie skryf! Dis erg snaaks en ek kon nie help om agterna vir myself te lag nie 🙂

  4. Skielik laat jou stoepie my na Thomas en sy Kameeltjie verlang … klink heerlik rustig.

    • katrina het gesê op November 18, 2012

      @ts Dit is baie rustig en ek is gek daaroor om daar te sit. As die wind natuurlik nie waai nie… of as die son mens nie doodbak in die middel van die somer nie. Soggens vroeg is dit paradys. Laatmiddag laat daai simpel muggie-gedoentes wat so onder mens se rok of moue inkruip my egter nie toe om lank daar te sit nie 🙁

  5. maryna het gesê op November 18, 2012

    Met woorde het jy ‘n wonderlike, ontspanne atmosfeer geskep. Jy bars seker van trots oor die manne in jou lewe.

    • katrina het gesê op November 19, 2012

      @marynam Weet jy, ek is net altyd baie dankbaar dat hulle in my lewe is – goeie en slegte tye is dit ‘n voorreg om in ‘n naby-gesin te kan leef. 🙂

  6. Jou plek is so mooi, soos net jy dit kan beskryf!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.