by

Is jy ‘n snob?

Augustus 16, 2012 in Sonder kategorie

Vanaand kry ek eers weer kans om deur die blogs te blaai. Eintlik het dit begin met Litnet se nuusbrief – ek raak opgewonde oor “Die Wonderwerker” (het dit so twee weke gelede iewers raakgelees) en dan kyk ek ‘n bietjie verder. Dit voel vir my soos ‘n vreemde wêreld waarin ek my begeef, hier vanuit my kuber-realiteit, met my waarnemerstatus. Ek het nie regtig deelnemer-status nie.  Ek het nie status nie. 


Skielik tref dit my: die realiteite waarin ons leef is eintlik gefragmenteerd, bestaan uit tientalle sub-gemeenskappies…

Ons noem onsself Afrikaanses. Of Afrikane, Afrikaners.  Ons praat dieselfde taal, maar ons lewe nie dieselfde lewens nie. Parallel soms, maar selde in lyn. Ons skuur nie skouers nie.  Litnet se nuusbrief herinner my effens aan Top Billing – dit wat verbeeld word is hoog, verhewe. ‘n Realiteit wat net vir ‘n klein groepie uitgeleses beskore is.  Die literêre werke, die akademici, die gesprekke wat nie regtig vir elke Jan Rap en sy stadige, gewone maat bedoel is nie.  Ons, die praters, die bloggers, die lesers, is amper soos die gepeupel van ouds wat grootoog-bewonderend vanaf ‘n afstand kyk hoe koninklikes in hulle paleise feesvier …  Die skrywers, die digters (gepubliseerdes, let wel) is in ‘n ander kategorie. Hulle klink glasies by gesellighede, hulle praat met gesag oor die nuutste publikasies, raak filosofies oor Ons Taal, ons letterkunde….   

Soms is daar van hulle wat na die gewone mense uitreik – stig ‘n eksklusiewe Faceboekgroep waar hulle ‘n hegte eenheid van skrywers en kommentators vorm.  Soms nooi hulle die gewone mense uit om saam te praat, maar nie vir lank nie.  So stadig maar seker word die ‘gewones’, die wat nie kan bybly nie, uitgefilter.

Die blogs is ook aanvanklik met ‘n trompetgeskal aangekondig. Groot name, doer aan die begin. Maar toe hier te veel gewone mense saamkuier, het die ‘name’ verdwyn.  Miskien is daar nog ‘n paartjies ‘undercover’, wie weet.  G’n wonder ons word so effens eenkant toe geskuif nie. Een van die dae is hierdie forum ook maar weer net nog ‘n ‘iets wat was’.

Is ons Afrikaanse kultuur inherent ‘n snob-kultuur? En as dit so is, hoekom is dit so?  

45 antwoorde op Is jy ‘n snob?

  1. Neander het gesê op Augustus 16, 2012

    Groepsvorming en assosiasie is ‘n normale proses om rangordes in die gemeenskap te bepaal.
    Dit hang ook alles af waar jy jou tuisvoel.

  2. Ja, ek is ‘n snob!
    ‘n Grote.

    Ek meng NET met die ordinêre…die high en mighties is te laag na my smaak.

    🙂

  3. TS het gesê op Augustus 16, 2012

    Ek is met Lou op die een Ek praat met mense wat terugpraat.
    As mense dink hulle is beter as ek is hulle dalk reg maar dit bly hulle verlies!

  4. ek’s ‘n pleb , ‘n straatmusikant , ‘n draaksteker , ‘n resitasiestoker . onder andere . en ek lag vir die selfaangestelde akademiese grootkoppe wat die kring om hulself al nouer trek . in my mou .

  5. Sjoe jy stel dit mooi. Ja daar is party bloggers wat so neersien op ander en soveel “slimmer” is dat ek te bang is om kommentaar te lewer. Dis maar ‘n ding wat al baie lank onder die Afrikaner is. Toe ek destyds begin werk het moes jy as vrou nog met gender snobisme ook deel en baie daarvan dink ek het ‘n oorsprong in die kerk gekry. Die hoogheiliges.

  6. Ek is ook half sku om kommentaar te lewer. Vroeër was jy nie ´n goeie Afrikaner, daar in die wêreld waar ek opgegroei het, as jy nie Nasionaal gestem het nie, met Merino’s geboer het en ´n Mercedes gery het nie. Hier geld nou net ander norme, daarom is ek letterlik en figuurlik effe op ´n afstand.

  7. O, maar ‘die taal’ is bedreig….ek meen, netnoumaartjies is daar net mense sonder taalmeestersgrade, doktorale proefskrifte en/of bekroonde (of ten minste benoemde) gepubliseerde werke oor, om dit te praat…en oooo, droewige dag, wee my siel, hemel behoede…WAT dan? *fladder ooglede, wuif teatraal pols voor voorkop en val kamma flou neer*. Ek moet sê ek het anderdag in die ‘ou’ Litnetargiewe verdwaal, en dit WAS darem ‘n fees…voordat die ‘beweerde’ eksklusiwiteit les bes ingetree het. Ek meen, genoemde nuusbrief: sou dit nou soveel moeite wees om konsekwent elke maand die skakel daarna, vir ‘the great unwashed’ saam met ‘n ‘hallo mensies ons waardeer eintlik nog julle lojaliteit’ briefie op die blogs tuisblad te pos soos een keer tevore? JA EK WEET DIT WAS EENKEER GEDOEN EN AS MENSE DAN LYK OF HULLE NIE BELANGSTEL NIE IS DIT HULLE EIE LUIGEIT…maar…uhm…ek dink mens noem dit volhoudende bemarking, of soiets? Maar nee. Netnou lees te veel mense wat nie die moeite gedoen het om in te teken daarop nie (skuldig, ekke!) dit! Niks ‘van kwaliteit’ moet tog te toeganklik gemaak word nie! (Die ou taalsnobisme-sakie is mos een van my troetel-irritasies. Ek is nou skoon uitasem…)
    NS NB: great inskrywing Katrina!

  8. katrina het gesê op Augustus 17, 2012

    Tweesnydende swaard, eintlik – waar jy tuisvoel of waar jy voel jy is welkom? 🙂 En ja, dit word gedeeltelik bepaal deur jou eie verwysingsraamwerk ….

  9. katrina het gesê op Augustus 17, 2012

    ‘n Baie goeie filosofie. So leer ons gewones van mekaar en geniet ons mekaar. In daardie geval is ek ook ‘n snoP, met ‘n kappie op die O 🙂

  10. katrina het gesê op Augustus 17, 2012

    Goed gestel.

  11. katrina het gesê op Augustus 17, 2012

    En so beleef ons binnepret. Genadiglik dat ‘n mens ouer en wyser word en algaande meer gelyksoortiges in jou kring intrek – mense wat nie omgee dat jy hulle leer ken soos hulle werklik is nie.

  12. Neander het gesê op Augustus 17, 2012

    Nou laat jy my diep dink…
    Is dit waar ons is of waar ons wil wees?

    Mens kry ook snobs/ploerte op verskillende vlakke, die grootste seker finansieel, dan ook akademies, opvoedkundig, intellektueel.
    Dis alles deel van ons onvolmaakte sisteem.
    By die proto oermense het net die feit getel of jy kos en ‘n maat kan kry.
    Tegnologie en groter breine het die appelkar omgegooi.

  13. katrina het gesê op Augustus 17, 2012

    In retrospektief, gesien in die lig van die geskiedenis van die Afrikaner, dink ek dat al hierdie maatstawwe sekerlik geskep is om hulleself te beskerm. Net jammer dat dit ten koste van so ‘n groot meerderheid was. ‘n Gelukkige eksklusiewe groepie wat geen idee het van hoe die ander leef nie. Beslis iets wat na 1994 in die hek geduik het, want toe word ons in elk geval almal deur die buitewereld oor dieselfde kam geskeer – of jou pa nou ‘n gesiene man in die distrik was of ‘n ‘bywoner’. Bo of onder die spoor….. En toe kom die natuurlike behoefte om weer die kringetjie nouer te trek – hierdie keer met intellektuele snobisme. Jip, ook hier op die blogs is dit soveel makliker om die ‘gewone’ mens met ‘n eie waardesisteem vanuit ‘n anonieme gekkeparadysie te teiken… Ons skree diversiteit, maar ons optrede en woorde vernietig enigiemand wat nie saam skree nie…

  14. Neander het gesê op Augustus 17, 2012

    Latino (grinnik), wat is verkeerd met Merinos, Nasionaal, en ‘n Merc?

  15. katrina het gesê op Augustus 17, 2012

    Hehe, beter sou ek dit nie kon stel nie. Skerp, baie skerp!

  16. Neander het gesê op Augustus 17, 2012

    Ek geniet jou uitasemskrywe.

  17. katrina het gesê op Augustus 17, 2012

    Ja, die appeltjies rol nou in allerhande rigtings. Hopelik is die werklike voordeel van tegnologie en groter breine dat dit ons tot selfondersoek sal dwing. Sodra ons klaar ‘gespeel’ het en dit gewoon raak, kan ons dalk ‘n nuwe dimensie daarmee betree… Dink ek,

  18. Neander het gesê op Augustus 17, 2012

    Jong, jou blog fassineer my al meer.
    Ek wil eintlik nog baie sê, maar hoe meer ek dink, hoe meer besef ek dat sbobs en ploerte deel van ons samelewing moet wees om die verskeidenheid van genetiese samestellings te kan weerspieêl.

    Die alles gaan oor behoud.
    Die stakings en skietery by Lonmin gaan ook daaroor en dit gaan erger word, want hier is nie genoeg hulpbronne vir al die mense nie.
    Hef aan lê voor.

  19. katrina het gesê op Augustus 17, 2012

    Stof tot nadenke. Die Ons en die Hulle – en sommiges spring rond tussen die twee, afhangende van watter kant die brood gebotter is. En almal het brood broodnodig… Nee sjoe, heeltemal te veel dink vir so vroeg op ‘n Vrydagoggend…

  20. I find it difficult to express myself, hence the lack of writing on my blog. I love the bloggers and the blogs on LitNet because it represents real people with real stories. I know that it is actually not, cuber space and all that jazz, but the longer you write the more difficult it is to hide your values and character. In any case, all I wanted to say was: I started reading LitNet blogs to improve my Afrikaans, I tried LitNet a few times but I found them really shallow, self-centered, etc. Am I making any sense at all?

  21. avega het gesê op Augustus 17, 2012

    The have’s and the have-not’s. Dit bestaan orals ons Afrikaners het dit net verfyn tot ‘n kuns.

  22. Neander – amper alles – ek het eenkeer so ‘n aussie boek gelees waar die ou die dag wat hy sy eerste merino gekoop het, betreur het – volgens hom gaan die skaapsoort uit sy pad uit om jou bankrot te maak…

  23. Alweer ‘n nice pos!

    Ek weet nie hoekom mense so agter goed aanloop wat eintlik net in hulle verbeeldings ‘n verskil maak nie – miskien voel hulle meer belangrik, of iets – ek verstaan nie eintlik die snob waardestelsel nie.

  24. Neander het gesê op Augustus 17, 2012

    Ok, ek neem kennis:-)

  25. Neander het gesê op Augustus 17, 2012

    I concur wholeheartedly.

  26. Neander het gesê op Augustus 17, 2012

    Nee dis ‘n Homo sapiens eienskap.

  27. Ek mis self daardie ou LitNet Briewe. Die van deesdae, is glad nie dieselfde nie.

  28. Neander, daar is niks verkeerd daarmee nie, daarby moes ook die NG kerk gekom het. Merino`s, was seker nie sleg nie, maar toe te veel gepamperlang en hoe kon jy dit durf waag om nie meer ons ramme te koop nie,want daar was nou rasse wat beter was. Mercedes, jy het nie soveel geld soos ek nie, al was dit op skuld gekoop. Nasionaal, nou weet ons wat van die Party geword het en hoe kon jy dit waag om jou eie opinie te he en van ons te verskil.

  29. Katrina, jy is sooo reg. Veral die saam skree, hoe durf ons dit waag om nie saam te stem nie?

  30. Dankie Henry, kyk maar die rasse skrede waarmee die Döhne Merino vooruitgaan in Australië.

  31. avega het gesê op Augustus 17, 2012

    Neander, waarvoor sê jy ‘nee’? Is dit nie iemand wat kultuur het, wat neersien op hom wat nie het nie, en die een wat ‘n kwalifikasie het wat neersien op hom wat nie het nie, of die een wat geld het wat neersien op hom wat nie het nie, ens? Of is die nee vir die feit dat ek sê Afrikaners is nogal baie snobisties? Ek weet dis ‘n algemene verskynsel onder H S.

  32. Neander het gesê op Augustus 17, 2012

    Alle mense is snobisties oor een of ander rede, selfs in Acapulco, Rio, Chicago en New York.
    As jy sê die Afrikaner, wat is jou maatstaf of hulle meer is as ander?

  33. avega het gesê op Augustus 17, 2012

    Neander, soos jy sal sien in my kommentaar het ek geskryf snobisme “bestaan orals” ek sou sê Acapulco, Rio, Chicago en New York is orals, so jy sê net wat ek gesê het. Wat Afrikaners aanbetref; sou ek my stelling baseer op die ondervinding wat ek op die platteland gehad het, dis iets om te beleef en dan ken ek baie verskillende mense van baie nasies en die Afrikaners is baie goed met kliekvorming, ek het nie ‘n studie gemaak nie, dis maar net my ervaring. Ek dink nogtans nie alle mense is snobs nie ek ken baie wat nie is nie, waarop baseer jy jou stelling dat ALLE mense snobs is?

  34. avega het gesê op Augustus 17, 2012

    Wyseman sê Top Billing is die toppunt van snobisme en dis so materialisties dit gee hom ‘n pyn,want die program se enigste doel is om mense ontevrede te maak oor wat hulle besit.

  35. Neander het gesê op Augustus 17, 2012

    Die plattelanders in Jasper, Indiana en Lottie, Louisiana is net so snobisties, ek was daar en ek het self op die platteland groot geword 160 km van Bfn af.
    Waarom die Afrikaners uitsonder?
    Dis wat my van jou kwel.

    O, daar is klasse verskille selfs in plakkerskampe, ek het dit ook in Queens, New York en Rio gesien.

  36. avega het gesê op Augustus 17, 2012

    Ek verstaan, maar vir 30 jaar het ek skoolgehou in Swart-, Indiër-, kleurling-, Afrikaans- en Engelse skole, niks beat die snobisme van die Afrikaanse ouers en kinders nie. Een voorbeeld, die Afrikaanse kinders beoordeel mekaar baie meer op uiterlike voorkoms en besittings as die Engelse kinders. En wat van Stellenbosch universiteit? Oupa was daar, pappa was daar en nou moet boetie ook daar gaan swot.

  37. Neander het gesê op Augustus 17, 2012

    Dis ‘n Homo sapiens eienskap.
    Ek vra weer wat is jou maatstaf? Jy het nog nie geantwoord nie.
    Het jy ander volke in hulle kultuur ook so gemeet?
    Sela!

  38. katrina het gesê op Augustus 17, 2012

    Stem saam. Dit weerspieel hoegenaamd nie die realiteite van die meerderheid van mense in ons land nie. Amper so erg soos om in Ekonomiese klas te vlieg en dan wys hulle video’s van Eersteklas 🙂

  39. katrina het gesê op Augustus 17, 2012

    Soms, dink ek, is daar ‘n dieperliggende behoefte om ander (en eintlik aan jouself) te oortuig van jou waarde. Ander kere is dit bloot net egosentries. Ek weet nie watter een eintlik die ergste of hartseerste is nie… Dis so maklik om in so ‘n slagyster te trap. Gereelde selfondersoek is die antwoord, maar hoeveel van ons se waardestelsel word ooit werklik bevraagteken as jy jouself heeltyd met gelykdenkendes omring?

  40. katrina het gesê op Augustus 17, 2012

    Miskien is snobisme in ons eie groepe meer onaanvaarbaar omdat ons dalk wil he dit moenie so wees nie? Dis te na aan ons nerwe. Maar jy’s reg, Neander – snobisme kom sekerlik oral voor en is so oud soos die mensdom self.

  41. Neander het gesê op Augustus 17, 2012

    Korrek Katrina, daarom moet mens darem onpartydig wees in genetiese uitsprake.

    Let Wel, elkeen het die reg om ‘n opinie hier uit te spreek, dis tog waarom blogs gaan, maar dan moet dit darem internasionaal aanvaarbaar wees.

    Om voorbeelde van 30 jaar onderwys aan te haal oor AFrikaners is ook snobisties, tel dit meer as iemand wat 20 jaar in Queens skoolhou, of 25 jaar in San Francisco?
    Of ‘n jaar waarneming in Louisiana? (ekself)
    Wat is die maatstaf?

    Ek wonder steeds oor mense se eng sienings van die lewe.

  42. katrina het gesê op Augustus 17, 2012

    Om regverdig te wees, Neander – ons almal praat uit eie ervaring. ‘n Mens kan tog nie anders nie? Dis maar net wat Vega hier bo gedoen het. Dit bly ons eie verwysingsraamwerk – eintlik ‘n baie ingewikkelde samestelling. So kan my ervaring van my buurvrou langs my s’n verskil, al leef ons in dieselfde gemeenskap. Dis ook die basis vir debatvoering… Ons is rivierklippe wat so teen mekaar skuur en gladder word…

  43. Neander het gesê op Augustus 17, 2012

    Ek het my standpunt gestel op hierdie openbare blog en ek beweeg nou aan.

  44. katrina het gesê op Augustus 17, 2012

    Dis goed so 🙂

  45. Jy’s reg oor die peer pressure ding – dit kan ‘n magtige krag wees.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.