Profile photo of katrina

by katrina

Silwerskermfees – laaste aflewering

September 9, 2014 in Uncategorized

Die laaste dag van die fees het Saterdag vir my aangebreek, ongelukkig was dit net ‘n halwe dag omdat ek reeds vroegmiddag  moes terugvlieg huis toe. In retrospektief sou ek dinge natuurlik anders gereël het as ek vooraf genoeg ingelig was oor die laaste dag se kyklys.

Eerste aan die beurt was die kortfilm ‘Stom’, wat die realiteit van nageboortelike depressie uitbeeld. Hierdie tema is beslis iets waarmee baie ma’s kan identifiseer, al is dit bloot net omdat daar eintlik niks is wat jou heeltemal vir die geboorte van ‘n baba kan voorberei nie. Die meeste van ons het ‘n idealistiese idee van die oulike pienk bondeltjie vreugde wat jou lewe gaan verryk, maar ongelukkig is daar ‘n paar gapings in die prentjie wat slegs met praktiese ervaring gevul kan word en dan vervaag die romantiese aspekte bitter vinnig. Neem dan nog die fisiologiese veranderinge wat saam met die ‘ontnugtering’ gepaard gaan en die ontgogeling wanneer ‘n nuwe ma aan haarself moet erken dat sy glad nie aan haar eie (en ander!) se idees van die ideale mammie kan voldoen nie in ag en jy eindig met ‘n bitter eensame stryd om oorlewing.  Die storie word sonder enige tierlantyntjies en onnodige detail uitgebeeld en slaag daarin om die onvermoë van die vrou om haarself ‘reg te ruk’ aan die kyker oor te dra. Depressie, of dit gegrond is in ‘n ontnugterende ervaring of ‘n geleidelike afdaling in ‘n bodemlose put , is beslis ‘n moeilike onderwerp om te ontgin en miskien is ‘n kortfilm juis die antwoord daarvoor – dis ‘n bewusmaking sonder om met detail te verveel of die kyker kans te gee om op sy stoel te begin kriewel. Wel gedaan.

‘Totsiens Pa’ het ook verras en ‘n indruk gemaak. Dit het verras omdat die draaiboekskrywer so jonk is en die insig gehad het om ‘n storie te vertel wat terselfdertyd persoonlike bande het maar ook onopgesmuk aangebied is. Dis ook ‘n kwessie waarmee baie van ons kan identifiseer, al is dit bloot net omdat die samelewingstruktuur waarin ons onsself bevind een is wat isolasie en onafhanklike bestaan aanmoedig. Familiebande wat ‘n paar dekades gelede miskien ‘n ondersteuningsfaktor was, het grootliks verswak vanweë leefstyl en geografiese skeiding. Facebook en tegnologie kan eenvoudig nie opmaak vir die volledige prentjie wat ‘n mens met die fisiese deel van ‘n leefwêreld het nie en dit is dan ook die verhaal wat hier uitgebeeld word: vier susters wat deur omstandighede gedwing word om vir ‘n paar dae lank meer intiem met mekaar saam te leef as wat hulle aanvanklik voorsien het. Dis inderdaad so dat meeste families deesdae slegs vir troues en begrafnisse bymekaar kom en miskien selfs nie eers vir troues nie. Dis eintlik  meer as blote familie-saamwees, want dit het my ook weereens laat besef dat selfontdekking of eerlike kommunikasie ongelukkig meestal slegs gebeur wanneer ‘n mens met iets of iemand gekonfronteer word wat jy nie kan systap nie. Wanneer die fassades waaraan ons so sorgvuldig bou afgebreek word, is dit meestal verrassend bevrydend en bring dit geestelike groei mee wat andersins miskien nie sou plaasvind nie.  En ja, ek moet erken dat ek self baie emosioneel geraak het in die toneel waar die jonger suster sing. Iets wat juis gebeur het omdat Koos du Plessis se ‘Gebed’ so ‘n intense hartslied is…

Ek is spyt dat ek ‘Vuil Wasgoed’ (kortfilm) en Abraham (vollengte film) gemis het, maar ek sien uit daarna om laasgenoemde te sien wanneer dit vrygestel word.  Ek hoor net goeie dinge daarvan, asook van ‘n ander film wat ek ongelukkig gemis het toe dit gedraai het en wat ‘n hele paar toekennings op die fees losgeslaan het (ek bly mos in die grammadoelas) – Die Windpomp.

Ten slotte – die Silwerskermfees is ‘n uitstekende platform vir filmmakers en –betrokkenes in Suid-Afrika en is beslis ‘n vyfstergeleentheid. ‘n Mens het moed vir die toekoms van film in ons land, maar ook vir die toekoms van Afrikaanse film. Dit was inderdaad vir my ‘n verrykende ervaring, al het ek slegs maar ‘n klein deeltjie daarvan beleef.

Profile photo of katrina

by katrina

Silwerskermfees – aflewering vier

September 6, 2014 in Uncategorized

Vrydagmiddag en ek is weer ‘n bietjie vroeg vir die volgende kyksessie, dus kyk ek blitsig of daar vir my ‘n ‘uitkykhoekie’ is van waar ek uit die veiligheid van my eie aura die gebeure in die voorportaal kan gade slaan. Ek vra vir ‘n ouerige dame of dit reg sal wees as ek die rusbank met haar deel, waarop sy vriendelik antwoord dat dit glad nie ‘n probleem is nie. Ek knoop ‘n geselsie aan en hoor dat sy en haar seun daar is en dat hulle nie eintlik weet waarna om te kyk nie. Hulle was in die gelukkige posisie om kaartjies te wen (wanneer ek later ‘n kans vat om te hoor of dit dalk die Du Toitskloof-kompetisie se wenkaartjies was, bevestig sy dit. (Ek het toevallig daarvan gehoor toe ek vir Suzanne wat mediaskakeling gedoen het, per e-pos gevra het oor inligting omtrent toegangskaartjies. Klein weet-wêreld!), Hulle kyk nog die kat uit die boom wat filmkeuses betref.  Kort voor lank is daar egter iemand om te help en aanbevelings te doen en ek gebruik die tyd om gou ‘n paar notas neer te skryf.

Dan is dit tyd vir die volgende kortfliek, Nommer 37. ‘n Onpretensieuse titel en ‘n aangename verrassing om hierdie intense kortfilm te kon sien. Dit gee ‘n vinnige kykie in ‘n wêreld waarvan die meeste van ons maar net kan lees en selde eerstehandse ervaring van opdoen. Die Kaapse Vlakte, vae idees van swaarkry en bendegeweld en mense wat ten spyte van die ‘oorlog’ om oorlewing sin probeer vind en hulle lewens probeer leef.  Dit vertel van ‘n jongman wat sy lewe moet hervat noudat hy in ‘n rolstoel is, sy meisie wat dinge vir hom makliker probeer maak en vir hom ‘n verkyker gekoop het waarmee hy die tyd kan verwyl. ‘n Terugskakeling in ‘n gemeenskap wat hy nou vanuit die raamwerk van ‘n woonstelvenster kan waarneem. Dit hou egter nie die realiteite van die lewe, sy eie lewe, van hom weg nie, want daar is nie genade wanneer hy sy skuld moet terugbetaal nie. Tussen dit wat hy tot sy skok in ‘n woonstelblok oorkant hom sien gebeur en sy desperate plan om sy skuld te delg,  maak hy egter nie voorsiening vir Plan B waar dinge lelik kan skeefloop en die geweld tot tussen die mure van sy eie woonstel kan bring nie…

Uitstekende spel en dialoog, insette van almal wat betrokke was asook ‘n intelligente aanbieding het hierdie film vir my persoonlik een van die bestes gemaak. Ook in die besonder, die bespreking na die tyd wat ‘n mens net weereens laat besef dat niks binne in ‘n vakuum gebeur nie en dat daar baie besinning, beplanning en oorleg moet plaasvind om ‘n suksesvolle spanpoging en eindproduk teweeg te bring.

Volgende aan die beurt was Onder die Tafel wat ‘n redelike kontroversiële onderwerp vir baie mense, naamlik ‘uit die kas klim’, op ‘n natuurlike manier in ‘n doodgewone, middelklas Afrikaanse huisgesin as tema gehad het. Ook ‘n kortfilm wat eintlik terselfdertyd verskillende aspekte van ‘n komplekse kwessie aanraak. Beslis nie bedoel vir diegene wat gay-wees in ‘n Afrikaanse kultuur met ‘n enkele sin wil opsom nie. Goeie, natuurlike spel van al die betrokkens, alhoewel Rolanda haar karakter ‘n bietjie minder prominent kon vertolk.  Ek verstaan egter die denke daaragter, maar, soos wat hier en daar die geval met van die films was: moenie jou kyker se vermoë om tussen die lyne te lees onderskat nie. (Ek is regtig ‘n Rolanda-aanhanger, so moenie dink dat hierdie haar spel sommer net afskiet nie) Die ‘onder die tafel’ skote was ook nie vir my werklik funksioneel nie en ek sou persoonlik ‘n ander titel vir die film gekies het.

Tydens die paneelbespreking sien ek toe sowaar ‘n oud-leerling tussen die klompie en ek het hom gou na die tyd aan die arm gegryp vir ‘n geselsie. Hy, soos ek weet met baie van die jonger geslag wat daar was die geval is, is so begeesterd deur wat hy by die fees gesien en ervaar het en ek hoop van harte dat dit ‘n aansporing sal wees om self in die toekoms iets te maak of meer betrokke by spesifiek Afrikaanse films te raak.

Na ‘n kort breek was dit die premiére van Leading Lady.Sowaar, nog ‘n hoofrol vir ‘n gewilde Afrikaans sánger? As ek maar net nie geweet het wie Bok van Blerk was nie sou ek dalk met ‘n oper gemoed na die fliek gekyk het. Met ‘n fliek wat ‘n groot persentasie Engelse dialoog gehad het het die vervaardigers/regisseur waarskynlik gevoel dat hulle die Afrikaanse kykers ook wou intrek en hulle statistieke en feite oor die teikenmark is dalk nie so eensydig soos myne nie, dus sê ek maar net: sela. Hierdie is die verhaal van ‘n Engelse onderwyseres en haar ambisie om die hoofrol in haar kêrel (met ‘n woeste Amerikaanse aksent) se volgende fliek met ‘n Suid-Afrikaanse agtergrond te kry.  Die kêrel is oormatig ongeskik en sy is oormatig ondergeskik, wat die storielyn effens voorspelbaar maak, veral wanneer sy besluit om na ‘n mislukte oudisie agtergrondskennis oor Suid-Afrika en die hoofkarakter van die fliek se kultuur te gaan inwin. Sy land op die fiktiewe Fiksburg (so gespel, ja) internasionale lughawe (tong-in-die-kies) beland met haar stereotipe pienk tas in ‘n stereotipe taxi en eindig… sowaar op die plaas van die einste oorlogsheldin. Maar, moenie klein, plattelandse gemeenskappies onderskat nie (nie tong-in-die-kies nie), want daar is interessante mense met sluimerende talente wat net die regte persoon nodig het om dit te skaaf en te poleer. Dit was lekker om vir Brumilda van Rensburg in ‘n doodgewone rol, maar met ‘n besliste ondertoon van sluimerende menslikheid onder die fassade van nie-omgee-nie te sien en die film is beslis kykbare, ligte vermaak sonder werklike wroegings of verrassende intriges. Die voorspelbaarheid het effens gepla, alhoewel ‘n mens darem nie altyd kon raai wat wanneer gaan gebeur nie. Maar sou, sou dit wel.

‘n Kort breek voor die premiére van Hollywood in my huis. Die teater was stampvol en ek het weer heel agter ‘n plekkie gekry. ‘n Minuut of wat voor kyktyd het die dame en haar seun wat ek vroeër ontmoet het ook opgedaag en langs my kom sit waar daar nog twee oop sitplekke was. Ek het intussen ook weer ‘n geselssessie met hulle gehad toe ons in ‘n breek iewers saam koffie gedrink het. Die gemoedelikheid het daartoe gelei dat sy ‘n hele paar keer kliphard kommentaar gelewer het en ek bly was dat ons nie iewers naby Leon van Nierop gesit het nie, want ek weet hy het ‘n broertjie dood aan springmielies en klipharde kommentaar in ‘n teater.

‘n Pluspunt vir die rolverdeling wat nie soos Suurlemoen aan die onwaarskynlike gegrens het nie. Christia Visser se vars gesiggie was perfek vir haar rol as matriekmeisie met drome wat vir eers op die matriekafskeid en die ingewikkelde sosiale intriges rondom dit fokus. Dit, teen die agtergrond van ‘n ma wie se einste drome na haar eie matriekafskeid gesneuwel het en teen goeie oordeel in haar kind teen soortgelyke hartseer probeer beskerm en ‘n pa, werkloos en ambisieloos volgens alle standaardverwagtinge en… met die ongelukkige naam van … wag daarvoor…Tos!  Regtig?? Elke keer wat iemand die arme man aangespreek het het die gehoor uitgebars van die lag.  (Ek worstel so in my enigheid met die vraagstuk of die jonger geslag Afrikaanssprekendes glad nie bewus is van die konnotasies aan sekere woorde nie. Wel, as dit so bedoel was, het dit die lag-teiken en belaglikmaking van die arme karakter wat baie goed deur Louw Venter vertolk is, getref). Ek het ook van Edwin van der Walt, die goeie vriend wat heimlik op Jana verlief is, se spel gehou. Maar, kan ek nog net één ou vraagtekentjie ingooi?  ‘n Gebreide/gehekelde onderbroekie?  Regtig??

Die oer-feeks in die verhaal grens effe aan oordrywing (teen hierdie tyd het julle seker al agtergekom dat ek meer van ‘n subtiele benadering hou) maar aangesien ek deesdae nie meer vir meisies skoolhou nie, aanvaar ek dat hulle wel baie katterig en venynig kan wees wanneer die wêreld nie voor hulle neerbuig nie.

Uiters kykbaar, vir jonger sowel as ouer gehore – knap gedaan.

En hiermee, die einde van hierdie aflewering.

Profile photo of katrina

by katrina

Silwerskermfees – aflewering drie

September 5, 2014 in Uncategorized

Met die aanvang van my tweede dag voel ek sommer al baie meer tuis in die opset van die fees, kaatjie van die baan (in my eie klein alleenkringetjie) – ek weet waar om te gaan registreer om my kaartjie vir die dag in die hande te kry, waar die Yskas is en waar die Rotunda is en dat ‘n mens voor die tyd ‘n lekker koppie koffie kan drink.

Vroegoggend was dit nog effens bewolk, maar nou skyn die son en die branders is nie meer so hoog en woes soos die vorige dag nie.  ‘n Mens kan nie anders as om daardie opwindende vakansiegevoel te kry wanneer jy die skuimende golwe, wit sand en die berg hoog bokant jou sien nie. Die hotel is verblindend wit en luuks in die oggendson en binne is die voorportaal byna leeg omdat meeste reeds vir hulle sitplek gaan soek het. Nog net ‘n paar bittereinders staan eenkant op die stoep en gesels, daar waar die mooi uitsig teen die berg is.  Ek maak nederig om verskoning voor ek een van die laastes is wat deurglip. Gelukkig is daar nog genoeg plek in die teater en ek gaan sit heel bo, agter, sodat ek sommer ook kan sien wat die gehoor aanvang.

Eerste op die kykspyskaart is die kortfilm, ‘n Liefdeslobotomie.Ek moet erken dat ek tipies van daardie mense is wat soms goeie dinge misloop omdat ek nie van ‘n titel hou nie. (Ek het byvoorbeeld vir twee jaar lank uitgestel om die boek My year of meat te lees, net omdat die titel nie veel belofte ingehou het nie). Ek was dus aangenaam verras met die verhaal en die akteurs – die bleeksiel wat daarvan hou dat alles in sy wêreld georden en perfek is en sy ekstrovert vriend wat ‘n bietjie balans in Zander se lewe wil bring (Eddie de Jager en Solomon Cupido). Ek dink die twee het die onderspeel en die oorspeel-balans nogal goed reg gekry. Terwyl ek so gesit en kyk het, het ek daaraan gedink dat ‘n kortfilm nogal heel dikwels soos ‘n gedig is – ‘n mens het ‘n beperkte tyd/hoeveelheid woorde om jou storie te vertel en dit moet so gedoen word dat jou kyker/leser tussen die lyne moet kyk en lees, ook pro-aktief  betrokke moet wees. Dis nou sonder daardie lang, sielswroegende analises oor die fyn nuanses wat net raakgesien kan word wanneer ‘n film weer en weer gekyk word. Die gehoor moet terselfdertyd nie oor- of onderskat word nie. Maak ‘n mens dit vir die ‘chosen view’ of vir die massa, of is daar elemente vir elkeen van hierdie groepe?

Die paneelbespreking na die tyd was ook baie interessant en insiggewend .

Voor die volgende kortfilm het ek weer ‘n sagte sitplek in die foyer gaan soek waar ek kon kyk en luister, koffie drink. Langs my het een van die jong aktrises van ‘n ander kortfilm gesit en ek het met haar ‘n geselsie aangeknoop. Sien, ek is al in daardie stadium in my lewe wat ek ten spyte van myself, met vreemdelinge kan gesels en so altyd iets interessants hoor. Hoe ouer ‘n mens raak, hoe meer loop ‘n mens die gevaar dat jy so selektief met jou vriende en geselskapkeuses raak dat jy onwillekeurig jou grense algaande nouer begin trek.

Die volgende kortfilm, Neem my saam, het my tussendeur aan die dink gesit oor die verskillende maniere waarop mense krisistye in hulle lewens hanteer en oor die vermoë van ‘n mens se verbeelding om ‘n ander werklikheid vir jouself en ander mense te skep. Goeie akteurs, goeie storie, die moeite werd om te sien. Ek moet egter hier ook byvoeg dat ek ‘n bietjie gewonder het oor die doel van Hannah (Jenna Dunster) se super-preutse, vreemde kleredrag. Ek vermoed dat dit haar sonderlinge, unieke karakter versinnebeeld het, maar dit het my aan die begin nogal laat kopkrap. ‘n Pluspunt was dat ‘n sensitiewe onderwerp nie oordrewe-emosioneel aangebied is nie en ‘n ander-hoek-benadering gevolg het.

Daarna het ek ‘n lang breek gehad voor die volgende kyksessie en besluit dat ek nie hierdie keer weer in my hotelkamer gaan sit en koerant less nie.  Ek het reeds op die eerste middag wat ek by die hotel aangekom het met ‘n vrou ‘n geselsie aangeknoop wat toevallig ook daar was om die Silwerskermfees by te woon. Sy was van doer ver in die Noordwes en haar seun se kortfilm het gewys (ek het dit ongelukkig gemis omdat ek Donderdag eers begin kyk het). Vrydagoggend gedurende ontbyt het sy en die twee meisies wat saam met haar was vertel hoe hulle die vorige dag bus gery het en ek het besluit dit klink na ‘n goeie idee. Die Kampsbaai-biblioteek was op pad na my hotel toe en daar het ek gaan uitvind oor kaartjies. Die jongman wat daar werk het gesê dat die taxi’s eintlik goedkoper is en ek het sy raad probeer volg, maar toe by die duur taxi’s uitgekom. Anders as hier waar ek bly en in Gauteng, moet ‘n mens raai watter minibusse taxi’s is, dus het ek eerder ewe beskroomd teruggegaan en maar ‘n buskaartjie gekoop.

Die bushalte was reg voor die hotel en ek het omtrent net twee minute gewag voor die volgende bus opgedaag het. Net daar het ek daardie Europese gevoel gekry – deels omdat die City Bus-busse net soos dié oorsee lyk, maar ook omdat ek oombliklik in ‘n ander wêreld met ‘n ander perspektief geplaas het. Ek het daar net weereens besef dat ‘n mens se ervaring amper geïsoleerd is wanneer jy uit die gerief van jou eie motor met jou oog op die pad na ‘n spesifieke bestemming op pad is en dan net verkeersligte en prominente bakens raaksien.

Dit was vir my ‘n openbaring  om te sien dat ‘n mens wel nog in die strate van die middestad kan rondloop – iets wat jy beslis nie meer in Johannesburg, Pretoria en Durban kan doen nie en iets wat ek so ongelooflik mis wanneer ek daar is. Winkelsentrums is vir my so kunsmatig, sonder karakter, het ‘n oormaat glans en ligte en is in ‘n sekere sin amper pretensieus en onpersoonlik. Ek het met die vrou wat langs my op die bus gesit het begin gesels en kort voor lank veel meer oor die hoe en die wat van Kaapstad uitgevind.  Die roete wat die bus volg is ook iets besonders en ek kon net sit en ontspan, dit geniet en soos ‘n wafferse toeris foto’s neem en my verwonder aan alles.

Ek het besluit om Waterfront toe te gaan en moes mooi uitvind waar om af te klim en oor te klim. Teen die tyd wat die bus in daardie area gekom het, het ek weer vir die bestuurder raad gevra en die volgende oomblik sien hy ‘n ander bus wat reg voor die sentrum sou stop en net daar toet hy vir die bus en kon ek gou uitklim en oorklim.

Ek het ‘n bietjie deur die sentrum geloop en toe middagete bestel, waarna ek vir ‘n lang ruk net rustig na die mense en hulle bedrywighede gesit en kyk het voor ek weer terug bushalte toe is, effens benoud of ek al die instruksies oor hoe om weer in Kampsbaai te kom, sou onthou. Ek moes ‘n rukkie wag, maar toe is dit weer net voorwaarts, terwyl ek so lekker luister na die gesprekke van die jongmense om my. By Queens-bushalte moes ek oorklim en ontdek toe eers dat die busbestuurder dieselfde een as die oggend s’n was.  Hy het so ewe saam met my uitgeklim enmy na die man toe geneem wat as ‘rigtingwyser-cum-algemene raadgewer’ daar dien. My bus sou eers oor ten minste tien minute arriveer en weereens het ek ‘n geselsie aangeknoop. Dit was baie interessant om te hoor hoe vroeg hy soggens moet opstaan en hoe sy skofte en dinge werk én dat hy ‘n vriend het wat nes ek, ook in KwaZulu-Natal bly. Die rit terug Kampsbaai toe was net nadat die skole vir die dag gesluit het  en daar het dus heelwat skoolkinders ook opgeklim. So in my enigheid het ek hulle met die seuns in my klasse vergelyk en tot die gevolgtrekking gekom dat tieners oral maar dieselfde is.  Ek kon amper nie sien waar ek weer moes afklim nie omdat daar ‘n klompie om my gestaan het, maar gelukkig het ek reg geskat en by die bushalte naaste aand fees afgeklim.

Hierdie busritervaring het my dag absoluut gemaak en ek was so bly dat ek dit kon doen. Ek is nou sommer lus om Kaapstad my volgende vakansiebestemming te maak en die plek saam met my gesin plat te loop. Reis is darem maar ‘n lekker ding, veral as daar ‘n goeie skeut onsekerheid met die opwinding vermeng word…

DSCN3408 DSCN3417 DSCN3418

Profile photo of katrina

by katrina

Silwerskerm – aflewering twee

September 2, 2014 in Uncategorized

Na iBokhwe bly almal sit en ek vind uit dat dit is omdat daar drie kortfilms direk na mekaar gewys word. (Ek het dit nie geweet nie, gedog ‘n mens kies een en dis klaar.) Dan kom daar onverwags iemand verbygeloop wat ek ken, om in die sagter sitplekke heel voor te gaan sit. Ek het in ‘n stadium vir hom ‘n e-pos gestuur toe ek uit desperaatheid nêrens ‘n plek kon kry van waar ek kaartjies vir die fees kon koop nie. Hy het ook nie geweet nie, maar gesê dat ek met hom moet kontak maak, wanneer ek daar is. Ek het dus gou gaan groet en terwyl ek nog met hom gepraat het, het die volgende kortfilm begin wys.

Wat ek nie in my eerste ‘aflewering’ vertel het nie, was die stryd om alles vir die fees gereël te kry. Toe ek einde Mei die groenlig kry om te kom, moes ek bedrae vir die begroting voorlê, maar kon dit nie doen nie omdat ek absoluut niks oor die fees kon opspoor, behalwe inligting oor verlede jaar s’n en toe later ‘n uitnodiging aan filmmakers vir inskrywings. Ek het kort-kort die soekwoord op Google ingetik, maar steeds was daar niks nie. Einde Julie was daar uiteindelik ‘n datum vir die fees, asook die inligting dat dit in Kampsbaai gehou sou word.  Kaartjies vir die fees was nog ‘n groter dilemma en ek moes plek op die vliegtuig en in ‘n hotel bespreek in die hoop dat ek wel kaartjies in die hande sou kon kry. Uiteindelik, skaars twee weke voor die aanvang, sou dit die Maandagoggend om tienuur oopgestel word. Ek het dus daardie oggend met saalopening stokkiesgedraai sodat ek met my oë vasgenael op my rekenaarskerm kon sit…

Die tweede kortfilm was, uhm, nie heeltemal my keuse nie.  Ek gaan dus nalaat om my beskeie meninkie daaroor te gee, behalwe om te noem dat dit nie jou tipiese kommersiële filmpie was nie, met ‘n titel wat my laat onthou het van my kinderdae toe ek nie kon verstaan hoekom die grootmense altyd gelag het oor die outjie met die naam van Orgie nie. Nou verstaan ek, natuurlik…

Ek sou die kortfilm onder die ‘kunsgenre’ klassifiseer, meer spesifiek die tipe tema wat jou noop om so ‘n neutraal moontlike, wêreldwyse en ‘ek is gewoond aan alles’ uitdrukking op jou gesig te hê wanneer die ligte aangaan. Meanwhile, back at the ranch…. wonder jy waaroor dit eintlik gegaan het en besluit jy einde ten laaste dat indien jou mening daaroor gevra gaan word, jy een of ander vae, niksseggende, alles-insluitende woord of twee sou uitdink.   Enigiets meer as dit mag dalk net jou oningeligtheid laat deurskemer en sou dus nie veilig wees nie. (Niemand het my mening gevra nie, so tussen hakies)

My twee metgesellinne is intussen deur die skare opgeslurp en aangesien daar nog ‘n rukkie tyd was voor die middagsessie, het ek gou by die Pick n Pay op die hoek ingeglip om iets vir middagete te koop.  Terug by my hotel het ek my skoene uitgeskop en die ongelooflike uitsig geniet. Ek was baie gelukkig om plek in hierdie hotel so na aan die feesvenue te kry en dit sonder dat ek dit spesifiek so beplan het.  Boonop, het ek ontdek, is dit veilig om op my eie hier rond te loop en is daar ‘n hele rits eetplekkies binne ‘n radius van ‘n kilometer. Dit is ook reg by ‘n bushalte (hieroor skryf ek ook later) en naby genoeg om sommer na die fees toe te stap.

Kwart oor drie het die volgende kortfilm, hierdie keer genadiglik in die Rotunda, gewys. Die film, Iemand Anders, met ‘n doodgewone ou met ‘n ongewone probleem, naamlik dat hy heeltyd voel dat hy iemand anders is en dit sy lewe so omverwerp dat hy hulp moet kry en hierdie hulp kom op die ou einde van iemand met presies dieselfde probleem. Die op die oog af humoristiese aanbieding loop parallel met die dieper filosofie van gesimuleerde werklikheid en gee die kyker dus heelwat om aan te herkou.

Wat baie interessant omtrent die Silwerskerm is, is dat die regisseur, draaiboekskrywer en betrokkenes van die kortfilms na die tyd voor op die podumpie gaan sit waar daar vrae aan hulle gestel word en die gehoor ook ‘n kans kry om òf self ook vrae te stel, òf om kommentaar te lewer. Dit is hierdie aspek van die hele ervaring wat dit ‘n ander perspektief gee en wat ek seker is, baie beteken vir die jong filmmakers. Terugvoering is ‘n belangrike aspek vir enige kunstenaar en glo ek, ‘n goeie motivering om voort te gaan en verdere uitdagings te skep en aan te pak.

Volgende op my kyklysie was Juweeldiewe, wat ek ook baie geniet het. Tinarie Van Wyk Loots pas so goed in die rol – sy het net die regte, eksotiese voorkoms daarvoor en is ongelooflik mooi in die kortfilm. Die genre is neo-noir en ek het daarvan gehou – dit skep die regte atmosfeer terwyl daar ‘n goeie balans is tussen fyn humor en spanning wat geskep word. (Goed, nou gaan ek nie verder met beskrywings en dinge uitkom nie, ek is uit my vaarwater…)

Met ‘n hele ruk voor die halfnege fliek tot my beskikking, is ek terug hotel toe waar ek  deur die dag se komplimentêre koerant geblaai het en vir myself spoegslegte plastiekkoffie gemaak het. Intussen het die hemele oopgegaan en het dit met ‘n gejuig begin reën. Ek het my daarop voorberei dat my goedkoop pers sambreeltjie beslis nie die elemente sou oorleef nie en het beplan om met die motor te ry. Groot my verbasing dus toe ek onder kom en ontdek dat dit ophou reën het – die Kaap, blyk dit, is lekker wispelturig.

Die film was Die Spook van Uniondale.  Nou ja, deesdae is dit mos die in-ding om so half beterweterig langs ‘n mens se neus af te kyk en hoogdrawend te sê, met so ‘n warmpatat-aksent: “You know, everybody is a critic. And an author. And a professional photographer…”, want sien,  die feit dat ‘n mens blitsige foto’s kan neem en dit dan durf waag om dit op verskeie platforms te deel, is mos ‘n diskwalifisering. Soos iemand wat per ongeluk sy aflosstokkie laat val het of oor die wit streep getrap het.  Of as jy ‘n fliek gesien het, maak dit beslis nie van jou ‘n resensent nie. Dus: resensente, belanghebbendes, lees verby, ek is maar een van vele. Belangstellendes:  neem dit met ‘n knippie sout, maar… rêrig… ek het gespóók om deur daardie fliek te sit.  Natuurlik is daar ‘n paar faktore wat daartoe bygedra het en ek noem hulle op, in geen spesifieke volgorde van belangrikheid nie:

  • Die fliek het in Die Yskas gewys…
  • My boude was deurgesit en die storie is uit-ge-rekkkkkk
  • Hoekom, o hoekom, is dit nodig om ‘n SANGER as akteur te gebruik? (Is dit om mense te lok? Het hulle geen vertroue in hulle akteurs of die publiek nie?)
  • Te veel paralelle stories! (Dis amper soos ‘n skrywer wat al sy kwinkslae, kennis, stories in één verhaal probeer sit!)
  • Tobie Cronjé, ongelooflike akteur, maar… ai, maak eerder ‘n fliek waarin sy karakter die volle aandag kry. Te veel spoke!
  • Verspotte effekte wanneer spoke ‘verdwyn’…
  • Plek-plek oordrewe karikature van karakters.
  • En dis dit. Sela, amen, gaan kyk maar self.
  • Naskrif: Daar was ‘n pakkie spookasem vir elkeen in die gehoor – oulike idee.

Dit was ‘n verligting toe die fliek uiteindelik klaar is, maar, moet ek byvoeg, ek is nie spyt dat ek dit gesien het nie.

Einde van aflewering twee.

NSS: Sorrie.

DSCN3425

Profile photo of katrina

by katrina

Silwerskerm deur my oë…

September 1, 2014 in Uncategorized

The Bay Hotel DSCN3408 DSCN3403Dis Donderdag en ek sit in die voorportaal van die luukse Bay Hotel in Kampsbaai, Kaapstad.  Ek vermoed ek smelt so min of meer saam met die res van die filmfeesgangers wat opgewonde orals in groepe staan en gesels, maar ek weet ek is waarskynlik een van die min on-filmmense wat hier rondhang. Of rondstaan. Of rondsit…

Miskien is dit ‘n voordeel om die objektiewe waarnemer te wees. Nie dat enige mens ooit volkome objektief kan wees nie – ek self sit hier met my stille vooroordele, idees, kwessies en verwysingsraamwerk.

Maar waar kom ek vandaan en hoe het ek hier beland? Ek is ‘n onderwyseres en ek stel belang in films en ‘n kollega het aanbeveel dat ek dit deur middel van ons departement se personeelontwikkelingsbegroting doen. Die woord self is waarskynlik al groter as die begroting self, maar deur welwillendheid en aanmoediging ten spyte van my aanvanklike onwilligheid, bevind ek my nou hier tussen die wie is nou eintlik wie in die Afrikaanse filmbedryf.

Terwyl ek almal so gade slaan en so wêreldwys as moontlik probeer lyk, kan ek myself skop dat ek my so met die tyd misreken het.  Ek kon ‘n halfuur langer in my hotelkamer, skaars ‘n blok hiervandaan, ontspan het voor ek weer die volgende sessie aangedurf het, maar nou ja, vir nou hou ek myself besig met ‘n paar notas in my self-ontwikkelde snelskriffie.  (Miskien lyk ek soos ‘n resensent of ‘n joernalis – ek moet erken dat ek al ‘n paar nuuskierige kyke na my kant toe opgemerk het. Wat ‘n teleurstelling sou dit vir hulle wees om te ontdek  dat ek nie iemand ‘famous’ of ‘fabulous’ of ‘amazing’ is nie! ) Helaas, ik ben een bruid, een anonieme aanhanger van die bewegende prentjiemedia. Ek het vroeg al in my lewe daaraan gewoond geraak dat ek so ‘n supermarkrakgesiggie het wat mense altyd aan iemand anders herinner, selfs aan bekendes.  Ek skat dit is wat gebeur na geslagte lange Europese oorsprongvermenging hier aan die Suidpunt van Donker Afrika.

My hand raak skoon lam van al die skryf – my vingers het al vergeet hoe dit is om ‘n pen vir meer as ‘n paar regmerkies en ‘n paar lukrake sinsnedes in opstelkommentare vas te hou. Anders as Lisa se klavier ken hulle slegs die pad op ‘n rekenaarsleutelbord en is hulle geoefen in mikrobewegings van die spiere aan die bokant van my hande wanneer ek daagliks met die kliek van ‘n muis die rekenaar- en kuberwêreld betree.

Terug na my onbetrokke gesig en effe minsame glimlag waarmee ek die skare bekyk – as daar iets is soos klatergoud, kan die term klaterskets seker nie ver verkeerd wees as ek so half-sinies na die gesprekke om my luister nie. Die stem in my kop is dié van buitestaander en nie-deelnemer wat hopelik die kuns aangeleer het om nie te veel uit plek uit te lyk nie. Kort-kort is daar uitroepe van blye verrassing en opgewonde weersiens, gevolg deur innige drukkies en soentjies op die wange, (Bladskud is nie aan die orde van die dag nie – hier is ‘n netwerk van ken-mekaars saam vergader.)

Ek het vanoggend net na nege-uur geregistreer en word nou as mede-filmfeesganger geag. Ek het die trappe na die foyer van die hotel met selfvertroue bestyg, volgens my eie beskeie mening, waar ek eers moes vra waarheen om te gaan en so effe verdwaal het om al die hoekies en draaitjies na die ‘Tent’ toe waar Suurlemoen sou wys. Op elke sitplek is ‘n klein suurlemoengeel blikkie waarop Suurlemoen se logo gedruk is, met klein wit lekkertjies binne-in.

Ek herdoop die plek onmiddellik na ‘Die Yskas’ toe. Die Kaap van Storms is besig om sy naam gestand te doen en my aanvanklike gedagte dat dit werklik nie so erg koud is as wat voorspel is nie, het gou verander toe die wind begin waai het en ek ‘n rukkie lank stilgesit het.  Die koue glip deur elke skrefie en gaatjie en later is dit moeilik om te konsentreer en blymoedig te bly. Boonop tref dit my (soos gewoonlik!) dat die langste persoon in die saal reg voor my sit. Wel, as ek moet erken, daar is waarskynlik nie veel feesgangers wat korter as ek is nie, maar die skoolsaal-idee is beslis nie ‘n wenner nie. Dis in sulke tye wat die immergewilde doktersfrase van ‘dit behoort effens ongemaklik te wees’ by my opkom – dit vertel mos nie die volle verhaal van wat sal volg nie…

Die draaiboek verskil nogal van Jaco Jacobs se gelyknamige roman waarop die film gebaseer is, maar vir die seuns wat altyd vra: “Is there a movie on this, Mevrou?” behoort dit kykbaar te wees. Dit sal interessant wees om te sien wat hulle daarvan dink.  Ek persoonlik sou dalk die twee seuns in die hoofrolle omgeruil het, maar dis nie noodwendig wat ander sou doen nie. Ek is, na alles, nie ‘n filmresensent nie en probeer met ‘n kykersvriendelike oog kyk. Ek het die uitbeelding van Zane net meer gemaklik as die van Tiaan beleef. Laasgenoemde se gesig speel nie altyd saam met sy woorde nie en wanneer die kyker se hart die byspeler kies, is dit nie juis ‘n pluspunt vir die fliek nie.  Iets waaraan ek ‘n kleintjie dood het, is wanneer die kyker onderskat word en akteurs wat duidelik diep in hulle twintigs is (in ander flieks soms selfs ouer) gebruik word om skoolkinders uit te beeld. Dit benadeel beslis die natuurlikheid en geloofwaardigheid van die karakters.

Na Suurlemoen tros ons uit terug na die warmer voorportaal waar ook koffie bedien word en dis net hier waar ek die eerste bekende gesig raaksien – ‘n medeblogger wat ek geweet het Saterdag hier sou wees maar toe vandag reeds opgedaag het. Ek stel myself voor as Katrina van die blogs en vir die volgende halfuur kon ek deel van ‘n klein aangename groepie wees – haar niggie is saam met haar daar en hulle gaan vanmiddag na haar seun se kortfilm kyk.

Hierdie ‘keuse-storie’ is miskien een ding wat ek as kritiek teen die feeskomitee het – toe ek die e-pos kry wat my uitnooi om vooraf te kies waarna ek wou kyk, het ek deur die program gegaan en beskrywings van al die bestaande films, kortfilms, lang films en dokkies gekyk en sommer lukraak besluit wat ek wou sien.  Dit sou nogal gehelp het as hulle vooraf gesê het wie die regisseur, akteurs en so aan sou wees sodat ‘n mens ‘n meer ingeligte keuse sou kon maak.

Ek het oorspronklik iets anders gekies om in dieselfde tydgleuf te kyk, maar het dadelik van plan verander.  Die drie van ons het sagte sitplekke gekry waar ons die tyd tussen twee kortfilms verwyl het met kennismaakgesels. Volgende op hulle lys is iBokhwe, en ek besluit om dit saam met hulle te gaan kyk Ons mis ‘n sessie voordat ons weer in die Yskas gaan sit. Ek moet weer tussen twee koppe voor my deurkorrel, maar ‘n rukkie raak ‘n mens min of meer gewoond daaraan om die silhoeëtte op die onderste kwart van die skerm te ignoreer.  Dis ‘n intense kortfilm, insiggewend wat die inisiasie van swart seuns in Suid-Afrika vanuit ‘n ander oogpunt beskou. Ek vind dit interessant om iets wat selde meer as ‘n kommerwekkende kort beriggie in ‘n koerant is, vanuit ‘n ander perspektief te beskou.  Ek gaan my egter nie verder uitlaat oor gehalte en kykbaarheid en al die tegniese aspekte nie.  Interessant behoort ‘n hele paar indrukke te dek.

Nou eers terug na die werklikheid toe – dis Maandag! Ek skryf binnekort weer oor die res…

Profile photo of katrina

by katrina

‘n Dag in die lewe van…

Augustus 5, 2014 in Uncategorized

Dis nie aldag maanskyn en rose om vir ‘n klomp seunskinders skool te hou nie. Een ding is egter seker – dis nooit vervelig nie…

Vandag se eerste drie periodes het elkeen sy eie atmosfeer en karakter gehad, soos altyd. Eerste aan die beurt was die Graad Tiens, die nog vis, nog vlees groepie. ‘n Intelligente klompie wat altyd gereed is om jou met ‘n vraag of ‘n stelling te troef. Ongelukkig is my enigste verweer teen hulle uitdagings om sommer maklik sarkasme uit die mou uit te pluk, dus is daar altyd een of ander skermutseling aan die gang. Darem meestal tong-in-die kies.

Om met tieners te werk beteken daar is nooit enige sekerhede nie. Net soos verhoogkunstenaars hang ‘n onderwyser se bui grootliks af van die ‘sukses’ van ‘n pas afgelope les. Die een dag loop jy met sterre in jou oë rond omdat jy voel dat jy iets bereik het, net om die volgende dag met ‘n harde slag terug te kom aarde toe en jou kop meewarig te skud.

Die teenoorgestelde is egter ook waar. Daar was al baie dae wat my geduld tot op die uiterste beproef is en wat ‘n rammetjie-uitnek seun dit regkry om my so om te krap dat ek op my tande moet byt om nie ‘n vloekwoord of drie of vier af te rammel om uiting aan my frustrasie te gee nie. Soms word ‘n les eenvoudig net op sy kop omgekeer en is daar net mooi niks wat werk nie.  Op so ‘n dag sal ek swaarmoedig huis toe gaan, wonder wat my ooit besiel het om te dink dat ek vir kinders iets kan leer.  Die volgende dag gaan ek terug met ‘n kop vol planne oor hoe om die uitdagendes en halstarriges hierdie keer te benader, reg vir oorlog. Dan neem hulle net so maklik die wind uit my seile wanneer hulle met groot glimlagte die klas instap asof niks die vorige dag gebeur het nie!

‘n Kollega van my sê dat dit die voordeel daarvan is om met seuns te werk: jy het hewige onderonsies met hulle, maar hulle wroeg nie daaroor nie en beweeg aan. Meisies is ‘n ander saak – hulle vergewe glo nie maklik as hulle dink dat jy hulle te na gekom het nie.

So stap ek vanoggend by die klas in terwyl ek nie te watwonders voel nie. Soos gewoonlik bondel die Graad tiens in die voorportaaltjie van ons departement saam en gons dit soos nuus uitgeruil word. Ek word uitbundig gegroet en stoei ‘n pad tussen hulle oop om by die deur uit te kom.

Gister het ek die gedig “Ma” van Antjie Krog met hulle gedoen en ons almal het dit geniet. Dit bly een van die mooiste gedigte in Afrikaans. Net daar kry ek toe die idee dat hierdie klompie vandag self gedigte vir hulle ma’s moet skryf. Om te sê dat hulle nie beïndruk met my voorstel was nie, is om dit sagkens te stel. Onmiddellike proteste van “maar net meisies skryf gedigte” het dadelik opgegaan, maar ek het geweier om te luister en hulle van seksisme beskuldig. Waar in jou lewe het jy gesien dat ‘n mens nog steeds onderskeid tussen die geslagte se talente maak, wou ek weet.

Met ‘n paar idees sit ek hulle toe aan die werk. Ek onthou dat een van die outjies ‘n ongelukkige geskiedenis met sy ma het en sê toe dat hulle as hulle wil, eerder vir hulle pa ‘n gedig kan skryf. Kort voor lank is hulle gesigte vol konsentrasie en elke nou en dan wil iemand weet wat die of daai woord in Afrikaans is. Sommige brom onderlangs toe hulle boonop hoor dat hulle net hierdie periode en vanaand het om met hulle meesterstukke vorendag te kom.

Wat ‘n verrassing toe ek die eerste drie gedigte inkry! Sjoe, dis sulke oomblikke wat my hart vermurwe en my weereens net laat besef het dat ‘n mens nie jongmense, en veral nie seuns moet onderskat nie.  Ek kan nie wag om die res van die gedigte more te sien nie…

Tweede periode was minder suksesvol. Ag nee! Wie, o wie het besluit dat hierdie spesifieke gedig (ek sal liewer nie die titel noem nie want ek wil op niemand se tone trap nie) geskik is vir tieners net omdat dit deur ‘n tiener geskryf is?  Ek sê dit nie maklik nie, maar regtig, dis ongelooflik vervelig. Teen die vytiende reël wat ek sorgvuldig en so entoesiasties as moontlik aan hulle opdis was ek seker ek praat nie net in my slaap nie, maar ook in die Graad Elfs s’n.  Ek sweer as ek nog ‘n outydse swartbord gehad het het ek ‘n hele pakkie kryt net daar opgeëet uit skone frustrasie… Teen die einde van die periode was ek seker dat dit al pouse was, maar nee, nog ‘n hele les om deur te sien voordat ek weer kan asemhaal…

Hierdie keer stap die stoutste klas in – Graad nege. Hulle is nie meer die babas in die skool nie en glo my, hulle kan ‘n mens se wieletjies binne die eerste vyf minute van ‘n les heeltemal pap maak. Hier reg voor my sit Bennie Boekwurm met sy bril op die punt van sy neus. Mammie se liefsteling, sagte velletjie en ondeunde oë, intelligent, maar… so aanhoudend. Hy praat stadig en hy praat heeltyd. Hy weet nie dat ‘n mens soms net moet luister en jou mondjie moet toehou nie.

Langs hom sit die sproetgesig met energie wat oor die hele klas wil bons. Hy mis niks nie, want tussen die skryf en die luister deur kry hy dit reg om permanent ‘n gesprek met die outjies agter hom te voer. En soos skoolkinders is, is hy heel verontwaardig wanneer jy hom tereg wys want hy het mos niks verkeerds gedoen nie. Kyk dan net, kyk, hier is al die sinnetjies in sy boek.

En so is daar ‘n hele klas vol besige mannetjies, lawaaierige mannetjies wat my soms laat glo ek sit in die middel van ‘n disfunksionele groep:  hier tik-tik een aanhoudend met sy pen, daar ry ‘n ander een op ‘n stoel en lag vir die aanslag van swaartekrag, in die hoek sit ‘n ander een en sluit hom van die wêreld af met ‘n storieboek, terwyl hy eintlik moet luister.

Ek verduidelik vir hulle dat ons vandag ‘n ernstige gediggie gaan doen. ‘sprokie’ van Ansa van der Walt – ryk aan beelde en dieper betekenisse. Uiteindelik is almal rustig en luister hulle (meestal) aandagtig. Tot… iemand hier aan die kant ‘snuf in die neus’ begin kry en binne drie sekondes is daar chaos en wonder almal wie die skuldige is wat die onwelriekendheid veroorsaak het… Ag nee, ai tog! Dat so ‘n onsigbare dingetjie die mag het om ‘n hele periode te ontwrig! En dit sowaar in ‘n les wat die potensiaal gehad het om een van die min suksesvolles te wees…

Jip, dis nie altyd maklik om vir ‘n spul seunskinders skool te hou nie, veral omdat jy nooit kan voorspel watter rigting ‘n les gaan inslaan nie….

Profile photo of katrina

by katrina

Vir dié wie se woorde opgedroog het…

Augustus 1, 2014 in Uncategorized

Woorde is vir my lewe wat agtergrondmusiek vir ‘n film is – dit maak dit net… anders. Hartseer word hartseerder, interessant word interessanter, doodgewoon word… nie meer so vaal nie.

Woorde verlig jou hart.  Daar is terapeute wat daarin glo om net te luister, want namate ‘n mens die donkerte van jou binnekamer aan die lig blootstel, is dit verstommend hoeveel insig jy ontsluit.  Lig word ligter.

Woorde kan jou gemoed egter ook verswaar.  Deel jou klagtes, dinge wat jou irriteer, dinge wat ‘n slegte nasmaak in jou mond laat… en jy word meer swaarmoedig. Male sonder tal het ek dit al self ondervind – die arme stommerik aan die ontvangkant wat beleefd luister raak later so opgesweep dat hy of sy ook weemoedig saamstem en ‘n hele paar stuiwers in die armbeurs begin gooi. Skielik sien jy nog foute, nog ongeregtighede, nog onregverdighede raak. Nog. En nog ‘n keer nog. Dan loop jy soos Atlas daar uit – die wêreld op jou skouer en jy die versteende standbeeld.

Dié wat weet sê dat dit altyd goed is om op jou dag te reflekteer, terug te kyk en ‘n ander perspektief te kry. Nie dat dit enigsins iets aan die feite daarvan kan verander nie, maar wanneer jy iets in swart op wit probeer vaspen, verander dit die prentjie. Net so effens. Maar genoeg. Genoeg om aan te beweeg en agter te laat.

Woorde gee vorm aan dit wat abstrak in jou denke ronddool. Woorde word instrumente, wat nes musiek, ‘n snaar kan aanraak wat jou week maak, wat jou saamsleur, wat vlerke aan jou gedagtes gee.

Woorde is werklik die vensters waardeur buitestaanders na jou siel kan kyk. Maak nie saak hoe hard ‘n mens soms probeer om ‘n ander prentjie voor te hou nie – mense lees tussen die lyne. Hulle ‘hoor’ daardie wanklanke wat deurskemer, waarmee ‘n mens jouself probeer oortuig dat alles reg is, goed is, wonderlik is. Soms sien jou ‘gehoor’ ook dinge raak wat jy self miskyk.  Dinge waarvoor jy jouself nie krediet wil gee of kan gee nie, omdat jou lewe te verstrengel of te gekompliseerd is.

Ek dink nou onwillekeurig aan daardie sentimentele liedjie van die tagtigs: “Ek wens jy kon jou deur my oë sien…”

Woorde is inderdaad vir baie van ons wat hier skryf, die agtergrondmusiek van ons lewens. Maak nie saak hoe saai of alledaags ons dit self ervaar nie – ons woorde kan dit omtower en al is dit net vir ‘n oomblik, ánders laat lyk. Heeltemal ánders. En minder saai….

So, moenie ophou skryf nie, moenie ophou deel nie, moenie ophou nie.

Profile photo of katrina

by katrina

Om te gryp of nie te gryp nie…

Julie 30, 2014 in Uncategorized

Dis ‘n filosofie waarvan ‘n mens so dikwels hoor: leef in die oomblik.  Dit klink so maklik, so natuurlik, maar eintlik is dit makliker gesê as gedaan, omdat ‘n mens nie altyd besef wanneer jy nié in die oomblik leef nie…

Eintlik is dit menslik om nie elke oomblik ten volle te beleef nie. Van kleins af word ons lewe bestippel met spesiale geleenthede waarna ons uitsien: ‘n verjaarsdag, ‘n vakansie, ‘n partytjie, die naweek wanneer my maatjie kom kuier, Oupa en Ouma wat volgende maand kom… En vinniger as ‘n oogknip gaan dit verby en is ons soos ballonne wat afgeblaas is of sommer net skielik geplof het. Geen probleem nie, want vir ‘n dag of wat gaan ons aan voordat daar weer iets nuuts is om na uit te sien.

Dit voel soos gister wat ‘n ek standerd sessie was wat met reikhalsende verlange daarna uitgesien het om al in standerd agt te wees, nes my ouer boetie. En nou? Nou is daardie jare lankal al verby en is daar net enkele oomblikke wat my onthou bestippel.

Daar is ook die kere wat ek tyd wou vashou, omdat ek bang was vir die vreemde, die onbekende wat oor die horison geloer het en kort voor lank op my drumpel staan en klop het. Maar daardie tye het ook verbygegaan en het die uitsiendinge algaande minder geword. Soms het dit selfs gebeur dat ek nie te veel na iets wou uitsien nie, omdat ‘n mens se verwagtinge soms die realiteit kan oorweldig en jou teleurgesteld laat omdat dit onrealisties is.

Kort voor lank het ek meer agtertoe as vorentoe begin kyk, deel van die ‘sjoe, dit was darem maar lekker tye daardie” brigade geword. Onvergenoegd, het ek op ‘n dag besef, onbewus van die belangrikheid van die oomblik.

Holruggeryde idees, nie waar nie? Net soos vele ander gesegdes of filosofieë wat ‘n mens so dikwels hoor, onwetend dat dit eintlik net holrug is tot jy besef dat jy eintlik midde in daardie holtetjie is.  Dis tegelykertyd ‘n ontnugterende en ‘n bevrydende gevoel wanneer daardie gedagte eers in jou denke posgevat het. Jy besef jy moet iets daaraan doen, maar jy weet nie hoe nie. Nogtans is dit op ‘n vreemde manier ‘n ontdekking wat die begin van ‘n meer sinvolle, doelgerigte bestaan kan word. Die ding is net, hoe op aarde kry ‘n mens dit reg om die meeste uit elke oomblik, elke dag te haal?

Deesdae skud ons ons koppe meewarig vir die moderne mens, die tegnologiegedrewe lewens om ons wat naarstiglik rekord hou van elke ding wat in hulle lewens gebeur.  Selfies, statusse wat opdateer word, blogs, joernale – ‘n oneindige string instrumente wat amper-desperaat daarop ingestel is om te sê: kyk, ek was daar, ek het gesien, ek het gehoor, ek het geproe, ek het gelag en gesels. Ek het geleef.  Ek leef…

Sommige van ons sit op die kuberdraad waar ons koppe soos tenniswedstrydtoeskouers in reëlmaat van die een kant na die ander kant toe beweeg.  “To join, or not to join?”  Ons besluit: “If you can’t fight them, join them.” In Rome maak ons immers soos die Romeine. Dan spring ons aan die Rome-kant af en kort voor lank is ons deel van die nuwe leefwyse. Kort voor lank het ons vergeet hoe die wêreld voor die internet gelyk het.

Dan is daar die ander wat sinies bly, wat met ‘n oordaad van versigtigheid al die moderne verwikkelinge met ‘n valkoog dophou en wie se filosofie keer op keer bevestig word, wat hulle daarop roem dat hulle beslis nie in al die strikke gaan trap nie.  Hulle sien en hoor mos hoe dit ‘n mens se lewe kan oorneem…

Dis moeilik om ‘n balans te vind.  Aan die een kant probeer jy die beste van elke oomblik maak, probeer jy ten volle elke aspek daarvan beleef, maar aan die ander kant kan die poging daartoe ook jou lewe oorneem, dit ook ‘n kunsmatige, onnatuurlike skynsel gee.

In my studentejare het ek ‘n joernaal begin hou, ‘n uitlaatklep vir my gedagtes gesoek. Toe ek begin werk het in ‘n werk waar daar baie stil oomblikke van wag was voordat iets anders in dolle vaart sou gebeur, het ek begin notatjies maak in ‘n poging om nie net verveeld in die verte in te staar nie.  Notatjies wat orals beland het en waarvan ek dikwels vergeet het, wat selfs later toe ek aanbeweeg het interessante leesstof vir my plaasvervanger verskaf het. Onbewustelik het ek die oomblik vasgevang sodat dit later weer ‘n instrument vir terugkyk sou word.

Op reis gryp ek aan die einde van die dag na my notaboek, moeg na liggaam en na gees wat soveel dinge gesien, gehoor, ervaar het.  My voete is seer van loop, my kop wil slaap, diep slaap. Ek pen die woorde neer, my skrif is skeef en onleesbaar. Notatjies aan myself sodat ek later weer kan onthou.  Dis ‘n gawe ding om te doen, eintlik, want in die ordentlik oorskryf en die weer-lees ervaar ek weer.

Net soos dié wat van elke benullige en onbenullige ding ‘n foto op Facebook plaas, kliek my kamera ook heeltyd.  Ek probeer soveel as moontlik in ‘n ervaring inprop, probeer die prentjie bewaar. Hoe meer ‘n mens dit egter doen, het ek besef, hoe minder is jy fisies ‘daar’.  Elke oomblik wat jy van agter die kamera die wêreld bekyk verander jy dit in ‘n ‘bêre tot ek dit later kan beleef’ oomblik…

Ek het geleer om aan spesiale oomblikke te herkou.  Gee ‘n hap, kou vinnig ‘n paar keer en sluk dit haastig af. Dan, later, wanneer dit stil word, kom die herkouballetjie weer op en dan proe jy dit weer….

Daar is nie ‘n verkeerd of reg nie. Ons is mense. Ek is ‘n mens en ek is jy en jy en jy. Maar ook nie, ek is ‘n individu. En elkeen van ons bly strewe daarna om ons selfopgestelde doelwitte te bereik. Meestal bly dit ‘n strewe, want dis ‘n bestemming wat nie maklik is om te bereik nie.

Gryp die dag, leef in die oomblik, dink ek, maar pasop dat selfs hierdie eenvoudige filosofie jou nie laat vergeet om bloot net mens te wees nie.  Soms is dit nodig dat die dag jóú gryp…

 

Profile photo of katrina

by katrina

Sondaggedagtes…

Julie 27, 2014 in Uncategorized

Daar is twee soort boeke wat ek graag lees. Die eerste een is vinnig, met ‘n storielyn wat jou vinnig van die een toneel tot die volgende neem en wat jy binne ‘n dag of twee kan klaarlees.  Die tweede tipe is die boek wat ek toevallig ontdek – ek begin dit lees en dan besef ek: hierdie een gaan lank neem om te lees…

Die rede vir laasgenoemde is dat ek soms ‘n boek oopmaak wat die woorde na my toe laat opspring, wat beelde en herinneringe en ‘n emosionele energie in my wakker maak sodat ek gedwing word om na ‘n paar oomblikke eers stil te sit en voor my uit te staar en te dink.

‘n Goeie boek is vir my een wat nie net met my kommunikeer nie, maar my ook lus maak om te wil skryf, te wil vertel, woorde soos ‘n towerstaf in die hande van ‘n bedrewe towenaar te wil gebruik.

Hierdie soort boeke met hulle magiese woorde slaag daarin om deur die fassades van my alledaagse bestaan te dring, mikroklein gaatjies te vind en deur te dring tot in die binnekamer van my hart waar dit kom nestel.  Soos ‘n droom wat vir ‘n rukkie in jou semi-onderbewuste bly voortdraal en jou in die soet-bewustheid tussen slaap en wakker laat wonder of dit nie dalk regtig gebeur het nie, want dis so naby aan jou soos asemhaal.

In ‘n lang gesprek tussen my gedagtes en die woorde in die boek reis ek in my herinneringe rond, gaan ek terug op die spore van katedrale en paleise, van mense met strak gesigte op ‘n warm somersmiddag, van dubbelverdiepingbusse waar jy vanuit die veiligheid van jou toeristekokon met gulsige oë alles rondom jou kan waarneem. Ek onthou ‘n skemeraand op die bo-dek van ‘n bus met die maan wat in ‘n vuuroranjebal oor die kruin begin kruip het, verby stringe woonstelblokke en een waar ‘n vrou die plante op haar balkon natgegooi het, opgekyk en vir my gewaai het.  Ek sien jou en ek weet dat jy my sien…

My gedagtes draai om die wese van elke mens, wat gesien wil wees, want elke keer wanneer iemand jou raaksien, bevestig hulle jou bestaan. Of dit nou ‘n toevallige oogkontak tussen rakke kruideniersware in ‘n supermark is, of waar jy op ‘n platform in ‘n vreemde land op ‘n trein wag, of waar jy haastig verby ‘n voetganger jaag en sy draai om, kyk jou in die oë. Of soms bloot net ‘n straatkind op ‘n straathoek met vuil stofhandjies wat bedel….  Die boodskap bly dieselfde: ek sien jou en ek weet jy sien my.

Is ons tog nie maar almal dieselfde nie?

Ons samelewing en die manier waarop ons kommunikeer is stadig, dog onomkeerbaar besig om te verander.  Ek gryp na my skootrekenaar in ‘n poging om die woorde en beelde wat so argeloos ronddool vas te vang, konkreet in swart op wit te verewig.  Te verewig?  Vir wie? Vir myself, vir ander? Vir hoekom?

Op die sosiale netwerke sien ons ‘hulle’: dié wat op elke muur van Facebook hulle graffiti kom krap, dié wat selfs die kleinste en vir ons die mees onbelangrike besonderhede van hulle bestaan aan die wêreld wil verkondig, dié wat in trol-skap ‘n uitlaatklep vir die desperaatheid van ‘n geïsoleerde bestaan vind, dié wat op elke forum, elke platform, elke blogspasie hulle ‘unieke’, spesifieke idees agterlaat, dié wat met soms byna-perverse genoegdoening die instrument is wat die spreekwoordelike been tussen die honde ingooi en dan terugstaan om die geveg en die bloedlaat van ‘n veilige afstand af dop te hou…

En dan is daar natuurlik: ‘ons’.  Ons is mos anders.

Ons is mos nie almal so nie.

Of is ons?

Profile photo of katrina

by katrina

Word my wêreld kleiner?

Julie 12, 2014 in Uncategorized

Die aarde het wit onder ‘n fyn lagie ryp gelê, nou-die-oggend toe ek die gordyne ooptrek om die daglig in te gooi. Yskoud, maar met die belofte van ‘n sonnige dag wat wag.

Ek het my kamera gegryp in die hoop dat ek ‘n paar tonele sou kon vaslê. Nes ‘n wafferse fotograaf, maar dié is ek tog nie. So vanuit die stotterende karretjie – onderdak is nie alkant-beskerming nie – ry ek stadig ‘n draai, op doek na die ideale foto, maar ek kry niks nie. Alles lyk dieselfde as so ‘n paar weke gelede se wit wêreld: koud en verlate… Toe kon ek wel ‘n foto of twee neem, maar nou is dit net ‘n herhaling van toe.

Hoe dikwels is ons lewens nie net ‘n herhaling nie! Dieselfde tonele, dieselfde gesprekke, dieselfde woorde waarmee ons kommunikeer.  Geskiedenis wat homself herhaal. Prediker wat sê daar is niks nuuts onder die son nie.

Kan die mense om ons ons nog verras deur onvoorspelbaar op te tree?  Kan ons onsself nog verras? Of is daar iewers in ons ‘n stemmetjie wat selfs met die eerste anderste optrede fluister: ek het gewéét dis wat jy gaan doen…

Half mistroostig minder stotterend kruip die tjorretjie om die laaste draai. Ek sug. My hande op die stuurwiel is yskoud. My tone ook, daar waar hulle by my ooptoonpantoffels uitloer. Ek draai links terug na my straatjie toe en kyk op na die hoekpaal waar die wyevisiespieël gemonteer is, die weerkaatsing van die son halfpad versluier deur die dun lagie ys wat nog daaraan klou.  Ek stop en neem ‘n foto van die beeld wat daar vasgevang is.

Agter my huis in die hoek sit die drie hondjies in ‘n ry en bewe – dis die enigste stukkie sonkol hierdie tyd van die oggend, maar dis beter as die koue keramiekteëls in die kombuis. Die wêreld is nou vir hulle net daardie klein strokie son.

Wanneer ek later na my foto kyk, besef ek: die wêreld is inderdaad ‘n kleine plek, hier waar ons vasgevang in die oomblik leef.  Op die ou einde is dit ons keuse om wyer te kyk. Maar net as ons wil…DSCN3272