Tale maak deure oop

January 27, 2016 in Uncategorized

Tale maak deure oop. Dit is weereens die slotsom waartoe ek gekom het toe ek onlangs in Pole gekuier het. As ek in Pole kom, dan soek ek graag van my oudstudente op vir wie ek Afrikaans gegee het. Dit is dan lekker om te hoor wat hulle doen en watter beroepe hulle volg.Twee van my oudstudente het na hulle Suid-Afrikaanse studies verder met Nederlands aangegaan en die een werk nou vir ‘n Nederlandse maatskappy in Pole en die ander een woon en werk nou in Oostenryk (via ‘n Nederlands-Afrikaanse roete!).

‘n Ander student, Karolina D, werk in Warskou vir ‘n maatskappy wat vertaal- en oorklankingswerk vir Walt Disney doen. Sy werk in Pools en Engels, maar haar Suid-Afrikaanse studies en ondervinding het waarskynlik die deurslag gegee in haar aanstelling. Sy is baie daaroor in haar onderhoud uitgevra en ek wil graag glo dat dit iets is wat in haar guns getel het. Verder vertel sy my dat sy graag haar Afrikaans gebruik as sy by funksies in Suid-Afrikaners se geselskap is. Dit maak enige dosent/onderwyser se hart warm om sulke verhale te hoor.

Later die aand sou ek saam met Karolina en haar vriende gaan uiteet. Voor ons vertrek om by die vriende aan te sluit, verduidelik Karolina dat haar vriendin soms moedeloos raak as sy buitelandse gaste het. Sy is nie aldag lus om Engels te praat nie en dit is te veel van ‘n inspanning om met buitelanders ‘n gesprek te voer. Karolina se vriendin was juis so vies oor die beheptheid met Engels toe hulle saam op vakansie na Georgië toe gegaan het (nee, dis nie in die VSA nie, dis ‘n land suid van Rusland – ja dis hulle wat ook rugby speel!).

Die ding werk so. Toe die Poolse vriende hulle sit in die vliegtuig kry (dit is ‘n vliegtuig van ‘n lugredery wat in Hongarye gesetel is) en gereed is vir hulle avonture in Georgië (Georgies is die amptelike taal), vra die lugwaardin wie van hulle Engels kan praat. Karolina dui toe aan dat sy Engels kan praat. Daar kry Karolina toe ‘n heerlike sitplek by die nooduitgang. Nee, verduidelik die lugwaardin, die persoon wat by die nooduitgang sit, moet die opdragte in Engels kan verstaan. Kyk, dit slaan my dronk hoekom die opdragte in Engels gegee moet word as die vlug tussen Pole en Georgië is, maar dit lyk my vreemde tale soos Engels maak tog deure oop … of hopelik nie!

Ek het die aand Pools met Karolina se vriende gepraat, want tale maak ook die deure na mense se harte oop.

Eensame vooruitgang

November 25, 2015 in Uncategorized

Ek kuier mos so ‘n week of wat gelede in Soweto en terwyl ons Potchefstroom eet en tee drink, gesels ons oor kostradisies. (Miskien moet ek myself net gou hier onderbreek, Potchefstroom is een van die name vir skons in Soweto.)

“Dit sal lekker wees as dit weer reën. Ek is hoeka lus vir pannekoek,” sê ek.
“Pannekoek?” vra my gespreksgenote.
“Ja, ‘n mens bak mos pannekoek as dit reën.” Ek begin nou so ‘n bietjie twyfel.
“Nee, ons eet vetkoek in Soweto as dit reën,” sê oom Abraham.

Ons luister Kersmusiek en ek is nou nuuskierig. Hoe word Kersfees nou eintlik in Soweto gevier? Oom Abraham is nostalgies. Hy vertel my dat dit baie in Soweto verander het. Vroeër het almal baie kos gemaak en gereed gestaan vir al die gaste. (Kyk, dit is nie net pap en sous nie. Ek was nou al by ‘n Tswanafamilie-ete in Zeerust en laat ek jou vertel daardie tafels kreun onder die aartappel-, bone-, beet- en wortelslaai, hoendervleis, bredie, rys en pap.) ‘n Mens kon by enige huis ingaan en by die tafel aansit vir kos. Die mense was almal buite en hulle het van huis tot huis gekuier. En daar was bier – koringbier of gemmerbier – en genoeg daarvan. En die geskenke? Mama Kate vertel hulle het altyd nuwe klere vir Kersfees gekry. Hulle het ook nie na Kersmusiek geluister nie – hulle het dit self gemaak en oral waar mense saamgekom het, het hulle Kersliedere saamgesing.

Terwyl ons so gesels, dink ek aan die kostradisie in Pole. Daar is ook baie kos op Oukersaand. Om die waarheid te sê twaalf geregte, want dit herinner aan die twaalf apostels. Weliswaar geen vleis nie – net vis (verkieslik vars karp wat nog in die bad swem). Daar word ook ‘n ekstra plek gedek (nou net simbolies vir ‘n onverwagse/onbekende gas) met ‘n bietjie strooi onder die tafeldoek as herinnering aan Jesus wat in ‘n stal gebore is. Vroeër jare was dit glo nie vreemd dat gaste onverwags op Oukersaand aangeklop het nie. Mense het gereed gestaan vir besoekers wat in die koue winterweer vir skuilplek gesoek het en daarom was daar altyd vir ekstra mense gedek.

En agter my hoë kompleksmure word ek saam met oom Abraham hartseer oor ons eensame vooruitgang.

Elders

November 16, 2015 in Uncategorized

Stellenbosch. Mea culpa. Afrikaans sluit uit. Bloemfontein. Mea culpa. Kom ons beskerm ons kinders teen die wrede koloniale Afrikaans. Potchefstroom. Mea culpa. Die wêreldtaal sal ons red. Pretoria. Mea culpa. Ons is oordrewe sensitief oor Afrikaans.

Is dit net Afrikaanssprekendes wat oor hulle taal begaan is? Hoe lyk dit elders?

Why can’t the English teach their children to speak?

Be cool … speak Deutsch

Ek gesels so paar jaar terug met ‘n ouerige egpaar in Rostock (Duitsland). Die man was diep bekommerd oor die baie Engels wat die Duitse jongmense gebruik en kla toe by my dat hy hulle werklik met tye nie kon volg nie. Maybe then vielleicht is Englisch zu cool zu verstehen.

Spanglish songs

Pools of Ponglish?

Op ‘n Facebookblad wat min of meer vertaal kan word as “Goeie Pools”, is die volgende kommentaar en foto geplaas:
“Kom ons wees trots op ons moedertaal” – Bądźmy dumni z naszego języka ojczystego! 


Een van die (ironiese) kommentare op hierdie foto was: “Kom ons wees trots (op Pools) en dra Engelse hemde!”

Arabies

Sal die verskraalde aanbod van Afrikaans op tersiêre vlak regtig so groot verskil op die toekoms van Afrikaans maak? Ek weet nie. Ons moet die vraag maar weer oor 20 jaar in die wêreldtaal bespreek.

Intussen kry sommige besluitnemers ‘n paar sterretjies op die voorkop (nee wat, score sommer ‘n paar brownie points) en sommige sus hulle gewetes dat Afrikaans vir Apartheidsondes geoffer is.

Taal en identiteit

November 7, 2015 in Uncategorized

Keiser Karel V van die Heilige Romeinse Ryk in die 16de eeu sou glo op ‘n keer gesê het dat hy Spaans met God praat, Italiaans met vroue, Frans met mans en Duits met sy perd. Nou hoe waar dit is, sal ek nie kan sê nie, maar hy kon hom waarskynlik goed genoeg in die tale help. Ek wonder net of hy soms ook gewonder het wie hy nou eintlik is met sy groot ryk waaroor die son nooit ondergegaan het nie. Sou hy meer Frans gevoel het? Sou hy later die gevoel afskud dat hy ‘n vreemdeling in Spanje was?

Quo vadis?
Ek is nou nie ‘n keiser nie, maar ek reis graag en is mal daaroor om verskillende tale en kulture te leer ken. Dit is beslis ‘n ongelooflike voorreg, maar dit is iets wat ‘n mens nie onaangeraak laat nie. Hierdie avonture word nie net foto’s wat in ‘n fotoalbum beland en af en toe bekyk word nie. Hierdie avonture het soms die geneigdheid om jou ernstig oor jouself en jou identiteit te laat besin. En dit is nie noodwendig lekker nie.

Sit dit af!
Ek is die produk van die 1980’s. Lekker onstuimige jare om in skool te gaan. Ek was in ‘n wit laerskool maar in ‘n gemengde hoërskool. Ek het op laerskool baie trots in die  oggende die oranje-blanje-blou-ons-is-lief-vir-jou-vlag help hys en ek het die Vlaglied uit my kop geken. Dit was soos religie. Dit was heilig! In die hoërskool was ek vasgevang tussen die ideologie van die verlede en ‘n nuuskierigheid om my Suid-Sotho uit te toets. Die lyn tussen ons en hulle het met tye begin vervaag, maar met tye was dit ‘n soliede dik streep.

Dit is seker tipies van my generasie. Ons is nie heeltemal seker wie ons as wit Afrikaanssprekendes is nie. Daardie ewige skuldgevoel of regverdiging of “dit is nie my skuld nie”. Sommiges beskou hulleself beslis as Afrikaners. Ander sweer dit af en weier om enigsins Afrikaans te praat. Dan is daar diegene wat onskuldig pleit en vra dat ons moet vergeet van die verlede. Dit is ‘n saak waarmee ek in my klein wêreld te midde van ‘n groot veranderende wêreld geworstel het. As ‘n mens nou na die laat tagtigs en begin negentigs van die vorige eeu terugdink, was daar darem baie veranderings wat regoor die wêreld plaasgevind het. Hier dink ‘n mens onwillekeurig aan die val van die Berlynse muur, Lech Wałęsa, Pinochet van Chili se val en natuurlik Gorbatsjof!

Irgendwo in Afrika
Ek het as tiener altyd geglo dat ek Europa toe moes gaan om my ware identiteit te vind. Die Afrikaner is tog deel van die Westerse beskawing! Ek was tydens my eerste reise meestal in Duitsland. En al wat ek daar uitgevind het, was dat ek nie ‘n Europeër is nie. In elk geval nie ‘n Duitser nie, al my Duitse voorvaders ten spyt. Ek kon toe sterk identifiseer met die hoofkarakter in die verhale Nirgendwo in Afrika (“Nêrens in Afrika”) en Irgendwo in Deutschland (“Êrens in Duitsland”) deur Stefanie Zweig. In my geval was dit net Nêrens in Duitsland en Êrens in Afrika.

Herbata po angielsku
Interessant, die teenoorgestelde het met my in Pole gebeur. Aan die begin moes ek ontdek hoe Brits my kultuur teenoor die Poolse kultuur was! Ek drink tee met melk (herbata po angielsku). Ek hou van slap tjips met sout en ASYN. Ons wil dit nie altyd erken nie, maar die Engelse het ‘n groot invloed op ons (wie die ons ook mag wees) manier van dink gehad. Na die lees van ‘n dun boekie oor die verskille tussen Pole en Amerikaners moes ek ook tot die slotsom kom dat ek nie te veel van die Amerikaners verskil nie! En tog het ek so gou gemaklik in die Poolse kultuur gevoel. Ek het regtig later soos ‘n Pool gevoel (of soos ek dink ‘n Pool moet voel!) en ek het gewonder hoekom ek die identiteit so maklik kon aanneem. Miskien was dit makliker om ‘n Pool te wees omdat hulle volgens die geskiedenis die verontregdes was (die teikens van Duitsers en Russe). Ek hoef nie skuldig oor my “verlede” te voel nie! Daar was geen probleem om trots te voel op my nuwe identiteit nie. Ek kon sonder vooroordeel behoort.

Yes, we can!
Daar is verskeie teorieë oor tale en identiteite, maar ek is vas oortuig dat ons ietwat anders dink en optree in verskillende tale. In Pole het ek vir ekstra geld Engelse skryfklasse vir M-studente gegee. Daar was twee soorte groepe – dié wat in Britse Engels spesialiseer en dié wat in Amerikaanse Engels spesialiseer. Die twee groepe het soos dag en nag verskil. Almal was Poolse studente, maar my aanslag met hulle het verskil. Met die Britse groepe was ek meer gereserveerd, maar ek kon my “op-die-tafel-klim-motiveringspraatjies” vir die Amerikaanse groepe gee.

Soveel male is ek
Miskien lê die vreugde in die aanleer van tale en reis tog daarin dat ek nie in een identiteit vasgevang hoef te wees nie. Dit is nie noodwendig ‘n maklike reis nie en dwing jou telkens uit jou gemaksone, maar dit is die moeite werd.

Kan ons meertaligheid bekostig? (2) Taal en transformasie

October 28, 2015 in Uncategorized

BRUEGEL SE TWEE APIES

Wisława Szymborska

So lyk my groot Matriekeksamendroom:
twee apies sit vasgeketting in die venster,
agter die venster wapper die lug
en was die see homself.

Ek lê eksamen af in mensgeskiedenis.
Ek stotter en stamel.

Een apie, starend na my, luister sarkasties,
die ander lyk of hy dagdroom —
maar wanneer daar stilte op ‘n vraag ontstaan,
moedig hy my aan
met stil klingelende ketting.

(Vry vertaal uit die Pools: Karien Brits – lees meer oor die gedig in Engels)

Ek kon nie help om aan hierdie gedig van die Nobepryswenner, Wisława Szymborska, te dink toe ek oor die gebeure, protesoptogte en #feesmustfall van die afgelope ruk nadink nie. Hierdie gedig is geskryf in tyd van die 1956-opstande in Poznan, Pole. Die Pole het in verset gekom teen die regering van die dag en aangedring op laer kospryse, beter lone en werksomstandighede. In die Suid-Afrika van 2015 is ons weer besig om ‘n eksamen in mensgeskiedenis af te lê en ons nageslag sal eendag moet sê of ons daarin geslaag het of nie.

Dekolonialisasie van kennis
Ek sien een van die studente se eise is die dekolonialisasie van kennis. En ek wonder watter een van Bruegel se apies kyk nou na my. Is dit die een wat sarkasties luister of die een wat my met sy klingelende ketting aanmoedig? Ek het ‘n ongelooflike respek vir die akademiese tradisie wat uit Europa kom, maar ek weet dit is nie die enigste bron van kennis of wysheid nie. Ons woon en werk in Afrika – ons kan nie die ongelooflike kennisstrukture ignoreer en net die Westerse idees as geldig aanvaar nie. My hoop is dat hierdie proses om kennis te dekolonialiseer nie net ‘n oppervlakkige plak-‘n-pleistertjie-proses sal wees nie. Mag die dekolonialisasie van kennis en idees nie NET in die koloniale taal geskied nie, maar OOK in die bevrydingstale. Taal bly tog die draer van die kultuur en inheemse kennisstelsels.

Kan ons gratis hoër onderwys bekostig? Ek weet eerlikwaar nie. Kan ons meertaligheid in die hoër onderwys bekostig? Ek weet nie of daar na gratis hoër onderwys geld vir meertaligheid sal wees nie. Ek weet net as ons ernstig oor ware transformasie is, kan ons nie eentaligheid bekostig nie.

 

Wenke vir persoonlike meertaligheid

October 25, 2015 in Uncategorized

Ons onderskat onsself dikwels as dit by die aanleer van tale kom. Om een of ander rede dink ons dit is net ander mense wat nuwe tale kan aanleer en dat ons te oud, te dom of te besig is. Niemand is te oud of te dom om ‘n taal aan te leer nie. Ek wil in hierdie blog ‘n paar wenke gee en jou (hopelik) aanspoor om ‘n nuwe taal aan te leer.

1. Jy moet ‘n sin vir humor hê. Jy moet veral in staat wees om vir jouself te lag. Kyk, jy gaan beslis baie foute maak en onbedoeld lelike goed in die vreemde taal sê. Ek is nou nog so effe skaam oor wat met my in Pole gebeur het. Dit was so in die begin en ek kon al dankie, asseblief en ‘n bietjie sê. Eendag toe ek by ‘n Engelse vriend en sy Poolse vrou gaan kuier, vra sy vir my of ek al Pools kan praat. Ek sê toe so ewe vol selfvertroue: “Proszę” (asseblief!). Ek het eintlik bedoel: “Trochę” (‘n bietjie). Ek wonder tot vandag toe of sy gedink het ek was sarkasties. So het ook al na die hemel (“niebo”) in plaas van die hysbak (“winda”) gesoek en dit was alles hierdie tranetrekker se skuld -“Windą do nieba“. Dan het ek ook aan ‘n treinstasie ‘n ander geurtjie gegee. Die hooftreinstasie van Poznan (Poznań Główny) het in my poging Poznan “bollie” geword. Ek bloos nou nog daaroor!

2. Wees dapper! Jy moet nie bang wees om foute te maak nie. Die ergste wat kan gebeur is dat iemand vir jou gaan lag en dan lag jy maar saam! Knyp net jou oë toe en maak jou mond oop.

3. Moenie wag toe jy perfek kan praat nie, dit gaan nie gebeur nie. Geen moedertaalspeker praat eers perfek nie.

4. Gebruik jou daaglikse aktiwiteite om die nuwe taal aan te leer. Stel jou selfoon op die ander taal. Lees jou nuus in die ander taal. Kyk televisiereekse in die ander taal.

5. Dit is nie skool nie. Jou beloning is nie in punte en sterretjies op die voorkop nie. Jou beloning lê daarin as jy ‘n gedig kan lees en verstaan. Die sterretjie op jou voorkop is as jy die aanwysings kan volg en by die kasteel kom. Die lekkerte is as jy ‘n nuwe wêreld kan begin verken en as mense hulle harte vir jou begin oopmaak.  Ek het onlangs die volgende op ‘n vriendin se Facebook-blad gelees: “Become friends with people who aren’t your age. Hang out with people whose first language isn’t the same as yours. Get to know someone who doesn’t come from your social class. This is how you see the world. This is how you grow.”

Lekker leer!

Kleurlose taal en komplimente

October 11, 2015 in Uncategorized

“Sjoe, maar jy praat darem mooi Afrikaans!” Op die oog af lyk dit na ‘n kompliment en aanmoediging vir die aanleerder van Afrikaans. In my hart wil ek ook glo dat die persoon wat die kompliment gee dit werklik opreg bedoel. Tog het ek my bedenkinge oor hierdie kompliment in die Suid-Afrikaanse konteks.

Die kompliment van aanvaarding
Ek het die voorreg gehad om ‘n paar jaar gelede Afrikaans by ‘n Poolse universiteit, Adam Mickiewicz-universiteit, in Poznan te gee. (Lees meer oor die Departement Nederlands en Suid-Afrikaanse Studies: http://wa.amu.edu.pl/dutchafrikaans/) Natuurlik het ek die studente ook gekomplimenteer as hulle verbeter het. Selfvertroue en die aanleer van ‘n nuwe taal gaan hand aan hand! Terselfdertyd het ek ook Pools begin aanleer. Ek kon dus saam met my studente deur die taalaanleerproses gaan. Dit is seker ‘n internasionale verskynsel dat mense beginners komplimente gee en so het die Pole begin sê dat ek mooi Pools praat – al kon ek net groet en vra of die ander persoon Engels kan praat. Dit het later beter gegaan en kon ek toe darem meer sê, maar ek het voor my siel geweet dat ek nie mooi Pools praat nie. Dit is nie ‘n kuns om die Poolse grammatika op te mors nie! My grootste deurbraak het gekom toe mense nie meer na Engels oorgeslaan het as ek in hulle geselskap was nie. Dit was die grootste kompliment. Dit was nie die kompliment van “sjoe, jy praat mooi Pools nie!”, maar die kompliment van aanvaarding wat my aangemoedig het om my Pools te verbeter.

Nou weer terug na die Suid-Afrikaanse konteks. Verlede week besoek ‘n seun (16) van Limpopo ons by ons kantoor in Randburg. Hy stel belang in tale en wil graag in die regte studeer. Hy is van graad 1 af in ‘n Afrikaanse skool. En o ja, hy is swart en in sy ouerhuis praat hulle ‘n mengsel van Sotho-tale, Afrikaans en Engels. Hy klink wel soos ‘n wit outjie van Pretoria en wat is die kompliment wat hy by feitlik almal in die gebou hoor? “Sjoe, maar jy praat darem mooi Afrikaans!” of “Ons moet ‘n artikel oor hom skryf!” Wat staan vir hom van sy besoek uit? Die keer toe iemand hom iets oor sy toekomsplanne vra en nie daarna verwys dat hy swart is en Afrikaans praat nie. Ek is amper bang om dit te sê, maar dit is amper asof wit mense die persepsie het dat swart mense nie Afrikaans kan of wil praat nie – vandaar die komplimente. Dit is amper asof die kompliment ‘n (on?)bewuste rassistiese ondertoon kry.

Is taal kleurloos?
In teorie is taal kleurloos, maar in die praktyk is dit ‘n ander storie. ‘n Wit oudkollega het ‘n paar jaar gelede ‘n swart babadogtertjie aangeneem. Wat het die mense haar gevra? In watter taal gaan jy jou kind grootmaak? Watter taal gaan jy met jou dogtertjie praat? Die aanname was dat omdat die babatjie swart is, moet haar moedertaal ‘n Afrikataal wees.

Ek is beslis self ook nie onskuldig nie en koppel ook kleur aan my eie taalgebruik. Dit het al ‘n keer of wat met my gebeur dat ek Setswana met, volgens my, ‘n swart mens wil praat en dan is die respons: “ek praat Afrikaans”. Nou ja, dan voel ek elke keer verleë oor my aanname dat iemand wat donkerder as ek is Setswana sal praat. Iets wat ek wel nou ten alles koste vermy, is om goedkoop komplimente uit te deel.

Dalk moet ons eerder op die kompliment van aanvaarding fokus en op hierdie manier ook meertaligheid bevorder.

Kan ons meertaligheid bekostig? (1) Taal en onderwys

September 28, 2015 in Uncategorized

Ek dink dit is geldig om te vra of ons nie eerder ons geld aan iets anders as tale en meertaligheid moet bestee nie. In ‘n land waar so baie mense nog honger gaan slaap, kinders sonder ouers grootword, geweld en misdaad iets alledaags geword het, lyk tale en meertaligheid na ‘n luukse. Ek wil nie taal en meertaligheid die towerstaffies maak wat al Suid-Afrika se probleme gaan regtoor nie. Tog glo ek ons moet nie die waarde van tale en meertaligheid onderskat nie – veral nie as dit by volhoubare ontwikkeling kom nie. Ontwikkeling beteken onderwys/opvoeding en dit sluit taal in.

Taal is die medium waardeur ons inligting en kennis oordra. Ons gebruik taal om te tel, somme te maak en die x, y en z in vergelykings te bepaal. Ons gebruik taal om stroombane te bou en die sywurm se lewensiklus te bestudeer. Is dit voldoende om dit net in een taal (‘n wêreldtaal) te doen? Dit is seker ‘n oplossing. Ons hoef dan nie boeke te vertaal nie en almal sal aan die wêreldekonomie in die wêreldtaal kan deelneem. Of hoe?

Ek het net twee standpunte hier:

1. Hoeveel kinders gaan in die stelsel verlore omdat hulle nie in hulle moedertaal kon leer nie (dit is nou al so ‘n holruggeryde stelling: ‘n mens leer soveel beter in ‘n mens se moedertaal)? Hoeveel geld “mors” ons uiteindelik op ‘n ekslusiewe opvoedkundige stelsel. Lees gerus meer oor Fernand de Varennes se navorsing oor hoeveel geld daar eintlik vermors word as kinders nie in hulle moedertaal skoolgaan nie. http://umoncton.academia.edu/FernanddeVarennes

2. Ons woon nie internasionaal nie. Ja, ons beweeg makliker tussen verskillende lande as ooit tevore, maar ons is nog gekoppel aan ‘n gemeenskap. Dit is nie almal wat Kanada, Australië of Brittanje verhuis nie. Selfs in ‘n globaliserende wêreld gaan daar nog ‘n behoefte wees aan isiZulusprekende, Sesothosprekende, Afrikaanssprekende dokters, loodgieters, bouers, huisagente en onderwysers.

Ons moet ons kinders eerder op ‘n meertalige wêreld voorberei:

1) moederrtaalonderrig (om die kinders so lank as moontlik en suksesvol in die onderwysstelsel te kan hou);

2) ‘n plaaslike lingua franca (‘n wonderlike manier om wedersydse respek op plaaslike vlak te bou)  ‘n Vinnige anekdote: ek was op ‘n keer in die Poolse stad Szczecin (lees hier meer oor die stad en hoe om dit uit te spreek: https://af.wikipedia.org/wiki/Szczecin). Hierdie stad is op die grens tussen Duitsland en Pole en julle sal seker weet dat die verhouding tussen die twee buurlande nie altyd so rooskleurig is nie. In die herberg waar ek tuisgegaan het, was daar ook Duitsers. Dit was vir my ietwat hartseer toe die Pole en Duitsers (nogal interessante) Engels met mekaar gepraat het. Ek wonder soms wat dit vir die wedersydse verhouding sou beteken het as die Duitsers meer Pools geken het en die gesprek in Duits en Pools gevoer kon word! Ek weet mos hoe ek op die hande gedra is oor my Poolse pogings.

3) ‘n wêreldtaal – ja, nie almal gaan verhuis nie, maar dit sal beslis tot voordeel van die plaaslike ekonomie wees as dit ook internasionaal kan meeding

Taal is nie die begin en die einde van ontwikkeling nie, maar ons kan ook nie daarsonder ontwikkel nie. Hoe duur is dit om nie in meertaligheid te belê nie?  ‘n Voormalige Kanadese eerste minster, Pierre Trudeau, het al in 1968 gesê: “Of course a bilingual state is more expensive than a unilingual one — but it is a richer state.”

Is sommige tale meer beskaaf as ander?

September 14, 2015 in Uncategorized

Ek is nou besig om Viv Edward se boek Multilingualism in the English-speaking world te lees. Sy skryf in die hoofstuk Roots of diversity die volgende oor die taal-in-onderwyspolitiek in die 17e eeu in Skotland: “The 1609 Statutes of Iona, for instance, were designed to Anglicize the Gaelic Highlands by making them more ‘civilized’. Blame for the Highland barbarity was placed firmly on the Gaelic language […]”

Ek dink baie mense sal saamstem (of ten minste voorgee om saam te stem) dat geen taal meer beskaafd as ‘n ander kan wees nie. Ons glo mos sedert die bloedige Franse Rewolusie in vryheid, gelykheid en broederskap. Alle tale is soos mense tog gelyk, maar miskien is party tale tog meer gelyk as ander.

Wat beteken dit ook nou eintlik om beskaaf te wees? Dit is maar ‘n gelaaide woord en beteken vir elkeen iets anders, maar baie van ons het seker maar grootgeword met die gedagte dat om “Westers” te wees beteken om beskaaf te wees. Of dalk het beskawing te doen met tegnologiese vooruitgang? Is beskaaf dalk maar net iets wat vir my bekend is en die vreemde is, nou wel ja, “onbeskaafd”? Ek is glad nie ‘n opgeleide filosoof nie en ek gaan glad nie voorgee dat ek die antwoorde het nie. Ek is maar net te bewus van my eie vooroordele en wanpersepsies. Ek weet net dit is goed om jou eie persepsies van tyd tot tyd te bevraagteken.

As ons by taal en die wetenskap (is dit ‘n maatstaf van beskawing?) kom, dan is daar baie mense wat sê dat dit tog onmoontlik is om wiskunde en fisiese wetenskap in ‘n Afrikataal te vertaal. Afrikatale beskik nie oor die woordeskat om iets kompleks soos wiskunde te verduidelik nie. Dalk is hierdie tale nie “beskaaf” genoeg nie? Hierdie denke en wanpersepsies is niks nuuts nie. Ek was 12 jaar gelede bevoorreg om na ‘n lesing van wyle prof Neville Alexander in Duitsland, by Universiteit Tübingen (sy ou alma mater), te luister. Daar het ‘n nuwe wêreld vir my oopgegaan toe hy oor die Duitse taalstryd teen die groot taal van die akademie, naamlik Latyn gepraat het.

Peter-André Alt skryf in 2011 in die Duitse Der Tagespiegel die volgende oor die begin van die taalstryd:”Im Herbst 1687 kündigte Christian Thomasius, Professor für Philosophie und Rechtsgelehrsamkeit, an der Universität Leipzig eine Vorlesung in deutscher Sprache an. Für die damalige akademische Welt bedeutete das einen revolutionären Schritt. Seit dem Mittelalter führte man den wissenschaftlichen Diskurs vorwiegend auf Latein.” [In die herfs van 1687 kondig Christian Thomasius, professor in filosofie en regsleer, aan die Universiteit van Leipzig ‘n lesing in die Duitse taal aan. Vir die destydse akademiese wêreld het dit ‘n rewolusionêre tree beteken. Sedert die middeleeue was die wetekenskaplike diskoers oorwegend in Latyn.] (My vertalingspoging)  Om die waarheid te sê die gebruik van Duits in die lesings was verbode! Lees gerus meer daaroor by: http://www.tagesspiegel.de/meinung/die-sprachlose-forschung/4679386.html Duits was nie ‘n “beskaafde” taal nie, maar tog gebruik ons vandag talle produkte wat in hierdie taal bedink en ontwerp is! Hoekom sou dit nie ook vir ons eie Suid-Afrikaanse tale beskore wees nie?

Is eentaligheid die norm?

September 9, 2015 in Uncategorized

My eerste antwoord op die vraag is altyd nee. In vandag se wêrelddorp (“global village”) is dit amper onvermydelik om meertalig te wees. Ek is nou besig om die boek Multilingualism in the English-speaking world deur Viv Edwards te lees en dit het my aangespoor om die blog te begin. Met al die gebeure in Stellenbosch, Potchefstroom, Bloemfontein (taalpolitiek se moses), maar ook die immigrante en vlugteling wat Europa binnestroom word ons gekonfronteer met meertaligheid in die praktyk en die mite van eentaligheid.

Hoe moet ons oor meertaligheid dink?  Viv Edward skryf in die eerste hoofstuk dat eentaligheid ‘n mite is, selfs ook in Engelstalige lande soos die Verenigde Koninkryk, Kanada, die VSA, Australië en Nieu-Seeland/Aotearoa begin meertaligheid die norm word. Sy skryf op bladsy 4: “The scale of linguistic diversity in the English-speaking world is greater today than at any point since the mass migrations of the nineteenth century.” Sy sê hierdie mite van eentaligheid kan teruggevoer word na die negentiende-eeuse Europa en die opkoms van die nasiestaat waar een dominant,e groep politieke en ekonomiese beheer geneem. Frans in Frankryk, Engels in Engeland, Spaans in Spanje, ens. Hierdie gedagte is natuurlik na die kolonies oorgedra. Kyk net watter groot rol speel Frans, Engels en Portugees nog in Afrika! Tog bly meertaligheid die norm.

Meertaligheid is dus die norm. Dit is ook die norm in Suid-Afrika. As jy hierdie blog in Afrikaans lees is die kans baie goed dat jy ten minste tweetalig is. As jy in ‘n township grootgeword het, is die kanse nog groter dat jy ten minste vier tale magtig is. Hoekom is dit dan dat die meeste universiteite in Suid-Afrika dan net Engels as onderrigmedium gebruik? Waar is ons ander tale? Watter waarde heg ons aan ons tale – of hou ons nog vas aan die mite dat eentaligheid die norm is?