You are browsing the archive for 2015 November.

Eensame vooruitgang

November 25, 2015 in Uncategorized

Ek kuier mos so ‘n week of wat gelede in Soweto en terwyl ons Potchefstroom eet en tee drink, gesels ons oor kostradisies. (Miskien moet ek myself net gou hier onderbreek, Potchefstroom is een van die name vir skons in Soweto.)

“Dit sal lekker wees as dit weer reën. Ek is hoeka lus vir pannekoek,” sê ek.
“Pannekoek?” vra my gespreksgenote.
“Ja, ‘n mens bak mos pannekoek as dit reën.” Ek begin nou so ‘n bietjie twyfel.
“Nee, ons eet vetkoek in Soweto as dit reën,” sê oom Abraham.

Ons luister Kersmusiek en ek is nou nuuskierig. Hoe word Kersfees nou eintlik in Soweto gevier? Oom Abraham is nostalgies. Hy vertel my dat dit baie in Soweto verander het. Vroeër het almal baie kos gemaak en gereed gestaan vir al die gaste. (Kyk, dit is nie net pap en sous nie. Ek was nou al by ‘n Tswanafamilie-ete in Zeerust en laat ek jou vertel daardie tafels kreun onder die aartappel-, bone-, beet- en wortelslaai, hoendervleis, bredie, rys en pap.) ‘n Mens kon by enige huis ingaan en by die tafel aansit vir kos. Die mense was almal buite en hulle het van huis tot huis gekuier. En daar was bier – koringbier of gemmerbier – en genoeg daarvan. En die geskenke? Mama Kate vertel hulle het altyd nuwe klere vir Kersfees gekry. Hulle het ook nie na Kersmusiek geluister nie – hulle het dit self gemaak en oral waar mense saamgekom het, het hulle Kersliedere saamgesing.

Terwyl ons so gesels, dink ek aan die kostradisie in Pole. Daar is ook baie kos op Oukersaand. Om die waarheid te sê twaalf geregte, want dit herinner aan die twaalf apostels. Weliswaar geen vleis nie – net vis (verkieslik vars karp wat nog in die bad swem). Daar word ook ‘n ekstra plek gedek (nou net simbolies vir ‘n onverwagse/onbekende gas) met ‘n bietjie strooi onder die tafeldoek as herinnering aan Jesus wat in ‘n stal gebore is. Vroeër jare was dit glo nie vreemd dat gaste onverwags op Oukersaand aangeklop het nie. Mense het gereed gestaan vir besoekers wat in die koue winterweer vir skuilplek gesoek het en daarom was daar altyd vir ekstra mense gedek.

En agter my hoë kompleksmure word ek saam met oom Abraham hartseer oor ons eensame vooruitgang.

Elders

November 16, 2015 in Uncategorized

Stellenbosch. Mea culpa. Afrikaans sluit uit. Bloemfontein. Mea culpa. Kom ons beskerm ons kinders teen die wrede koloniale Afrikaans. Potchefstroom. Mea culpa. Die wêreldtaal sal ons red. Pretoria. Mea culpa. Ons is oordrewe sensitief oor Afrikaans.

Is dit net Afrikaanssprekendes wat oor hulle taal begaan is? Hoe lyk dit elders?

Why can’t the English teach their children to speak?

Be cool … speak Deutsch

Ek gesels so paar jaar terug met ‘n ouerige egpaar in Rostock (Duitsland). Die man was diep bekommerd oor die baie Engels wat die Duitse jongmense gebruik en kla toe by my dat hy hulle werklik met tye nie kon volg nie. Maybe then vielleicht is Englisch zu cool zu verstehen.

Spanglish songs

Pools of Ponglish?

Op ‘n Facebookblad wat min of meer vertaal kan word as “Goeie Pools”, is die volgende kommentaar en foto geplaas:
“Kom ons wees trots op ons moedertaal” – Bądźmy dumni z naszego języka ojczystego! 


Een van die (ironiese) kommentare op hierdie foto was: “Kom ons wees trots (op Pools) en dra Engelse hemde!”

Arabies

Sal die verskraalde aanbod van Afrikaans op tersiêre vlak regtig so groot verskil op die toekoms van Afrikaans maak? Ek weet nie. Ons moet die vraag maar weer oor 20 jaar in die wêreldtaal bespreek.

Intussen kry sommige besluitnemers ‘n paar sterretjies op die voorkop (nee wat, score sommer ‘n paar brownie points) en sommige sus hulle gewetes dat Afrikaans vir Apartheidsondes geoffer is.

Taal en identiteit

November 7, 2015 in Uncategorized

Keiser Karel V van die Heilige Romeinse Ryk in die 16de eeu sou glo op ‘n keer gesê het dat hy Spaans met God praat, Italiaans met vroue, Frans met mans en Duits met sy perd. Nou hoe waar dit is, sal ek nie kan sê nie, maar hy kon hom waarskynlik goed genoeg in die tale help. Ek wonder net of hy soms ook gewonder het wie hy nou eintlik is met sy groot ryk waaroor die son nooit ondergegaan het nie. Sou hy meer Frans gevoel het? Sou hy later die gevoel afskud dat hy ‘n vreemdeling in Spanje was?

Quo vadis?
Ek is nou nie ‘n keiser nie, maar ek reis graag en is mal daaroor om verskillende tale en kulture te leer ken. Dit is beslis ‘n ongelooflike voorreg, maar dit is iets wat ‘n mens nie onaangeraak laat nie. Hierdie avonture word nie net foto’s wat in ‘n fotoalbum beland en af en toe bekyk word nie. Hierdie avonture het soms die geneigdheid om jou ernstig oor jouself en jou identiteit te laat besin. En dit is nie noodwendig lekker nie.

Sit dit af!
Ek is die produk van die 1980’s. Lekker onstuimige jare om in skool te gaan. Ek was in ‘n wit laerskool maar in ‘n gemengde hoërskool. Ek het op laerskool baie trots in die  oggende die oranje-blanje-blou-ons-is-lief-vir-jou-vlag help hys en ek het die Vlaglied uit my kop geken. Dit was soos religie. Dit was heilig! In die hoërskool was ek vasgevang tussen die ideologie van die verlede en ‘n nuuskierigheid om my Suid-Sotho uit te toets. Die lyn tussen ons en hulle het met tye begin vervaag, maar met tye was dit ‘n soliede dik streep.

Dit is seker tipies van my generasie. Ons is nie heeltemal seker wie ons as wit Afrikaanssprekendes is nie. Daardie ewige skuldgevoel of regverdiging of “dit is nie my skuld nie”. Sommiges beskou hulleself beslis as Afrikaners. Ander sweer dit af en weier om enigsins Afrikaans te praat. Dan is daar diegene wat onskuldig pleit en vra dat ons moet vergeet van die verlede. Dit is ‘n saak waarmee ek in my klein wêreld te midde van ‘n groot veranderende wêreld geworstel het. As ‘n mens nou na die laat tagtigs en begin negentigs van die vorige eeu terugdink, was daar darem baie veranderings wat regoor die wêreld plaasgevind het. Hier dink ‘n mens onwillekeurig aan die val van die Berlynse muur, Lech Wałęsa, Pinochet van Chili se val en natuurlik Gorbatsjof!

Irgendwo in Afrika
Ek het as tiener altyd geglo dat ek Europa toe moes gaan om my ware identiteit te vind. Die Afrikaner is tog deel van die Westerse beskawing! Ek was tydens my eerste reise meestal in Duitsland. En al wat ek daar uitgevind het, was dat ek nie ‘n Europeër is nie. In elk geval nie ‘n Duitser nie, al my Duitse voorvaders ten spyt. Ek kon toe sterk identifiseer met die hoofkarakter in die verhale Nirgendwo in Afrika (“Nêrens in Afrika”) en Irgendwo in Deutschland (“Êrens in Duitsland”) deur Stefanie Zweig. In my geval was dit net Nêrens in Duitsland en Êrens in Afrika.

Herbata po angielsku
Interessant, die teenoorgestelde het met my in Pole gebeur. Aan die begin moes ek ontdek hoe Brits my kultuur teenoor die Poolse kultuur was! Ek drink tee met melk (herbata po angielsku). Ek hou van slap tjips met sout en ASYN. Ons wil dit nie altyd erken nie, maar die Engelse het ‘n groot invloed op ons (wie die ons ook mag wees) manier van dink gehad. Na die lees van ‘n dun boekie oor die verskille tussen Pole en Amerikaners moes ek ook tot die slotsom kom dat ek nie te veel van die Amerikaners verskil nie! En tog het ek so gou gemaklik in die Poolse kultuur gevoel. Ek het regtig later soos ‘n Pool gevoel (of soos ek dink ‘n Pool moet voel!) en ek het gewonder hoekom ek die identiteit so maklik kon aanneem. Miskien was dit makliker om ‘n Pool te wees omdat hulle volgens die geskiedenis die verontregdes was (die teikens van Duitsers en Russe). Ek hoef nie skuldig oor my “verlede” te voel nie! Daar was geen probleem om trots te voel op my nuwe identiteit nie. Ek kon sonder vooroordeel behoort.

Yes, we can!
Daar is verskeie teorieë oor tale en identiteite, maar ek is vas oortuig dat ons ietwat anders dink en optree in verskillende tale. In Pole het ek vir ekstra geld Engelse skryfklasse vir M-studente gegee. Daar was twee soorte groepe – dié wat in Britse Engels spesialiseer en dié wat in Amerikaanse Engels spesialiseer. Die twee groepe het soos dag en nag verskil. Almal was Poolse studente, maar my aanslag met hulle het verskil. Met die Britse groepe was ek meer gereserveerd, maar ek kon my “op-die-tafel-klim-motiveringspraatjies” vir die Amerikaanse groepe gee.

Soveel male is ek
Miskien lê die vreugde in die aanleer van tale en reis tog daarin dat ek nie in een identiteit vasgevang hoef te wees nie. Dit is nie noodwendig ‘n maklike reis nie en dwing jou telkens uit jou gemaksone, maar dit is die moeite werd.