You are browsing the archive for 2015 October.

Kan ons meertaligheid bekostig? (2) Taal en transformasie

October 28, 2015 in Uncategorized

BRUEGEL SE TWEE APIES

Wisława Szymborska

So lyk my groot Matriekeksamendroom:
twee apies sit vasgeketting in die venster,
agter die venster wapper die lug
en was die see homself.

Ek lê eksamen af in mensgeskiedenis.
Ek stotter en stamel.

Een apie, starend na my, luister sarkasties,
die ander lyk of hy dagdroom —
maar wanneer daar stilte op ‘n vraag ontstaan,
moedig hy my aan
met stil klingelende ketting.

(Vry vertaal uit die Pools: Karien Brits – lees meer oor die gedig in Engels)

Ek kon nie help om aan hierdie gedig van die Nobepryswenner, Wisława Szymborska, te dink toe ek oor die gebeure, protesoptogte en #feesmustfall van die afgelope ruk nadink nie. Hierdie gedig is geskryf in tyd van die 1956-opstande in Poznan, Pole. Die Pole het in verset gekom teen die regering van die dag en aangedring op laer kospryse, beter lone en werksomstandighede. In die Suid-Afrika van 2015 is ons weer besig om ‘n eksamen in mensgeskiedenis af te lê en ons nageslag sal eendag moet sê of ons daarin geslaag het of nie.

Dekolonialisasie van kennis
Ek sien een van die studente se eise is die dekolonialisasie van kennis. En ek wonder watter een van Bruegel se apies kyk nou na my. Is dit die een wat sarkasties luister of die een wat my met sy klingelende ketting aanmoedig? Ek het ‘n ongelooflike respek vir die akademiese tradisie wat uit Europa kom, maar ek weet dit is nie die enigste bron van kennis of wysheid nie. Ons woon en werk in Afrika – ons kan nie die ongelooflike kennisstrukture ignoreer en net die Westerse idees as geldig aanvaar nie. My hoop is dat hierdie proses om kennis te dekolonialiseer nie net ‘n oppervlakkige plak-‘n-pleistertjie-proses sal wees nie. Mag die dekolonialisasie van kennis en idees nie NET in die koloniale taal geskied nie, maar OOK in die bevrydingstale. Taal bly tog die draer van die kultuur en inheemse kennisstelsels.

Kan ons gratis hoër onderwys bekostig? Ek weet eerlikwaar nie. Kan ons meertaligheid in die hoër onderwys bekostig? Ek weet nie of daar na gratis hoër onderwys geld vir meertaligheid sal wees nie. Ek weet net as ons ernstig oor ware transformasie is, kan ons nie eentaligheid bekostig nie.

 

Wenke vir persoonlike meertaligheid

October 25, 2015 in Uncategorized

Ons onderskat onsself dikwels as dit by die aanleer van tale kom. Om een of ander rede dink ons dit is net ander mense wat nuwe tale kan aanleer en dat ons te oud, te dom of te besig is. Niemand is te oud of te dom om ‘n taal aan te leer nie. Ek wil in hierdie blog ‘n paar wenke gee en jou (hopelik) aanspoor om ‘n nuwe taal aan te leer.

1. Jy moet ‘n sin vir humor hê. Jy moet veral in staat wees om vir jouself te lag. Kyk, jy gaan beslis baie foute maak en onbedoeld lelike goed in die vreemde taal sê. Ek is nou nog so effe skaam oor wat met my in Pole gebeur het. Dit was so in die begin en ek kon al dankie, asseblief en ‘n bietjie sê. Eendag toe ek by ‘n Engelse vriend en sy Poolse vrou gaan kuier, vra sy vir my of ek al Pools kan praat. Ek sê toe so ewe vol selfvertroue: “Proszę” (asseblief!). Ek het eintlik bedoel: “Trochę” (‘n bietjie). Ek wonder tot vandag toe of sy gedink het ek was sarkasties. So het ook al na die hemel (“niebo”) in plaas van die hysbak (“winda”) gesoek en dit was alles hierdie tranetrekker se skuld -“Windą do nieba“. Dan het ek ook aan ‘n treinstasie ‘n ander geurtjie gegee. Die hooftreinstasie van Poznan (Poznań Główny) het in my poging Poznan “bollie” geword. Ek bloos nou nog daaroor!

2. Wees dapper! Jy moet nie bang wees om foute te maak nie. Die ergste wat kan gebeur is dat iemand vir jou gaan lag en dan lag jy maar saam! Knyp net jou oë toe en maak jou mond oop.

3. Moenie wag toe jy perfek kan praat nie, dit gaan nie gebeur nie. Geen moedertaalspeker praat eers perfek nie.

4. Gebruik jou daaglikse aktiwiteite om die nuwe taal aan te leer. Stel jou selfoon op die ander taal. Lees jou nuus in die ander taal. Kyk televisiereekse in die ander taal.

5. Dit is nie skool nie. Jou beloning is nie in punte en sterretjies op die voorkop nie. Jou beloning lê daarin as jy ‘n gedig kan lees en verstaan. Die sterretjie op jou voorkop is as jy die aanwysings kan volg en by die kasteel kom. Die lekkerte is as jy ‘n nuwe wêreld kan begin verken en as mense hulle harte vir jou begin oopmaak.  Ek het onlangs die volgende op ‘n vriendin se Facebook-blad gelees: “Become friends with people who aren’t your age. Hang out with people whose first language isn’t the same as yours. Get to know someone who doesn’t come from your social class. This is how you see the world. This is how you grow.”

Lekker leer!

Kleurlose taal en komplimente

October 11, 2015 in Uncategorized

“Sjoe, maar jy praat darem mooi Afrikaans!” Op die oog af lyk dit na ‘n kompliment en aanmoediging vir die aanleerder van Afrikaans. In my hart wil ek ook glo dat die persoon wat die kompliment gee dit werklik opreg bedoel. Tog het ek my bedenkinge oor hierdie kompliment in die Suid-Afrikaanse konteks.

Die kompliment van aanvaarding
Ek het die voorreg gehad om ‘n paar jaar gelede Afrikaans by ‘n Poolse universiteit, Adam Mickiewicz-universiteit, in Poznan te gee. (Lees meer oor die Departement Nederlands en Suid-Afrikaanse Studies: http://wa.amu.edu.pl/dutchafrikaans/) Natuurlik het ek die studente ook gekomplimenteer as hulle verbeter het. Selfvertroue en die aanleer van ‘n nuwe taal gaan hand aan hand! Terselfdertyd het ek ook Pools begin aanleer. Ek kon dus saam met my studente deur die taalaanleerproses gaan. Dit is seker ‘n internasionale verskynsel dat mense beginners komplimente gee en so het die Pole begin sê dat ek mooi Pools praat – al kon ek net groet en vra of die ander persoon Engels kan praat. Dit het later beter gegaan en kon ek toe darem meer sê, maar ek het voor my siel geweet dat ek nie mooi Pools praat nie. Dit is nie ‘n kuns om die Poolse grammatika op te mors nie! My grootste deurbraak het gekom toe mense nie meer na Engels oorgeslaan het as ek in hulle geselskap was nie. Dit was die grootste kompliment. Dit was nie die kompliment van “sjoe, jy praat mooi Pools nie!”, maar die kompliment van aanvaarding wat my aangemoedig het om my Pools te verbeter.

Nou weer terug na die Suid-Afrikaanse konteks. Verlede week besoek ‘n seun (16) van Limpopo ons by ons kantoor in Randburg. Hy stel belang in tale en wil graag in die regte studeer. Hy is van graad 1 af in ‘n Afrikaanse skool. En o ja, hy is swart en in sy ouerhuis praat hulle ‘n mengsel van Sotho-tale, Afrikaans en Engels. Hy klink wel soos ‘n wit outjie van Pretoria en wat is die kompliment wat hy by feitlik almal in die gebou hoor? “Sjoe, maar jy praat darem mooi Afrikaans!” of “Ons moet ‘n artikel oor hom skryf!” Wat staan vir hom van sy besoek uit? Die keer toe iemand hom iets oor sy toekomsplanne vra en nie daarna verwys dat hy swart is en Afrikaans praat nie. Ek is amper bang om dit te sê, maar dit is amper asof wit mense die persepsie het dat swart mense nie Afrikaans kan of wil praat nie – vandaar die komplimente. Dit is amper asof die kompliment ‘n (on?)bewuste rassistiese ondertoon kry.

Is taal kleurloos?
In teorie is taal kleurloos, maar in die praktyk is dit ‘n ander storie. ‘n Wit oudkollega het ‘n paar jaar gelede ‘n swart babadogtertjie aangeneem. Wat het die mense haar gevra? In watter taal gaan jy jou kind grootmaak? Watter taal gaan jy met jou dogtertjie praat? Die aanname was dat omdat die babatjie swart is, moet haar moedertaal ‘n Afrikataal wees.

Ek is beslis self ook nie onskuldig nie en koppel ook kleur aan my eie taalgebruik. Dit het al ‘n keer of wat met my gebeur dat ek Setswana met, volgens my, ‘n swart mens wil praat en dan is die respons: “ek praat Afrikaans”. Nou ja, dan voel ek elke keer verleë oor my aanname dat iemand wat donkerder as ek is Setswana sal praat. Iets wat ek wel nou ten alles koste vermy, is om goedkoop komplimente uit te deel.

Dalk moet ons eerder op die kompliment van aanvaarding fokus en op hierdie manier ook meertaligheid bevorder.