Is sommige tale meer beskaaf as ander?

September 14, 2015 in Uncategorized

Ek is nou besig om Viv Edward se boek Multilingualism in the English-speaking world te lees. Sy skryf in die hoofstuk Roots of diversity die volgende oor die taal-in-onderwyspolitiek in die 17e eeu in Skotland: “The 1609 Statutes of Iona, for instance, were designed to Anglicize the Gaelic Highlands by making them more ‘civilized’. Blame for the Highland barbarity was placed firmly on the Gaelic language […]”

Ek dink baie mense sal saamstem (of ten minste voorgee om saam te stem) dat geen taal meer beskaafd as ‘n ander kan wees nie. Ons glo mos sedert die bloedige Franse Rewolusie in vryheid, gelykheid en broederskap. Alle tale is soos mense tog gelyk, maar miskien is party tale tog meer gelyk as ander.

Wat beteken dit ook nou eintlik om beskaaf te wees? Dit is maar ‘n gelaaide woord en beteken vir elkeen iets anders, maar baie van ons het seker maar grootgeword met die gedagte dat om “Westers” te wees beteken om beskaaf te wees. Of dalk het beskawing te doen met tegnologiese vooruitgang? Is beskaaf dalk maar net iets wat vir my bekend is en die vreemde is, nou wel ja, “onbeskaafd”? Ek is glad nie ‘n opgeleide filosoof nie en ek gaan glad nie voorgee dat ek die antwoorde het nie. Ek is maar net te bewus van my eie vooroordele en wanpersepsies. Ek weet net dit is goed om jou eie persepsies van tyd tot tyd te bevraagteken.

As ons by taal en die wetenskap (is dit ‘n maatstaf van beskawing?) kom, dan is daar baie mense wat sê dat dit tog onmoontlik is om wiskunde en fisiese wetenskap in ‘n Afrikataal te vertaal. Afrikatale beskik nie oor die woordeskat om iets kompleks soos wiskunde te verduidelik nie. Dalk is hierdie tale nie “beskaaf” genoeg nie? Hierdie denke en wanpersepsies is niks nuuts nie. Ek was 12 jaar gelede bevoorreg om na ‘n lesing van wyle prof Neville Alexander in Duitsland, by Universiteit Tübingen (sy ou alma mater), te luister. Daar het ‘n nuwe wêreld vir my oopgegaan toe hy oor die Duitse taalstryd teen die groot taal van die akademie, naamlik Latyn gepraat het.

Peter-André Alt skryf in 2011 in die Duitse Der Tagespiegel die volgende oor die begin van die taalstryd:”Im Herbst 1687 kündigte Christian Thomasius, Professor für Philosophie und Rechtsgelehrsamkeit, an der Universität Leipzig eine Vorlesung in deutscher Sprache an. Für die damalige akademische Welt bedeutete das einen revolutionären Schritt. Seit dem Mittelalter führte man den wissenschaftlichen Diskurs vorwiegend auf Latein.” [In die herfs van 1687 kondig Christian Thomasius, professor in filosofie en regsleer, aan die Universiteit van Leipzig ‘n lesing in die Duitse taal aan. Vir die destydse akademiese wêreld het dit ‘n rewolusionêre tree beteken. Sedert die middeleeue was die wetekenskaplike diskoers oorwegend in Latyn.] (My vertalingspoging)  Om die waarheid te sê die gebruik van Duits in die lesings was verbode! Lees gerus meer daaroor by: http://www.tagesspiegel.de/meinung/die-sprachlose-forschung/4679386.html Duits was nie ‘n “beskaafde” taal nie, maar tog gebruik ons vandag talle produkte wat in hierdie taal bedink en ontwerp is! Hoekom sou dit nie ook vir ons eie Suid-Afrikaanse tale beskore wees nie?

2 responses to Is sommige tale meer beskaaf as ander?

  1. In ons globale wereld het die Weste tot ‘n mate die maatstaf geword waarna ons streef en daarmee gepaard die Engelse taal as middelweg vir almal. Nie noodwendig omdat die Weste ‘beskaafd’ is nie, maar omdat daar ‘n algehele aanvaarding is dat dit die standaard is waarop daar op internasionale vlak meegeding kan word. Enigiemand wat op ‘n internasionale platform funksioneer en nie aan daardie kriterium voldoen nie kom dan voor as ‘onbeskaafd’, want hy gaan uitstaan in daardie milieu. Dit beteken egter nie hy is onbeskaafd nie,want in die regte leefruimte of lewenskring pas hy in. So, dalk is dit nie so seer dat tale nie ‘beskaafd’ genoeg is nie, maar meer dat hulle net nie inpas by die aanvaarde vereistes vir spesifieke doeleindes wat daar is nie?

  2. Dankie vir jou kommentaar, Danica. Ek stem heeltemal saam dat die gebruik van Engels as middeweg prakties en nodig is. Ek het self al in Engels gepubliseer en ek is dankbaar dat ek dit kan doen. Ons moet net nie dink dat dit enigste manier is om kennis oor te dra nie. Ek hou van die EN-benadering, nie die OF-benadering nie. Ek dink Engels (of enige ander internasionale taal) EN ‘n plaaslike taal. Op die ou einde woon ons almal nie internasionaal nie, maar ons moet ook ‘n verskil in ons plaaslike samelewing maak. Dit is daar waar ons die persepsies moet afbreek dat ons tale nie goed genoeg is nie. Dit is dus nie Engels OF Setswana nie, maar Engels EN Setswana (byvoorbeeld).

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *