Is eentaligheid die norm?

September 9, 2015 in Uncategorized

My eerste antwoord op die vraag is altyd nee. In vandag se wêrelddorp (“global village”) is dit amper onvermydelik om meertalig te wees. Ek is nou besig om die boek Multilingualism in the English-speaking world deur Viv Edwards te lees en dit het my aangespoor om die blog te begin. Met al die gebeure in Stellenbosch, Potchefstroom, Bloemfontein (taalpolitiek se moses), maar ook die immigrante en vlugteling wat Europa binnestroom word ons gekonfronteer met meertaligheid in die praktyk en die mite van eentaligheid.

Hoe moet ons oor meertaligheid dink?  Viv Edward skryf in die eerste hoofstuk dat eentaligheid ‘n mite is, selfs ook in Engelstalige lande soos die Verenigde Koninkryk, Kanada, die VSA, Australië en Nieu-Seeland/Aotearoa begin meertaligheid die norm word. Sy skryf op bladsy 4: “The scale of linguistic diversity in the English-speaking world is greater today than at any point since the mass migrations of the nineteenth century.” Sy sê hierdie mite van eentaligheid kan teruggevoer word na die negentiende-eeuse Europa en die opkoms van die nasiestaat waar een dominant,e groep politieke en ekonomiese beheer geneem. Frans in Frankryk, Engels in Engeland, Spaans in Spanje, ens. Hierdie gedagte is natuurlik na die kolonies oorgedra. Kyk net watter groot rol speel Frans, Engels en Portugees nog in Afrika! Tog bly meertaligheid die norm.

Meertaligheid is dus die norm. Dit is ook die norm in Suid-Afrika. As jy hierdie blog in Afrikaans lees is die kans baie goed dat jy ten minste tweetalig is. As jy in ‘n township grootgeword het, is die kanse nog groter dat jy ten minste vier tale magtig is. Hoekom is dit dan dat die meeste universiteite in Suid-Afrika dan net Engels as onderrigmedium gebruik? Waar is ons ander tale? Watter waarde heg ons aan ons tale – of hou ons nog vas aan die mite dat eentaligheid die norm is?

4 responses to Is eentaligheid die norm?

  1. Hoewel meertaligheid of veeltaligheid soos dit ook genoem word die norm geword het, kon die werklikheid in formele instellings nie daarmee tred gehou nie. Hoe sou jy voorstel om veeltaligheid binne die onderskeie onderrigvlakke (primêr tot tersiêr) te bevorder op ‘n prakties haalbare manier?

    • Dankie vir jou vraag, Anjonet. Ons kan nie net teoreties en filosofies oor die saak dink nie. Ons moet beslis ook dink oor hoe ons van die eentalige-denkraamwerk na die meertalige werklikheid kan skuif. Dit sal beslis baie debatvoering verg om by aanvaarbare voorstelle te kom – en daarom ook die blog. Ek wil daarom graag hoor hoe ander mense oor die saak dink.

      My vertrekpunte:
      * Ek glo dat vaardigheid in die moedertaal die grondslag van suksesvolle meertaligheid vorm, want ek kan ‘n tweede/derde taal net makliker aanleer as my eerste taal (of tale) gevestig is;
      * Dit beteken dat ons moedertaalonderrig in Suid-Afrika sal moet bevorder. Eintlik die persepsies van ouers oor hoe kinders Engels die beste sal aanleer. Dit beteken nie noodwendig as ek in Engels skoolgaan dat ek beter Engels gaan praat nie. Hiermee ontken ek glad nie die waarde van Engels nie. Sjoe, wat sou ek sonder Engels gedoen het? Dit is ‘n taal met ‘n wonderlike letterkunde en waarmee ek ook al my brood en botter verdien het, (al het in ‘n Afrikaanse skool skoolgegaan!);
      * Ons moet die persepsie verander dat ons moedertale minderwaardig is;
      * Ons moet die persepsie verander dat meertaligheid ‘n struikelblok is;
      * Ons moet ophou vra wat meertaligheid/moedertaalonderrig ons kos en eerder vra wat eentaligheid ons eendag (of vandag al) gaan kos.
      * Watter tale op skool? Moedertaalonderrig (definitief langer as net drie jaar), ‘n internasionale lingua franca as die moedertaal nie Engels is nie en ‘n plaaslike lingua franca. Dus, as ek Afrikaans is en in die Vrystaat bly, sal ek Afrikaans as moedertaal en onderrigtaal hê, Engels (internasionale lingua franca) en Suid-Sotho (plaaslike lingua franca).

      ‘n Groot uitdaging is die leermateriaal en onderwysers, maar ek dink ons grootste uitdaging is ons persepsies oor ons tale.

  2. Die ANC verwerp meertaligheid omdat dit in die SA konteks kan lei tot tribalism wat op sy beurt die swart meerderheid se greep op die land kan verswak. Daarom bevorder hulle Engels as die lingua franca. Gegewe hierdie politiese werklikheid het ‘n taal soos Afrikaans twee uitdagings, naamlik die politiese dimensie en Engels as dominante taal.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 trackbacks