Enkosi

February 20, 2017 in Uncategorized

My werk strek van skouers skuur met hogere (vul self die woord in) tot veerbaniere met bakstene inslaan. Ek volg die Mumford & Sons-benadering in my werkspan. Dit beteken dat ons elkeen iets van alles moet kan doen – net soos die musiekgroep (is dit nou ‘n band?) se lede tydens hulle vertonings verskillende instrumente bespeel. Daar is geen werk benede ons waardigheid nie. Dis soms lagwekkend hoe mense aan hulle postitels vasklou en bang is om hulle hande vuil te maak!

Ek moes die afgelope naweek weer met my mooi rokkie en geverfde naels veerbaniere inkap – ek is nie spyt nie, want dit het regtig mooi na die tyd gelyk. Ek sou dit wel nie kon regkry sonder die towerkrag van taal nie. Die funksie was op Stellenbosch en hierdie pragtige universiteitsdorp is sinoniem met wyn, akkerbome en geen parkering. Ek het dus by die lokaal (ek weet venue is aanvaarbaar, maar ek sukkel met daai woord) opgedaag en nie parkering gekry nie. Daar was wel ‘n sekuriteitswag en ek groet hom vriendelik in isiXhosa (ek ken seker net 10 woorde in isiXhosa, die res steel ek by my beskeie isiZulu). Ek vra hom toe of ek net gou die baniere kan aflaai (na ek so ‘n paar nuwe isiXhosa-woorde bygeleer het). Nee, antwoord Richard (ons was nou al op voornaamterme), hy sal vir my plek maak. Hy het ‘n plan gemaak en ek het parkeerplek gekry.

Weer het ek ubuntu ervaar. Ek is omdat jy is. Hy help nie net met my parkering nie, maar hy help my ook met die veerbaniere.

Enkosi (dankie) aan al die Richards in hierdie lewe. Taal gaan oor baie meer as net morfologie, sintaksis, semantiek en letterkunde. Dit gaan oor harte wat oopgaan en verhoudings bou.

Die verskuilde koste van taal

February 12, 2017 in Uncategorized

Ek het onlangs weer gaste uit Pole gehad, maar nie een was ‘n Pool nie. My ‘Poolse’ gaste het bestaan uit een Suid-Afrikaner, een Macedoniër en twee Serwiërs. Vir iemand wat besig is om die cyrilliese (ja, dis hoe dit gespel word – AWS) skrif te leer was dit soos manna uit die hemel. Hierdie alfabet maak nou weer die deur na die ander Slawiese tale oop en ek is soos ‘n kind in ‘n speelgoedwinkel. Die aand se gesprekke is ‘n hutspot van Afrikaans, Engels, Pools en ‘n knippie Macedonies en Serwies. Ons motto: Знати један језик није довољно (google dit ‘n bietjie). Leidraad: http://www.omniglot.com/ (een van my gunstelingwebwerwe).

Na ‘n paar glase Suid-Afrikaanse rooiwyn raak die gesprekke dieper. Ek en my gespreksgenoot stem saam – dit is wonderlik om nuwe tale te leer en nuwe plekke te verken. Mense moedig jou aan om te reis, want podróż kształci (reis vorm – Pools). Tale is ons brood en botter, ons lewensasem. Wat mense nooit byvoeg nie, is dat daar weer ‘n tyd van hartseer afskeid kom. Dan bly daar ‘n deel van jou hart in daardie land en sy mense agter.

Na ‘n intensiewe kuier van minder as 24 uur moet ek van my nuwe Macedoniese en Serwiese vriende afskeid neem (na beloftes van besoeke in Pole en elders), weet ek weer wat die verskuilde koste van taal is. Daar gaan ‘n deel van jou hart wees wat agterbly en ‘n deel wat verder gaan reis.

Hou op rook en leer eerder ʼn nuwe taal  

January 12, 2017 in Uncategorized

Dit is nou weer daardie tyd van die jaar. Ons maak ’n bestekopname van die jaar wat verby is, en  maak lysies met ons nuwejaarsvoornemens. Of ons nou aan nuwejaarsvoornemens glo of nie, ons almal wonder tog wat ons hierdie jaar anders of beter kan doen. Dit laat my baie dink aan die klassieke Bridget Jones’s Diary. Bridget wil die standaardgoed doen: ophou rook en drink, nie met die baas flankeer nie, drie keer ’n week gim toe gaan, ens. Sy wil ook ophou om lysies te maak.

Dis nie dat ek iets het teen lysies nie. Daar is min dinge so lekker as om iets op ʼn lysie af af te merk nie. Iets wat ek op my 2017-voornemenslys wil afmerk, is om nog ’n taal te begin leer.

Daar is verskeie redes hoekom ek die aanleer van ’n nuwe taal op my lysie wil sit. Volgens professor Antonella Sorace van die Universiteit van Edinburgh het tweetaligheid in die onderwys die volgende voordele: ’n langer aandagspan, empatie, verbeterde leesvermoë, beter skoolprestasie en –betrokkenheid, diversiteit en integrasie en beskerming teen kognitiewe agteruitgang en demensie. Sorace se navorsing gaan wel oor die waarde van tweetaligheid in die onderwys, maar dit is volgens haar ook van toepassing op volwassenes wat ’n nuwe taal aanleer.

Aandagspan
Kon jy tot hier lees? Geluk. Volgens ’n studie deur Microsoft is ons aandagspan korter as ’n goudvis s’n sedert die selfoonrewolusie en mobiele internet in die 21ste eeu deel van ons lewens geword het. Die voordeel wat meertaliges in die inligtingseeu het, is dat hulle hulle aandag op take kan toespits sonder dat hulle aandag afgelei word. Meertaligheid verbeter ook die vermoë om gemaklik tussen take te wissel (“multitasking”).

Empatie – word meer mens
Volgens navorsers word die mens van die sjimpansee onderskei op grond van sosio-kognitiewe vermoëns soos die gebruik van taal, om “gedagtes te kan lees” of om na ‘n saak te kan kyk vanuit ander mense se perspektief. Taal speel ‘n kardinale rol in sosiale en emosionele ontwikkeling. Tweetalige kinders se emosionele ontwikkeling is volgens navorsing beter as eentalige kinders. Dit is dalk iets wat ons by ons lysie kan voeg – om meer mens vir ons medemens te word. Die aanleer van net die basiese groetvorme in die plaaslike taal is al ’n goeie beginpunt.

Leesvermoëns
Ons hoor gereeld hoe vrot Suid-Afrikaners lees. Miskien is die Afrikaanssprekende nie die heel vrotste nie, maar ons kan hoegenaamd nie spog oor hoe goed ons lees nie! Die aanleer van nog ‘n taal maak ons meer bewus van taal en kan dalk daartoe bydra dat ons beter lees. Sit die televisie en Facebook af en lees meer in ander tale.

Terug hok toe – word tuis in diversiteit
Volwassenes hoef seker nie bekommerd hieroor te wees nie, maar dit is goed om te weet dat kinders nie beter in die dominante taal (Engels in die geval van Suid-Afrika) vaar omdat hulle die hele dag daaraan blootgestel word nie. Kinders vaar juis beter omdat hulle deur hulle moedertaal die dominante taal aanleer. Immigrantkinders ondervind minder aanpassingprobleme as hulle tale by die skool gebruik word. Dit bly mos maar lekker om jou eie taal te hoor en ‘n mens voel vinniger tuis. Vanjaar kan dalk die jaar wees waarin jy iemand anders ‘n bietjie tuis kan laat voel deur sy/haar taal te gebruik!

Die kuur teen veroudering
Ons is seker almal ‘n bietjie skrikkerig vir die oudag en die gepaardgaande vergeetagtigheid. Meertaligheid se invloed op die vorm van die brein kan demensie met ’n paar jaar terughou. Dit is dalk die moeite werd om in jou geestesgesonheid te belê en nog ‘n taal aan te leer.

Dit maak nie regtig saak watter taal jy aanleer nie, maar wees gewaarsku: as die gogga eers gebyt het, sal jy dalk nie kan ophou nie.

Geniet die taalreis in 2017!

Lees meer hier:

http://www.npr.org/sections/ed/2016/11/29/497943749/6-potential-brain-benefits-of-bilingual-education

http://www.bilingualism-matters.ppls.ed.ac.uk/

http://www.krepublishers.com/02-Journals/JP/JP-01-0-000-10-Web/JP-01-1-000-10-PDF/JP-01-1-039-10-010-Farhadian-M/JP-01-1-039-10-010-Farhadian-M-Tt.pdf

http://time.com/3858309/attention-spans-goldfish/

Rekeningkunde en taal

November 19, 2016 in Uncategorized

Wat sal rekeningkunde en taal in gemeen hê?

Ek bevind my toe mos ‘n paar weke gelede in die vreemde posisie om ‘n rekeningkunde-eksamen te skryf. Tot my vriende se skok en verbasing (myne ook) het ek die onverantwoordelike besluit geneem om vanjaar iets soos ‘n middelbestuursprogram te pleeg – en dit het onder andere rekeningkunde behels. In standerd 6 (nou graad 8) moes ek tussen Duits en rekeningkunde kies. Dit was ‘n no-brainer, soos die Ingelspersoon sal sê. Ek het Duits gekies. En Duits is nog steeds ‘n bate in my lewensboek.

Ek was regtig angsbevange voor die kursus, want wat weet ek hoegenaamd oor rekeningkunde? Ek het nie eers standerd 6-rek gehad om op terug te val nie. Vra maar my kollegas en vriende – ek was dikwels na aan trane oor die kursus. Totdat ek die taal van rekeningkunde begin verstaan het. Die state vertel ‘n verhaal, weliswaar in kolomme en tabelle en met syfers, maar soos met taal is daar ‘n grammatika (reëls, die sintaksis van syfers) en woordeskat (semantiek van syfers en posisies). So het ek geleer dat daar nie ‘n linkerkantse of regterkantse kolom is nie – nee, dit is ‘n debiet en ‘n krediet. Ek het geleer dat inskrywings hulle plekke het, en dat dit soos die werkwoord nie sommer maar net op enige plek kan staan nie. Dit was ‘n aha-oomblik. Die vrees was weg.

My slotsom oor die rekeningkunde van taal: ‘n taal is ‘n bate wat nie aan waardevermindering onderhewig is nie.

Nota 1: Ek gee graag krediet aan al my taalrekenmeesters. Ek is diep in die skuld by julle.

Dit reën in Kraków

October 9, 2016 in Uncategorized

Oor die algemeen is Suid-Afrikaners lief vir reën, veral daardie reuk van reën op die warm aarde. Ons het altyd van pannekoekweer gepraat en dit beoefen. As die eerste reëndruppels begin val het, het ek en my ma altyd pannekoek gemaak. Sy het altyd die beslag aangemaak en ek het die pannekoek gebak.

So tien jaar terug het ek my besittings in ‘n tas gepak en my ma het my boeke so stuk-stuk vir my gepos en ek het in ‘n land gaan woon waar dit baie en gereeld reën. My Britste kollega het op ‘n keer opgemerk dat Engeland soos ‘n tropiese eiland teenoor Pole in November is. Ek sal nie weet nie, want ek het nog nie in Engeland gewoon nie, maar ek kan beaam dat na ‘n pragtige goue herfs kan die grys en nat Novembers ‘n mens nogal vang. Tog kon ek nooit die verwondering en liefde vir reën afskud nie en dink ek my Poolse kollegas was diep besorg oor hulle Suid-Afrikaanse kollega wat op dag vyf nog steeds na die reën kyk en vra: “Is die reën nie wonderlik nie?”

My Poolse babcia (spreek uit: babjta) oftewel “ouma” – ons is nie bloedfamilie nie, maar het mekaar as ouma en kleinkind aangeneem, het iets hiervan verstaan. Sy het my vertel hoe hulle op ‘n keer by die Baltiese see vakansie gehou het en die pragtigste somerweer gehad het waar die son vir dae lank sonder reënweerondbreking geskyn het. Nou kyk, in ‘n land waar kinders met die belofte van sonskyn omgekoop word as hulle hulle kos opeet, kan ‘n mens verstaan dat hierdie sonskyn hemel op aarde is. Maar vertel sy my, hier teen dag vyf het hulle al so na reën verlang en was hulle te dankbaar toe dit weer reën.

As dit nou reën, dink ek soms onwillekeurig aan Grzegorz Turnau se liedjie Bracka. Bracka (spreek uit: bratska, “broedertjie”) is ‘n bekende straat in Kraków en hy sing in die liedjie dat dit in Kraków in die straat Bracka reën.

Veral hierdie strofe is mooi:
Want in Kraków in Bracka val die reën
As die raaisel van bestaan my dwing om te dink
In die gang en in die kombuis val dit ook
Vasgeplak teen die muur rol ek die nat matte op
Nie nat van die reën nie maar van trane
Want in Kraków in Bracka val die reën

[Bo w Krakowie na Brackiej pada deszcz
Gdy zagadka istnienia zmusza mnie do myślenia
W korytarzu i w kuchni pada też
Przyklejony do ściany zwijam mokre dywany
Nie od deszczu mokre lecz od łez
Bo w Krakowie na brackiej pada deszcz]

Kanniklani, jy?

August 29, 2016 in Uncategorized

Dit is gevaarlik om tale aan te leer, want dit stel jou bloot aan nuwe kulture en wêreldbeskouings. Toe ek so 10 jaar gelede my avontuur met Pools begin het, sou ek nooit kon dink hoe dit my sou verander nie. Ek het Pole onlangs weer besoek om ‘n oudstudent se troue by te woon. ‘n Goeie verskoning vir ‘n kuier in my tweede heimat. Sy en ‘n medestudent wat Afrikaans aan die Adam Mickiewicz-universiteit studeer het, het so amper 5 jaar gelede vir ‘n jaar in Suid-Afrika studeer. My oudstudent het juis tydens hierdie uitruil haar man ontmoet.

Aan die begin van hierdie twee studente se verblyf het ek vir hulle ‘n afskrif van die boek “Speaking Volumes about Poles” deur Laura Klos Sokol gegee. Laura is ‘n sosiolinguis en ook ‘n Amerikaner wat al jare in Pole woon. Die boek gaan oor die verskille tussen Pole en Amerikaners en het my baie gehelp toe ek ‘n nuweling in Pole was en ek het dit vir my oudstudente gegee in die hoop dat dit hulle sou help.

Nou wonder jy seker hoekom ek ‘n boek oor die verskille tussen Pole en Amerikaners nuttig kan vind! Ons is (ontstellend?) baie soos die Amerikaners. Ek was self nog nie in die VSA nie en berus maar my bevindinge op die paar Amerikaners wat ek al leer ken het en hoe ek met die Amerikaanse gedeeltes van die boek kon identifiseer. Nogal ‘n skok as jy dink dat jy ‘n Suid-Afrikaner in murg en been is. Ek loop tydens my onlangse vakansie ‘n opvolg van die skrywer raak – Shortcuts to Poland. Voor in die boek is ‘n prettige vraelys waarmee jy jou Poolsheid kan vasstel. Die punte wat ek vir die vraelys gekry het, plaas my in die kategorie: “You’re very Polish. In fact, check your passport.” Hmmmm.

Baie sal seker saamstem dat as ons na mekaar se welstand uitvra ons nie regtig in die antwoord belangstel nie. Dit is eerder net formule om ‘n gesprek mee te begin of om hoflik te wees. Daarom sal ons sommer sê: kanniklani, jy? Intussen is ons bekommerd oor die petrolprys, droogte en misdaad. Dit is eerder later in die gesprek dat ons sal sê dat nie regtig so goed gaan nie. In Pools vra jy net nie daai vraag nie. Tensy jy baie tyd het of regtig wil weet hoe dit met daai persoon gaan.Dit is nie dat daar nie so ‘n vraag in Pools bestaan nie. Jy kan vra: “Jak się masz?” (uitspraak: jak sje masj), maar ek dink ek het dit omtrent net in die bekende Poolse liedjie gehoor: https://www.youtube.com/watch?v=6_0rBgOcEdA Miskien het ek tog baie verpools, want toe ‘n Poolse kollega my op ‘n keer vra hoe dit gaan, het ek hom mooi vertel wat alles die oggend skeefgeloop het. Kla die Pole dan so baie? Miskien. Of miskien is hulle net eerliker oor hoe hulle voel.

En hoe gaan dit verder met jou?

 

Taallekkertes (1)

July 18, 2016 in Uncategorized

‘n Mens kan te vinnig mismoedig raak as jy al die taaldebatte van die afgelope jaar volg. Dit voel in hierdie tydsgewrig soms te swaar om oor taal en meertaligheid te praat. Jy word amper dadelik in ‘n kamp geplaas – verraaier, vriend of vyand.

Ek wil nie mismoedig raak oor taal nie – ek wil net die rykdom van ons tale geniet.

Een van my gunstelingtydverdrywe is om tale te vergelyk en ek hoop hierdie klein stukkie vergelyking gaan jou ook weer opgewonde maak. Ons weet dat die name van die dae van die week in Afrikaans en Engels vroeër iets beteken het, maar as iemand my nou moet vra waar Woensdag vandaan kom, sal ek dit moet google! Dit is anders met byvoorbeeld Pools en Setswana.

Kyk hier:

Sondag
Pools – Niedziela Letterlik beteken dit “niks gebeur nie”, want dit is ‘n rusdag in die Christelike geloof.
Setswana – Latshipi
(Dag) van die yster/klok – Sondae lui die kerklok en vandaar Latshipi.

Maandag
Poniedziałek
Die dag na (po) “niks gebeur nie”.
Mosupologo
Die woord is afgelei van die werkwoord wat gebruik word as ‘n mens skielik moet opstaan as jy niks gedoen het nie.

Dinsdag
Wtorek
Die tweede (dag) – wtory beteken die “tweede” in ou Pools.Labobedi
Die tweede (dag)

Woensdag
Środa In die middel (van die week)
Laboraro
Die derde (dag)

Donderdag
Czwartek
Die vierde (dag)
Labone
Die vierde (dag)

Vrydag
Piątek
Die vyfde (dag)
Labotlhano
Die vyfde (dag)

Saterdag
Sobota
Dit kom van die Joodse Sabbat af.
Matlhatso of Laborataro
Die wasdag of sesde dag.

Luister sommer na hierdie kinderliedjie om ‘n gevoel vir die Poolse uitspraak te kry: Tata Śpiewa – Dni tygodnia

Pozdrawiam (ek groet)
Karien

Word Afrikaans deur meertaligheid bedreig?

May 7, 2016 in Uncategorized

Dit is ‘n baie geldige vraag. As Afrikaanssprekende is ek ook erg begaan oor Afrikaans en Afrikaans se toekoms. Ek dink ons moet dalk nog ‘n vraag vra. Wat verstaan ons onder meertaligheid? As dit die oppervlakkige soort meertaligheid is waar ek so elke derde woord Afrikaans ingooi om dit so soort van ‘n Afrikaanse geurtjie te gee, ja, dan sal Afrikaans bedreig word. As dit goeie funksionele meertaligheid is en die taal volwaardig hanteer word, dan sal dit eerder tot Afrikaans se ontwikkeling en behoud lei. Die ander kant van die munt: ons moet ook nie oneerlike meertaligheid bedryf om Afrikaans te bevorder nie.

Hoekom kan ons nie die bevordering van Afrikaans van eerlike meertaligheid skei nie?

Afrikaans word nie in isolasie gepraat nie. Daar is tog ander tale wat elke dag rondom ons gepraat word. Dit is die realiteit van die wêreld waarin ons leef, selfs die gewaande enkeltalige lande word toenemend meertalig.

Afrikaans lê nie net in die behoud van moedertaalsprekers nie, maar ook in die uitbreiding van ‘n tweede- en derdetaalsprekersgroep van Afrikaans. Hoe wil ons goeie verhoudinge bou as ons net Afrikaans en Engels praat? Ons wil so graag erkenning aan Afrikaans gee, maar ons doen nie moeite om ander Afrikatale aan te leer nie. Hoekom sal ander mense moeite doen om Afrikaans aan te leer?

Afrikaans gaan nie bevorder word deur meertaligheid af te skiet nie. Afrikaans word bevorder deur jou kinders Afrikaanse onderrig te gee, Afrikaans te praat, te sing en te luister, deur akademiese artikels in Afrikaans te publiseer, deur vriendelik Afrikaanse diens te verlang, deur Afrikaanse skrywers te ondersteun, en so kan ek aangaan. Afrikaans word nie bevorder deur ‘n Afrikaanse muur om ons te bou nie.

Wat niemand waag nie

May 2, 2016 in Uncategorized

Ek lees vandag dr Heather Martin se artikel Ojalá and Adiós: Why students should embrace foreign languages Sy sê in die artikel dat taalonderwysers nie ontmoedig moet word deur die leerders se houding van “almal praat tog Engels” nie. ‘n Mens moet juis hierdie houding as ‘n aanknopingspunt gebruik om oor die woordeskat en die skatte in woorde te gesels. Tale is nie net ‘n versameling woorde en sinstrukture nie. Tale sê iets van ons lewensverhale en geskiedenis. Sy sluit haar artikel met hierdie woorde af: “So here’s one serious answer to the challenging questions that might be posed by your more skeptical pupils: by learning another language you are better placed to understand not only others, but yourself as well.”

Dit vra waagmoed. Die aanleer van tale is baie meer as om net te leer om te groet en die lig wat in jou gespreksgenoot se oë opgaan. Dit gaan ook oor die ontdekking dat alles in jou eie taal nie so onskuldig is nie. Soek gerus die woord maaifoedie (skurk, vuilis) se oorspronklike betekenis in ‘n etimologiewoordeboek op! Maaifoedie vertel van die Afrikaanse verbintenis met Maleis-Portugees. As ek makietie hou, sê ek dat ek ‘n Afrikakind is, want makietie kom van die Tswana mokete (fees, partytjie). As ek sê dat iemand katools (bronstig, jags, laf, gek) is, sê dit ook iets van ‘n houding teenoor Katolieke. En so kan ek aangaan.

Om ‘n ander taal aan te leer vra soms om teen die stroom in te gaan en om nee te sê wanneer almal ja sê. Mense vra my dikwels watter taal ek dink hulle kinders moet leer. Sal dit Spaans, Duits of Frans wees? Watter taal gaan hulle kinders die verste bring? Ek kan goeie redes vir al die tale gee, maar op die einde maak dit nie regtig saak watter taal dit is nie, solank dit net nog ‘n ander taal is. Elke taal maak die deur oop na nog ‘n nuwe taal. Waag dit net bloot om nog ‘n taal aan te leer!

Was keiner wagt
Lothar Zenetti

Was keiner wagt, das sollt ihr wagen
was keiner sagt, das sagt heraus
was keiner denkt, das wagt zu denken
was keiner anfängt, das führt aus

Wenn keiner ja sagt, sollt ihr’s sagen
wenn keiner nein sagt, sagt doch nein
wenn alle zweifeln, wagt zu glauben
wenn alle mittun, steht allein

Wo alle loben, habt Bedenken
wo alle spotten, spottet nicht
wo alle geizen, wagt zu schenken
wo alles dunkel ist, macht Licht.

Afrikaanse vertaling (my poging)
Wat niemand waag nie
Lothar Zenetti

Wat niemand waag nie, dit moet julle waag
wat niemand sê nie, sê dit reguit
wat niemand dink nie, waag om dit te dink
wat niemand begin nie, voer dit uit

As niemand ja sê nie, moet julle dit sê
as niemand nee sê nie, sê tog nee
as almal twyfel, waag dit om te glo
as almal deelneem, staan alleen

Waar almal loof, hê jou bedenkinge
waar almal spot, spot nie
waar almal suinig is, waag om te skenk
waar alles donker is, bring lig.

Inhlonipho op moedertaaldag

February 20, 2016 in Uncategorized

Ek groet vroeër die week uit pure gewoonte met “agee” (dit is iets soos haai/hi in Setswana). Die persoon aan die ontvangkant van die groet is skoon verontwaardig (en amper aggresief!) en sê vir my dat hy nie ‘n “swart taal” praat nie. Hy het dit laat klink asof dit iets slegs is om ‘n Afrikataal te praat. (Ek hou persoonlik niks van die term “swart taal” nie. Afrikataal is ‘n beter term in die Suid-Afrikaanse konteks en Bantoetaal is ‘n beter term in die internasionale konteks.)

Hierdie voorval het my laat wonder oor mense se ingesteldheid teenoor ander tale en hoe ‘n mens Internasionale Moedertaaldag (21 Februarie) in ons land moet vier. Irina Bokova, Unesco se direkteur-generaal, sê die volgende: “Mother languages in a multilingual approach are essential components of quality education, which is itself the foundation for empowering women and men and their societies.”

Ek stem natuurlik saam met wat Irina sê, maar voor ons by hierdie ideaal uitkom, sal Suid-Afrikaners eers die waarde van hulle eie moedertale moet besef en koester. Dit is nie so vanselfsprekend soos wat ‘n mens mag dink nie. Daar is ook nog baie werk nodig wat moedertaalonderrig betref. Ek dink tog die heel belangrikste wat ons kan doen om moedertaaldag te vier is om ander mense se tale te respekteer. Hiermee bedoel ek nie net mooi woorde (en verskuilde agendas) nie! Leer hoe om in ‘n plaaslike taal te groet. Wees sensitief oor hoe jy op jou eie taal aandring! (Ek gaan nou gestenig word, maar sommige Afrikaners kan soms blatant ongeskik oor Afrikaans wees.)

Sonder behoorlike moedertaalondderig is ware meertaligheid nie moontlik nie en sonder die respek vir ander tale (meertaligheid) is moedertaalonderrig vir almal ook nie haalbaar nie.

Gelukkige Internasionale Moedertaaldag!