Die Les Aan Die Begin Van Die Wêreld

January 24, 2020 in Uncategorized

Etienne van Heerden het die Afrikaner ’n guns gedoen met die skryf van sy grootse Die Biblioteek aan die Einde van die Wêreld. In een sin, weggesteek in die 634 bladsye, het hy die ongesegde en onsêbare waarheid wat die Afrikaner die afgelope 25 jaar van sy menswaardigheid gestroop het, neergepen. 

Met sy karakter se stelling dat “…wokeness politieke korrektheid op steroïede” is het hy die aakligheid, valsheid, sieklikheid, slymerigheid en onreg van hierdie verskynsel van “wokeness” aan die kaak gestel. Met daardie een sinsnede, gerugsteun deur elke ander woord op elke bladsy van hierdie indrukwekkende “spektakelroman,” het hy die afwykende gedagterigting ontbloot vir die dwaling wat dit is om daarmee die tafel  te dek vir ’n verdere oop gesprek oor die verlede, hede en toekoms van die Afrikaner. Op die oppervlak is die narratief van Die Biblioteek aan die Einde van die Wêreld tog so ironies polities korrek, dus vals, maar ten diepste is dit suiwer, waar en reg omdat dit politieke korrektheid se aansprake uiteindelik vernietig.

Om dit te verstaan moet ons die periode voor 1994 en die Afrikaner se rol in die destydse onderhandelinge weer bekyk en dit erken vir die bevrydende oorwinning wat dit was. Dit is iets wat die aanstigters van “politieke korrektheid op steroïede” oftewel “wokeness” ten alle koste wil vermy. 

Om die onderhandelinge met nuwe en oop oë te bestudeer vra dat ons dit met eerlikheid en opregtheid moet doen, dieselfde deugde wat 1994 enigsins moontlik gemaak het en ons in staat gestel het om dit met trots te doen. Die narratief van “wokeness” het ten doel om hierdie feit te vernietig deur uit te skree, soos Thuli by implikasie, in die woorde van Ian Brand, dat die Afrikaner irrelevant is en dat sy enigste rol is om te swyg en om toeskouer te wees van die vernietiging van alles wat hy koester. Ons plig en straf is om stil te bly, omdat dit die enigste regte ding is om te doen. Só sê die Valliste. Ons moet stilbly en uitdeel, afstand doen van alles wat ons gedink het ons s’n was, ingesluit ons kultuur, grond en taal. Verkieslik moet ons sommer op die drie skepies klim en terugvoeter Holland toe, aldus die Valliste, dekmantel van die EFF en BLF.

Die groteske bisarheid van hierdie “wokeness” soos ten toon gestel deur van Heerden se skerp skalpel dwing ons om ’94 te herwaardeer en te besef watter wonderwerk dit eintlik was. Onderliggend daaraan lê die heel beste en mooiste van wat dit is en was om ’n Afrikaner te wees – die byna kinderlike, plattelandse eerlikheid, opregtheid en sin vir geregtigheid, liefde en vrede, gekweek deur drie eeue se algemeen verfoeide Christelike Nasionale lewensbeskouing. 

Negentien vier- en negentig sou nie gebeur het daarsonder nie. Die onderhandelde skikking het gebeur omdat ons as Afrikaners besef het dat ons gedwaal het en dat die Vrede van Kempton Park die regte ding was om te doen. Die gemiddelde Afrikaner het dit nie beleef as die onafwendbare en gedwonge uiteinde van die verlies van ’n oorlog nie, maar as die regte ding om te doen. De Klerk en Mandela se skikking was en is en sal altyd bly wat dit was, die regte ding om te doen en ons as Afrikaners moet dit koester vir die wonderwerk wat dit destyds was. Ons moet trots bly daarop, selfs al loei die sirenes van die bloulig konvooie, die jillende rooi kopdoeke en die alledaagse bedreigings van die politiek en ekonomie om ons koppe, selfs al sukkel ons kinders met hulle agt onderskeidings om keuring te kry. Vier en negentig was ons s’n en ons moet die Rooi Kopdoeke en Valliste nooit toelaat om dit ook van ons te steel nie. Ons moet dit van die dakke af uitroep, “Ons het dit gedoen omdat dit die regte ding was om te doen.” Daardie enkele daad het ons die oorwinning gegee, ons die morele hoë grond geskenk. Ons mag dit nooit vergeet nie, selfs nie die regse nee-stemmers nie. Ook hulle val in ’94 is gestuit deur hierdie einste hoë grond.

Die Rooi Ander weier om na hierdie waarheid te luister en ons grootste fout is om toe te laat dat hulle daarmee wegkom, want dit is die rede vir hulle bestaan. Hulle identiteit is gevestig in die leuen dat 1994 nooit gebeur het nie, dat hulle eenvoudig bo-oor die “Boere” geloop het en die land oorgeneem het, dat ons net stilswyende toeskouers was en nou verder moet boet en betaal. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Ons aandeel in die wonder van ’94 is groter as die Ander s’n en ons is trots daarop. 

Die wonder van ’94 lê daarin dat die muur tussen Ons en die Ander afgebreek is, maar “wokeness” wil dit weer oprig net sodat dit opnuut op hulle terme afgebreek kan word. Vier en negentig is vir hulle ’n struikelblok. Mandela het hulle uitverkoop sê hulle, net soos party van ons sê dat de Klerk ons uitverkoop het. Daartussen lê die waarheid van die muur wat afgebreek is sodat daar nie meer ’n “ons” en ’n “hulle” hoef te wees nie, dat ons nou een is en dat ons dit moet vier en trots wees daarop. Hierdie is die morele hoë grond waarop al die gematigdes moet vasstaan en die nuwe Suid-Afrika moet bou.

Die verdere ironie van “wokeness” is dat die beste of miskien swakste Afrikaanse woord daarvoor “verdraagsaamheid” is terwyl dit in praktyk deur die Rooi Ander bedryf word in die mees kru, grofste vorm van onverdraagsaamheid, erger as die slegste vorm van rassisme, waartoe dit juis getransformeer het. Dit het van Heerden op meesterlike wyse geskilder. Mag ons as Afrikaners nooit (weer?) terugval op daardie mishoop nie.