Jou ma jok nooit

November 5, 2011 in Uncategorized

Dit was elke Junie-maand ons familie se gebruik om vir my ouma in Pietersburg te gaan kuier tydens die skoolvakansie. Om die eentonigheid van die 1800km afstand te breek, het my pa daarvan gehou om alternatiewe roetes soontoe aan te pak, en ons het gevolglik baie wyd gereis tydens hierdie vakansies.

 

Terwyl ons dan nou so ver moes ry – vanaf die Weskus – kan ons netsowel vir sy suster in Winterton of broer in Umtata ook gaan kuier. Of op pad boontoe, of terug.

 

So is ons een vakansie op pad Umtata toe, nadat ons die vorige aand op Dordrecht – my pa se tuisdorp – oorgeslaap het. Indwe-langs tot die T-aansluiting met die Elliot pad, dan regs tot amper by Cala en dan links af op die R58 na Engcobo, waar ons aansluit by die R61 tussen Queenstown en Umtata.

 

Die laaste gedeelte van hierdie stuk pad loop oor Satansnek. Hier kom ons toe op ‘n onklaar vragmotor af  wat langs die pad staan. My pa hou stil om te hoor of hy kan help, en 3 swartes klim half-verkluim uit die trok se kajuit en beduie dat hulle al van gistermiddag hier sit en ons die eerste mense is wat nou hier verbykom.

 

Terwyl my ma ons middag-ete toebroodjies uitdeel – wat met dubbel-hand dankbaarheid aanvaar word – klim my pa in die vragmotor kajuit en kom agter die battery is morsdood. In terugskouing het die diesel vermoedelik verdik in die tenk weens die koue, wat veroorsaak het dat die enjin gaan staan het. Toe karring hulle die battery dood in die proses om dit weer aan die gang te probeer kry.

 

Maar dalk kan hulle die trok aan die brand stoot, dus is my pa nou agter die stuur en die vorige insittendes stoot die trok.

 

Na so ‘n paar keer se heen en weer en die opgebruik van al die afdraendes, besef hulle die trok gaan nie vat nie.

 

Met die finale stilstand, staan een van die stoters so terug en kyk die trok aan met ‘n moedelose uitdrukking op sy gesig. “Fôkol” seg hy.

 

“Haai ma, hoor wat sê die boy!”

 

“Ja sien my kind, in hierdie geweste word hierdie woord mos nie as ‘n vloekwoord geag nie”.

 

Elk geval, ons is toe voort. By Engcobo is my pa eers aan by ‘n motorhawe om die probleem aan te meld en te vra dat hulle uitgaan en die mense gaan help, voordat ons die laaste stuk pad vat Umtata toe.

 

Nou wonder ek of die trappe van vergelyking dalk sou kon wees:

Niks, Nâ-tieng, Fôkol?

Als is moontlik in die flieke

September 10, 2011 in Sonder kategorie

Ou cowboy flieks het dikwels ‘n toneel in waar die held onregmatig in die tronk toegesluit word. Sy vriende – of meisie – kom hom dan red deur ‘n tou aan die tralies vas te maak en dit uit die muur te pluk met ‘n perd. Nee, regtig.


‘n Onlangse fliek – Fast Five – het ‘n meer moderne streep aan hierdie toneel gegee: Ipv perde, word daar motors gebruik (darem heelwat meer as een perdekrag nou), en die sel tralies word vervang met ‘n brandkluis, wat dwarsdeur ‘n muur gepluk word deur ‘n kar wat met ‘n ketting daaraan verbind is.


Dalk net effe meer vergesog as die perd/tralie kombinasie, maar soveel so dat selfs vandag se rekenaar-speletjie jeug wat die onmoontlike regkry op hulle skerms, dit afmaak as belaglik.


Die volgende gesprek het toe in my huis op Facebook begin, en kommentare getrek vanaf ‘n paar 22-jariges:


Oorspronklike pos

It don’t matter how many big name actors u throw in a movie, physics still exists. Fast 5 fo phail. Yeah, sure a muscle car has a few hundred horses, but pulling a 3x3m safe out a wall… come on!

 

Kommentaar 1

Pulling it out is only the beginning of them throwing the physics book out the window and making their own, that whole scene of the muscle cars and the safe is just one big fail!

Kommentaar 2

Pffft… I can drift with a safe attached to my car… I’m from Witbank.

The sum of the parts is more than the (w)hole?

Mei 17, 2011 in Sonder kategorie

‘n Groep gesinne – waarvan ons deel vorm – beplan om die komende skoolvakansie ‘n 23-dae lange toer deur Zimbabwe, Zambië, Malawi, Mosambiek en terug via Zimbabwe te onderneem.

 

Dus word daar nou druk eposse uitgestuur om navraag te doen oor moontlike akkommodasie op die roete. Die idée is om hoofsaaklik te kamp om sodoende die koste “laerig” te hou.

 

Hier is tipies die formaat van die epos wat uitgaan:

 

Dear Sir /Madam,

 

We are a group of 12 South Africans with 3 vehicles who needs camping accommodation on the night of Monday 24 June. Please advise if we should book in advance. We are not yet sure of the final date.  Please also advise on your rates, facilities and directions.

 

Nou kry ons die volgende antwoord vanaf een van die Tourism Service Officers:

 

Thank you for your enquiry. Yes, you need to book in advance and we charge US$100.00/site, which takes a maximum of 6 people. The Main Camp area is serviced and has ablution blocks.

 

We also have exclusive sites which take a maximum of 12 people at US$200.00/site. However, these have only a long drop toilet and nothing else. Please let me know your options and I will process the booking.

 

Nou lyk dit mos vir my of die 2 x $100 “Main Camp” nie optel na 1 x $200 “Exclusive” nie. Nee dis heelwat meer.

 

Tensy daai longdrop werklik iets besonders is.

 

·         dalk baie dieper as gewoonlik

·         meer aromaties

·         wonderlike uitsig weens gebrek aan ‘n deur

·         besoek deur Livingstone op ‘n stadium – met ‘n koperplaak wat dit so bevestig

·         ‘n sitplek uit ‘n besonderse, bedreigde spesie hout vervaardig

·         dalk is dit ‘n dubbelgat model – twee mense kan langs mekaar abluteer en ‘n rustige steungesprek voer

·         jy kan op datum kom met laasmaand se Zimbabwe nuus uit die plaaslike koerant vierkante voordat jy by die papierwerk kom

     

 Klink vir my ons informant is dalk ‘n drol – of hy dink ons is.

Staf?

Mei 16, 2011 in Sonder kategorie

Nou die dag oor die radio weer, word ‘n aankondiging gedoen oor die verkiesingsentrum wat nou in Pretoria  geopen is, reg vir Woensdag se gebeure.

Die insetsel is van ‘n Engelse woordvoerder wat die volgende kwytraak: “The centre has now opened, with a lot of stuff to assist you”.

Uit my tegniese agtergrond is ek nou nuuskierig oor watse tipe toerusting daar na verwys word itv die “stuff”.

Terselfdertyd dink ek dis swak Engels, in die lig gesien dat ek ‘n boek by die huis het met die titel: “How things work”. Hierdie titel “klink” vir my reg, maar as ek nou bostaande taalgebruik moet toepas, en die boek se naam verander na : “How stuff works”, dan is dit darem net nie dieselfde nie.

Dalk het die woordvoerder “personeel” bedoel?

Hoop

Mei 10, 2011 in Sonder kategorie

Gestel een Saterdag middag besluit jy om die kombuis se agterdeur, wat in die kosyn vassit omdat dit agv die klam klimaats-toestande geswel het, reg te maak.

Met die deur af, is jy besig om die saag se lem diepte te stel sodat dit nie te ver deur die hout steek tydens die saagproses nie.

Terwyl jy besig is hiermee met jou regterhand, skakel jy onwillekeurig die saag aan met jou linkerhand.

Gestel jy kry dit nou verder reg om by die hospitaal uit te kom sonder om flou neer te slaan, nadat jy seker gemaak het al jou vingers is nog binne die afdroogdoek wat jy om jou hand gedraai het.

Wanneer jy uit die teater kom, is jou hand so toegedraai dat jy redelik seker is jy het nie meer ‘n wysvinger nie. En met goeie verdowing nog teenwoordig, besluit jy om dit gelate so te aanvaar.

Nee, verseker die dokter jou egter wanneer hy sy rondtes doen, die vinger is nog daar, maar dit sou beter wees om dit te verwyder, want die skade is van so ‘n aard dat dit net in die pad gaan wees.

As motivering vir hierdie stap word genoem dat tekenprent karakters almal net 4 vingers het – en kyk hoe goed kom hulle reg . Dan word daar verder aangevoer dat ‘n wysvinger nie baie belangrik is nie – wel ‘n duim, en dan volgende die pinkie.

Ek kan my voorstel dat ‘n vorige politikus nie oor die onbelangrikheid van ‘n wysvinger sou saamstem nie, aangesien hy syne deurgaans gebruik het.

Dis op hierdie stadium – waar daar skielik nuwe hoop is – dat die klem van die situasie drasties verskuif van: “Maar dokter dis my HAND hierdie”, na: “Maar dokter dis MY hand hierdie”, en ’n tweede opinie dringend verlang word.

Toe ek gister my hond Lucy – vir wat ek vermoed die laaste keer – vee-arts toe neem, toe weet ek ‘n tweede opinie gaan nie help nie. Na 16 jaar, is hondjie op – van normale slytasie en die goeie lewe.

Die redenasie gaan andersom wees. “Maar dokter, dis MY hond hierdie” gaan verander na “Meneer, dis jou HOND hierdie”.

Maar nee, reken die vee-arts. Hierdie hondjie stel nog te veel belang in haar omgewing en is steeds mobiel genoeg, en ten spyte van die katarakte sien sy nog heel goed genoeg. Dis net as sy iets sou wou lees voordat sy bed toe gaan, waar dit ‘n probleem gaan wees.

Daar is wel ‘n hartrumoer, maar daarvoor word pille voorgeskryf – I kid you not – skedule 2 en 3 – om onder andere die bloed te verdun. Dit sal hondjie ook bietjie opkikker agv die verbeterde bloedvloei na die brein.

Verder moet hondjie ander kos eet. Dié vir senior honde – dis nou ouer as 7 jaar. Dit verlig die las op die niere en lewer, wat gewoonlik naas die hart, die organe is wat ingee en die dier se einde beteken.

Ek kon dalk wel ‘n nuwe hond gekry het vir die prys van al bostaande goed, maar ek is steeds hoogs tevrede met die uitkoms.

Dus: “Veels geluk met jou nuwe “lease on life” Lucy!”

Engrish of Chinglish?

Maart 31, 2011 in Sonder kategorie

Tydens ‘n besoek aan Dubai waar ons kamera toerusting wat op helikopters monteer word aan die polisie demonstreer, kom kyk ‘n “hooggeplaaste” wat ons doen.

Hooggeplaaste is letterlik dit – hy het nie eintlik ‘n kwalifikasie nie – behalwe dalk dat hy ‘n grootwild jagter is – maar hy is redelike na verwant aan die “Ruler of Dubai”. Dis nou maar hoe dit werk daar.

Nou probeer ek verduidelik aan hierdie persoon – op ‘n nie-hoogs tegniese vlak – hoe die kameras werk, hoe die beeld uitgesaai word na die polisie hoofkantoor op die grond, en hoe hulle dan vanuit daardie kantoor enige situasie kan beheer, of dit verkeer, nood of onlus is.

Nadat ek nou mooi verduidelik het, staar die man my so effe oorbluf aan en vra: “Do you speak English?”

Dalk het daar iets met my vertaling verkeerd gegaan, soos hieronder.

Positiewe Uitkyk

Maart 30, 2011 in Sonder kategorie

Ek dink die meeste mense – selfs die jonger geslag – het al gehoor van Monty Python – en selfs uit wie hulle bestaan het, asook wat hulle later jare na ontbinding van die Flying Circus gedoen het.

 

Die twee mees bekendste lede is seker Eric Idle en John Cleese, lg wat o.a. later ‘n soortgelyke rol in Fawlty Towers vertolk het.

Nou vóor hulle, was daar The Goons, wat bestaan het uit Spike Milligan, Peter Sellers en Harry Secombe.

 

 

Dis opgevoer as lewendige radio komedie voor ‘n gehoor waar elkeen verskeie rolle vertolk het deur stembuiging. Nes met ons eie destydse “Bog met blou-Maandag”, het jy óf daarvan gehou, of dit as totaal absurd ervaar.

Ja wel, jy het juis daarvan gehou OMdat dit so absurd was. Soos een van Neddy Seagoon (Secombe) se planne om in 1916, vooruitgedateerde kalenders vir die jaar 1918 oor die loopgrawe uit vliegtuie te gooi, sodat die Duitsers kan dink die oorlog is al verby.

Toe ek hierdie mense ontdek het, was van hulle al dood, maar al die programme was as plate opgeneem, en jy kon dit by die provinsiale biblioteke uitleen. Dit was tydens diensplig – ook by tye vermaaklik, net minder mense as hierbó weet daarvan.

‘n Kenmerk van die opvoerings was die orkes wat tussen tonele musiek verskaf het, asook die spesiale effekte. Klanke soos wanneer Staal Burger ‘n skurk slaan, klinkende soos ‘n stywe jellie en ‘n dromstel wat omval.

In een van hierdie episodes, bou die Goons ‘n vliegtuig, om te help met die oorlogs-poging. Uit die klank-effekte kan jy hoor hulle is hard aan die werk: ‘n oordrewe getimmer, hoekslypers wat huil, goed wat geMAAK pas word, ens.

Opeens is daar ’n geweldige kabaal, toe die lugraam van die vliegtuig ineenstort oor een of ander kritieke boutjie wat nie installeer was nie.

Na ‘n UIT-ge-rek-te geraas van goed wat aanhou val, raak dit skielik doodstil, behalwe vir die geluid van ‘n stukkie pyp wat oor die vloer rol met ‘n klingel-klingel-klingel, en – weereens – na die verloop van ‘n laáng tyd, met ‘n gedempte “plienk!” teen iets tot stilstand kom.

Nou ja, mens sou aan allerhande goed kon dink om te sê. Jy kan verneem of iemand seergekry het. Jy kan probeer om te maak of dit nie jou skuld is nie – ek kom nou net hier – en die blaam afskuif na iemand anders. Jy kan ‘n paar kragwoorde uiter, ens.

Nee, nie hierdie “outfit” nie. Daarvoor is hulle te begeesterd en positief.

 

Vandaar Neddy Seagoon se opgewekte vraag: “What shall we build NOW?!”

 

Wat “dink” honde?

Maart 27, 2011 in Sonder kategorie

 

Ons huidige hond het ons gekry nadat Sam aan bosluiskoors dood is – opgedoen een langnaweek by ‘n honde hotel. Dit was op die 1e herdenking van die nuwe Suid-Afrika in 1995.

Dit maak dat Lucy nou nogal oud is – 16 jaar, een van die dae. Nou is die hondjie wel al beide bykans blind en heeltemal doof, maar sy lyk nog nie moeg vir die lewe nie.

Ons honde was nog altyd troeteldiere en nie knorrende bakleiers of keffende wolbolle nie, dus ten spyte van so ‘n paar slegte gewoontes en onvermoëns wat die hondjie nou aangeleer het/aan lei, verdra ons dit maar.

Maar ek vermoed sy het dalk Alzheimers se siekte ook, want sy sal vir lang rukke op een plek – gewoonlik in die middel van waar die huismense wil loop – doodstil staan en, wel, net staan. Toegegee, ek doen dit deesdae ook, maar nog nie so dikwels nie.


Nou wonder ek of, wanneer sy in hierdie trans is, hondjie iets dink, en indien wel, wát. Soos bv:


  • as ons dan nou almal honde is – klaarblyklik “dink” honde jy is ook een, net die leier van die trop – waarom loop ek op 4 bene en die tropleier op 2?
  • waarom deel die tropleier nie sy biltong met my nie – dis mos sy instink?  
  • hoekom moet ek soggens 5:15 uitgaan om ‘n draai te loop en hy staan binne die agterdeur en wag?  
  • hoekom hou my mense nie daarvan as ek liefdevol in hulle gesigte hyg nie?  
  • hoekom mag ek nie ook op die bed slaap nie?  
  • hoekom eet hulle nie ook hondepille nie?  
  • moet ek alweer self die blerrie trappe klim slaapkamer toe? 
  • hoekom maak hulle so bohaai as ek stilweg in my slaap poep voor die TV?
  • wie is ek nou weer?
  • ensomeer

Heimlik  hoop ek maar Lucy gaan eendag sag heen, want maak nie saak hoeveel keer ek hoor dat die gebruik met die laaste rite is dat jy jou hond styf vashou terwyl die vee-arts die finale inspuiting toedien, glo ek steeds nie ek sal dit regkry nie.

Hoe lank bly snaaks, snaaks?

Maart 19, 2011 in Sonder kategorie

In Sweet Liberty (1986) vertolk Alan Alda – bekend vir die TV-reeks MASH – die rol van ‘n kollege geskiedenis professor in ‘n klein Amerikaanse dorpie in die Nieu Engeland staat.

‘n Feitgebaseerde geskiedkundige roman wat hy geskryf het, trek Hollywood se aandag, en ‘n filmspan kom op die dorp aan om dit te skiet.

Alan verskil van die regisseur se kreatiewe weergawe van die uitbeelding van ‘n veldslag in terme van die geskiedkundige korrektheid daarvan.

Die regisseur op sy beurt, argumenteer dat vir enige fliek om trefkrag te hê, 3 elemente benodig word: naaktheid, beskadiging van eiendom en verontagsaming van gesag. Hierdie elemente is dus in die draaiboek bygewerk.

Omdat die regiseur hom afvee aan Alan se besware, lewer hy en van sy vriende – wat ook rolle vertolk in die fliek, aangesien amper die hele dorp ekstras is – hulle eie (moedswillige) interpretasie van hierdie 3 aspekte tydens verfilming van die veldslag.

Natuurlik is dit glad nie hoe die regisseur dit bedoel het nie, met Alan wat elke keer sy hand uitsteek na die kamera en die 3 aspekte so een-een met sy vingers aftel soos hulle dit illustreer.

Dis die laaste aspek – disrespek vir gesag – wat my laat terugdink aan ‘n insident in my skooldae op Vredenburg, en my steeds laat lag.

In Std 6 was die laer- en hoërskole saam in een gebou, maar dit was veels te klein. ‘n Nuwe hoërskool was in aanbou langsaan, en van die senior standerds het reeds oorgetrek.

In Std 7 begin ons toe ook in die nuwe gebou, maar daar was nog steeds klein werkies wat nie klaar was nie. Een van hierdie was die interkomstelsel, waardeur die administrasie blok met enige of alle klaskamers kon kommunikeer.

Uiteindelik is dit ook darem klaar, en moet nou getoets word. Ons sit in die Wiskunde klas toe die skoolhoof se stem oor die interkom klink: ”Mnr Chamberlain, kan jy my hoor”?

Waarop Mnr Chamberlain toe antwoord: ”Nee meneer, ek kan jou nie hoor nie”.

Noem dit die naiewe waarneming van ‘n tiener, maar as jy die mense, die tydgebied en die kleindorpie gesagstruktuur van daardie tyd geken het en boonop Mnr Chamberlain se gesig gesien het, dan was dit skreeusnaaks.

Vandaar my hoop dat ek nooit “so” oud word dat ek eendag dink dit was “simpel” nie.

Hoe dit als begin het

Maart 18, 2011 in Sonder kategorie

Met dié dat daar toe nou vir Lottering ‘n motorfiets met syspan aangeskaf is, dink sy baas dit toe goed om die burgemeester en die raad oor te nooi vir ‘n toer van die tremloods fasiliteite.

 

Die plan is om hulle aan al die afdeling se werksaamhede bekend te stel, maar die hoogtepunt gaan natuurlik wees hierdie nuwe innovasie – sy idee – om tremlyn onderhoud vanaf ‘n motorfiets te bedryf.

 

Nou verduidelik hy vir Lottering dat op ‘n gegewe oomblik, hy by die hek moet uitry met die motorfiets, natuurlik volgelaai met onderdele, leer en handlanger. Dan ry hy om die blok en as hy terugkom, dan kom stop hy daar voor hulle sodat die raad nou hierdie stuk toerusting van nader af kan inspekteer.

 

So gesê, so gedaan. Die burgemeester en raadslede staan almal daar netjies uitgevat, goue ketting en al, en Lottering word beduie dat sy deel van die “vertoning” nou aangebreek het.

 

Hy ry uit by die hek, links af in die straat, agter-om die blok en is nou besig om die hek van die ander kant te nader.

 

Maar hy het nou net laasweek eers hierdie motorfiets gekry, en het tot dusver nog net bietjie in die jaart geoefen. Hy is dus bietjie ongemaklik, veral met die leer wat aan die syspan vas is – dis eers later dat hy so bedrewe met die motorfiets geraak het.

 

Om seker te maak hy steek nie die punt van die leer in die heining vas met die draaislag as hy by die hek inry nie, besluit hy om mooi simmetries tussen die twee oop swaaihekke deur te ry. As teiken gebruik hy die smal sementblok in die middel van die opening waar die hekke se slotpenne in sak as dit toegemaak word. Die idée is om wydsbeen oor hierdie blok te ry, soos almal wat die jaart met motors besoek maar doen.

 

Wat Lottering nie besef het nie, was dat die hegting van die syspan aan die motorfiets deur middel van dwars stange gedoen word. Twee bo, en een onder. Wel, die onderste een is toe laer as die hoogte van die sementblok.

 

Die motorfiets stop net daar, maar Lottering, sy handlanger, en meeste van die los goed reis voort, en kom in ‘n stofwolk te lande reg voor sy baas en dié se gaste.

 

Sy baas kyk hom so uit die hoogte aan, vir ‘n oomblik stomgeslaan, maar kry darem toe weer beheer van sy sinne met: “Well gents, I think we’ve seen enough. Let’s move on”.

 

Tot sy verdediging, Lottering het darem een deel van sy instruksie korrek uitgevoer – hy het wel gestop reg voor sy baas en gaste, soos versoek.