Die goed is verslawend!

Januarie 24, 2013 in Uncategorized

Verstrooid meng San, koekbakker boerin
‘n paar korrels lood by die roer in.
Maar slegte geluk –
toe Sannatjie buk
toe skiet sy die kat in sy murin.

Ek kan dit nie keer…

Januarie 24, 2013 in Uncategorized

Ou Giep wou ‘n selfoon gesteel het

na hy dit voor sy broek ingestreel het.

sy plan is onthul

toe, voor by die till,

sy knaters “Die Stem” begin speel het.

Vandag se dosis

Januarie 23, 2013 in Uncategorized

Ek het nou finaal besluit om my oor te gee aan ‘n lewe van hogere poësie. Nou kan ek ook saampraat met die grotes – Brenton Breytenbach, G.P van Wyk Louw en Eddie Eckstein.

Verlustig julle dus in die belletrie, die skone taal…

Ou Bertie Eenoog kuier volyt
met whisky en bier en met jolyt
Hy sluk bietjie later
sy glasoog se water –
nou loer daar ‘n oog by sy holyt.

Noga limeriek

Januarie 22, 2013 in Uncategorized

Met moeite het Gerty Versluis

hottentotsgot met ‘n rysmier gekruis

Sy kry toe ‘n gog wat

die nare manier had:

eers bid hy, dan vreet hy jou huis.

 

 

Hoe kry ek enkelspasiëring? Help!

Dankie vir die roem

Januarie 22, 2013 in Uncategorized

Oorweldig deur die sukses van my vorige blog (5 response!) het ek besluit om hierdie suksesroete nogeens te probeer uitbuit met ‘n Limerick. Ongelukkig is dit so ‘n vrek moeilike pad dat ek kwalik meer as een per dag sal kan pleeg!

Nietemin:

Vir jarre en jarre het Koos
Gekla dat sy naam hom laat bloos.
Na vele nagwake
By Binnelandse Sake
Heet die kêrel nou Gert Verdoos.

Limerick

Januarie 21, 2013 in Uncategorized

Ek vrek oor Limericks. So daag hier toe vandag ‘n tipe uitdaging op in my epos: vertaal hierdie Ingelse een:

Engelse Limeriek

There once was a girl from Cape Cod
Who thought a child comes from God
But it weren’t the Almighty
who lifted her nighty
It was Roger, the lodger the sod.

Die begeleidende poging was:

’n Mooie jong dame genaamd Nel,
Dog ’n kind kom van Hoër bevel.
Maar dit was nie die Almag
wat haar laat verwag.
Dit was Van Tonder, die donder, die hel!

Dit was nice, maar die ritme was onprettig. Toe probeer ek soos volg:

‘n Meisie van Arbeidsgenot
dag babetjies klein kom van God.
Maar die eintlike dader
was toe nie die Vader,
maar Pieter, die huurder, die sot.

of dan:

Jong Martie, ‘n meisie van Memel
dag babetjies kom uit die hemel.
Dis nie hemel of hel
wat haar boepie laat swel,
maar Gielie, die plumber, die semel.

Toi toi tot die son ondergaan

Januarie 15, 2013 in Uncategorized

Telkens wanneer daar ‘n golf van stakings of misdaad is, is daar ‘n somber koor van doemprofete wat opstaan en hulle voorspooksels in die media plaas. Dit lei tot grootooggesprekke om die eetkamertafel, waar goeie mense verstom hulle onderskeie tonge klik en hul koppe stadig skud.

Waarskynlik is hierdie doemprofete reg. Dalk is ons op die glybaan na vergetelheid en onheil. Dalk is die wêreld besig om te ontdek hulle nuwe bruid se voete ruik sleg, en dalk is ons op die pad van Zimbabwe en soveel ander vrolike voorbeelde.

Wat my egter tref uit hierdie hele tafereel en al die tirades, is dat die oorsake van die kwaad, die plegers van die onheil, hulle kollektiewe sterte afvee aan die protes oor hulle optrede en al die voorspooksels. Goeie argumente en die stem van rede ken hulle nie. Hulle sal met groot toewyding presies daardie infrastruktuur vernietig waarvan hulle vir hulle voortbestaan afhanklik is. Agterna is daar ‘n groot geweeklaag oor die ellende waarin hulle verkeer, soos ‘n kind wat sy ouers vermoor en dan kla omdat hy ‘n weeskind is.

Ek vind dit moeilik om aan hierdie vreemde logika gewoond te raak. Mense sal hulle treine afbrand omdat daar nie treine is nie. Mense sal wingerde vernietig waarvan hulle vir hulle vir hulle lone afhanklik is. Mense sal kopers, wie se geld hulle nodig het, afraai om Suid-Afrikaanse produkte te koop.

Ek kan nie my verstand om hierdie toewyding aan ‘n blinde ideologie kry nie. Plase, wat broodnodige (goeie woord!) geld oplewer, sal ingeneem word ter wille van ‘n gewaande soort regverdigheid.

Wat is my punt eintlik? Net dat ek my nie meer gaan opwerk oor doemredes en onheilstirades nie. Ek, en enige redelike mens, begryp en weet hierdie dinge – niemand hoef dit vir ons uit te wys nie. Ek sal eerder opgewonde raak as daar ‘n manier uitgevind word om dit aan die verstand van die “perpetreerders”, die plegers van die sinnelose geweld, te bring dat hulle koeltjies besig is om hulle eie slagare af te sny en dat daar nie êrens ‘n onuitputlike bron van goeie wil en rykdom is nie.

Ongelukkig dink ek ek gaan lank wag.

Wie neem vir Oupa hierdie naweek?

November 8, 2012 in Uncategorized

Christoffel se impak op sy sosiale omgewing is groot. As skoolhoof dra sy stem gesag, deure word vir hom oopgemaak, hy word alom as voorsitter op verskeie forums verkies en is ‘n eregas by funksies. In die kerk is hy ‘n voorprater en leier van verskillende kommissies. As hy by die winkel inloop groet kennisse en leerlinge hom gedienstig en menigeen probeer ‘n gesprekkie aanknoop. Sy vrou en kinders aanvaar sy gesag en oordeel, en skik hulle volgens sy planne.

Dis tien jaar later. By die skool is daar nuwe, jonger stemme wat, as draers van nuwe insigte en idees, aanspraak maak op ou leiersposisies en nuwe denkrigtings. Christoffel vind dat hy kundiges moet raadpleeg voordat hy besluite kan neem. By die kerk word hy wel nog weens sy ervaring op kommissies verkies maar hy vind dat hy nie meer met al die inisiatiewe aanklank kan vind nie. Dinge en aksies wat voorheen ondenkbaar was, is nou alledaagse praktyk en selfs fundamentele ou standpunte word bevraagteken en soms verwerp. As hy wel ‘n mening sou uitspreek, word dit hoflikheidshalwe aangehoor, en soms word hy selfs geterg oor dinge wat hy as heilig beleef het. Nuwe mense het die winkels oorgeneem, almal is haastig en niemand groet hom meer nie. Sy kinders het ontdek dat ander bronne meer gesag dra en dat sy menings in elk geval verouderd is.

Dis nog tien jaar later. Christoffel het al ‘n rukkie afgetree. Die skool nooi hom nog nou en dan vir ‘n funksie, solank hy net nie iets wil sê nie. Die jong dominee by die kerk noem hom op sy naam en behandel hom soos ‘n kostelike ou imbesiel. Sy kinders het hulle eie belange, hulle eie kinders en ‘n eie lewe. Hulle kom knoop soms ‘n gesprekkie aan as dit hulle pas. By die winkel is hy stadig en in die pad. Hy verstaan nie al die nuwe elektroniese hulpmiddels nie en gesprekke handel oor sake waaraan hy geen deel gehad het nie.

Saans sit hy en sy vrou en kyk heelaand televisie. Hy volg op die skerm die lewens van andere, van fiktiewe karakters en wildvreemde bekendes. Elke program is ‘n parodie, ‘n konstante herinnering aan ‘n lewe buite en sy eie, omvattende irrelevansie.

Oktoberfest in mineur

November 1, 2012 in Uncategorized

Oktoberfest.

Waaraan laat die woord jou dink? Fraai, buustige, gespierde dametjies wat armsvol bierbekers aandra; groot Brezels met bepeperde Emmentalerkaas; ‘n verveelde oempa-orkes wat somehow jolige musiek uitkarring; grootoogtoeriste wat op tafels probeer dans terwyl rustige Duitsers hulle kopskuddend toekyk; leepoog tafelgenote wat hulle eie weergawe van die lirieke probeer deursing…?

Dis seker omtrent hoe dit behoort te wees.

Wel, nee. Nie hier nie.

Ek kan niemand kwalik neem nie – ek moes per slot van rekening die waarskuliggies gesien het.

Ek was genooi na die plaaslike rolbalklub se Oktoberfest-ete Vrydagaand. Laat my die toneel beskrywe en let asseblief op die subtiele kontraste met die beskrywing bo.

‘n Lang, lang gedekte tafel, weliswaar met Beierse vlaggies op. ‘n Eensame cd-spelertjie eenkant wat ewe dapper, outydse Duitse popmusiek uitkrys. Gawe, dierbare bejaardes wat hulleself probeer hoorbaar maak bo die geroesemoes. ‘n Vriendelike tannie met ‘n kort rok wat urelank een-een persoon stelselmatig bedien met ‘n bord gekookte Duitse kos. Wyn en Diet Coke.

Welkom dan aan wat waarskynlik my toekoms is. Soos Koning Arthur se Guinevere vra: “Where are the simple joys of maidenhood?” sal ek seker moet vrede maak dat daardie benewelde Vrydagaande in die Braukeller of Zillertal my net kopseer, sooibrand en spierpyn sal besôre. Miskien selfs ‘n gebreekte arm. En, dat ek voortaan waarskynlik die Oktoberfest vanuit my Lazyboy sal aanskou, soos wat dit êrens, ver oor die waters afspeel.

Ergste is, ek verkies dit dalk eerder nou so!

 

Poedelpastei

Oktober 30, 2012 in Uncategorized

Waar jy staan, hang af van waar jy sit.

Hierdie is ‘n erg onderskatte waarheid. As ‘n mens die volle konsekwensies daarvan deurdink, dan klink al die hewige debatte oor die ligging van kernkragsentrales, die Belhar-getuienis, geloof, “fracking” en rykdomsbelasting maar bra ydel.

Die stelling beweer dat dit as’t ware vir jou vooruitbepaal is wat jou standpunt gaan wees in ‘n bepaalde situasie. As jy ‘n ingesetene is in ‘n bepaalde toestand of ligging, sal dit waarskynlik ook die toestand wees wat jy hand en tand sal verdedig. As ek ‘n mooi duur aftreeplekkie langs die kus gekoop het, sal ek tot die dood toe veg om dit nie ontsier te kry deur ‘n luglyn vol windlaaiers nie. Om die waarheid te sê, ek sal allerande ware-, en selfs drogargumente gaan versamel wat dalk my saak kan versterk, ter uitsluiting van die argumente vir die teendeel. Ek sou die Belhargetuienis makliker steun as ek van ‘n bepaalde volksgroep was, of as ek grootgeword het in ‘n gebied waar daar meer vryelike wisselwerking tussen bepaalde volksgroepe was.

Afhanklik van waar ek gebore is en grootgeword het, sou ek waarskynlik Islam, Buddhisme of Christenskap aangehang het. Ek sal “fracking” moeilik ondersteun as ek ‘n plaas of ‘n aftreeplekkie in die Karoo het, en vir seker sal ek nie rykdomsbelasting ondersteun as ek, uhm, ryk was nie.

Dalk sal die protesteerders teen die tolhekstelsel ook agterkom dat die steun vir die protes vanuit die res van die land stadigaan besig is om te taan namate die besef tot daardie mense deurdring dat dit eintlik net die arme Gautengers is wat vir daardie trippies gaan betaal. Ha, totdat SANRAL sy visier op ‘n pad in hulle eie omgewing sit, dan sal hulle gou op hulle se perdjies wees.

As ek dus ‘n protesbrief in die koerant sien, is dit vir my heel prettig om te sien waarom die persoon juis beswaard is, en meeste van die tyd is dit maar ‘n gevolg van “waar jy sit”.

Hierdie hele gedagtegang is eintlik gesneller deur ‘n berig in die koerant, dat ‘n man in die Kaap wat ‘n hond afgeslag en geëet het, aangekla was en toe skotvry daarvan afgekom het. Soos te verwagte was daar ‘n koor en ‘n storm van protes en afgryse oor sodanige wandaad. Sekerlik verdien so ‘n wreedaard om die hoogste tol te betaal?

Dan ry hierdie selfde verontregtes by Spar aan, en koop ‘n hoendertjie of ‘n tjoppie om tuis te gaan geniet. ‘n Mens wonder of hulle al die kyk op ‘n skapie se gesig gesien het as hy besef hy gaan in faktore ontbind word om op beskaafde mense se borde bedien te word as ‘n lekkerny. Die gesig wys vrees, ‘n wil om te lewe!

In sommige kulture is ‘n hond nogal ‘n lekkerny. So ‘n poedelribbetjie gaan goed af met aspersies en mosterd. Soms is mense bloot erg honger.

Gewoonlik beskou ons kulture wat katte of honde eet as barbaars en wreed, en besef nie dat ons eie eetvoorkeure dalk vir ander walglik kan wees nie. As ‘n mens die saak probeer deurdink om regverdiging vir jou eie afgryse te kry, beland ‘n mens baie gou in ‘n morele mynveld. Vegetariërs eet byvoorbeeld ook vorme van lewe, en dit is ‘n dun lyn om te wil argumenteer dat daardie soort lewe nie ‘n wil het nie – party bome skei eteengas af as ‘n bok daaraan eet, om hulleself te verdedig, en so is daar baie ander voorbeelde van ge”wil”de optrede in die planteryk..

Dalk sou argumentering meer logies, makliker gewees het as ons ons eie vooroordele en voorkeure opsy kon plaas en bloot nugter oor die feite redeneer.

Dream on, Jan Klaas.