Sware harte en so aan

September 15, 2019 in Uncategorized

Ek is erg wantrouig teenoor mense wat aan ander raad uitdeel.

My gevoel is dat jy net raad kan uitdeel as ‘n mens diep in’n probleem gemarineer is en deeglik toegerus is om raad te gee wat waar en verantwoordelik is.

Daar is net vir my te veel amateurberaders, wat dit op hulleself neem om vir ander mense te sê hoe om hulle besondere probleem op te los. In die Baai se Saterdagkoerant, Weekend Post, is daar week na week ‘n paartjie wat hulle wyshede opdis van hoe jy kwansuis dít of dát moet doen sodat jy vervuld en tevrede sal lewe. Só asof hulle alles gesien het en al die implikasies van hulle raad al deurdink het.

Die groot hartseer is hoe ‘n skare dorstige mense hulle wend tot hierdie ghoeroes, en die raad opslurp. A nation turns its lonely eyes to you – want in ons desperaatheid sal ons soms enigiets probeer. Ek sien oggend na oggend hoe my kollegas plegtig luister na die gekondenseerde wyshede van die dagboekpredikers tydens die oggendvoorlesing, asof hierdie predikers werklik beter antwoorde kan bied as hulleself.

Ek het al te veel van hierdie beraders se kleivoete sien uitsteek – ‘n groot skrywerdominee wat jong seuns bevoel het, ‘n tydskrifdominee wat self moes skei, die jong predikant in ons gemeente wat met die hoofdiaken se vrou wegloop…

Dit staan selfs in die Bybel: moet op prinse nie vertrou nie. Die goed gaan jou in die agterent byt.

Hierdie hele geteem is eintlik om my nuwe punt te regverdig.

In ‘n vorige blog het ek dit naamlik laat klink asof ek die allerantwoord het vir sin en betekenis in die lewe. Wel, nee, ek het nie.

Dit het ek maar net weer al te goed besef toe ek vandag my gewoonlike weeklikse pelgrimstog na my plattelandse klein paradys aanpak. Ek het dit bra met ‘n sware hart en ‘n donker gemoed gedoen.

Wat ek nie in my vorige skrywe genoem het nie, is hoe daardie planne wat ons beraam, en drome wat ons droom, deur die werklikheid befoefel word. Natuurlik is dit ‘n kwessie en natuurlik kan mens dit mos nie ignoreer nie. As daar nie tyd, geld of plek vir ‘n droom is nie, kan dit bloot nie gebeur nie.

So, by hierdie drome moet ek seker die ou wysheid voeg – gee my die vrede om daarby te berus. As ek dit nie regkry om my groepie soekende leerders te besiel en goeie punte te kry nie, moet dit maar so wees. As ek uiteindelik nie by die plekke uitkom waar ek wil wees nie, is dit ook reg. Tob en teem gaan nie help nie.

So, om op te som – as jy my sny sal ek ook bloei. Soos my kinders ook gou besef het – ek het nie al die antwoorde nie. En, party aande sal ek ook beswaard gaan slaap en hoop ek voel more beter.

Dis alles, op die ou einde, deel van hierdie groot komedie van menswees.

Dink ek.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.