When I’m 64

Augustus 7, 2019 in Uncategorized

Die Beatles het die vervelige tussenouderdom van 64 met hulle liedjie tot ‘n vierbare fees verhef. Vier-en-sestig is nou ‘n jaar waarin ‘n mens darem ‘n paar dinge moes bereik het.

Ek het hierdie mylpaal verlede jaar bereik en ek moet sê, vir my was dit nogal ‘n ding.

Op 64 het ek op ‘n manier ‘n groter perspektief van die lewe gekry – ek het loopbane van binne en van buite gesien en beleef wat is aftrede. Ek het myself om die een of ander rede met veel groter objektiwiteit gesien as ooit tevore.

‘n Ander liedjie besing Lucy Jordan, wat op die ouderdom van 37 besef het dat sy nooit in ‘n sportmotor, met die warm lug deur haar hare, deur Parys se strate sou ry nie. Verlore drome, vergange wense.

Wel, daarvan het ek ook.

Maar dan gaan ek darem saam met ou Blue Eyes kon kreun: I did it my way.

Nou nie noodwendig die beste way nie, maar dit was myne en ek het dit oorleef. Soms met grasie en soms met skraapmerke. En kyk hoe lyk ek nou…

No regrets, sing die swaeltjie van Parys kordaat. En dan sê Blou-ogies weer: regrets, I have a few…

Ja, gewis is ek spyt oor ‘n paar goed. Spyt oor ek ‘n paar mense baie seergemaak het. Spyt oor ek so min geld beplan het vir my oudag. Spyt oor my eerste Opel Kadette wat ek afgeskryf het.

Maar wow, wat ‘n lewe!

Sóveel liefdes, soveel skoonheid, soveel seer, soveel afvalgeregte, soveel blomkool. Warmte uit kosbare familie en vriende; noue ontkomings soos teen die laerskool Voorwaarts se rugbyspan; soet seges en hartseer verliese; die lig in iemand se oë as hulle ‘n ding begin verstaan; skaaptjops, Wilsons toffies, lentebloeisels…

En nou het ek seker die stadium bereik dat ek my jare van agter af moet begin tel.

Dit is goed, dit is reg so en ek het vrede daarmee. Dit was ‘n vol lewe en dit was goed. Ek het dierbare pasmaats gehad wat saam deur die lig en die donker was. Ek het die wêreld gesien, mense leer ken en so hier en daar iets sinvols verrig. Vir die volgende 64 jaar kan ek nou terugsit en lag vir hierdie snaakse, wonderlike wêreld.

4 antwoorde op When I’m 64

  1. Dulcie het gesê op Augustus 7, 2019

    O Captain my Captain

  2. Koot dit was n wonderlike voorreg om jou te leer ken. Amandasig Koot en Kitaar was sinoniem. maar die jare stap aan en elke dag is n nuwe dag met nuwe geleenthede. Soek die geleenthede en dank ons Vader daarvoor. Hoe se mens die oud in ouderdom is niks maar die derdom is n blikskottel. Geniet die lewe Koot saam met jou mense.

    • Sjoe, dankie vir jou kosbare kommentaar, Frik. Ek het jou altyd beny vir die gemak waarmee jy met mense omgegaan het. Jy was vir my ‘n voorbeeld.
      Sterkte daar.

Los ’n antwoord vir Frik Kruger. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.